Musiek | Music

 
Oppikoppi: Uitmergelend lekker

Oppikoppi 2012: Sweet Thing. My sewende Oppi. Op 'n manier voel dit soos my eerste een, en ek besef eindelik dis omdat dit die eerste Oppi is waaroor ek moet skryf, waaroor ek moet wonder. Om te wonder is nie juis iets wat eie aan Oppi is nie – dis nie ’n geleentheid waarvoor groot denke noodsaaklik is nie. Slegs toewyding en oorgawe word hier benodig.

Die opgewondenheid is wel nie te vermy nie. Ek vlieg Dinsdagaand op sodat ons die Woensdag vroeg by die fees kan wees om ’n lekker plek te kry en algemene voorbrand te maak. Ek het die idee om my notas in die vorm van ’n dagboek te maak. Ons sal sien hoe sinvol (en onderhoubaar) dit is ...

Woensdag

Ons arriveer so 14:00 se kant by ons bestemming. Ek neem ’n selfoonfoto van die plaasingang en laai dit op Smulleboek met die onderskrif "Hemelpoorte". Dit sal die laaste keer wees dat Facebook my vir byna ’n week sien.

Die ter sake poorte.


My volgende "dagboekinskrywing" vind eers om 22:30 plaas. Die rede(s) hiervoor sal vanselfsprekend wees vir enigiemand wat al ooit op Oppi was. Ons het pas gebraai en ’n ruk terug het een van ons Engelse bure kom kennis maak. Op een of ander manier raak diegene rondom die kampvuur in ’n Afrikaans-vs-Engels-debat betrokke. Ek maak my stilweg uit die voete. Ek het al genoeg taaldebatte – en hul uitkomste – gesien.

Ek wil na die "feesgronde" gaan kyk, maar dié is nog toe. Die twee hekke wat daarheen lei, het drasties verander sedert my vorige Koppi in 2010. Die gewone draadhekke is met ondergrondse tonnels vervang. Ek kyk die storie skepties aan. Dis nou nog vroeg en stil, maar ek sidder om te dink wat daar gaan gebeur wanneer die mense in hul hordes deur daardie drukgang begin beweeg ...

Daar is baie veranderings belowe. Onder andere nuwe verhoë. ’n Ander nuwe verskynsel is nuwe strate. Op pad terug van feesgronde se hekke raak ek vieslik verdwaal, ten spyte van die feite dat hierdie nie my eerste Oppi is nie. ’n Uur of wat later (te danke aan positiewe denke en my loopbier) vind ek weer ons kampplek in Fok Trappies-straat. Min het in my afwesigheid verander. Ek gaan lê skuins.

Donderdag – “Vuil, prágtige mense”

Ek word om 7:15 wakker van Jurie se geskrouery. Jurie is een van my niebloedbroer, Charl, se vriende. Hy is, in sy eie woorde, ’n masjien – en iemand wat op die einde van die dag my Oppi in ’n groot mate memorable sou maak. Wanneer ek ontwaak, het Jurie reeds sy eerste (of tweede?) bier in – ek gee hom tot laatmiddag, as hy gelukkig is.

Dit was ordentlik koud gewees in die nag. Ek vind later uit dat die kwik in die minusse gedraai het. My sneeubestande slaapsak, waaroor ek baie windgat was, is tot die uiterste getoets en het toe eintlik nie die pyp gerook nie. Ryp lê op die tente en mense kom swaarder uit hul tente as wat hulle gewoonlik sou.

Dit word wel vinnig warmer en na ’n koppie kondensmelkkoffie is die dag weer ons oester. Vandag is amptelik dag 1, en dié van ons wat van gister reeds voorbrand gemaak het, is reg vir dinge. Die line-up lyk belowend, met veral Black Cat Bones en Oppi-regulars Tidal Waves wat vir my uitstaan.

Dis 16:00 en ons is uitgestrek in die koelte op die grasperk net regs van die James Phillips-verhoog. Die mense is gesellig en Fridge Poetry se ska-klanke is heerlik salig. ’n Groep mense span ’n tou tussen twee bome en begin daarop te loop. Dié kêrels weet van balans hou, van nie ommoer nie. Dis vir my prontuit ’n metafoor vir wat by hierdie fees aangaan, want as jy hier val, mag jy dalk nie weer voor Sondag opstaan nie ...

Oppikoppi is ’n woestyn. Hierdie is ’n oase.
Foto: Lindie Erasmus


Weer gesien is dit 18:00 en tyd vir Black Cat Bones. Die ouens blaas my heeltemal weg met hulle blues rock. Hulle speel nie speletjies nie. Kobus de Kock Jr se maanhare en meneer van ’n baard is erg gepas, want hy brul soos ’n leeu en mens kan aan sy verhoogoptrede sien dat hy dié plek duidelik sy eie ag. Alles word in Engels gesing, maar wanneer die frontman in sy moedertaal vra: "Drink julle nog bier, Oppikoppi?!" raak die mense skoon kens. As hierdie die standaard van Sweet Thing se vertonings is, sál dit musiekgewys die indrukwekkendste Oppi ooit wees.

 

Volgende op die program is ou gunstelinge Tidal Waves. Hierdie ouens het nog by elkeen van my Oppi's gespeel en nog nooit teleurgestel nie. Hulle speel dan ook heel gepas hierdie jaar by die nuwe Wesley's Dome stage, ’n reusagtige, indrukwekkende verhoog wat die James Phillips "main" stage sekerlik sou vervang as tradisie dit toegelaat het. Tidal Waves wys van die eerste song af wat in hulle steek. Ek het die kêrels al baie gesien, maar wat hier gebeur, is vir my spesiaal. Enige internasionale act wat so ’n moerse opkoms en opregte verwelkoming kry, kan hulself gelukkig ag. Hierdie ouens het gewérk vir waar hulle is. Mense dans in hulle duisende ’n kakhou dat die stof staan. Terwyl ek ritmies in die grond skoffel, dink ek dat dit vanuit die ruimte hier soos ’n ontploffende vulkaan moet lyk.

Wat vir my veral opvallend – en mooi – is, is hierdie musikante se nederigheid. Hulle het geen pretensies of voorbedagte rade nie. Dit gaan vir hulle regtig net oor musiekmaak; ’n eienskap wat hulle in staat stel om hulle leuse van "original music for original people" met integriteit en oortuiging te verklaar. Ten spyte van die feit dat hulle vir die grootste danswolk van die naweek verantwoordelik is, neem Jacob eers die tyd om vir almal – van Mike, hulle bestuurder, tot die personeel en plebs van Oppikoppi Productions en uiteindelik die skare – dankie te sê.

Jacob van Tidal Waves in aksie. Hy het net so hard en lekker soos ons gedans.
Foto: Oppikoppi Productions


Taxi Violence se set om 22:00 is ook moer goed. Dis duidelik dat dit nie die band se eerste live optrede is nie. Die gehoor eet uit George van der Spuy se hand uit – as dit nie vir Tidal Waves, en veral Black Cat Bones, was nie, sou hierdie die show van die dag/aand gewees het. Euforiese hoogtes word bereik en op een of ander manier verloor ek myself so tussen die stof, strooi en “vuil, pragtige mense” (soos Jurie hulle noem) dat ek nooit by Pestroy uitkom nie.

Vrydag – “Jy’s my tipe kwagga”

Dit was al weer bitterlik koud gewees. Jurie kraai die buurt wakker met ’n kreet van “Jy’s my tipe kwagga!”, en niemand kan anders as om te lag nie. Dit sou ’n lekker leuse wees vir Oppikoppi 2013. Kort na 8:00 het Stefan reeds ’n 5 liter-keg bier vermorsel. Ek dink hy het lankal beheer verloor. Dis vir party, nee, die meeste mense die primêre manier van oorlewing hier.

Die ontdekking van nuwe talent is vir my in ’n groot mate waaroor Oppi gaan. Nie slegs in die sin dat dit ’n platform is vir minder bekende musikante nie, maar ook dat dit die prawns (die woord “feesgangers” is net te ontoereikend), ongeag hoe slim en beluisterd hulle mag wees, aan groepe blootstel waarvan hulle andersins miskien nooit kennis sou neem nie. So dink ek byvoorbeeld aan die Australiese band Philladelphia Grand Jury, wat in 2010 my gat geskop het en waarvan ek andersins nooit te wete sou gekom het nie. Elke jaar sien mens bands live wat jou in een groot sintuigoorbluffende oomblik tref en wat vir altyd daarna ’n bepaalde herinnering daaraan gekoppel sal hê.

 

Prawns voor die James Phillips main stage.
Foto: Lindie Erasmus


Ek en my trawante lê weer salig uitgestrek op die gras tussen die Bruilof- en James Phillips-verhoë, vanwaar ons The Buckfever Underground, Fruits & Veggies, Catlike Thieves en Albert Frost & Friends kan waardeer. Gerhard en Dane gaan koop nog bier en biltong. Oppi is luuks hierdie jaar.

Wel, soort van. Om die ablusiegeriewe te gebruik is steeds ’n traumatiese ervaring. Maar ek lig my hoed vir die organiseerders, want dis ligjare beter as wat dit al ooit was. My bedenkinge oor die drukgange wat hulself as ingangshekke na die feesterrein voordoen, is toe wel heel gegrond. Die walle waarmee mens in en uit beweeg, bestaan uit los sand en die tonneltjie waardeur die feesgangers moet beweeg laat skaars twee mense langs mekaar toe. Dis ’n vieslike gemors wat wag om te gebeur en ek verwonder my oor die feit dat niemand vertrap is nie.

Om 23:00 is daar ’n onmoontlike keuse te maak: kyk mens Desmond & The Tutus of 340ml? Ten einde laaste word ’n kompromie bereik en word daar maar bietjies-bietjies by elkeen gejam. Ek is wel verbaas oor die feit dat 340ml op so ‘n pieperige verhogie moet speel. Dis omdat hulle deel van die Dub Saved My Life-reeks is (wat almal by die Bruilof stage speel), maar dit voel net ... verkeerd dat hulle nie by hulle gewone plekkie op die Sipho Gumede (deesdae die Red Bull Music Studio Live) stage speel nie.

Fokof eindig die aand op ’n hoë noot. Die skare sing elke liedjie fanaties uit volle bors saam, so entoesiasties dat mens Francois byna nie kan hoor nie. Stian, my broer, is voor in die koor onder die Fokof-getroues. Hier gebeur ’n groot ding, die hoogtepunt van communitas hierdie jaar. Dis duidelik dat Fokofpolisiekar nog diep in hierdie mense se harte lê ...

Saterdag - “Waaaaaah!”

Gisteraand was die hardste een sover. Tussendeur die fisiese uitdagings van hitte deur die dag en koue in die nag begin die krake van die District 9-bewoners se Icarus-eskapades te wys. Oppikoppi kan bomenslike eise aan mens se deursettingsvermoë stel en vandag, die laaste dag, sal die sterkes van die swakkes onderskei word.

Yoav speel om 13:00. Die ou verbluf my totaal. Ek het nie geweet mens kan sulke dinge met ’n kitaar doen nie ... Die MC het hom bekendgestel as “one of the most talented people at Oppi”. Dis nie ’n grap nie; dié ou is geniaal. Mens moet wel in lewende lywe sien wat hy doen om dit na waarde te kan skat. Yoav gebruik slegs sy stem, akoestiese kitaar en ’n looping station om elektronika-agtige musiek te maak wat mens eerder in ’n klub sou verwag. Almal sit in verwondering en kyk. Jurie roep sy goedkeuring met ’n dawerende “waaaaah!” uit.

Yoav in aksie by die Skellum stage.
Foto: Lindie Erasmus



Dié YouTube video gee mens so idee waaroor Yoav gaan.


Na Yoav is dit James Phillips toe om solank plek in te neem vir Eagles of Death Metal. My hart is bitter seer dat ek Gert Vlok Nel en die Vusi Mahlasela-huldeblyk misloop, maar ongelukkig moet opofferings gemaak word. Leë drankbottels en banksakkies lê letterlik órál rond – maar ek vermoed dat die ongelooflike musiek die kragtigste dwelmmiddel hier is.

Dis nie meer lank voor 18:00 nie. Almal staar vasgenael na die MKube, ’n moerse televisie net regs van die main stage. Dis vir my ’n onding en ek maak kinderagtig-aspris ’n punt daarvan om nie te kyk nie. Later besef ek dis die Fokof-dokumentêr. Die ouens praat oor “Afrikaner culture” en “white guilt”. Ek is moeg vir dié gesprek, dis al so holrug gery.

Maar tog wonder ek skielik in ’n helder interval daaroor. Want ek moet bieg dat ek ook al hierdie naweek “skuldig” gevoel het. Die prawns is 90% wit en volgens my tog oorwegend Afrikaans, ’n klomp hoë mense wat lag, val, kots en raas. Dis vir die feesgangers utopies, maar hoe lyk dit van die ander kant af? Moet ek skuldig voel oor die feit dat ek kan Koppi – dat ek in Afrikaans kan Koppi – of mag ek maar net bly en dankbaar wees? My besinning hieroor word kortgeknip, die Eagles is op ons.

Eagles of Death Metal speel hárd. Lindie neem foto’s te midde van ’n kwasi-moshpit. Ek weet nie hoe sy dit regkry nie. Net jammer die klank is so erg sleg. En dis nie die eerste keer die naweek wat dit my opval nie. Ek kan nie onthou dat Oppi al ooit sulke “tegniese” probleme gehad het nie. Gelukkig is die Amerikaners se gatskop virtuositeit en Jesse Hughes se sjarmante verhoogpersoonlikheid genoeg om die show te red. Dié manne het nie teleurgestel nie en is dit my beurt om ’n aardskuddende “waaaaaah!” uit waardering die stowwerige skemer in te bulder.

Jesse Hughes van Eagles of Death Metal speel die wit waks uit sy kitaar uit.
Foto: Lindie Erasmus

Sondag

 

Wat is daar om te sê na die afloop van ’n Oppi? Daar word in swaar stilte opgepak. Almal probeer die Oppikoppi blues wegdink. Die eerste warm stort in byna vyf dae is wel vreeslik welkom en help om die Post-Oppi-Depressie ten minste tydelik weg te spoel. Verder word vandag eksklusief gewy aan die onvermybare herstelproses.

Maandag

Francois vat my lughawe toe. Ek het hom Donderdag laas gesien. Ons het mekaar verder misgekuier. Ons gesels oor die bands wat ons gesien het, verwonder ons ná talle Koppi’s steeds oor hoe vuil mens daar raak. Oor hoe Oppi jou iets leer van deursettingsvermoë.

“As jy in is, is jy in,” sê Francois. “Daar’s nie terugdraai nie; mens knak maar noodgedwonge nog ’n bier en ry die rit enduit.”

Op die vlug spook Saterdag se vraagstuk weer by my. Ek kry eindelik iets wat dalk as (tentatiewe) antwoord mag dien in Gonzo: A graphic biography of Hunter S Thompson. Die sosiale kommentator en aartshedonis praat van “individual liberty”. Ek besluit dat dit dan ook is waaroor Oppikoppi gaan. Dit is suiwer ontvlugting. ’n Ontvlugting van ons samelewing, van Suid-Afrika se oneindig gekompliseerde politieke en sosio-ekonomiese kwessies. Van stres oor werk en sperdatums, rekeninge wat betaal moet word en wat nog.

Ene abcitsme kla op haar blog oor die slegte klank by die fees, die gevaarlike druktonnels en die vuilheid. Alles gegronde kritiek. Sy sit egter die pot mis wanneer sy vra of Oppikoppi nog ’n musiekfees is. Dit was en is nog altyd veel meer as dit.

Dit is vier dae wat jy van hierdie dinge – van álles – kan vergeet. Waar jy regtig-egtig persoonlik vry is om niks te doen wat jy nie wil nie. Waar net vriende en feestelikheid bestaan. Die ruheid van Oppi is ook in hierdie opsig belangrik. Dit is op geen manier konvensioneel om vir vier dae soos ’n dier in die bos te bly nie. Die hardheid daarvan is ’n fisiese manifestasie van die psigologiese verbreking met die werklikheid daarbuite. Hier word ’n ander samelewing geskep, ’n gemeenskap wat nie deur enigiets anders as ’n vae “do unto others” gereguleer word nie.

Ek self het nog nooit so bewus, so krities, deur ’n Oppi gegaan nie. En in daardie sin het ek miskien nie 100% die ontvlugting ervaar wat ek sou wou of moes nie. Daarvoor sal ek maar volgende jaar moet terugkeer.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
pankrias.prime
2012-08-17 @18:00
daars darem baie groot  woorde in die puik artikel ;)
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address