ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Peet Venter (1940–)

Sêgoed van Peet Venter:

In 1978: “Ek wil oor die mens skryf en oor die heroïese in hom. Ek wil sinvol en volwasse skryf, want ek self en my naam is onlosmaaklik aan my werk verbind.”

“Ek hou van die riller-genre, maar ek is versigtig om my te laat vasbind in net een spesifieke genre.”

In 1997: “Wanneer ek aan ’n boek werk, hou ek daarvan om in ’n styl te skryf wat in daardie stadium in my kop is. Disa DISA is byvoorbeeld nie net ’n riller nie. Daar is ook romanse in. Ek hou myself oop en wil nie vasgepen word as ’n skrywer wat net in een styl werk nie.”

“Die misdaadroman leen hom by uitstek tot vinnige, volgehoue aksie en spanning. ’n Mens moet jou storie ken om dit reg te kry. Jy moet jou leser binne die eerste sin of twee vasvang, en nie weer laat los tot die einde nie.” 

Hoekom die misdaadgenre? “Ek hou van dié genre, omdat dit lekker breinoefening is. En omdat dit so na aan die werklike lewe is, moet ’n mens se navorsing deeglik wees. Dit is ook die rede waarom ek huiwer om te diep ondersoek na die psige van die misdadiger in te stel. Dit is ’n baie gespesialiseerde veld, en ek het nie genoeg kennis daarvoor nie. Ek verkies om net aan die basiese innerlike van die moordenaar te raak, en sy dade verder te laat spreek. Die res laat ek aan die leser oor.”

“Wie is ek om my siening aan ander te wil opdring? As ’n skrywer wil derms uitryg oor moraliteit, politiek, godsdiens, dan moet hy ’n niefiksie-boek of tesis loop skryf. Afgesien daarvan dat dit weer eens oor oormatige woorde gaan, het die meeste stories die werklike lewe as verwysing. Dinge wat daagliks om en met ons gebeur, is van toepassing op die karakters en storielyn. Om dit in ’n storie totaal te vermy, kom neer op kosmetiek. Dit mag mooi wees, maar dit is vals. Laat dit met die karakters gebeur, laat hulle daaroor praat en dink, maar nie tot kotsens toe nie. Dieselfde geld vir vloek. Sommige mense vloek, of ons nou daarvan hou of nie. Punt.”

“Mense vra dikwels hoekom is ek so stil. Miskien is ek tot ’n mate ’n introvert – ek weet nie. Maar dit gaan darem nie so ver as antisosialisme nie. Ek kom gemaklik met mense oor die weg, kan gesprekke voer, selfs laf raak. Ek dink dit gaan meer daaroor dat daar vir my nie eensaamheid in alleenheid is nie. Ek geniet die ‘regte’ geselskap, maar mis dit ook nie as dit nie daar is nie, want eintlik is my gedagtes die beste geselskap.”

Oor kritiek: “Positiewe kommentaar en resensies is lekker, maar mens moet dit nie kop toe vat nie. Negatiewe kritiek is net so belangrik: ’n mens leer daaruit. Dit sluit natuurlik die snotterige aftakeling van sommige kritici uit. Hulle is gewoonlik dié wat woorde gebruik wat mens moet gaan opsoek, en kleinhuisiemetafore. ’n Mens leer maar so met die tyd om hulle van ’n afstand raak te sien. Die ware kritikus wys die goeie en slegte uit én staaf dit. Die ware kritikus onderrig en bou op. Die een wat ’n persoonlikheidsprobleem het, verkleineer en breek af.”

Gebore en getoë

Petrus (Peet) Venter is op 3 Oktober 1940 op Krugersdorp gebore as die jongste van vier seuns, met een jonger suster. Sy pa, WF Venter, was ’n predikant daar. Hulle het in 1943 na Louis Trichardt verhuis, waar hy “mens geword” het. Hy is in 1947 Op Louis Trichardt skool toe.

As die jongste van vier seuns, met een jonger suster, het Peet baie “onafhanklik” grootgeword. Hy vertel: “Ek dink in die sin dat my ouers hulle hande so vol gehad het met my drie ouer broers, en so in hul skik was met die dogter (uiteindelik), dat ek soort van die een in die middel was. Hoegenaamd nie afgeskeep of verwaarloos nie. Net vryer, meer op myself aangewese, wat ek glo ’n goeie ding was. Ek dink dit het my in staat gestel, miskien selfs gedwing, om myself as mens reeds in daardie vormende kinderjare te vind. Dis dalk die rede waarom ek nooit ’n ‘midlife crisis’ gehad het nie. As ek een gehad het, moes dit een nag gebeur het toe ek geslaap het.”

In 1949 het Peet se pa ’n beroep na Pretoria-Noord aanvaar en sedertdien is hy ’n Pretorianer. Hy het sy laerskoolloopbaan aan die Voortrekker Eeufees Laerskool in Pretoria-Noord voortgesit. Daarna is hy na die Hoërskool Wonderboom, waar hy in 1958 gematrikuleer het.

Sy liefde vir die letterkunde dateer reeds uit sy kinderjare en sy ouers het hierdie liefde vroeg besef en sy verjaardaggeskenke het gewoonlik uit boeke bestaan. “Ek was van jongs af lief vir lees. My ma het my baie aangemoedig om te lees. En in ’n stadium begin ’n ou drome droom oor wat jy wil word, en ek wou ’n skrywer wees.”

Peet se eerste tree op die skrywerspad het hy in standerd vyf gewaag toe hy ’n pryswenner was in die jaarlikse opstelwedstryd wat die destydse Suid-Afrikaanse Vlootbond gereël het, maar hy het eers later ernstig begin skryf.

Verdere studies en werk

In 1959 skryf hy in by die destydse PU vir CHO (vandag Noordwes-Universiteit) op Potchefstroom vir die BMus-graad aan die Konservatorium vir Musiek, maar slaan in sy tweede jaar oor na die natuurwetenskappe.

In 1964 het Peet as tegnikus in diens van die destydse Departement van Landbou-Tegniese Dienste getree en in 1971 het hy as ontwerptegnikus by ’n raadgewende ingenieursfirma in Pretoria aangesluit en was later daar werksaam as medewerker in die meganiese spesialiteitsrigting.

Peet se eerste roman, Die alleenlopers, is in 1978 by Perskor gepubliseer. Dit is beskryf as ’n sterk verhaal wat vierkant geplant is in die onrustige, veranderende milieu van Suidelike Afrika van 1978. Dit vertel die storie van Anton Vermeulen se soeke na sy pa en na homself. Volgens sy oupa en ouma wat hom grootgemaak het, is sy ma verkrag en is hy die produk van die verkragting. Hy word taamlik “skeef” groot en sy hele lewe is ’n soeke na identiteit.

Hy word ’n suksesvolle advokaat met ’n mislukte huwelik agter die rug. Vermeulen hoor van ’n jagter (vermoedelik sy pa) wat in die noorde van Transvaal woon en werk. Hy gaan soontoe om met sy pa af te reken en daarna met homself.

Hier kom al die bestanddele van ’n avontuurverhaal bymekaar: twee mooi nooiens, ’n wapensmokkelaar, ’n klomp swartes wat in opstand wil kom. Die alleenlopers van die verhaal is Vermeulen en Omata Oshinga, die terroris.

PH Roodt meen dat die verhaal plek-plek ’n lekker avontuurverhaal word, maar dat daar ’n lastige neiging tot diepdoen by die verteller is, veral in die uitbeelding van Anton. Die verhaal van Omata en die stam is veel meer oortuigend en dit getuig van goeie kennis van die swart man, en die vertelling is hier knap en selfs boeiend. Venter het iets om te vertel en soms doen hy dit heeltemal bevredigend, maar goeie redigering kon heelwat van die struktuurfoute voorkom het.

Peet het lank aan Die alleenlopers gewerk, meestal snags, want hy is ’n besonder veelsydige mens. Sy skeppende talent begin en eindig nie by skryf nie: hy skilder graag en doen ook baie goeie beeldhouwerk. Die indrukwekkende gedenkpaneel in Delmas se stadsaal was sy handewerk en sy skilderye is ook baie gewild.

Terwyl Peet ’n intense belangstelling in die werk van die groot filosowe, van Plato en Aristoteles tot Nietzsche, het, het hy ook ’n besondere voorliefde vir motorfietse en een van sy grootste plesiere was om teen 200 km/h op ’n groot fiets te jaag (dit was in 1978).

Hy het in Ayn Rand die antwoord gevind op sy lewensfilosofie wat so deur die jare opgebou het. Sy het ’n besliste invloed op sy werk gehad.

’n Verskeidenheid van sy kortverhale het onder andere in die tydskruf Keur verskyn, asook in bundel wat deur JP van der Walt uitgegee is, soos Naglopers, Kortetjies vir die katel, Vangnet, Die goeie gety, Bloudruk, Drif en Dwalers.

Na die publikasie van Die alleenlopers in 1978 het 17 jaar verloop voor Peet se tweede boek in 1995 verskyn het onder die titel Die reuk van rose in JP van der Walt se Speur-/Spanningsreeks.

Die reuk van rose het ’n baie interessante intrige. Alles dui daarop dat die drie dienspligtiges wat duimry huis toe met ’n naweekpas, deur ’n reeksmoordenaar vermoor gaan word. Maar wat sou die motief wees? En dit is wat die briljante speurder, Thys Krige, en sy baie sexy, slim vrou moet uitvind. Om dié grieselige spulletjie vir Krige nog meer raaiselagtig te maak, word 'n wit roos by elke lyk gelaat. Renier Rossouw, 'n sielkundeprofessor, bied sy hulp aan met die ondersoek en dinge neem 'n aardige wending.

Dieper as die bloed (1996) is ’n vervolg op Die reuk van rose, maar die twee kan ook onafhanklik van mekaar gelees word.

Nog ’n spanningsverhaal uit Peet se pen, Disa DISA, verskyn in 1996. Dit speel af teen die agtergrond van die Knysna-woud. Net so sinister as wat die woud kan wees, net soveel misterie tref Matt le Roux aan wanneer hy terugkeer om van die erfplaas Donkerhoek ’n spogplaas te maak. En hy is feitlik oortuig daarvan dat sy eie broer, die aantreklike Jean-Roux, iets met die bose kring te make het. Onopgeloste moorde, wreedaardige aanranding, onderduimsheid en die eienaardige manier waarop Jean-Roux mense manipuleer, laat Matt tot die oortuiging kom dat daar meer as net ’n bolangse stryd tussen die bose en die goeie op Donkerhoek en die omliggende plase aan die gang is.

Volgens Marianne Breytenbach sal lesers wat van okkultiese ondertone in hul leesstof hou, van Disa DISA hou. Elk van die 448 bladsye spreek van jare se beplanning, navorsing, oordenking en herskryf. Maar dis nie ’n mak boek nie. Benewens die okkulte is daar ook effe kru taal en ’n warm sekstoneel of twee.

Oor Disa DISA het Peet in 1996 by die Leeskringseminaar op Welkom die volgende gesê: “Die onderstroom van Disa DISA kan met die eerste interpretasie gesien word as die ou konflik tussen goed en kwaad. Hoewel dit basies reg is, is dit nie volledig nie, en miskien ietwat simplisties. Die onderstroom van die onderstroom gaan oor daardie mistieke, daardie instink wat in die mens was van sy vroegste, primitiefste bestaan as denkende wese, en waaruit juis die begrip van goed en kwaad ontstaan en ontwikkel het – eers as net ’n heel grondige onderskeid tussen wat as mens teenoor mens in ’n samelewing reg of verkeerd is, tot wat ons vandag ken as ’n uiters verfynde en verweefde etiese en morele kode.

“Ek het in Disa DISA die mistieke nie alleen doelbewus grondliggend tot konflik gemaak nie, maar dit ook as die samebindende faktor probeer gebruik, nie alleen tussen die versoenbare nie, maar ook tussen die konflikterende.

“My keuse om van Disa DISA ’n lekkerleesstorie – maar geensins ’n oppervlakkige een nie – te maak, was nie gegrond op ’n vrees vir of onvermoë tot die swaar filosofiese werk nie. Ook nie op die feit dat dié genre al redelik holrug gery is nie.

“Ek het my om verskeie redes weerhou om die bose met die taamlike tradisioneel mistieke onderstroom, in direkte konflik te plaas met byvoorbeeld ’n sterk teenstellende Christelike oortuiging. Die groot rede is dat die Christelike of enige ander aanvaarbare godsdienstige geloof, ook maar ’n sterk mistieke onderstroom het. Sou ek die twee teenoor mekaar stel, sou ek maar net die konflik verdiep het na die mistieke vlak.

“Daar is rillerelemente, want ons leef in ’n riller. Daar is humor, vreugde en tragedie, en ook witwarm seks en tere romanse. Daar word skreiend gevloek. Wat kan ek sê? Dit is nie my skuld as mense so lelik praat nie. Ek is maar net ’n eerlike skrywer. Daar word gelieg en bedrieg, en daar is rugstekery, want die politici sal maar altyd met ons wees.”

Disa DISA het groot genot aan F Vorster verskaf in die opsig dat dit ’n afwisseling bied van die meeste destydse werke wat primêr om die politieke situasie verweef was. Die roman skop af met ’n aanhaling uit Raka van NP Van Wyk Louw wat vooruit wys na die oeroue tema wat hier vergestalt word, naamlik dié tussen goed en kwaad. Ook in hierdie stryd speel liefde ’n belangrike rol in die poging wat aangewend word om die bose te oorwin.

Die karakters is almal pionne, soos in die legende van die enkeltweeling met die tweelingsiel waar ’n tweeling by geboorte geskei word. Een van die tweeling word as menslike offer gebring. Die oorlewende word dan binnegedring deur die siel van die geofferde – vandaar die uitdrukking “die enkeltweeling met die tweelingsiel”. Die legende word in die voorwoord vertel en verskaf daardeur die nodige agtergrond vir die leser.

Naamgewing is ’n verdere bevestiging van die legende se invloed op die karakters en intrige wat vergestalting vind in ’n sirkelgang wat telkens terugkeer na die Grot van Stemme waar voorspellings en waarskuwings aan karakters gegee word. Al die karakters is op een of ander wyse eg menslik vasgevang in sekere beperkings soos talent, onbeantwoorde liefde, wellus en moordgenot. In die epiloog bind die skrywer alle loshangende drade tot eenheid en skep boonop ook die moontlikheid van ’n opvolg.

’n Bundel ligte kortverhale getiteld Die koeël is deur die kerk word in 1997 gepubliseer. Hierin herroep ’n predikantseun sy kinderdae, tot groot vermaak, skryf Jeanette Ferreira. Soms word ’n lagwekkende situasie dalk ’n bietjie ver gedryf, sodat die kinkel verlore gaan. In sommige verhale is dit duidelik dat Venter nie uit sy pad gaan om polities korrek te skryf nie, hoewel dit seker ook as ’n stukkie realisme uit die vroeëre Boereplatteland beredeneer sal kan word. Wat Venter se stories so ’n heerlike stuk humor maak, is dat die verteller met groot deernis na sy karakters kyk wanneer hy skryf oor swakhede en strewes eie aan die plattelandse, Calvinistiese Afrikaanse kultuur. Lesers wat aanstoot neem oor seksuele insinuasies of kragwoorde, mag geïrriteerd raak, maar dis alles in ’n goeie gees.

Henk van de Graaf meen dat Venter die vermoë het om uitdrukkings en woorde nuwe betekenis te gee en dat sy manier van stories vertel, pittig is. Volgens Van de Graaf is Die koeël is deur die kerk ’n aanwins vir die boekrak.

Thys Krige, die speurder van Die reuk van rose, maak in latere boeke van Peet weer sy opwagting, soos in Nag van die narre, waar hy weer met ’n reeksmoordenaar te doen kry – hierdie keer is die toneel vir hierdie lekkerleesriller ’n universiteitskampus en al die slagoffers is studente.

By die universiteit se mediese skool wag die eerstejaars snags angstig vir nog ’n sarsie in die ontgroeningsproses, wanneer senior studente, almal gesigloos agter klapmusse, soms genadeloos op hulle toeslaan. En sommige knak onder die aanslag. In die kliek van die uitgesoekte seniors is die sogenaamde narrekring, waar dinge soms te ver gevoer word. Dan kap iemand terug en van die narre word vermoor.

Met die honderdste herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 publiseer Van der Walt Peet se Vlieg, duifie, vlieg!. Dit handel oor die Villiers-gesin van Boesmanskloof naby Aliwal-Noord wat deur omstandighede buite hulle beheer in die Boere se stryd teen die Engelse ingedwing word. Dis ’n oorlog wat die gesin uitmekaar skeur en Chrissie Villiers weerloos laat teen groter vyande as die Britse soldate op die vernielde Boesmanskloof.

Chrissie word, soos baie ander Afrikaners in die Kaapprovinsie, vasgevang in die oorlogsnet. Toef Taljaard wil nie gaan veg nie, want dis nie die Kaapse Afrikaners se oorlog nie. Marcel gaan wel, en Jan Lotriet weet wat hy wil hê – in oorlog geld verraad ook. Maar op die ou end lei alle paaie terug na Chrissie. Dit is ’n opwindende historiese roman met genoeg romanse en avontuur om lesers te boei en wat goed aansluit by die res van die lektuur oor die Anglo-Boereoorlog.

Met In kringe: ’n verhaal in drie stemme wat in 1999 gepubliseer is, het Van der Walt Uitgewers ’n interessante eksperiment gedoen. In 1956 verskyn GA Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die Vuurpyle Vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die Lewe verskyn.

Die verhaal is oerbekend: ’n man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus ’n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.

Joan Hambidge skryf dat die waarde van die novelle in die vermoë lê om subteks te hanteer. Onder meer die kernpassasie wanneer die hings getem word, en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies.

’n Mens lees jou soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat ’n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.

Tipies postmodernisties antwoord twee ander skrywers Watermeyer, en die publisiteitstuk wil dan Watermeyer tot Douw verklaar; Estelle Marais tot Myrna; en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.

Hambidge meen dat puriste waarskynlik die piep sal kry, maar dat dit tog ’n interessante literêre eksperiment is. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag vol te hou, moet die leser maar self besluit.

Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om vanuit ’n psigoanalitiese perspektief te ontleed) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. ’n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met ’n ongeskonde oog kan lees nie.

Onder meer hou Myrna in Marais se verhaal ’n dagboek. Hierdie belydenistegniek is by uitnemendheid geskik om al die intieme besonderhede aan die leser bekend te maak wat andersins onbekend sou bly. Maar verskeie passasies kon maar aan die lesers verbygegaan het.

Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit ’n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die Oedipale struktuur (die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by ’n jong student. Sy is weer, op haar beurt, verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees. 

Die bloedskendige word hier geaktiveer, en volgens Freud is dit onderliggend aan die sogenaamde “familieromanse” wat gebaseer is op Sofokles se Koning Oedipus.

Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel, en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser (en hier by name Hambidge) met ’n rooi pen sit en tik-tak. Kan iemand nie asseblief ’n embargo op die woord “bruusk” plaas nie? Om nie te praat van “honger” nie!

Vir Hambidge is dit jammer dat ’n vertelling met soveel moontlikhede verongeluk het. ’n Beter redakteur kon beslis meer met In kringe uitgerig het.

Aan die positiewe kant: ’n student wat wil navorsing doen vir ’n postmodernistiese projek kan al die aanhangsels bestudeer. En sig miskien afvra of die eerste verhaal nie reeds al die implikasies dra wat die ander uittamboeryn nie? En navorsers in populêre fiksie kan eweneens die taalgebruik nagaan, en die leë metaforiek van liefdesverhale.

In 2001 is twee van Peet se verhale opgeneem in 3 van die bestes, saam met François Bloemhof se Vrou in die maan. Peet se stories was As die regters swyg onder sy eie naam en Diep moord onder die skuilnaam Tom Weiss. As die regters swyg is nog ’n Thys Krige-storie met ’n dwelmagtergrond, terwyl Diep moord se hoofkarakter ’n skisofreniese vrou is wat ’n appeltjie of twee, drie, vier te skil het en sy het ’n unieke manier om daardie appeltjies te skil.

Peet se volgende boek word eers weer in 2009 gepubliseer. Met Slang – die onbesonge held bied Venter heerlike ligte vermaak en word die verhaal van Slang Slabbert, die onbesonge held, op kostelike wyse vertel. Hy is eintlik Josias Slabbert gedoop, maar omdat hy haarloos gebore is en so geruisloos beweeg het, het almal hom Slang genoem.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was Slang in sy twintigs en ’n goeie skut, ruiter en ’n uitstekende verkenner. Maar hy kon nie op kommando bly nie. Die kommandant het hom huis toe gestuur na sy weduweema Sanna toe. Die rede ...

“Die kommandant het hom vir die nag ingerig onder sy velkombers. Hy het pas sy snorkritme gekry toe hy, soos in ’n droom, bewus word van ’n tweede teenwoordigheid saam met hom onder die kombers ... 

“’naand, Oom,’ sug Slang vertroulik in sy oor. 

“‘O, jou ... se ...!’ gil die kommandant. Hy glip onder sy kombers uit soos ’n katowadruif uit sy dop. ‘Slang!’ gil hy van waar hy etlike treë verder in sy flennie-onderbroek en hemp staan. 

“‘O, jou ... se ...!’ koor die manne. ‘Wáár, Kondant?’ terwyl hulle so in die donker na gooibare klippe soek.”

Ter wille van die verdere ordelike historiese verloop van die oorlog is Slang toe maar huis toe gestuur. En dis eintlik dáár waar sy heldhaftige en onverskrokke dade ’n Skot se hele lewensverloop verander het en die Boerkrygers een van die treffendste veldslae gelewer het.

Peet het in 2012 Die reuk van rose en Dieper as die bloed saamgevat en herskryf en LAPA het dit uitgegee onder die titel Dieper as die bloed. Dit is op versoek van die uitgewers gedoen. Die storielyn is aangepas en Thys Krige is herskep. Peet wou ’n held hê wat ’n diep en donker plek in hom het waar boosheid broei. Die speurder in ’n gelukkig huwelik met ’n beeldskone vrou het net nie gewerk nie. Hy het ’n gebroke huwelik oorweeg, maar besluit dat dit darem te tipies Amerikaans is. Krige het net ’n alleenloper geword met sy twee Jack Russells en innerlike konflik met die donker plek in hom. Nog steeds ’n handsome en cool ou, maar hy kyk nou met ander oë na mense, en homself.

In Dieper as die bloed is Thys Krige se dryfveer die onopgeloste moord op sy pa. Die enigste leidraad wat hy het, is iemand wat hy daardie aand vlugtig naby die toneel gesien het, en die woorde wat die man vir hom gesê het: “Kyk dieper as die bloed.”

Sy ondersoek na die moord op twee sakemanne lei Krige na die onopgeloste moord op ’n model. Hy krap ’n misdaadsindikaat van korrupte sakemanne en senior polisie-offisiere oop; mense wat hulself as bo die wet beskou; mense wat nie skroom om wie ook al in hul pad kom, uit die weg te ruim nie.

In die proses kry Krige oproepe van ’n geheimsinnige persoon wat nie alleen sy vordering met die ondersoek dophou nie, maar ook duidelik baie van hom weet. In hul gesprekke sê die man by herhaling vir hom: “Kyk dieper as die bloed.”

Ou bloed (2013) is ’n opvolg van Dieper as die bloed en vertel die verhaal van Thys Krige se meedoënlose soeke na die moordenaar van sy pa, Albert. Maar soos dit met dié soort verhale gaan, is die storie nie heeltemal so eenvoudig nie. Die moord op ’n landdros en pastoor krap ’n komplekse raaisel oop en Krige besef hul moordenaar is geen vreemdeling nie, maar dieselfde man wat in Dieper as die bloed met hom in verbinding was.

Die vermoorde mans was pedofiele en só begin ’n spanningsvolle intrige van wraakmoorde, pedofilie en kinderhandel. Die moordenaar het natuurlik sy eie agenda en Krige kom agter die leidrade wat doelbewus vir hom gelos word, vertel ’n groter storie. Een van dié leidrade is ’n foto van ’n tienermeisie, Karen, wat ontvoer is kort voor Krige se pa vermoor is, en steeds vermis word. Só lei die geheimsinnige moordenaar Krige op ’n spoor van “ou bloed” wat gewreek moet word. Krige moet behoorlik kopkrap om ’n verband te vind tussen die verdwyning van Karen, die moord op sy pa en drie Libanese kinderhandelaars wat agter die verdwyning van twee tienermeisies sit.

Die moordenaar se beweegrede maak van hom amper ’n protagonis wat heelwat simpatie by die leser inboesem. Dít is die morele dilemma: hy vermoor net pedofiele, wat baie mense kan ervaar as geregtigheid wat geskied.

Maar moord is moord en Krige laat hom nie van stryk bring nie.

Riaan Grobler (Die Burger, 16 Junie 2013) meen dat hoewel baie spanningsromans dikwels resepmatig en futloos kan wees, Ou bloed meer as genoeg kinkels bevat en die oorspronklike storielyn, interessante tema en goeie tydsberekening vir ’n uiters spanningsvolle leeservaring sorg.

Teenoor Carla van der Spuy beskryf Peet vir Krige as volg: “Hy maak mense dood, maar hy maak die regte mense dood; om sy eie lewe te beskerm. Die feit dat hy nie veel daaroor wroeg nie, is een van die dinge waarmee hy innerlik stoei. Sy pa was ’n harde, genadelose man wat oor mense geloop het om te kry wat hy wou hê, maar hy het darem nie so ver gegaan om mense dood te maak nie. Is hy soos sy pa, maar net op ’n bloedige manier? Is gewelddadigheid deel van sy psige? Is daar ’n diep, donker plek in hom waar boosheid broei?”

Ou bloed is aangewys as LAPA Uitgewers se Lekkerlitboek vir Augustus 2013.

Vir Madri Victor op LitNet is Ou bloed ’n uiters boeiende en vermaaklike misdaadroman. Die sensitiewe tema mag jou met ’n naar kol op die maag laat, maar die verligting (en ontvlugting) lê daarin dat geregtigheid in dié fiktiewe wêreld seëvier. Hier kán ’n reeksmoordenaar namens die leser vergelding neem en die leser mag maar simpatie met hom hê. Boonop laat Krige se uiteindelike besluit en sy ongemak rondom sy optrede tydens hierdie saak net genoeg vrae en verwagtings by die leser om te verseker dat jy nou al begin uitkyk vir die opvolg van Ou bloed. En dít onderstreep die sukses van hierdie misdaadroman.

Op ’n vraag van Carla van der Spuy oor hoekom sy reeksmoordenaars intelligente mense is, antwoord Peet: “Ek maak my reeksmoordenaars intelligent en gesofistikeerd om die psigiese kontraselement meer dramaties te maak: die konflik in die beskaafde, hoogs ontwikkelde brein waar daardie barbaarse geweldenaar ook skuil. Wat maak dat die dier die mens op die agtergrond stoot? Dit sal seker ook werk as die moordenaar ’n doodgewone, vaal ou is wat heeldag in ’n kantoor sit, en by die huis sit sy vrou op sy kop. Maar vir my is dit net soveel lekkerder as hy ’n professor of rekenaarfoendi is. Dit is net soveel lekkerder as so ’n slim moordenaar daardie een foutjie maak wat Krige uiteindelik raaksien. Dit is so lekker soos ’n taai toffie wat aan jou tande vassit as Krige weet daardie foutjie moet daar wees, maar hy sukkel om dit raak te sien.”

Van der Spuy wou verder weet of Peet ook, soos talle ander, voel dat moordenaars nie hard genoeg gestraf word in Suid-Afrika nie en hoe hy oor die doodstraf voel.

Vir Peet is dit bloot menslik vir ’n skrywer om in sulke situasies deur die karakters en gebeure uiting te gee aan sy eie gevoelens, maar hy meen dat dit versigtig hanteer moet word. “Ons kan ons vergeldingsdrome droom en ons wraakfantasieë koester, maar moet nooit ons etos vergeet nie. Die frustrasie en gevoel van magteloosheid is wel daar; om grondige redes, maar om die reg in eie hande te neem, is verkeerd. Die enigste wat daardeur bereik kan word, is om ons nóg verder in die moeras van anargie en barbaarsheid in te sleep. Ons het ’n regstelsel, hoe verwarrend ook al. Laat ons dan liewer ons energie aanwend om deur die regte kanale weer orde uit die verwarring te probeer skep. Hoe? Deur minder apaties te wees, en proaktief te wees. Dit raak ons almal. Daar is meer aan die lewe as eet, slaap, werk en speel.

“My etiek sê vir my die doodstraf, al dra dit sogenaamd wetlike goedkeuring, lê op dieselfde vlak van barbaarsheid as moord. My gemoed sê: hang die wetter, veral as kinders die slagoffers is. Ek is sensitief oor kinders. Dit was vir my swaar om die onderwerp van veral kinderhandel te hanteer. Pedofilie het mos deesdae ten minste die verskoning dat dit ’n ‘sielkundige afwyking’ is. Vir mensehandel is daar geen verskoning nie. Dit is bloot barbaarse winsbejag. Hoe dieper ek navorsing gedoen het, hoe meer het ek begin twyfel of ek kan voortgaan daarmee. Hoe behou ’n mens objektiwiteit? Is dit hoegenaamd moontlik om objektief te bly? Dit is die rede waarom ek in Ou bloed nie te veel op die daad spesifiek uitgebrei het nie, dit so bondig en op die man af as moontlik gestel het, en meer gekonsentreer het op die invloed wat dit op naasbestaandes het.”

Peet woon deesdae op ’n plaas in die Dinokeng-reservaat naby Pretoria en het in 2000 semi-afgetree, maar werk steeds deeltyds as raadgewende ingenieur. Sy vrou, Jauna, is in 1999 oorlede, maar “ek is daardeur en gaan aan”.

Oor ’n vraag wat hy ons nog van sy grootwordjare kan vertel, antwoord Peet: “My grootwordjare verder? Wat is daar nog om te sê? Jy weet, daar is grootword, en daar is grootword. Die liggaam, en die mens. Ek dink die mens word groot van geboorte tot dood. In die tienerjare is jy erg bekommerd oor wat mense van jou dink. In die twintigs en dertigs gee jy nie ’n hel om wat mense van jou dink nie. In die veertigs en verder, besef jy mense het hoegenaamd nie aan jou gedink nie. Dis maar soos dit gaan. Ek is vandag ’n senior burger, wat beteken ek is flippin oud. Almal sê vir my oom. Maar dis orraait. Dis nog nie nodig dat iemand anders my omgord nie. Ek trek nog self my sokkies en skoene aan, hoef nie op die bed te sit om my broek aan te trek nie. Ek kan nog my seerkry en vreugdes ‘handle’, onthou nog wat my kinders se name is.”

Oor sy skrywery vertel Peet: “Ek gaan sit en ek skryf. Geen raamwerke of diagramme nie. Die stories is in my kop – baie van hulle. Net navorsingnotas. Deesdae doen ek meeste navorsing in Google, maar dit bly maar lekker om in boeke, ensiklopedias, of argiewe rond te krap. Ek hoef nie iets te drink of te rook om aan die gang te kom nie. Ek luister na barok, klassieke, en romantiese musiek as ek skryf. Albanoni, deur Bach en Brahms, tot by Albeniz. Dis seker in ’n sekere sin my muse, maar ek kan daarsonder ook klaarkom. Eskom-krag, jy weet. Wil nog ’n paraffien- of steenkool-CD-speler ontwerp. Ek kyk by my studeerkamervenster uit na die koedoes, duikers, blesbokke, vlakvarke, tarentale wat in my tuin wei of sommer net lê en ontspan. Dan skryf ek verder.”

In LAPA se besprekingsinligting oor Ou bloed word die volgende gesê oor Peet se skryfwerk: “Peet Venter skryf met min woorde. Of so voel dit. Daar is nooit langdradige beskrywings en hortende morele preke nie. Die boek lees so vinnig, ek was verbaas toe ek nou weer na die agterste bladsy kyk en sien daar staan 303 op. Dit voel nie so nie.

“Hoe kry hy dit reg? Dié vraag het my ’n oomblik geboei, want ek het gesukkel om te verstaan wat sy geheim is. Toe ek egter weer daardie eerste paar bladsye lees, toe weet ek: Venter skets eintlik vir die leser ’n film. Ons belééf die hele tyd. Jy is sáám met die moordenaar, dan is jy sáám met Krige, of jy is by Shirdi Mayet, jy leef saam met haar wanneer sy haar broodjie koop en wag dat die moordenaar haar kom ontmoet. Op hierdie manier beleef ’n mens ook die rassisme teen Dlamini, jy word nooit vertel hoe sleg rassiste is nie, dis nie nodig nie. Peet laat ons eenvoudig toe om saam met Krige en Dlamini te ry en die storie deur hulle oë te beleef.

“Ek gaan van nou af Peet se boeke aanbeveel vir enige een wat sukkel om te show in hulle skryfwerk. Baie mense haak vas by beskrywings en morele vraagstukke en lewenslesse. Peet Venter donder voort, hy boender jou in die storie in en hy sleep jou saam op ’n mallemeulereis deur sy storie. Kyk mooi: Jy sien die hele tyd die gebeure. Dit voel of jy na ’n film kyk.”

In Oktober 2013 is ’n skrywersgesprek oor misdaad en dwelms by die Laerskool Voorpos in Waverley in Pretoria deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere asook enkele uitgewerye aangebied. Peet het ook aan hierdie gesprek deelgeneem. Oor die oplewing in misdaadfiksie in Suid-Afrika het Peet gesê: “Lesers is in die jare 60 vervreem van ligte ontspanningsliteratuur in Afrikaans. Akademici het indertyd die ’nuwe denke’ van die Sestigers aangegryp. 

“Vurige resensies het verskyn en debatte is in die pers gevoer. Dit was groot nuus. Intussen het die hoofstroomfiksie maar sy rustige gang geloop. 

“Uitgewers het hul boekklubs gehad. Daar het wel boeke met meriete buite klubverband verskyn, maar daar was eintlik nooit uitgebreide resensies hieroor in die pers nie en in akademiese kringe is hulle doodgeswyg. Dit het intussen verander. Meer onlangs het ’n jonger geslag akademici weer begin kennis neem van populêre fiksie. Hulle lewer positiewe kommentaar waar daar meriete is.

“Deon Meyer het plaaslik ’n belangrike rol gespeel in die opbloei van misdaadfiksie. Ek dink ook uitgewers het meer aggressief begin bemark, met die gevolg dat ander Afrikaanse misdaadskrywers nou baie meer blootstelling kry in die media. Nog ’n faktor kan wees dat ons vandag met soveel geweld en misdaad moet saamleef dat lesers ’n soort ontvlugting vind in misdaadstories waar die speurderheld die kriminele die een ná die ander laat aftjop en reg laat geskied.

“Die morele klimaat het ook baie verander sedert my skryfdebuut in 1979. Toe ek begin skryf het, moes jy by ‘magtig’ en ‘bleddie’ hou; as jy begin ‘donder’ dan is die wenkbroue gelig.”

Peet is al beskryf as ’n skrywer van “min woorde maar diep insig”. Hierop reageer hy: “Ek is self lief vir lees. (’n Skrywer wat nie lees nie, maak ’n groot fout.) Maar ek het ’n ongeduld ontwikkel met skrywers wat mens laat verdrink in ’n vloed van onnodige woorde – seker omdat my leestyd so beperk is. Toe ontwikkel ek ’n manier om boeke te kies. Eerstens moet die titel my aandag trek, maak nie saak wie die skrywer is nie. Dan haal ek die boek van die rak af en lees die eerste twee sinne. As dit my nie boei nie, gaan die boek terug op die rak. As die eerste twee sinne my boei, lees ek die eerste twee bladsye. As ek dit wat die skrywer in twee bladsye sê, in twee of drie paragrawe kan sê, gaan die boek terug op die rak. As ek dit nou wragtag nié in minder as ’n bladsy en ’n half kan sê nie, al probeer ek, koop ek die boek. Dus, in my eie skryfwerk waak ek gedurig teen oorbodige woorde.

“Diep insig? Sjo! Ek luister na wat mense sê, hoe hulle dit sê. Ek kyk na hul lyftaal. Verder is dit seker maar ’n kwessie van lewensondervinding.”

Publikasies:

Publikasie

Die alleenlopers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013671 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Die alleenlopers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013671 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Die reuk van rose

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322466 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799323241 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Disa DISA

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799322636 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die koeël is deur die kerk

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323497 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Middernagblou

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799324132 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Nag van die narre

Publikasiedatum

1998

ISBN

079932499X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Vlieg, duifie, vlieg!

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326259 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

In kringe: ’n verhaal in drie stemme. Saam met GA Watermeyer en Estelle Marais

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326852 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

3 van die bestes. Saam met François Bloemhof

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328367 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Slang, die onbesonge held

Publikasiedatum

2009 (Grootdruk)

ISBN

Nie bekend

Uitgewer

Nie bekend

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

2012

ISBN

  • 9780799358339 (sb)
  • 9780799357745 (e-boek)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ou bloed

Publikasiedatum

2013

ISBN

  • 9780799361292 (sb)
  • 9780799361575 (e-boek)
  • 9780799361810 (mobi)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Peet Venter beskikbaar op die internet:


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2013-11-26
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address