Resensie: Brieven van Overzee deur Pieta van Beek

  • 0

 

 

Brieven van Overzee. Ida Gerhardt nabij.
Pieta van Beek
Ridderkerk, Nederland: Provily Pers, 2de druk 2013

“Midden augustus 1997 luidde de telefoon laat. De stemmen echoden, de verbinding kwam dus van ver. Ida Gerhardt was vannacht zacht in haar slaap gestorven, vertelde José aan de andere kant van de lijn. Ik luister stil.” Aan die woord is Pieta van Beek in Brieven van Overzee oor die dag toe sy gehoor het dat haar geliefde digteres, vriendin en korrespondent van baie jare oorlede is. Dit was nie heeltemal onverwags nie, want Ida Gerhardt was immers al 92 jaar oud en nie meer gesond nie. Maar die berig was bitter swaar om te verteer, en nog soveel te meer omdat Van Beek ver van huis was. Sy woon toe al nege jaar in Suid-Afrika; ’n verblyf wat aanvanklik nie langer as twee jaar sou geduur het nie. “Sinds ik hier aan de onderkant van de aarde woon, is de dood mij altijd voor. Als de rouwkaart een paar weken later arriveert is alles voorbij: de plechtige uitvaartdienst, de crematie, de gelegenheid tot condoleren.” Hierdie keer het die doodsberig haar nie te laat bereik nie. En al was sy ver weg, was Gerhardt se gedigte naby, en soos altyd vir Van Beek ’n troos in moeilike tye:

Nalatenschap

Dappere morgenhaan,
gij bode van het licht,
haan van een Hollands erf:
zeg mij het dagwerk aan.
En ben ik heengegaan,
meld dan, hoog opgericht,
met roep en vleugelslaan
aangaande mijn versterf:
dat het is opgestaan.

Gerhardt sterf die nag net voor Maria Hemelvaart, ’n belangrike dag binne die Katolieke kalender en die verering van Maria as Heilige. In sy nekrologie oor Gerhardt (HP/De Tijd; 22 Augustus 1997) wys Jaap Goedegebuure op die belang van hierdie toevalligheid: “In weerwil van haar reformatorische gezindheid schuilt er iets passends in die coïncidentie. Als er al een koningin in het rijk van de Nederlandstalige poëzie mocht worden aangewezen, dan had de keuze immers alleen maar op Ida Gerhardt kunnen vallen. Niemand wist het gevoel van nationale trots en nationale deemoed zo goed te vertolken als zij. […] De tragische, want ambivalente verbondenheid met Holland, zo kenmerkend voor Gerhardts werk, berust op een symbiose van natuurliefde en taalgevoel.” Haar digterskap was, soos sy self gesê het, aangedryf deur die elemente, soos meulens deur water en wind. Hierdie credo vat sy saam in “Spreuk bij het werk” voor in haar bundel Het veerhuis:

Als ik nu in dit land
maar wat alleen mag blijven,
dan zal de waterkant
het boek voor mij wel schrijven.

Dit is wat ik behoef
en hiertoe moest ik komen,
het simpele vertoef
bij dit gestadig stromen.

Het water gaat voorbij,
wiss’lend gelijk gebleven –
het heeft stilaan in mij
een nieuw begin geschreven.

Dit was in 1981 toe sy op universiteit was, tydens ’n poësie-eksamen, dat Pieta van Beek vir die eerste keer ’n gedig van Gerhardt bewustelik teëgekom het. Diep onder die indruk daarvan het sy die naam van die digteres op ’n stukkie papier neergeskryf en so gou sy kon, haar Verzamelde Gedichten bestel. Dit was die begin van Van Beek se passie vir die poësie van Ida Gerhardt, inderdaad “een nieuw begin geschreven”. Van Beek vertel in Brieven van overzee hoe sy tydens haar studie op die gedigte van Gerhardt gesteun het: “Ze hielden mij op de been in de moeilijke jaren waarin ik wegbewoog van het ouderlijk, fundamentalistische huis.”

Agterblad: Die Mond, tussen Struisbaai en Arniston

 

Pieta is een van sestien kinders uit ’n swaar gereformeerde gesin waar daar weinig ondersteuning was vir ’n meisie met ’n brandende begeerte om universiteit toe te gaan, om verder te gaan leer. Sy het teen die weerstand van haar omgewing ingebeur, haar ouers se teleurstelling trotseer en tog gaan studeer.

Gerhardt het ’n soortgelyke agtergrond gehad. In 1916 het ook sy teen die sin van haar moeder, met wie sy ’n slegte verhouding gehad het, na die Erasmiaans Gymnasium gegaan, waar sy oa van die digter JH Leopold onderrig gekry het. Hier het hy Gerhardt (en haar latere lewensmaat, Marie van der Zeyde) geïnspireer tot ’n groot liefde vir klassieke tale, filosofie en poësie. Later sou Gerhardt klassieke tale aan die Universiteit van Utrecht studeer, waar sy Van der Zeyde sou ontmoet.

Soos wat Leopold vir Gerhardt ’n inspirasie was, was Gerhardt vir Van Beek ‘n inspirasie, behalwe dat Gerhardt toe byna onbereikbaar was. “Soms had ik intens de behoefte om de dichter te bedanken voor haar woorden. Maar ik wist inmiddels wat voor hekel ze had aan fans.” Dit was eers aan die einde van haar studietyd dat Van Beek haar aarselend ’n poskaart met die meisie van Vermeer gepos het, “met een paar regels onderschrift”. Kort daarna val daar ook by Van Beek ’n poskaart deur die briewebus, met die Walburgtoring uit Zutphen voorop, en agterop die woorde: “Zeer hartelijk dankt u voor uw kaart met de reproductie van Vermeer, Ida Gerhardt.” ’n Bondige antwoord, maar wel ‘n antwoord.

Na haar studie het Van Beek aan die Utrechtse Stedelijk Gymnasium begin onderwys gee. Hier het sy haar liefde vir Ida Gerhardt se poësie ook aan haar leerlinge oorgedra. Gerhardt was self vroeër dosent aan ‘n gimnasium in Groningen en later aan ‘n liseum in Kampen. In Desember 1987, toe Pieta voor haar laaste klas staan voordat sy met haar man na Kaapstad sou vertrek waar hy ’n pos aan UWK aanvaar het, besluit sy en haar leerlinge om Kerswense aan Gerhardt te stuur, saamgestel uit verskeie briefies en kaarte. Van Beek se briefie begin met: “Dag dichter, Ik verlaat het land en zal u nooit zien.”

Van Beek het nie veel tyd gehad om na te dink of die PC Hooft-prijswenner dalk sou antwoord nie. Die dae hierna was sy te druk besig om alles afgehandel te kry voor die vertrek na Suid-Afrika. “Op Oudejaarsavond 1987 ging daar de telefoon voor mij, maar ik was niet thuis, druk met afscheid nemen. Het was Ida Gerhardt. Pas de derde keer trof ze me thuis. […] Een half uur lang sprak ze met me. […] Dringend vroeg ze mijn adres in Zuid-Afrika. Beloof je het? Ja, zei ik verlegen. En zo begon een vriendschap, een mentorschap, een liefde-op-afstand.”

In Brieven van Overzee, wat verlede jaar sy tweede druk ondergaan het, by Provily Pers (Ridderkerk, Nederland), ontvou hierdie verbondenheid en die briewe waarmee dit verseël is. Met die verskyning van Mieke Koenen se onlangse biografie van Gerhardt, Dwars tegen de keer, het Brieven van overzee ook weer aandag gekry.

Aanvanklik is die korrespondensie net tussen Pieta en Ida, maar later, soos Ida se sig verswak het, het haar lewensgesel, Marie van der Zeyde, gehelp met lees en skryf. So is ook Marie by die briefwisseling betrek: twee ouer vroue in hulle tagtigerjare en ’n jong, lewenskragtige vrou in haar dertigs in ’n vreemde land, waar sy dikwels in spanning staan met die konserwatiewe Afrikaner-kultuur en die destyds benouende akademiese omgewing van die Universiteit Stellenbosch.

Geleidelik word die jare lange briefwisseling ’n neerslaggebied van alles wat Pieta in hierdie tyd aan die Kaap beleef: haar swangerskap en die geboorte van haar tweelingseuns (as een van die tweeling ’n dogter was, sou sy Ida-Marieke geheet het), die grootword van die seuns en alles wat daarmee gepaard gaan, haar besluit om Klassieke tale te begin studeer, haar sukses hiermee en uiteindelik die skryf van ’n proefskrif en tydelike klasgee aan die Universiteit van Kaapstad en Universiteit Stellenbosch.

As die lewe en al sy eise in die vreemde senuslopend was, was Ida, met die hulp van Marie, gereed met lewenswysheid. So skryf hulle op 11 September 1988: “Hoe het zij, lieve Pieta, laat je tijd niet met treuren voorbij gaan. Niemand kan je verbieden ongehonoreerd een kleine studiekring te leiden van jonge (of oudere) nie-academici. Niemand kan je beletten zelf te studeren.” En uit dieselfde brief: “Houd moed [...] Ga niet naar Holland terug! Je zult er vinden je zwarte jeugd. Werk, verken het landschap, tracht samen met anderen te lezen …” En op 31 Oktober 1988 skryf Ida: “Veel dank voor je brief, waar ik heel blij mee was. Een mens moet vechten, zo mogelijk zonder haat, maar onverzettelijk, als hem onrecht wordt aangedaan.” Op 15 Januarie 1999 ontvang Pieta ’n brief met die volgende paragraaf: “Wanneer je heel vroeg opstaat (half 6) en de luiken opendoet, zie je het voorjaar zeer duidelijk komen; door allerlei tekenen van het firmament. Eergister stond de maansikkel aan een donkerblauwe lucht, met één grote stralende ster. Onvergetelijk!”

Ook Pieta se briewe aan Ida en Marie was vir hulle kosbaar – “juweeltjes”, het Ida dit genoem. En van Pieta kom soms ook direkte vrae oor dinge waarmee sy in haar kop worstel, soos hierdie uit ’n brief van 6 April 1689: “Wat ik je vragen wilde, Ida, is dit: bestaat er zoiets als een schuldig landschap? Kijk zoveel onrecht bestaat er in dit land. En tegelijkertijd is de natuur (nog) zo mooi.”

Net soos in haar Nederlandse studietyd het Pieta ook in hierdie Kaapse jare veel krag geput uit die gedigte van Ida, maar nou ook deur die ontvangs van briewe en kaarte, asook deur die versigtige formulering van antwoorde, eers as kladbriefies, en dan later in haar finale mooi gestileerde Kaapse briewe.

Meer as briewe het tussen Ida en Pieta gewissel. Ook skulpies en blaartjies en foto’s van Pieta. En van Ida ’n silwer suikerlepeltjie. Oor die skulpies het Ida en Marie laat weet: “Zó iets hebben wij nooit eerder gezien; het is om telkens opnieuw te bekijken, zoals je ook een verzenbundel altijd weer opnieuw leest.”

En dan sterf Marie plotseling. Pieta skryf aan Ida: “In gedachten en dromen ben ik veel bij je. Hoe leeg het voor je is, kan ik niet indenken, niet meevoelen. Zij, de onafscheidelijke, is bij je weg.” Pieta verwag dat die briewe uit Nederland nou sal ophou, want Ida het haar voorleser en skrywer verloor. Tog besluit Pieta dat sy lojaal sal voortgaan, ongeag of sy weer ’n antwoord kry. Ida is net so vasbeslote in haar lojaliteit. Vir ’n tyd probeer sy verbete om sonder die hulp van haar geliefde Marie die briefwisseling vol te hou. Maar later kry sy nuwe hulp. Sy word bygestaan deur ’n privaat sekretaresse, José van der Donk, wat ook ’n getroue vriendin word. Soos Marie vroeër, tree ook José tot die korrespondensie toe.

Mettertyd word Ida se stem en teenwoordigheid al hoe dowwer hoe meer haar kragte afneem, en begin dit ook tot haar Kaapse vriendin deurdring dat sy psigologies nie meer in balans is nie en veral begin ly aan periodes van paranoia. Deerniswekkend is dit om te sien hoe die lojaliteit ten opsigte van die korrespondensie tussen die twee vroue nie te vernietig is nie, vir Pieta nie deur die veeleisende privaat-, studie- en werksomstandighede in die Kaap nie, vir Ida nie deur siekte, blindheid, swakheid, ouderdom en die verlies van haar lewensmaat nie. En telkens as Pieta in Nederland kom, gaan sy op kort besoeke by haar korrespondent.

Maar middel-Augustus 1997 sterf Ida en kom daar ’n dawerende stilte.

Tog besluit Pieta dat hul briefgesprekke op ’n manier moet voortleef, en wel in boekvorm. So kom Brieven van overzee tot stand. Anders as Koenen se biografie, waar die net wyd gegooi word oor ’n hele mense- en digterslewe, bied Brieven van overzee ‘n intieme kyk in hoe Ida Gerhardt met dié wat na aan haar hart was, omgegaan het. Uit Koenen se biografie leer die leser ’n moeilike, selfs onaangename skrywer ken; uit Pieta se briewe leer die leser dieselfde vrou ken as ’n lojale, meelewende en innige vriendin.

Brieven van overzee is eintlik meer as net ’n briefwisseling tussen Ida Gerhardt en Pieta van Beek, meer as net ’n ode aan een van Nederland se groot digteresse. Dit is ook ’n outobiografiese collage wat Van Beek saamgestel het uit haar dagboeke, Kaapse briewe wat sy aan haar familie en vriende in Nederland geskryf het, foto’s en ander kantaantekeninge by haar lewe in die Kaap. Dit bied ’n blik op ’n vrou in die vreemde – beide intellektueel én moeder – ’n vrou wat haar ontheemd en misplaas voel, ’n vrou wat hunker na ’n plek waar sy tereg kan kom met haar talente, ’n vrou wat tog troos vind in haar studies, literatuur en veral poësie, die mense om haar heen, die natuur, haar eie publikasies oor veral Anna Maria van Schurman (waartoe Gerhardt haar aangemoedig het), en ook in haar briefwisseling met ’n geliefde vriendin en digteres.

As ek die boek (pragtig versorg deur vormgewer Jaap Wolters van EenSterkVerhaal.nl)  toemaak, voel ek weemoedig. Presies waaroor, is ek nie seker nie. Miskien oor die tydelikheid van alles? Of oor die merke wat mense, plekke en tye tydens jou lewensweg op jou siel teken? Dalk oor die pyn van ontheemding? Of die wete dat sóveel mense, veral vroue, ten spyte van hul talente en vermoëns, dikwels nie in die samelewing ’n plek gegun word waar hulle tot hul reg kom nie? Behalwe weemoed, voel ek ook inspirasie. Ek het weer gesien hoe vriendskappe, poësie, woorde, kontakte, studie, lees en skryf ’n mens kan dra en sterk maak.

En soos wat die einde mens dikwels weer terugvoer na die begin, dink ek aan vier versreëls uit die gedig “Onder Gorcum”, daardie heel eerste gedig wat Pieta van Gerhardt gelees het, toe sy nog student was:

Het zijn de sterken die bloot zijn gesteld,

die buiten staat zijn de Geest te weerstaan,
godlof verslagen, en niet te verslaan.

Stormen en onweren trekken wij aan.

Van Beek is oa ook skrywer van:

Van Beek, P. 2014. “Het is dezelfde geest waardoor ik leef en ademhaal”: de spiritualiteit van Anna Maria van Schurman (1607{1678). In J van Amersfoordt, P van Beek en GJ Schutte (reds), Ora et Labora (ble 45–62). Hilversum: Verloren.
—. 2013. Augustine and Anna Maria van Schurman. In W Otten en K Pollmann (reds), The Oxford Guide to the Historical Reception of Augustine (ble 1704{1706). Oxford: Oxford University Press.
—. 2010. Buitenbeentjes in de kerk: vrouwenschrijvers als Susanna Smit, Maria Neethling, Ella Neethling en Willemien Appel in het licht van internationale vrouwengeschiedenis. Dutch Reformed Theological Journal / Nederlands Gereformeerd Teologiese Tydskrif, 51 (ble 201–2).
—. 2010. The First Female University Student: Anna Maria van Schurman (1636). Utrecht: Igitur.
—. 2009. Liever een maagd dan een weduwe: twee erotische gedichten op naam van Anna Maria van Schurman (1607–1678). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49:333–9.
—. 2007. De eerste studente: Anna Maria van Schurman (1636). Utrecht: Matrijs en Universiteit Utrecht.
Van Beek, P en D Ehlers. 2007. Oranje boven: Nederlands voor Zuid-Afrika. Pretoria: Protea Boekhuis, herdruk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top