Resensie: The Great Beauty

  • 0

Regisseur: Paolo Sorrentino

Spelers: Toni Servillo, Carlo Verdone, Sabrina Ferilli

Afrikaans laat my in die steek om hierdie film te beskryf; ’n mens dink aan woorde soos “jaded” en “debauched”. Vir die regte kyker is dit onvergeetlik, soos jy sal verwag van ’n Oscar-wenner (vir die beste buitelandse rolprent, 2014).

Die hoofkarakter is Jep Gambardella (Toni Servillo), een van die bekendste lede van Rome se elite. As jong man had hy sukses as skrywer, maar hy het nooit sy debuut opgevolg nie. Sy doelwit was om dié man in Rome se hoë kringe te word, en op sy 65ste verjaardag blyk hy dit ook te wees. Hy leef in ’n losse kring van skat-skatryk mense met ’n plesierkultuur van klubs en partytjies, soveel seksuele verowerings as moontlik, goeie kos en wyn, en hoogs gekultiveerde kuns. Dit alles speel af teen die agtergrond van die asemrowende Rome, en mens en stad word as’t ware metafore van mekaar.

Die fliek is lank (142 minute), maar net toe dit té lank begin voel, word ’n nuwe element ingebring: kerk, geloof en spiritualiteit, wat die ryke kompleksiteit van die film verder uitbou. Daarby is dit beeldskoon – letterlik – feitlik elke toneel kan ’n kunsfoto wees.

Dis beslis nie ’n fliek vir enigeen nie; jy gaan dink dis wonderlik of jy gaan uitstap. Dis onkonvensioneel (geen samehangende storie met ’n begin, middel en einde nie) en dit vra vir ’n wyd-oop kop.

Sterre:

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top