Oklahoma!
Richard Rodgers (musiek) en Oscar Hammerstein 2 (teks en lirieke)
Gebaseer op Green grow the lilacs deur Lynn Riggs
Regie: Teddy Davies
Musiekregie: Alastair Cockburn
Choreografie: Kyla Thorburn
Choreografie, ballet: Roxanne Levy
Claremore-rolbesetting: Werner Viln, Victoria Harris, Kristine Berg, David Bolton, Neil Leachman; Kansas-rolbesetting: Werner van Coller, Sian Atterbury, Fiona Carling en Jason October; met talle ander in albei rolbesettings.
Die Kaapse Gilbert en Sullivan-vereniging in die Operahuis, Kunstekaap tot 3 Augustus 2014.
Begelei deur die Kaapse Filharmoniese Orkes.
Danie Botha vergelyk die twee rolbesettings se optredes (aangedui met 1 of 2 ná ’n persoonsnaam).
Jy is deel van ’n stampvol ouditorium. Met albei eerste aanbiedings is daar nie ’n leë plek in die grote operahuis nie. En aan die einde staan dié enorme skare op vir ’n ovasie.
Terwyl die Kaapse Filharmoniese Orkes (sowaar!) die ouverture uitvoer, maar veral wanneer die jong man Curly McLian (Werner Viln 1, Werner van Coller 2) vroegoggend “Oh, what a beautiful mornin’” sing, dan raak jy dadelik meegevoer met hierdie eerste van so vele bekende liedere. Aangename herinneringe; positiewe gedagtes!
Ná die eerste aanbieding was die hoofindruk: Energie, energie! Met die tweede: Is daar tog nie nog méér daarvan nie? Het dit straks ook te doen met sterker klankversterking? Op die eerste openingsaand kon jy reeds besonder goed hoor, maar die volgende middag was daar helaas juis ’n paar probleme met die klank. ’n Gekraak as Jud Fry (Neil Leachman 1; hier Jason October) gaan sit; idem as daar omhelsings is. Die klanksterktes was soms oneweredig met dié aanbieding. ’n Karakter was al byna af van die verhoog, dan klink sy sang asof hy nog op die voorverhoog is.
Dié musiekblyspel, wat in 1941 soveel vernuwing gebring het, is steeds nog ’n werklik boeiende werk met al die skouspel, dramatiese botsings, wonderlike humor, ontroerende patos, lieflike romantiek en erotiek.
Hoe goed word sekere tonele nie voorberei nie; hoe ontstaan daar nie telkens dramaties ironie nie! Daar’s vir my veral twee voorbeelde daarvan. In die “smokehouse” bou ’n botsing op tussen Curly en Jud. In “Pore Jud is daid” beskryf Curly hoe die begrafnis van dié ongewilde boerkneg sal verloop. Jud word dan later juis per ongeluk deur Curly gedood. Aan die einde van hierdie “voorspellingstoneel” sing Jud ’n aangrypende, stemmingsvolle lied oor sy armsalige lewensomstandighede: “Lonely room”.
Jud Fry (Neil Leachman) sing “‘Lonely room”.
Hy’s ’n eenspaaier soos DJ Opperman se Skewe Koen (“Blom van die baaierd”) wat wonder: “(W)ie kan leef as hy nie langs ’n maat kan lê?” (Neil Leachman sing met ’n groter emosionele intensiteit en wisseling as Jason October.) Jud se boosheid, wat veral in die droomballet sterk oorgedra word, kan na hierdie selfopenbarende toneel teruggevoer word.
In die droomballet word Laurey (Victoria Harris 1; Sian Atterbury 2) se emosies, haar vrese vir Jud oa deur die danser Caroline Kotze uitgebeeld. Soos van die kunstefeeste waarsku: dis ’n hardebaardvoorstelling. Die choreograaf, Roxanne Levy, sorg dat die danssaal-artieste deeglik dekadent raak. En dan het ek lank laas soveel vrouemishandeling op ’n verhoog beleef: Jason wat Laurey lank rondsleep en dan haar duidelik teen haar sin beklim. Tydens die middaguitvoering was alles emosioneel meer oorweldigend, maar die applous was aansienlik flouer as op die vorige aand.
Daar was ook ’n paar verskille in die vertolkings deur die twee rolbesettings. Werner Viln se lang, lenige Curly met sy hoër, helderder stemregister is moontlik die gewilder romantiese held. Sy alte manlike bewegings is groter, sterker, dadelik veelseggend. Werner van Coller is korter, dra selfs iets sombers oor met die dieper stemklank. Victoria Harris se Laurey is verfynd, sensitief, tree subtieler op. Haar flirtasie in die eerste toneel met Curly was daarom meer humoristies en eg. Sian Atterbury was aanvanklik baie aggressief: die woord “viswyf” het by my opgekom, maar dis darem nie heeltemal waar nie. In aansluiting by haar driftige handeling was haar stemvolume met die sang ook ruim en soms net ’n tikkie indrukwekkender as Harris s’n. Daar is ook ’n aangename kontras tussen hulle en Lindsay Wills (1) en Allana Aldridge (2) se Ado Annie Carnes wat sê sy kan net nie mooipraatjies van ’n man weerstaan nie (“I cain’t say no”).
Kristine Berg (1) was uit die staanspoor baie oortuigend as die bejaarde leiersfiguur in die gemeenskap. Haar komiese tydsberekening is ook uitstekend. Fiona Carling (2) kom egter baie jonk en uiters beweeglik voor. Sy het aanvanklik glad nie die gesag oorgedra soos Berg nie. In die latere groepstonele was hulle albei egter heeltemal in beheer van die skares.
Ek moet ’n paar komiese bydraes loof. Eerstens: Allana Aldridge (1) en Karlé Briedenhann (2) as daardie skaterlagkampioen Gertie Cummings. Briedenhann het dalk ’n bietjie harder gelag en so effens meer variasie ingewerk. My prys vir die beste komiese figurant gaan aan Philippa van Ryneveld as Popsy, die jonger sussie van Ado Annie. Ek wil nie die pret bederf deur veral die een skitterende toneel te beskryf nie. Hou haar ook dop in haar smart net daarna.
En dan is daar Ali Hakim, die smous uit Persië. David Bolton (1) en Neil Leachman (2) het albei die eer gehad om spesiale en geesdriftige applous te ontvang met hulle afgaan van die verhoog. Hulle vertolkings laat reg geskied aan die ou alleenloper se uitgeslapenheid, nederigheid en sy probleme met die liewe troulustige vroumense.
Pa Andrew Carnes (Simon Speck) dreig Ali Hakim (David Bolton). Met Philippa van Ryneveld (jonger dogter Popsy), Linda Gawronsky (Ma) en Lindsay Wills (Ado Annie wat nie nee kan sê nie).
’n Wewenaarsvriend laat weet geestig ná die opvoering ou Ali bevestig maar net “waarom ons ongetroud bly, nie boer of smous nie”. ’n Heerlike toneel is waar Ali nadenkend-opstandig in sirkels stap, hande agter die rug en met “sy ken wat op die grond skuur”, en veral die manne hom ondersteun met “It’s a scandal! it’s an outrage!”
Ek had nie vrede met sekere dinge op die stel nie, en veral nie met die beligting nie. Die karring en die besonderhede in die huis het my onder die indruk gebring ons gaan realisme beleef. Daardie karring het my herinner aan ons s’n op die plaas in die jare vyftig – waarmee ek wil sê dat as hulle die blyspel aan die begin van daardie eeu plaas, behoort dit dan nie van die langsteel-stampkarrings te wees nie? Die hemelhoë bome oortuig mos darem nie? Lyk soos twee stukke lap wat daar hang. Ek het gewonder of dit ’n nabootsing van die toneelstelle uit 1940 is.
Die beligting was verwarrend, veral op die openingsaand toe dinge nog onbekend was. Watter tyd van die dag of nag is dit? Hoeveel kalendertyd het verloop? Die oggend se skemer lyk of dit ook die aand s’n kan wees. Die woonhuis word in sommige tonele belig soos vir ’n stralende dag, maar in die kamers brand nog ligte asof iemand van hulle vergeet het en gou ’n kosmandjie in die kombuis vir die latere veiling gaan pak het. Toe die bejaarde windmeul of die huis met die draaiverhoog egter verskuif word, het ek myself tot orde geroep: Vergeet van realisme. Glimlag! Die dametjies in hulle mooie rokkies sál sommer kort-kort pardoefie op die plaaswerfgrond gaan sit. In die stof en op die klippers wat hulle mos lekker seer sal maak. Dis mos onbetaamlik vir die eeuwending se meisietjies?
Die hoogs ervare Teddy Davies en sy medeskeppende leiers besiel die geselskappe van die Kaapstadse Gilbert en Sullivan-vereniging om die hoë standaarde van die verlede te handhaaf. Hier is soveel om te waardeer.
“Oklahoma OK! ... Yeeow!”