Redenasie Renoster red sy ma

  • 0

Kuberklas Kreatief plaas 'n voorleesstorie wat ouers of onderwysers vir heel kleintjies kan lees. Ontmoet Redenasie Renoster.

Redenasie Renoster is baie lief vir sy mamma, maar vandag is hy ook baie kwaad vir haar. Vandag was ’n vréééslike dag by die Swartlip-skool en dis alles sy ma se skuld. Dis sy wat hom RE-DE-NA-SIE genoem het, en dis so ’n lang naam dat almal hom by die skool daaroor spot.

Sy ma vertel altyd met trots waar die naam vandaan kom: sy het die naam by ’n toeris gehoor wat in ’n toerbussie by haar verby gery het toe sy nog vir Redenasie verwag het. Twee toeriste het na haar gekyk waar sy onder ’n doringboom gestaan het.

Een van hulle het gesê: “Dis darem vreeslik dat wilddiewe dink dat renosters se horings mense se siektes kan gesond maak!”

“Ja, om met hulle te redeneer help niks nie! Hulle luister net nie!”

“Ons moet ophou met redenasies ... Ons moet hulle baie swaar straf as hulle die renosters doodmaak en hulle horings steel! Ons moet hulle toesluit en die sleutels weggooi!”

Hoekom Redenasie nou kwaad is, is dat hy altyd gedink het dis ’n baie mooi naam, maar vandag het al die ander diere hom daaroor gespot. Hulle het in die skoolbus gesit en verby plakkate gery waarop die woorde RED DIE RENOSTER gestaan het ... en net daar het die ander na hom toe gedraai en begin lag.

“Dis van jou wat hulle praat, Redenasie!” het Herkie Hiëna geblaf-lag en ou Sarel Sebra se lang geel tande het hom sommer naar gemaak soos hy gerunnik het van plesier.

Hoe kon sy ma dit doen? Ma’s moet regtig bietjie dink voor hulle vir hulle kinders sulke snaakse name gee!

Gelukkig het die dag verbeter toe oom Swartlip Renoster hom geprys het toe hy sien Redenasie kry die renoster-stormloop die beste reg.

Eers moes hy sy neus in die lug hou om doodseker te maak waar die reuk vandaan kom, en dan moes hy een, twee, drie tel ... en storm! Terwyl hy storm, moes hy sy kop laag hou en soveel stof moontlik opskop. Die ding of persoon waarop hy afstorm, moes so groot skrik dat hy sommer voet in die wind slaan!

Oom Swartlip het na Redenasie gekyk en toe gesê: “Lyk my jy het jou pappa Wydbek se krag en vaart geërf, Redenasie! Daar word vertel hy het drie wilddiewe in die stof laat rol toe hulle sy horing wou steel ... Net jammer die vierde een het ’n geweer by hom gehad!”

Toe het oom Swartlip omgedraai en hulle het verder aan hulle ruik-en-storm-tegnieke geoefen. Maar hy kon sien oom Swartlip was hartseer, want sy pappa Wydbek en oom Swartlip was boesemvriende in hulle jong dae.

Toe hy later weer in die wildkamp norserig langs sy mamma staan, was hy verbaas dat sy nie die gewone vraag vra nie – die “Hoe-het–dit-vandag-by-die-skool-gegaan?”-vraag. Nee, sy lyk bekommerd. Tannie Olla Olifant en tannie Swartjie Renoster het haar vandag by die watergat vertel dat die spoorsnyers twee wilddiewe se spore langs die grensdraad gesien het, maar later het die spore doodgeloop.

“Mamma,” het Redenasie haar vinnig gevra, “hoekom moet ons oppas vir wilddiewe? Hoekom wil hulle ons horings hê? Kan ons nie net vir hulle ons horings gee nie? Dan ...”

Redenasie wou nog vir sy mamma vra wat nou so spesiaal aan renosters se horings is, toe sy kwaai aan hom stamp.

“Redenasie! Hoekom vra jy so baie vrae? Eerstens, die wilddiewe maak ons dóód om ons horings te kry, soos hulle met jou pappa gemaak het.

“Tweedens verkoop hulle ons horings vir sakke vol geld aan Oosterse mense wat glo dat daar geheime krag in is om allerhande siektes gesond te maak.

“En derdens, as ons nie horings het nie, sal ons net soos enige gladdebek seekoei lyk. Ek skaam my dood as ek nie meer ’n trotse renoster kan wees nie!”

“Maar Mamma, tannie Pouie Pou het vandag vir ons vertel dat renosterhoring en vere en naels en snawels geen medi ... medisi ... medisienjale waarde het nie.” Redenasie sukkel met daardie groot woord. Hy breek dit weer op in deeltjies: “ME-DI-SI-NA-LE” ... daar’s hy!

“Redenasie, daar sê jy nou iets wat almal weet, maar hulle wil dit nie glo nie! Toe kind, ons moet nou rus. Môre sal ons almal saam moet gesels oor hierdie probleem.”

So staan die twee renosters onder die parfuumboom van die Bosveld – die soetdoring. Redenasie kyk eenkant toe en sy mamma anderkant toe. Hulle dut so ‘n bietjie en dan steun hulle en dan skuif hulle reg vir die nag wat soos ’n groot velkombers oor hulle neersak. Hulle growwe grys velle lyk soos padkaarte met baie lyne en spikkels waar die maanlig plek-plek deur die blare op hulle val.

Redenasie wou nog vir sy mamma vra hoekom hulle nie maar liewer soos seekoeie kan lyk nie – ’n lewende renoster is tog beter as ’n dooie renoster – toe hy skielik iets ruik ... Iets vreemds ... iets wat oom Swartlip vandag vir hulle laat ruik het toe hy ’n stukkende trui-ding in hulle rigting geswaai het.

Sonder om een oomblik te huiwer, doen Redenasie presies wat oom Swartlip vandag so by hom geprys het: hy storm. Hy stamp sy groot voete dat die stof begin dwarrel. Hy hardloop al vinniger en vinniger ... dwarsdeur die wag-’n-bietjie-bos ... dwarsoor ’n jong mopanieboom. En toe is hy sommer bo-op twee baie benoude manne!

“Jô-Jô-Jô!!!” hoor Redenasie en toe maak hy ’n vinnige draai en hy storm weer!

In die dowwe maanlig kan hy net-net twee figure uitmaak wat hardloop dat die takke kraak.

Toe word Redenasie se oë heeltemal verblind deur twee helder ligte. Dis die wildbewaarders wat ook weggekruip het in die lang gras wat nou met hulle veldmotorfietse agter die wilddiewe aanjaag. Hy hoor skote klap! Iemand skree: “Ons het hulle! Bind hulle vas! Kry die polisie!!”

Toe kom hy agter dat sy mamma agter hom aangekom het. Sy stamp met haar voete op iets wat blink. Dis ’n byl! Redenasie sien hoe sy mamma ook op ’n lang skietgeweer gaan staan en die ding fyn en flenters trap.

En toe doen sy mamma iets wat sy lanklaas gedoen het: sy gee hom ’n regte wydbek-renostersoen net agter sy oor! Redenasie is baie bly Herkie Hiëna is nie hier om dit te sien nie!

“Dankie, my kind! As jy nie so vinnig opgetree het nie, was ek nou my horing en my lewe kwyt! Mamma is sommer ekstra-baie lief vir jou!”

Die volgende oggend sou Redenasie seker baie gebloos het as hy kon – maar hy’s ’n renostertjie en hy kan nie bloos nie. Op elke paal op pad skool toe was daar ’n nuwe plakkaat:

Redenasie Renoster
 red sy ma!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top