Putatiewe noodweer

  • 0
Vrees ... soos uitgebeeld op die werf http://www.marcandangel.com

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Toe ons kinders nog klein was, is die twee groter kinders dikwels deur hulle jonger boetie verpes terwyl hulle aan’t speel was. Op 'n dag het hulle besluit om die mannetjie 'n les te leer. Hulle het hom geblinddoek en by die verdieping bó by 'n buitedeur uitgeneem na 'n gelyk betondak. Daar het hulle hom op 'n baksteen laat staan en hom wysgemaak dat hy op die rand van die dak staan. Hulle het gedreig dat hulle hom daar sou afstamp as hy nie dadelik en plegtig sou beloof dat hy sou ophou om hulle te verpes nie. Die outjie het soos 'n maer varkie geskree sodat die bure vyf huise verder hom gehoor het. Uiteindelik het hulle hom toe wel van die baksteen afgestamp en het hy die blufspul agtergekom. Maar ek kan jou verseker dat solank hy op die baksteen gestaan het en deur sy ouer boetie en sussie getreiter is, hy vas gegló het dat hy op die rand van die dak staan.

Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak. En laat my byvoeg: met die uitspraak in Oscar Pistorius se opspraakwekkende moordverhoor wat nou binnekort verwag word, is vandeesweek se verhaal nogal toepaslik. 'n Sekere mnr Naidoo van Transvaal is daarvan aangekla dat hy sy pa in 1995 vermoor het deur hom met 'n vuurwapen in die kop te skiet. Die jeugdige mnr Naidoo het 'n paar dae vantevore die pa van 'n fris seun geword. Vroeër die aand was daar nogal 'n taamlike debat in die familie na wie die seuntjie vernoem moes word. Mnr Naidoo se vader was 'n Tamil, terwyl hy self en sy vrou – die ma van die babaseun – Moslems was. Die argument het daaroor gegaan of die seuntjie 'n Tamil- of 'n Moslem-naam moes kry.

Die debat het lank ná middernag voortgeduur en op 'n stadium is mnr Naidoo se vader en sy broer daar weg. Mnr Naidoo het egter nog met sy ma en suster oor die gewigtige kwessie geargumenteer toe hy 'n geluid by die veiligheidshek voor die huis se voordeur hoor. Omdat daar voorheen inbrake by sy huis was, en omdat hulle in 'n gevaarlike buurt gewoon het, was hy dadelik op sy pasoppens. Hy het drie maal gevra wie daar is, maar daar was geen antwoord nie en toe het hy die voordeur oopgemaak. Daar was weer 'n geluid by die veiligheidshek en hy het toe 'n skoot met sy vuurwapen afgetrek. Onmiddellik daarna het hy tot sy afgryse ontdek dat dit eintlik sy vader en broer was wat, nadat hulle vroeër die aand daar weg is, weer teruggekom het. Sy vader was op daardie stadium reeds sterwende.

In sy uitspraak1 van 29 Augustus 1997 beslis regter Marais dat die Staat nie bewys het dat mnr Naidoo die direkte opset gehad het om sy pa dood te skiet nie. Omdat hy egter toegegee het dat hy die moontlikheid voorsien het dat hy, deur te skiet, iemand buite die woonhuis dodelik kon tref, het hy wel opset by moontlikheidsbewussyn gehad. Dít sou voldoende wees om hom aan moord skuldig te vind.

Die hof het egter beslis dat die Staat moes bewys dat daar by mnr Naidoo diepersepsie was dat, terwyl hy die skoot afgevuur het, hy onregmatig opgetree het. Dit is ‘n sleutelbegrip: al maak 'n mens iemand opsetlik dood, kan dit onder bepaalde omstandighede nie onregmatig wees nie, byvoorbeeld wanneer jy in noodweer of selfverdediging optree. As iemand jou aanval en jy jou kan verweer of beskerm slegs deur die persoon dood te maak, is jou optrede wel opsetlik, maar nie onregmatig nie. Daar word in regstaal gesê dat jy in noodweer opgetree het; dat jy, met ander woorde, 'n regverdigingsgrond gehad het.

Maar dit is duidelik dat daar in mnr Naidoo se geval geen werklike aanval op sy huis was nie. Net soos my jongste wat op die baksteen gestaan het, vas geglo het dat hy op die rand van die dak was, het Naidoo – toe hy twee maal 'n geratel by die veiligheidshek gehoor het – vas geglo dat daar inbrekers is wat hom en sy huisgenote wou aanval. Hy het nie regtig in noodweer opgetree nie, maar hy het gegló dat hy in noodweer optree.

Die hof het beslis dat dié oortuiging by mnr Naidoo nie onredelik was nie. Om mee te begin was hy maar skaars 19 jaar oud. Daar was voorheen inbrake by sy huis. Hy was die enigste man in die huis en hulle het in 'n gevaarlike buurt gewoon.

Die hof het egter 'n probleem gehad met die manier waarop mnr Naidoo geskiet het. Die hof was van mening dat hy onredelik opgetree het deur die skoot op kophoogte af te vuur. Die redelike mens sou onder die omstandighede waarskynlik 'n waarskuwingskoot in die lug of in die grond afgevuur het, of hy sou op só 'n hoogte gemik het dat hy die vermeende of werklike aanvallers nie met die eerste skoot noodlottig sou tref nie. As hy 'n waarskuwingskoot geskiet het, kon hy die houtdeur weer onmiddellik toegeslaan en gegrendel het – iets wat hom net 'n paar oomblikke sou geneem het. Hy kon daarna alarm gemaak het en ander maatreëls getref het om hom en sy huisgenote te beskerm.

Kortom, hoewel mnr Naidoo volgens die hof dus redelikerwys geglo het dat daar 'n aanval op sy huis was – regsgeleerdes praat van “putatiewe noodweer” – was sy optrede daarná onredelik. Die hof het bevind dat hy nalatig was en omdat hy sy pa se dood op 'n nalatige wyse veroorsaak het, is hy aan strafbare manslag skuldig bevind. Ons lees nie in die hofuitspraak wat sy vonnis was nie, maar 'n mens kan nie glo dat hy besonder swaar deur die hof gestraf is nie.

Wel, wel: die ooreenkomste tussen dié saak en (een van?) Oscar Pistorius se verwere – dat hy in putatiewe noodweer gehandel het toe hy geméén het dat daar ‘n inbreker in sy badkamer is – is nogal opvallend, nie waar nie? Laat ons dus maar wag om te hoor wat die Noord-Gautengse hof se uitspraak gaan wees. As die Hof sou bevind dat Oscar nie die opset gehad het om Reeva te vermoor nie, sal die redelikheid van sy optrede nádat hy die persepsie gevorm het dat daar ‘n inbreker is, skerp onder die hof se soeklig kom.

 

1 S v Naidoo  1997(1) SASV 62 (TPD)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top