Resensie: Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

  • 0

Titel: Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran
Skrywer: Eric-Emmanuel Schmitt (vertaal deur Naòmi Morgan)
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798167727

Koop Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran by Kalahari.com

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran is ’n besonderse boek. Dit is die tweede vertaling van Eric-Emmanuel Schmitt se tekste uit Frans na Afrikaans deur Naòmi Morgan. Sy is ’n bekroonde akademikus, vertaler en Chevalier de l’Ordre des Arts et des Letteres de le République Fran?aise (Riddervrou van die orde van Lettere en Kuns van die Franse Republiek). Morgan het ook die vertaling van Afrikaanse volks- en gunstelingliedjies behartig wat gelei het tot die gewilde AfriFrans-projek.

Eric-Emmanuel Schmitt – outeur van die oorspronklike Franse teks – is ’n Frans-Belgiese dramaturg en romanskrywer. Hy woon sedert 2002 in België en het in 2010 die gesogte Prix Concourt de la Nouvelle ontvang.

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran vertel die aangrypende verhaal van Moses en Monsieur Ibrahim wat op ’n ongewone wyse ’n vriendskap aanknoop. Moses, wat Joods is, se huislike omstandighede is nie wat dit moet wees nie. Sy pa is depressief en nie baie betrokke by sy seun se lewe nie. Moses begin later aandag en liefde op ander plekke soek, soos by Rue de Paradis se gesellinne. Moses is verantwoordelik vir die huistake terwyl sy pa werk soek of in sy studeerkamer sit en lees. Hy gaan koop elke dag blikkieskos by Monsieur Ibrahim se winkel en later wanneer die finansies begin knyp, steel hy ongemerk ’n blikkie of twee. Monsieur Ibrahim praat met Moses oor die blikkies wat stelselmatig verdwyn en Moses ontdek Monsieur Ibrahim is nie ’n Arabier soos die hele buurt aanneem nie, maar ’n Soefistiese Moslem. Hulle begin gesels oor verskillende dinge wat Moses ("Momo", soos Monsieur Ibrahim hom noem) pla, soos die lewe, en sy besoeke aan die dames van Rue de Paradis.

Later, nadat sy pa te sterwe kom, neem Monsieur Ibrahim vir Moses aan as sy seun. Moses se ma kom soek hom ná sy pa se dood, maar hy laat dit blyk dat hy Mohammed is. Hy vertel vir haar dat Moses nie meer in Parys bly nie en dat hy Moses se woonstel oorgeneem het. Monsieur Ibrahim en Momo gaan in die laaste deel van die boek op ’n lang motorreis na Turkye, Monsieur Ibrahim se geboorteland. Hulle besoek tempels en woon ook ’n Tekké by waar die Derwisje hul tollende danse uitvoer. Ongelukkig word Monsieur Ibrahim deur ’n motor raakgery voor hulle hul reis kon voltooi. Met behulp van ’n goeie vriend van Monsieur Ibrahim keer Moses as Mohammed terug na Parys, neem Monsieur Ibrahim se winkel oor en beoefen hierna ’n Soefistiese lewenswyse. Mohammed behou kontak met sy ma, maar erken nooit dat hy Moses is nie.

Hierdie verhaal handel oor universele waardes en kwessies. In jeugliteratuur is daar dikwels spesifieke universele struikelblokke waarmee elke jongmens te doene kry. Die struikelblokke wat in hierdie novelle aangespreek word, is geloof, selfontdekking, liefde en aanvaarding. Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran lewer sosiale kommentaar op universele kwessies waarmee alle jongmense op een of ander tyd in hul lewe worstel. Die uniekheid van hierdie teks lê wel in die hantering van multikulturele gemeenskappe en vooroordele. Die tema van multikulturele gemeenskappe is erg van toepassing op die land Suid-Afrika. Dit is ’n teks wat werklik noodsaaklik is vir jong lesers wat die land Suid-Afrika met sy elf tale bewoon, veral omdat ’n positiewe perspektief op ’n veeldimensionele samelewing uitgebeeld word.

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran is wel ’n vertaalde novelle, maar weens die universele waardes van vriendskap, aanvaarding, familie, liefde en ontheemding kan sterk aanklank binne ’n Suid-Afrikaanse konteks gevind word. Alhoewel die verhaal afspeel in ’n mindergegoede buurt in Parys, Frankryk, help die bekendheid van die stad en die landmerke wat vermeld word om die ergste vervreemding te oorkom.

Vertaling is van groot belang as hierdie novelle bekyk word. Eerstens is dit na Afrikaans vertaal, maar die Franse straatname en eiename is behou. Die teks is nie uit die Franse konteks verwyder nie, maar ’n bewustheid van ’n multikulturele gemeenskap word steeds behou, al speel dit nie in Suid-Afrika af nie. Vertaling word lank reeds as ’n komplekse proses beskou, omdat alles om verskeie redes nie in een betrokke taal nie direk in ’n ander taal vertaal kan word nie. Taalverskynsels soos eiegoed en kultuurgoed is kompleks om na 'n ander taal te vertaal. Hierby kan woorde ingesluit word soos “biltong”, “harders”, “moskonfyt”, “koeksisters” en “gogga”. Hierdie woorde kan dalk letterlik vertaal word, maar die unieke betekenis en gevoel wat hierdie woorde by sy leser of spreker wek, is baie moeilik om na 'n ander taal om te skakel. ’n Tweede komplekse aspek is kontekstuele vertalings soos in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran se geval waar die Midde-Ooste, spesifiek Turkye, omskryf word. Daar is egter beskrywings en verduidelikings van die natuur, tempels en derwisje se danse om die leser te help.

Die kwaliteit van die vertaling is goed omdat Morgan die teks uit die brontaal van Frans na die doeltaal (Afrikaans) vertaal het en nie sekondêre vertalings gebruik het nie. Direkte vertaling is altyd verkieslik, omdat betekenisse andersins soms verlore kan raak.

Ten slotte is Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran ’n unieke jeugverhaal wat definitief ’n belangrike plek in die Suid-Afrikaanse mark inneem. Al is die teks vertaal vanuit ’n Franse konteks, is die vertaling goed genoeg dat ’n Suid-Afrikaanse leser homself sal kan inleef in Moses se verhaal. Veral tieners kan baat daarby om hierdie novelle te lees.

Sien foto's van dié boek se bekendstelling.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top