PEN Afrikaans-gesprek: Die impak van die Afrikaanse skrywer

  • 0

Op Woensdag 25 Maart 2015 het PEN Afrikaans hulle eerste oop gesprek aangebied by die Breytenbach Sentrum op Wellington. Die tema was: “Watter impak kan die Afrikaanse skrywer nog in die hedendaagse Suid-Afrika maak?” Die paneel het bestaan uit Breyten Breytenbach, Adam Small, Bettina Wyngaard en Danie Marais. Hier onder volg Bettina Wyngaard se toespraak.

bettinapen600

Wanneer ons kyk na die goed wat die afgelope tyd in die nuus was, dan is die temas grootliks soos volg: korrupsie, geweld, armoede, die opvoedingskrisis, rasseverhoudinge, sensuur beide hier en in die buiteland, die ekonomie, die maniere hoedat die demokrasie vereng en ’n polisiestaat begin ontwikkel.

Dis nie regtig anders as die issues waarmee Brink in die tyd waarin Kennis van die aand geskryf was, mee te doen gehad het nie. Daar is beslis oorgenoeg relevante issues waarmee hedendaagse skrywers konfronteer word.

Wat wel verander het, en steeds besig is om te verander, sedert Kennis geskryf was, is die status van Afrikaans. Ek noem dit, want ek is nie seker dat ons ’n gesprek kan hê oor die relevantheid en rol van Afrikaanse skrywers sonder om ook ’n gesprek te begin oor die rol van Afrikaans nie.

In die ’60’s, ’70’s en ’80’s was dit die taal van keuse van die maghebbers, die taal, vir baie, van die onderdrukker. Nou is dit ’n taal gepraat deur ’n minderheid, ’n taal onder beleg. Die olifant in die vertrek is altyd Afrikaans se politieke en kulturele bagasie, wat elke keer opnuut opgehaal word wanneer daar een of ander politieke issue is.

G’n ander taal het dieselfde bagasie nie. Kyk bv die protes rondom die Rhodes-monument, en die uitroepe dat name van institusies verander moet word. Nie een keer word daar geargumenteer dat ons nou Engels by die deur moet uitgooi nie - dis totaal ondenkbaar. Die rede hiervoor is Afrikaans se swak PR.

Kyk na wie die poster children vir Afrikaans is: die Steve Hofmeyrs en Sunet Bridgesse van die wêreld. Die ander, die ons-is-nie-almal-so-nie-groep, is grootliks stil, met die gevolg dat die gesig van Afrikaans altyd konserwatief en wit bly. Taal en ras bly verbind.

Die realiteit is natuurlik heeltemal anders. Sensus 2011 het bevind dat van 6,9 miljoen mense wat Afrikaans as huistaal aandui, net 40% wit is, maar ons sien dit nie reflekteer in die media nie. Dan baklei ons verder oor watter Afrikaans is die regte Afrikaans. Standaardafrikaans, maar wie stel die standaard? Die 40%?

Ons vergeet dat dieselfde kinders wat in 1976 geboikot het teen Afrikaans, dié wat in die tronk gegooi en gemartel en geskiet was, nou in beheer van die land is. Hulle het bitter min restitusie gesien. 20 jaar het intussen verbygegaan, maar min het verander. Swart mense is nog steeds arm en bly in ellende, en hulle blameer Afrikaners daarvoor, en by extension Afrikaans. Hulle sukkel om kos en klere en ’n dak oor die kop te kry, sg eerstegenerasie-regte, terwyl ons ’n gesprek voer oor taal, kultuur en kuns. Hulle wonder of daar boeke gaan wees vir hulle kinders om skool toe te gaan, terwyl ons praat oor die taal van onderrig aan universiteite. Ons probeer ’n intellektuele gesprek aan die gang hou in ’n politieke omgewing wat toenemend militant is. Die leunstoel ivory tower intellektuele gesprek werk eenvoudig nie meer nie. Daar’s ’n totale disconnect tussen wat in mense se lewens aan die gang is, en dit waarmee skrywers besig is.

Bitter min skrywers het reageer toe die muilbandwetgewing kop uitgesteek het. Nie ’n haan het gekraai toe die een-boek-per-vak-beleid deur die onderwysdepartement bekend gemaak is nie. Engelse skrywers het vinnig reageer toe Zainub Dala aangerand is oor uitsprake wat sy gemaak het by ’n boekfees. Afrikaanse skrywers het grootliks stilgebly.

Op ’n manier sal ons die disconnect tussen wat aan die gebeur is en dit wat skrywers doen, moet oorbrug. Ons kan net relevant word as ons aktivisties word. Die talent is daar. Die issues is daar. Die vraag is net: Bestaan die guts?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top