oorlewingsgebed van die 21ste-eeuse kunstenaar

  • 3

bly by my, heer
terwyl die messe marsjeer
oor die pleine van
ongeregtigheid.

versaak my nie
as die skadu’s daal
oor die trompetgeskal
van bulderende vuiste
en die woede wat spring
van geweer tot geweer

gaan my nie verby,
o heiland
laat my skuil in die
spelonke van u
vergete individualisme
en verlos ons van idealisme
soos ook ons
vergewe het – of nie?
je suis

laat my woon in die huis
van die here
minus die leërskare
wie de fok
wil nou nog ‘n leërskare hê?

laat my wegkruip
met my pen en my
papier en my
verbode comic strips
in die skadu
van die almagtige
gee my krag
om vir waarlik
goeie jokes te lag

al is ek omsingel
deur onbesnedenes
wie weier om te glo
in peanuts, wyn
en jingle bells met krismis

heer,
vergewe my
as ek nie weet
wat ek doen nie.
vergewe my denke.
suiwer my
van missiele,
wraak en
oorlogstenke

mag die wêreld ophou bloei
mag die rock ‘n roll oorleef,
mag die rook op die water
van onheilige kitare
u lof
sekulêr besing

o heer,
wys die fokkers,
wys hulle,
wys hulle:
kyk, julle fokkers,
DAAR lê die fokken ding!
(vertaal in latyn en herhaal ad infinitum)

  • 3

Kommentaar

  • KK, klink vir my na die besetene van Gadara voordat die 2000 duiwels uit hom uitgedryf is.
    Nog in kettings geboei, volkome beset en in hulle mag!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top