Orwell aan die stuur?

  • 0
Abraham de Vries het in Oktober vanjaar gevra: “Verdwyn die e-resensie in die digitale toekoms?”, na aanleiding van ’n resensie (van Hans du Plessis se Inboekeling deur Wium van Zyl) wat hy wou lees en toe vind hy slegs: “Hierdie webskakel bestaan nie meer nie.” Francois Verster, Naspers se argivaris, het hierop reageer en geskryf wat van al die data word.. Hieronder lewer Abraham de Vries kommentaar.
George Orwell se 1984 (bron: http://www.apfn.org/apfn/1984.htm)

Dat my bekommernis oor wat kan gebeur as e-sensors ongewensde tekste kan laat  verdwyn vir argivaris Francois Verster in staat gestel het om nie "die bestaanswaarde, selfs waardigheid, van my beroep (te) moet verduidelik en verdedig (nie)" maar ’n rare geleentheid gebied is om "argiewe" binne ’n relevante konteks voor te stel was werklik ’n plesierige en waardevolle gevolg wat ek nie voorsien het nie.  Dankie vir die netjiese, insiggewende artikel, Francois. Ons verskil nie van mekaar nie en ek het jou versugting  dat die wêreld van woorde ingesuig word in die stofsuier van digitalisering en dat baie mense ook nie omgee wat daarmee gebeur nie – "solank hulle kan geld maak" raakgelees.

Dit is die kern van die Orwelliaanse nagmerrie van ons tyd, ’n nagmerrie wat in storieterme die kuberruim se verdwyningsmannewales stel teenoor argiewe as plekke waar die geskiedenis bestaansreg gegun word.

Om eerlik te wees: ons is hier vlak by die soort toevalligheid wat my my ore laat optel. Toe Amazon sonder toestemming van die kopers 1984 en Animal Farm elektronies afgehaal het van kopers se Kindles  – hulle het skielik besef hulle het die papierregte maar nie die e-regte nie – was die spook uit die fles; niks wat hulle kon terugbetaal of doen of plegtig belowe, kon die feit dat hulle DIT KON DOEN ooit weer verdoesel nie. 

Waar die tekste verskyn – in boeke of in "boekrakke" – is irrelevant, tekste kan verwyder word, of Big Brother nie van woorde hou wat verwys na opstandigheid teen sy politiek nie en of groot maatskappye nie hou van resensies wat geldmakery in die wiele ry nie, die tegnologiese moontlikhede bly dieselfde. Al die mag van ’n Big Brother oor taal en geskiedenis ten bate van politieke mag kan aangewend word ten bate van ook finansiële voordeel.

Natuurlik is dit storiestof – kom ons vergeet nou vereers dat in die werklikheid groot geldmakers nie graag tyd mors met die wêrelde van woorde nie. Amazon het  bewys Orwell se fantasie is uitvoerbaar!  En hoe toe, nogal? Die enigste storie-element wat oorgebly het, was daardie toevalligheid. Dat dit nou juis uit mil-joe-ne boeke Orwell se 1984 was wat Amazon gepootjie het – die boek waarin die nagmerrie voorspel word! – is óf toeval óf ’n soort gat in die werklikheid waarin net stories kan groei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top