Resensie: The Grandmaster

  • 0

The Grandmaster
Regisseur: Kar Wai Wong
Spelers: Tony Leung, Ziyi Zhang, JinZhang, Qingxiang

 

 

Dis altyd ’n bonus as jy ’n fliek oor ’n spesifieke onderwerp gaan kyk, in hierdie geval kung fu, en dan kry jy soveel méér (dieselfde geld vir motorsport en Rush).

Die lokreël van hierdie fliek is dat dit die lewensverhaal is van die man wat Bruce Lee opgelei het: die kung fu-meester Ip Man. Die agtergrond van die verhaal is egter net so interessant as dit wat jy wys word van dié antieke gevegskuns – blykbaar die moeilikste en mees gevorderde vorm van al die Oosterse gevegskunste. Kung fu word uitgebeeld as ’n kunsvorm en ’n lewensfilosofie eerder as ’n stel ingewikkelde tegnieke waarmee jy ’n teenstander se nek kan breek. Die choreografie van die gevegstonele is asemrowend. Regisseur Kar Wai Wong het tien jaar lank aan sy lieflingprojek gewerk, en dit wys in elke opsig. Die hele tekstuur van die film bevredig ’n mens se sintuie sowel as jou denke.

Die verhaal open in 1937 in Foshan in Suid-China, kort voor dié sesessie van Noord-China aankondig. Gong Yutian (Qingxiang), die bejaarde grootmeester van die Noorde, arriveer in Foshan met die doelwit om die gevegstyle van die Noorde en die Suide te verenig as sy nalatenskap aan kung fu. Die Suide benoem Ip Man (Tony Leung) as hul verteenwoordiger, en in ’n onkonvensionele geveg tree Ip Man as wenner uit die stryd. Dít kan die ou meester se dogter, Gong Er (Ziyi Zhang), nie daar laat nie, en sy beloof om die familie se eer te herstel. Dié afrekening geskied teen die agtergrond van die tweede Sino-Japannese oorlog, waartydens Ip Man se welaf familie só verarm dat hy na Hongkong moet vlug om daar as ’n gewone kung fu-onderwyser ’n bestaan te maak.

Die fliek is nie sonder foute nie. Daar is gapings in die verhaal, sodat ek soms gesukkel het om sin te maak uit die chronologie van gebeure. Maar die eindresultaat is só oorrompelend dat ek net teruggesit het om die skouspel te geniet en na die tyd oor die geskiedenis gaan oplees het.

 

 

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top