Resensie: Philomena

  • 0

Philomena
Regisseur: Stephen Frears
Spelers: Judi Dench, Steve Coogan, Sophie Kennedy Clark, Sean Mahon, Peter Hermann

Philomena het my aan dié woorde van Frank McCourt, skrywer van Angela’s Ashes, laat dink. En net soos McCourt dit regkry om ’n hartseer verhaal te deurspek met die wonderlikste stukkies humor, slaag regisseur Stephen Frears daarin dat hierdie ontroerende storie jou ook gereeld laat lag.

Die film is gegrond op die ware verhaal The Lost Child of Philomena Lee deur Martin Sixsmith, voormalige BBC-korrespondent en beeldpoetser in die Tony Blair-administrasie. Dit ontbloot ’n gruwelike geskiedenis van misbruik deur die Katolieke Kerk toe hulle nog tehuise vir ongehude moeders bedryf het (ook goed bekend in die Afrikaanse samelewing tot die 1980’s). Jong meisies wat swanger geraak het, is hier van die samelewing versteek omdat hulle skande oor hul families gebring het, en hulle moes hul kinders eenvoudig afteken vir aanneming. Nadat Sixsmith afgedank is deur die Blair-regering, is hy deur Lee genader om haar te help soek na haar seun wat sy amper vyftig jaar laas gesien het.

Die sukses van die film berus op twee ou verteltegnieke: die raai-element van ’n soektog en die interaksie tussen twee heeltemal uiteenlopende karakters wat deur omstandighede saamgegooi word. Sixsmith (gespeel deur Steve Coogan) is ’n siniese, berese en belese joernalis en Oxford-graduandus met ’n voorkeur vir die Russiese geskiedenis; Lee (Judi Dench) is ’n eenvoudige mens, ’n gewone bejaarde wat haar sente omdraai en Mills & Boon-tipe liefdesverhale geniet – simple, but not simple-minded. Tydens hul reis na die waarheid het elkeen ’n onverwagte en verreikende invloed op die ander.

Steve Coogan, wat al baie filmwerk agter die blad het en ook draaiboekskrywer was vir Philomena, is perfek as Sixsmith – hy oortuig jou volkome as die hardgebakte, wêreldwyse joernalis met die goeie hart daar diep binne waar dit tel. Ag, en Judi Dench ... wat ’n voorreg om hierdie tagtigjarige aktrise steeds te sien speel. Philomena Lee is ’n rol wat só maklik oorspeel kon wees, ’n karikatuur van die “little old lady”, maar natuurlik speel Dench haar met die emosionele balans nét reg.

Hierdie fliek word hoog aanbeveel.
 

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top