Oor Sophia Kapp, sosiale media en die mag van die leser

  • 3

Die afgelope Maandag (10 November) verskyn daar ’n resensie in Beeld van Bernette Bergenthuin se roman Stiletto’s van staal. Die resensent sê die storie slaag “wat die genre, die liefdesroman, betref”. Want die teks is nie onrealisties nie, alhoewel die einde voorspelbaar is. “Toegegee, die skrywer moet hou by die vereistes van die liefdesroman.” Die slotsom van die resensie is dat die storie te min weeg, maar darem lekker lees.

Dieselfde middag gons dit hieroor op Lekkerlees Boekrak, ’n Facebook-blad. Lesers (en skrywers) van die ontspanningsroman wys daarop dat die resensent nie die genre verstaan nie. Stiletto’s van staal is ’n vermenging van liefdesroman en chick-lit. Die storie is nie veronderstel om “swaar te weeg” nie. Die resensent skep (met die hulp van die skreeuende opskrif: Stiletto's van staal weeg min, maar lees maklik) nie die regte indruk nie, juis omdat hy nie die genre verstaan nie. Waarop hy sou kon gewys het, is dat chick-lit gewoonlik ’n eerstepersoonverteller het, wat hier nie die geval is nie. Hy sou kon verduidelik het in watter mate dit dan wel chick-lit is en op die verskille tussen Engelse en Afrikaanse chick-lit gewys het. Hy sou kon bespreek het of die humor, ’n integrale deel van chick-lit, in Bergenthuin se storie slaag, en hoe karakterontwikkeling hanteer is.

Gou word daar belangrike vrae deur die Rakkers geopper: Het ons genoeg resensente wat “genrekundig” is en ontspanningsfiksie verstaan? Bestaan die persepsie nog dat boeke wat “die moeite werd is” om geresenseer te word, “meer as” ’n ontspanningsroman moet wees? Met ander woorde, voel resensente dan onbewustelik dat hulle die roman vanuit ’n meer literêre perspektief moet benader? Wil hulle wanneer daar ’n goeie ontspanningsroman verskyn, “literariteit” daaraan toedig?

Hierdie resensie, en veral die gesprek daarrondom, is belangrik wanneer dit in die groter konteks van sosiale media en die verbruiker geplaas word. Verskeie studies het reeds daarop gewys dat sosiale media ’n geweldige invloed het op wat ons koop en hoe ons oor produkte dink. In 2013 het Technorati Media in Amerika ’n verslag oor digitale invloed gepubliseer. Hierdie maatskappy het in Amerika alleen ongeveer 130 miljoen unieke gebruikers per maand. Volgens hulle het Facebook, Twitter en YouTube, in hierdie volgorde, die grootste sosialemedia-teenwoordigheid. Facebook en Twitter genereer die meeste aanbevelings, “shares” en gevolglik ook die meeste inkomste wat digitale bemarking betref. As mens die studies kan glo, is byna 72% van alle internetgebruikers aktief op sosialemedia-platforms soos Facebook. 89% van alle 18–29-jariges gebruik die internet. En in die ouderdomsgroep 30–49 is 72% van hulle op platforms soos Facebook. Facebook het ’n groot gehoor, ’n gehoor wat ly aan “sosiale bewys” (“social proof”): “Ons sal optree soos ander indien ons glo dat hulle optrede die ‘korrekte’ een is.” Kortom, as iemand ’n produk, soos ’n boek, op Facebook aanbeveel, luister ons. Daardie aanbeveling dra dikwels meer gewig as ’n resensie in ’n gedrukte koerant.

Op eie bodem:  Lekkerlees Boekrak het net oor die 3 500 lede.  Dit mag dalk nie na veel klink nie, maar dit is meer lede as wat die drukoplaag van baie Afrikaanse boeke is.  Hierdie blad fokus op boeke wat “lekker lees”, meestal ontspanningsromans. Lede word aangemoedig om positiewe kommentaar te lewer. Uit die reaksies van lede is dit duidelik dat hulle mekaar, en die omgewing, vertrou; hulle koop boeke op aanbeveling van ander Rakkers. Ek is nie baie aktief as lid nie, maar het self ’n handvol boeke op my wenslys bloot deur aanbevelings wat hier gemaak is. Net vanoggend het ek The Broken van Tamar Cohen gaan soek en as e-boek gekoop. Ek het nog nooit enigiets van dié skrywer gelees nie; ek weet van die boek slegs die paar reëls daaroor op Goodreads en Amazon. Maar die boek is op Lekkerlees Boekrak aanbeveel deur ’n paar lede wie se oordeel ek vertrou.

Dit bring my by die vraag: Behoort ons meer informele resensies, veral van ontspanningsfiksie, op sosiale platforms te plaas? Of eerder: Behoort ons, wanneer dit by genrefiksie kom, eerder te luister na ingeligte, welbelese lede van byvoorbeeld Lekkerlees Boekrak as ’n resensent wat nie bekend is as kenner van die genre nie? Kan ’n mens ’n Facebook-blad se lede gebruik as ’n tipe kollektiewe resensent?

Ek het dit met Sophia Kapp se mees onlangse boeke getoets. In 2014 het daar twee titels verskyn: Die tuiskoms, ’n heruitgawe wat oorspronklik in 2008 verskyn het, en Driehoek. Met Driehoek het Kapp die ATKV Veertjie: Liefdesroman gewen. Ek het albei gelees en reeds ’n kort paragraaf as beoordelaar van die ATKV Veertjie vir Liefdesromans met my indrukke oor Driehoek gehad. Ek sou myself, uit die aard van my werk, as genrekundig beskou. Ek het baie navorsing oor chick-lit gedoen en werk gereeld aan liefdesromans en ander ontspanningsromans. Hoe verskillend sou die versameling idees van die Rakkers van my eie (kundige) oordeel wees?

Ek skryf vervolgens die volgende in Lekkerlees Boekrak: “Hi Rakkers, ek soek hulp vir ’n artikel. Wie van julle lees Sophia Kapp se boeke? Waarom hou julle van haar? Wil julle saampraat?” Dieselfde dag kry ek 18 reaksies. Net een Rakker sê dat sy nie van Kapp se werk hou nie, maar gun elkeen sy eie smaak. Uit die res van die reaksies sou ’n mens die volgende kon skryf (ek gebruik slegs aanhalings uit die kommentaar, met my eie bindwoorde ter wille van koherensie):

Waarvan hou ek? Die subtiele wyse waarop sy liefde beskryf. Kyk maar hoe sy al die drie betrokkenes by ’n liefdesdriehoek geteken het. Al drie ly – dikwels dra hulle die gevolge van hul eie optrede, maar op verskillende maniere. Haar werk is nie soetsappig nie. Dis eg menslik – ek kan identifiseer met die karakters, “regte” vrouens wat ook kwaad raak, lelik praat en foute maak. En daar is altyd ’n lekker held wat vir ‘n goeie einde sorg. Kapp se karakters lyk en klink soos hedendaagse mense, nie stywe helde en heldinne nie. Hulle is sterk en groei deurlopend in die stories in hulle verhoudinge en hulle eie menswees. Hierdie skrywer skrik ook nie vir ’n “hot” liefdestoneel nie; haar karakters kan lekker warm vry in Afrikaans sonder om vulgêr te raak. En terwyl ons aan taal raak, my ma is veral mal oor die suiwer, ordentlike Afrikaans wat sy gebruik. In Kapp se boeke word verskillende storielyne uitstekend aangebied: die karakters bly getrou aan hulself, wat sorg vir harmonie en konflik, en genoeg verrassings wat jou lus maak om verder te lees. Die spanningslyne verflou nooit. Dis bitter moeilik om haar boeke neer te sit, nog moeiliker om afskeid te neem van haar karakters. As ek ’n boek van haar klaar gelees het, is dit asof ek die hele tyd na die karakters bly soek, nog bietjie wil meeleef, meer wil hoor van hulle lewens. Sophia Kapp is een van vier skrywers van wie ek die nuwe boek sal koop die oomblik wat dit die rak tref sonder om te weet waaroor dit gaan. Want ek weet dit sal goed wees.

My eie paragraaf oor Driehoek wat ek vir die beoordeling gebruik het, lyk so:

Met Driehoek bewys Sophia Kapp haar bekwaamheid as skrywer. Haar vurige hoofkarakters, asook die newekarakters, is genuanseerde mense waarmee die leser kan identifiseer; jy word emosioneel betrek van die eerste toneel. Temas soos swangerskap, skuldgevoel, verlies, vooropgestelde idees, Christenskap en die mens se verhouding met God word hier met sensitiwiteit ingespan. Kapp begin en sluit die verhaal af met ’n liefdestoneel, ’n slim strategie wat die vroulike hoofkarakter, Tessa, se groei en ontwikkeling beklemtoon. Kapp laat egter ook die manlike hoofkarakter met sy eie kwessies stoei voordat die liefde hom beskore is. Hertzog en Tessa se liefdesverhaal is oortuigend, lekker hedendaags en romanties. Driehoek is 'n lekkerlees liefdesroman – een van dié wat jy wil aanhou lees tot lank na die einde van die boek.

Behalwe dat ek in my oordeel die temas in die verhaal uitwys, sê hierdie twee “resensies” baie dieselfde. (Wat my laat wonder of die gewone leser op straat werklik so begaan is oor die temas wat ’n ontspanningsroman aanraak.)

Verstaan my nie verkeerd nie, my betoog is nie teen kundige resensies of die gedrukte media nie. Natuurlik is dit nodig dat ons resensies het wat geskryf word vanuit ’n meer literêre perspektief. Maar moenie die mag van die gewone leser van ontspanningsfiksie onderskat nie. Haar stem is hoorbaar en dra meer invloed as wat ons dalk mag dink. Vyf dae na die bespreking van Sophia Kapp se werk “post” ’n leser die volgende in Lekkerlees Boekrak:

(Ek het) vir die eerste keer een van Sophia Kapp se boeke gelees. Iemand het hier op Lekkerlees Boekrak van haar boeke gepraat en haar naam het in my kop agtergebly. En toe ek by die bib kom, sien ek een van haar boeke. Baie dankie dat ek ook nou van haar weet. Die boek wat ek gelees het, Huis van die wind, was vol intrige en alles wat lekker is om in 'n boek te vind. Ek het so lekker gelees dat ek baie keer myself moes dwing om die boek neer te sit sodat ek kan slaap. Dankie Sophia Kapp, vir 'n leesopwinding.

  • 3

Kommentaar

  • Ek het so pas n halfuur terug Die Ooreenkoms klaar gelees! WOW!
    Lekker gelag en met die laaste 3 hoofstukke maar die snesies nader getrek. Ek is mal oor haar boeke. Daar is lag, wonder wat gaan gebeur, jy raak kwaad vir die karakters en die trane sit vlak. Selfs die Manalan-Sustersboeke het ek verslind. Sy mag maar skryf.Baie dankie.

  • Ek is absoluut mal oor Sophia Kapp se boeke en verslind almal, want as jy eers begin lees, kan jy dit nie neersit nie. Ek besit al haar boeke. Van hulle het ek al sommer twee keer gelees. Haar boeke lees lekker, altyd oulike karakters en sy het 'n skryfstyl en manier van praat waarmee jy jouself kan assosieer. Ek kan nie een boek uitsonder want al haar boeke is fantasties! Ek kyk my oë al stukkend vir 'n volgende boek. Hoop ons kry binnekort iets nuuts op die rak van Sophia Kapp, anders gaan ek dalk haar boeke vir 'n derde keer moet begin lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top