Op soek na ’n donkiekardag

  • 0

Verlede jaar (dit voel veel langer gelede) het ek en twee Weskus-vriende, Hennie “Bok” Smit en Dana Snyman, die Boekbedonnerdfees op Richmond gaan bywoon. Ons het onderneem om vanjaar weer te gaan, maar dinge het nie so uitgewerk nie. Nogtans het ek en Dana besluit ons wil darem een maal die langpad aanpak vir die wegkomkans en die lekkergesels.

En toe Leti Kleyn my nooi om Tankwa toe te kom en “iets te skryf” oor die Karretjiefees, het ek Dana dadelik gevra of hy belangstel, en dadelik het hy ingestem. Dit het net daarvan afgehang of hy sy werkskedule so kan buig dat hy nie op 1 November elders moet wees nie.

Tot op die nipper was dit onseker, maar so kom dit toe dat ons wel vroegoggend op 31 Oktober op Wellington ontmoet, die logistieke uitsorteer, en oor Michellspas Karoo toe ry. Maar eers wou Dana Op die Berg toe om by Boplaas aan te gaan. Daar het ons toe Boerneef se graf gaan besoek en foto’s van die omgewing geneem.

Van daar is ons Sutherland toe, maar sonder gejaag – dit was asof ons ál besoekers in die Karoo was; van een bergreeks oor die volgende vlakte na die volgende bergreeks, en amper nooit was daar eens ‘n ander voertuig in sig nie. Ook selde ‘n skaap of bok gesien. Net die oerlandskap en oop hemelruim. En nie ’n oomblik se vervelig nie: ons gesels ’n hond uit ’n bos uit – meestal oor boeke, natuurlik.

Langs die pad is foto’s geneem en Lettie, Dana se tuisteskepper wat al welbekend is vir haar postmoderne lappiekomberse, se padkos geniet, uitgekyk vir padstalle om Dana se dors te les (Diet Coke). Ons kry toe darem een en ’n omie kom sluit oop – skynbaar tipies van die omgewing: óf die padstal/karavaan staan verlate óf iemand kom beman dit eers as dit regtig nodig blyk. Iewers teen ’n bergpas onthou ek het ons ‘n bakkie teëgekom. Agterop staan sowat agt skape ingepas, met ’n Skotse skaaphond agter teen die kajuit, skerp waaksaam soos altyd. Hulle stop en groet en Dana vra dadelik wat is die hond se naam. Dit sou ’n patroon word – elke hond se naam wou hy weet. Ek het reeds daardie hond se naam vergeet, maar ek onthou hy het ook ’n van gehad. Maritz. Nogal ewe.

’n Honderd of wat kilometer verder draai ons eers af by Die Kliphuis, waar twee bruin vroue mistroostig voor hulle uit staar. Daan vra bietjie uit, ook waar ene oom Dirk Amoraal se graf is. Hy was die legendariese Dirk Ligter se vriend en dié het glo dikwels hier gekom. Hulle ken nie die beroemder Dirk se storie nie, tot my verbasing. Die mans, sê hulle, “werk uit”, so hulle twee is alleen. Daar is drie honde, blykbaar almal stieffamilie van mekaar – almal se ore lyk darem dieselfde.

Ons gaan soek die graf en kry dit uiteindelik, neem foto’s en Dana gesels eers weer bietjie en toe die mans uit die veld aankom, vra hy wat is die honde se name. Twee het name, die ander een is blykbaar net Hond.

Op Sutherland kry ons gou slaapplek en gaan stap deur die dorp. Neem foto’s by die mooi ou klipkerk en Dana kliek allerhande pikante kennisgewingbordjies. Soos die een bokant die drankwinkel: “Home of headache”.

Terug by die oornagplek besef ons dat ons liewer moet gaan brandstof ingooi voordat die vulstasie (nie jou normale Ultra City-tipe nie) dalk sluit. Ons maak dit net-net. Daar help een van die werktuigkundiges ons en toe ons wegtrek, draai Dana om. Hy vra eers wat die hond, ’n regte lunsriem met lang olierige hare wat lusteloos langs die kantoordeur lê, se naam is. “Siebie is sy naam,” lag die man tegemoetkomend. Hy het duidelik ’n goeie humorsin, al sukkel hy met die masjientjie wat nie die kredietkaart wil/kan lees nie: ’n Zuma-model?

Later besluit ons om ’n eetplek te soek. Die Sutherland Hotel lê langs die hoofstraat en ons is sommer daar in, eers nadat ons moes klop. ’n Jack Russell maak alarm en iemand verskyn. Binne kry ons aanwysings in die groot gebou se gange af na die kroeg; die Rooikat Bar, waar iemand ons nou-nou sal kom bedien – getrou aan die tradisie. Maar gou knetter die vuurtjie in een van vier kaggels in die lang vertrek.

Die kroegdame gesels lekker. Kom van Piketberg af, sê sy, maar haar aksent klink nie Swartlands nie. Sy was al oral, is gou duidelik, en haar Engels, toe die eerste toeriste opdaag, klink eerder na TV-Amerikaans. Ons ontdek ook mens kry nog Lion-bier, glo spesiaal van die Kaap af aangery deur die hoteleienaar. Ons bestel elkeen enetjie, en próé die nostalgie – ek het laas ’n Lion gedrink toe ek Grensdiens gedoen het in 1987. Eintlik heel lekker, steeds soeter as ’n Castle – eens was dit goed, toe weer ’n negatiewe punt, maar op dié aand skielik ’n verbetering. Kan ’n mens se smaak in ’n sirkel “verbeter”?

Teen die muur, onder ’n rooikatvel en ’n jakkalsvel, hang iets swart en valletjierig wat ons nie dadelik herken nie. Die kroegdame sê dis haar voorganger se bra – sy het dronk geword en kaal op die toonbank gedans. Is toe summier afgedank. Ai, hoe tragies. En hier hang haar bra nog: ’n stille getuie van één ou stukkie ongewaardeerde inisiatief. Het die eienaar nie ‘n humorsin nie? Het hy nie die fliek Coyote ugly gesien nie? Hoekom iemand penaliseer as sy ’n verbeterde weergawe voorstel? Ons skud ons koppe en drink op die afwesige verontregte. Mag sy ’n nuwe werk en ’n nuwe bra gevind het.

Ons suie daai biertjies en ek speel met een van die drie on site-honde, die Jack Russell. Ek het nie gehoor wat haar naam is nie, so ek noem haar maar Jacqueline. Sy hardloop soos ’n opwen-speelding agter ’n tennisbal aan wat ek in allerhande rigtings kan gooi sonder om iets te breek. Dalk moet Eskom tien miljoen Jacquelines kry om op aangepaste marmotwieletjies te hardloop – dit kan die ewige kragprobleem oplos.

Die eienaar en sy vrou kom sit ook om 7de Laan te kyk. En die weerberig. Ewe niksseggend vir ons, maar vir hulle belangrik, om te weet of dit weer gaan reën. Eendag. Die eienaar sit met sy rug na ons. Voel seker skuldig. Hy kan die bra én die bar met sy regteroog dophou ...

Nietemin, ons word omgepraat deur sy meer sosiaal-ontwikkelde vrou om sommer net daar by die kroegtoonbank te eet – bobotie vir my, hoenderpastei vir Dana. Dis sommer ordentlike porsies en ons lê weg – letterlik, want die kroegtoonbank is so hoog dat ’n mens met jou elmboë gelyk aan jou ore moet eet. Kort outjies sal seker op die stoeltjies moet staan, trippelend en kouend. Maar dis lekker. Ek wens ek het my rooi grafie gehad waarmee ek my braaiplek altyd skoonskraap, so baie is dit.
’n Paartjie – ’n Amerikaner en sy Ierse vrou – kom in. Met ’n hond, ’n Skotse skaaphond. So wragtag. Ook haar naam het ek alreeds vergeet. Ek is maar swak met vrouename. Gelukkig loop ek nie rond nie – dit sou noodlottig wees. Ek voer haar maalvleis en maak dadelik ’n vriend. Ook met die twee uitlanders, maar hulle stel darem net in geselskap belang. Aangename mense, al vervlak die dame se taalgebruik drasties soos die drankies inskop. “Fookin’” raak weldra haar stapelwoord. Minstens een “fookin’” per sin. Die kroegdame se vroeëre voorspelling oor persoonlikheidveranderings by kroeë word korrek bewys, by die Rooikat Bar cum skisofreniefabriek.
Toe verskyn nog ’n besoeker, ’n plaaslike oompie. Gou weet ons alles van hom af, veral dat hy 80 jaar oud is (hy herhaal dit met trots). Hy begin land en sand met die uitlanders gesels. In Afrikaans. Ek vertaal waar ek kan, want hy kan blykbaar nie verstaan dat nie almal Afrikaans verstaan nie. In sy wêreld, hierdie wêreld, kan hulle. Die uitlanders probeer nietemin belangstellend lyk.

Die oom wil eintlik hulle hond koop, want syne is al dood. Hulle wil nie verkoop nie. Hy sê dis orraait. Dit verstaan hulle. Dan begin hy voor.

Sowat drie uur later gee die oom bes. Hy groet en ek vra of hy alleen is. Nee, sê hy, sy vrou is by die huis. Sy kyk 7de Laan. Hy het haar gesê hy gaan koop net gou sigarette.

Saterdagoggend halfsewe trek ons weg. Ons is vroeg op en gefokus: nou’s dit die donkies wat onder skoot kom. Darem net met kameras. Ons het algemene rigtingwysing by die polisie gekry (almal op die dorp sê ons moet die polisie vra – niemand hier wéét eens van die donkiekarfees nie). “Draai regs by die bord wat sê ‘Onder-Karoo’.” Dit maak sin. Hierdie is nié Op die Berg nie.

Ons het feitlik ons stopsels uitgestamp op die sinkplaatpad voordat ons weer teer tref. Die tafelkoppe is alte mooi, so met die opkomende son op hulle rooierige wange.

Die ysteroksied lê dik. Dis harde wêreld hierdie, maar pragtig, en ons dink aan Sossusvlei, waar die oksied ook die duine in die vroegoggend verkleur – wel meer as hier, maar hier is darem meer klip. En skaap.

Soos ons aanry, raak ons al meer bekommerd. Maar uiteindelik, ná ons weer ’n skynbaar verlate huis, met ’n leë, bontgeverfde dubbeldekkerbus daarnaas, aangetref het, sien ons tente.

Dis al amper drie uur sedert ons uit Sutherland weggetrek het wat ons by die uitgebrande padstal aankom. Net twee donkiekarre is al daar en ons kry eers eetgoed terwyl almal wag vir die ander karretjies – sommiges het glo al laas Woensdag weggetrek en sal eers volgende Woensdag terug wees by hulle huise. Later hoor ons, soos mense in bakkies, busse, ’n vliegtuig en selfs ’n trekker opdaag, dat die eerste karretjie al naby is. Dana gooi sy koffiebeker om en moet eers sy selfoon en kamera afdroog. Met die genade van bo en die koue wind (wat heeltyd oor die vlakte swiep) van agter, werk alles nog.

Ons besluit om die karretjies tegemoet te ry. Kom by die motor ... en die een agterwiel is pap. Ons hoor by ‘n vriendelike man wat die band probeer red – dit neem toe vyf “snot-plugs” (rooibruin vetkrytagtige stafies) om die gat toe te stop – dat padkaarte die pad daarlangs beskryf as “tyre damage imminent”. Sy vriendin, wie se familie ’n bandewinkel iewers naby bedryf, sê droog: “Mental note to self: Moet van nou af twee spaarwiele saamry.”

Na wat soos ’n ewigheid voel, kom die eerste karretjies uit Calvinia se rigting in sig. Die manne begin slaangoed inlê en die donkies haal uit in die pylvak. Die karretjie met ’n onregverdige voordeel – twee donkies en ’n muil in die middel – sleep in. Dana vra almal om te stop, maar nie almal wil of kan nie. Een ou, die plaaslike entrepreneur, eis eers betaling.

Intussen kom ’n klomp motorfietse van die ander kant (Ceres se kant) af. Op een BMW-veldfiets sit twee mense wat soos Vader Krismis uitgedos is. Vader en Moeder Krismis? Enigiets is moontlik op hierdie plek. Om Karel Schoeman verkeerd aan te haal: “Dis ‘n ander land.”

Of is dit?

Die karretjies kom in, sowat tien altesaam, en die donkies word mettertyd een-een uitgespan en in die kuipe (’n tent met gereedskap) gediens – hoewe, wurms, enigiets wat mag haper.

Die wind begin later stotter en verflou, maar die son bak lekker en die mensestroom hou nie op nie – die parkeeraanwysers bly besig en so ook al die ander beamptes.

Dana se blou WP-keppie sien mens net hier en daar soos hy rondloop en inligting versamel, foto’s neem en op sy beurt gepla word deur bewonderaars wat hulle storie wil vertel of vir ’n foto saam met hom poseer. Soos altyd is hy geduldig en dankbaar dat mense in sy werk belangstel. Die man kon Job gewees het. Selfs in ’n leeukuil.

Later is ek moeg van foto’s neem en gaan grawe my notaboek uit, kry ’n stoel op die betonblad wat voorheen die padstal se vloer was en skryf my indrukke neer. Dit lui min of meer so: “Ek sit lekker hoog hier en kyk uit oor die toneel. Een dametjie dra water aan in ’n blou plastiekskotteltjie. Dana gesels met iemand, sak af op een knie en neem ’n naby-foto van iets te midde van ’n skare beweginglose donkies en malende donkiekardrywers ...”

Agter my, waar die kinders se poppekas ’n paar uur tevore gehou is, sit ’n blondine met ’n Kersvadermus waaraan twee wit vlegsels vasgeheg is. Swart leerklere voltooi haar uitrusting. Sy swets onbeskaamd oor iets wat skeefgeloop het en een van haar vriende vermaan haar om sagter te praat. Agter die mus hang ‘n geel Franse vlegsel uit, wat my aan een van die donkies laat dink wat net ’n stompie vir ’n stert het. Miskien, dink ek, kan sy haar fensie “poniestert” aan die donkie (Swartland, as ek reg onthou) skenk. Hy kan dit immers beter aanwend – hier is nie ’n gebrek aan gatkruipende insekte in die Tankwa nie. Soos die een wat die padstal brandgesteek het.

In die tent langs die ruïne waarin ek sit, klink ’n gehamer op – die “kuipespan” is hard aan’t werkskaf. Hulle sal by g’n Grand Prix hond haaraf maak nie, maar donkies is geduldiger. Ek sien ’n karwag met ’n staalbeen en dink: iemand kan dalk Swartberg se nuwe prostese aanwerk in die tent waar hulle nou mense se tande trek, of in die bus waar hulle mense se oë toets. Beslis nie in die tent waar die riel gedans is en die warm klanke van Boeremusiek nou opklink nie. Inderdaad; ’n drieman-orkes het opgedaag en die manne laat waai.

Die dame met die blou skottel draf onverpoos tussen die donkies rond. “Hierdie ene het drie skottels water opgedrink,” hoor ek haar sê, beide verwonderd en opgewonde. Sy en die donkies geniet mekaar.

Die lenige Leti Kleyn stap doelgerig verby met slapbandhoed se rand opgeslaan, oranje “bib” wapperend in die steeds koue windjie. Onvermoeid. So ook haar twee adjunkte – sulke skraal werkermiertjies saam met wie mens sonder Crocs oor die Sederberge kan gaan. Hein Lange en sy broer Wally, wat vroeër gekoukus het oor wanneer die kroegie sal oopmaak, konfereer weer en ek sien Gemeenskapsdienste se amptenaar ook naderkom.

Die organiseerders bly heeltyd besig, terwyl ’n polisieman glimlaggend rondstaan. Hy draai al om die vuur waar gratis roosterkoek met konfyt uitgedeel word. Die Mag se wiele word vandag deur jêm gesmeer. Die musiek pols nou asof deur algar se are, in pas met honderde harte, en die stemmegedruis tel die ritme op. “Bonhomie”, noem die Britte dit mos. Voeg gemeenskapsdiens by die resep en dis wat jy kry.

Ons het net ná ons die aankoms in die opslaankombuis gesit en gepraat oor hoe die padstal se gatslag ’n geleentheid geskep het om mense byeen te bring. Sonder om liries te raak oor “fenikse wat uit as verrys” is dit duidelik dat Hein-hulle se idee om die plaaslike mense nuwe krag te laat put uit samesyn en empatiese handeling tóg werk – wit en bruin, arm en ryk, geskooldes en ongeskooldes, oud en jonk, mens en dier is hier bymekaar en help mekaar. Is dit ’n metafoor vir die hele land? Dat dinge eers tot op die grond afgebreek moet word voordat ons saamspan? Wie gaan die inisiatief neem, soos hier gebeur het?

“Megan, Megan ... Me-egan! Come to Granny,” roep iemand hoog bokant die geroesmoes en getokkel uit. Dit val mens op hoe stil die donkies is. Ek het gedink minstens een sou Bileam se esel probeer nadoen, maar nee, soos osse staan hulle daar: geduldig, gedienstig, gedwee ... bonsai-langoor-ossies met miniatuur-ossewaentjies. Enkeles het staanders onder hulle tuie, maar die meeste staan met die gewig van die waens op hulle rûe – heeldag in die son, en knip skaars ’n oog.

Ek het in Huisgenoot (eens die Universiteit van die Volk!) se huidige studiebylae gelees oor donkies en daarin staan hulle bene is sterker as perde s’n. By een outjie se been loop bloed af, wys iemand my. Ons sien ’n seerplek waar die tuig hom skawe. Dis juis daarom dat die Karperd Beskermingsorganisasie mense ook pryse gee vir die instandhouding van tuie. Maar die meeste lyk besonder goed versorg. Min of meer op dieselfde vlak as die nasate van Dirk Ligter – taaier as tameletjie, hierdie Tankwa-spruite.

Later hoor ek ‘n ysterstem oor die wind aangewaai kom – afkondigings begin, so die verrigtinge staan einde se kant toe. Die organiseerders roep die wenners uit, bedank die aanwesiges. en prys die deelnemers vir die verbetering in die toestand van die donkies en hulle toerusting. “Moenie die donkies slaan nie,” sê sy. “Slaan liewer die mans.”

Ek kyk op, na die uitgebrande toilet in die hoek. Wat ’n erbarmlike toneeltjie ... so ’n swart Lever Tree. Maar ek glimlag, aangesteek deur die gees van hoop wat in die lug hang, en dink: veronderstel ou Knipklipoog Columbo het van die Rooikat Bar se bobotie geëet, op die toilet gaan sit en sy sigaar aangesteek ... Maar dis helaas geen grap nie. ’n Stuk beton steek eenkant toe uit soos ’n duikplank-na-nêrens. ’n Man met ’n T-hemp waarop staan “Kom hou my vas en stoot my stadig” staan en opkyk na die rommel. Hy lyk hartseer. Omdat sy T-hemp se woorde in die wind is?

Iemand vra skielik: “Skryf jy lekker?” Dis ’n man op soek na Dana. Ons gesels eers bietjie en toe kom Mohammed oplaas na die berg – Dana is klaar gewerk. Steeds hoopvol om ’n roosterkoek te kry. Hy wys my ’n brosjure wat hy by ’n vriendelike ereveldwagter (al die pad van Durbanville af) gekry het: Around the Tankwa Karoo National Park, a field guide. Ek kyk op. Daar trek Dana weer. ’n Stem roep: “Polla, Polla!” Mense begin oppak om te gaan, maar al die donkies is nog nie gediens nie.

Ek dink aan Siebie Teerputs van Sutherland. Hy lê seker steeds langs die deur van die motorhawe. Wat ’n lewe! Maar, dis sy lewe.

“Manfred!” klink die blikstem van die omroeper op en word weer deur die wind opgeskep en weggewaai. “Ha, hulle sê ‘Manfred’. Dis Hanfried,” lag ’n jong bruin meisie vrolik. “Vir die mooiste donkie ...” hoor ek en dan vervaag die luidsprekerstem weer, slaan terug met “Water, water, water ... gee die donkies water.” Sy gee raad oor donkieversorging, raas nog oor die gebruik van swepe, en dan trek die orkes weer los. Van my verlate verhogie af sien ek twee vroue langs mekaar sit, een met ’n verpleegstersuniform aan en een met ’n wit T-hemp waarop “Protecting the working cart horse from abuse” in rooi letters staan. Hulle lyk moeg, maar tevrede. Susters vir die Saak. Wit en bruin, verenig.

Voertuie vloei stadig by die hek uit teerpad toe. ’n Parkeerbeampte met ’n metaalkunsbeen waai sy arms soos ’n lughawebeampte. Ek merk die geel vliegtuigie waarop “Experimental” geskryf was, is al weg.

Skielik huil ’n kind hartverskeurend. “Pappa moes dit gesien het,” snik sy en haar pa tel haar op. “Daai dubbeltjies braaaaand,” kerm sy. Ek kyk haar pienk voete en dink: nie van hierdie wêreld nie, dis duidelik. Hier huil die mense nie seker net as dit doodsake is. Want wat anders kan jy dán doen?

Veel later is ons padvaardig en met die steeds lekkende band in die kattebak skiet ons deur Ceres toe, vergeet gou van die potensiële katastrofe sou ons weer ’n skerp klip tref, en kom uiteindelik in Wellington aan waar my klein liggroen Suzuki Alto (ook bekend as die Plantluis) op ons vriend Bernus se plaaswerf wag.

Dana sê hy moet gaan skryf en kies haastig koers Jacobsbaai toe, maar die Van der Westhuizens laat my eers teen halfsewe die aand wegkom – gewillige gevangene wat ek altyd is in goeie geselskap.

En so kom ek moeg en met ’n lekker sonbrand, maar vervuld op ‘n wyse wat meer met die gees as die vlees te make het, by die huis aan. Ek dink dis wat die Tankwa aan ’n mens doen. Die geografiese ruimte is nie al oopte daarso nie; daar is ook ruimte vir denke, vir introspeksie en vir die ontwikkeling van empatie.

Die foto's hieronder is deur Francois Verster geneem en vertel die verhaal visueel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top