PEN Afrikaans: Nuusbrief – Desember 2013

  • 0

1.
Die jaar steier einde se kant toe met ons land wat eer bring aan die ontslape eerste president van die bevryde republiek, Nelson Mandela. Die vieringe verloop met eerbied en soms onverwagte newe-effekte, politiek en andersins. Ek hoop dat die feestyd vir al ons skrywers presies dít sal bring waarna hulle smag, of dit nou rus en stilte is, en of dit volop inspirasie is, maak nie saak nie, laat dit in oorvloed deel wees van jul afskeid aan die jaar 2013.

Namens die bestuur van PEN Afrikaans ons seënwense vir die Kersgety, en die hoop dat 2014 ’n jaar sal wees waarin die lede van PEN Afrikaans elkeen groot bydraes maak tot die uitbou en groei van die Afrikaanse geskrewe woord.

2.
Ons sit steeds en worstel om as organisasie behoorlik geregistreer te word by die Departement van Sosiale Ontwikkeling. Ek verwag nie in die laaste paar weke van die jaar enige nuus uit Pretoria nie; op die oomblik het ons darem die gerusstelling dat die departement volkome bewus is van ons. Ons oefen voortdurend druk op hulle uit en sal ons affiliasiegelde aan PEN Internasionaal  betaal al is ons nog nie amptelik geregistreer nie.

3.
Ons het op die oomblik 75 opbetaalde lede – in omvang is ons nou net so groot soos die Afrikaanse Skrywersgilde op sy stewigste was. Ingevolge die gesprekke wat ons by die afgelope jaarvergadering gehad het, sal ons in die komende jaar meer daarop fokus om alle lede meer aktief te betrek by ons werksaamhede.

NB:  Daar het ’n fout ingesluip met die inbetaling van vyf persone se ledegelde. Ons het die geld ontvang, maar daar is geen duidelike aanduiding van wie dit kom nie. Daarbenewens is daar ook betalings ontvang waarin die sender van die geld slegs aangedui word as  “NWU” of “Naspers”. Ons het ook betalings ontvang van twee persone, E. Plaatjies en C.van der Westhuizen, van wie ons geen lidmaatskap-aansoeke of enige kontak-detail het nie.

Ek heg hierby ’n lys van die identifiseerbare opbetaalde lede se name aan; kyk asb daarna, en indien jy betaal het maar jou naam verskyn nie op die lys nie moet jy asb dadelik vir my (by penafrikaans@gmail.com) of Amanda Lourens (by alourens@sun.ac.za) daarvan verwittig.

4.
Ek wil in 2014 sorg dat die bestuur van PEN Afrikaans op gereelde grondslag met die lede in verbinding tree deur middel van ’n maandelikse nuusbrief. Uiteraard sal ons op ons Facebook-blad aktief wees, maar in die nuusbrief wil ons die net wyer gooi met nuus oor skrywers, nuwe publikasies en inligting or enige bedryfsvraagstukke wat vir skrywers van belang is.

5.
Naas Steenkamp is tans besig met die finansiële dokumentasie vir die afsluiting van ons finansiële jaar einde vandeesmaand.

6.
PEN Afrikaans het inskrywings deur twee jong skrywers, Christina van Deventer en Danie Stander, benoem vir die eerste New Voices-kompetisie wat vanjaar deur PEN International van stapel laat loop is. Albei het aan die hoofvereiste voldoen, naamlik dat hulle jonger as 30 moet wees. PEN Afrikaans het gereël vir die vertaling van hul inskrywings in Engels, Frans en Spaans. Ofskoon hulle nie onder die eerste drie gelys is met die bekendmaking van die wenner tydens PEN Internasionaal se jaarvergadering in Reykjavik, Ysland nie, glo ons dat hul inskrywings wel deeglik mededingend was.

Ons gelukwensinge gaan dan ook aan South African PEN, wat die wenverhaal ingeskryf het. Dié verhaal, “Space” is die pennevrug van Masande Ntshanga (27), ’n graduandus van die Universiteit van Kaapstad en boorling van Oos-Londen.

Die naaswenners is ‘Temporada de halcones/Falcon Season’ deur José Pablo Salas (PEN Mexico) en ‘The Collective Name for Ninjas’ deur Claire Battershill (PEN Canada).

Lees die wenverhaal by
http://www.pen-international.org/wp-content/uploads/2013/09/SpaceFinal.pdf

7.
In 2014 wil ons uitvoering gee aan ons vorige voorsitter, se pleidooi om lede meer aktief te betrek by PEN Afrikaans. Ek sal vroeg in die nuwe jaar met die bestuur vergader om die nodige projekbeplanning te doen: identifisering, formulering en loodsing. Uiteraard sal ons fokus op dié terreine waar ons goed geposisioneer is, naamlik leesinisiatiewe, geletterdheid- en vertaalprojekte. Sonja Loots het in haar laaste voorsittersverslag daarna verwys; dit is nou tyd om uitvoering te gee daaraan.

Ek nooi alle lede uit om enige voorstelle oor sulke projekte aan my te stuur vir oorweging deur die bestuur.

Aan die nuwe bestuur – Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen, Naomi Bruwer, Desmond Painter en Amanda Lourens – wil ek graag die versoek rig vir voorstelle oor ‘n vertaalprojek, soos in die vooruitsig gestel deur Sonja Loots. Ek meen ons kan binne die groter raamwerk van PEN deur só ’n projek baie doen om Afrikaanse skrywers bekend te stel an ander taalgroeperings binne die internasionale skrywersgemeenskap, asook onsself verryk deur vertalings van hul werk in Afrikaans.
Ek besef dis ‘n hele mondvol, maar as ons nie probeer nie, gaan ons nie weet of dit werk nie.

8.
Die behoorlike beplanning van nuwe projekte  kan alleen geskied aan die hand van ’n behoorlik opgedateerde Missie en Visie vir PEN Afrikaans. Ek sal dit in oorleg met die bestuur voor einde Januarie 2014 afhandel. Baie van die mikpunte wat ons ons in 2012 gestel het, is gedeeltelik of volledig behaal, terwyl daar ook ‘n groot aantal is wat dringend aandag en aksie moet kry. Ek sal in my volgende nuusbrief hieroor verslag doen.

Kerneels Breytenbach
Voorsitter
PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top