Kuns-onderhoude | Art Interviews

 
Oor die jong Afrikaner en die kruppel driepoothond – Roelof van Wyk gesels oor sy kunsuitstalling in Kaapstad

 

In kleurbehepte Suid-Afrika skreeu die flagrante wit velle van Roelof Van Wyk se modelle vanuit elke fotoblad vir die kyker. Sy uitstalling Jong Afrikaner: A Self-Portrait trek die afgelope tyd aandag in die media. Die uitstalling het meestal goeie resensies gekry, hoewel ook negatiewe terugvoer. Die kommentare op die minder positiewe resensie is egter uiteenlopend.

In die ou dae was dit die kerk en die politiek. Nou, ná The Spear, kan mens nie anders as om raak te sien hoe hand-om-die-lyf kuns en die politiek loop nie.

Naomi Meyer het Roelof van Wyk hieroor en oor sy werk gevra voor die uitstalling op 26 Julie ten einde loop.

 

 

Hallo Roelof, vertel ons asseblief van jou uitstalling oor die jong Afrikaner wat hierdie week ten einde loop.

Die projek is ’n persoonlike refleksie oor my Afrikanerskap, ’n ondersoek na wat dit beteken om in hierdie tyd en plek as wit Afrikane, deur die lens van Afrikanerwees, die goed en die sleg daarby ingebou, my plek hier en nou, te bekyk.

Die projek kan in uitstallingvorm sowel as boekvorm ervaar word, twee baie verskillende maniere om die kyker by die werk te betrek. Die boek kom ook met ’n 10 000-woord-pantomime geskryf deur Stephanus Muller en vertaal deur Michiel Heyns, wat nie noodwendig soveel lig op die onderwerp werp as wat dit eerder ’n metaforiese konteks skep waarin die beelde gelees kan word. Of nie.

Lees self die beelde of lees self jouself in die beelde in.

 

 

Hoe beleef jy mense se reaksies op die uitstalling? Hoeveel mense kom kyk na die uitstalling? Is hulle meestal “Afrikaners”, en wat sê hulle?

Die aandag wat aan die projek geskenk is deur die hoofstroommedia en akademici tegelykertyd, het my werklik verras. Ek het besef dat mense honger is om hieroor te praat sonder om skaam of skepties te moet wees oor die (vloek)woord. Dis amper ’n honger om hoopvolle voorbeelde te kan sien waarin ons op nuwe maniere met ons Afrika-tradisie en mede-Afrikane kan saam bestaan. As ons nie verby ras kan sien in hierdie rasgelaaide land nie, kan ons ten minste daardeur probeer kyk en soort van ’n sin begin maak.

Daar’s ’n werklike probleem in Suid-Afrika dat ons net meng met mense wat soos ons lyk en dink. Ons kyk net na televisieprogramme en lees koerante wat met ons spesifieke ras praat – wit, swart en geel. Dis beide die politici en die bemarkers wat die status quo handhaaf, ingeweef in ’n valse reënboog-ideologie met halfgebakte veelrassige merkers in die wasgoed-advertensie ingebou, waar ons steeds weet wie die baas van die huis en sy gewillige vrou is op die wit TV-kanaal.

Dus, baie Afrikaners wat die uitstalling bywoon, vele ander mense wat belangstel, kom loer ook in, maar die gekleurde mense, die swart mense wat kunsuitstallings bywoon, is dun gesaai. Is dit die onderwerp? Is dit ’n Kaapse tendens? Is dit omdat dit in die wit galery in die City Bowl 2014 is en nie in Khayelitsha nie? Sal swart mense die uitstalling besigtig as dit in hul eie agterwerf is?

Ek het nie antwoorde nie, maar dit laat baie stof tot denke, en het tonge aan die wikkel.

 

 

Het The Spear kuns in Suid-Afrika ’n hupstoot gegee en groter belangstelling ontketen in die belang van kuns? En wat hierby aansluit: Het The Spear gesprek wat wyer strek, help aanvuur? The Spear was dalk ’n geleentheid vir alle groepe in die land om met mekaar te praat (dit het nie noodwendig so gebeur nie, mense het net “met mekaar” gesels). Wat van jou uitstalling – wie praat hieroor, dink jy, en kan dit dalk bydra tot die hele land se narratief?

Ek lag sommer hardop. The Spear het niks met kuns nie en alles met politiek te doen. Wat ’n gulde geleentheid vir die Prez se spindokters om die emosies van die mense te (ont)roer. “Kyk! Pappa se piel hang uit. ... Die patriarg word aangeval, die hoof van die huis is kaal en kru beledig deur ’n wit man in die wit kubus in die wit voorstad gebou met swart arbeid en apartheidsgeld!” Nee, ons praat nie met mekaar tensy dit in geweld omvou word en met ’n moontlike kontantuitbetaling aangeblaas word nie.

Vryheid van spraak drafstap nou kruppel en gewond in die strate van Rosebank en Soweto soos ’n driepoothond.

Dis wanneer mens jou grense bevraagteken, verskuif of verkrummel dat jy begin om jouself te verbreed en oop te maak vir mense wat nie soos jy lyk, of is, nie. Probeer net om te praat met iemand wat nie soos jy lyk nie sonder dat dit ’n bevel, ’n afbetaling of ’n footjie is.

Dis wat ek ontdek het in hierdie projek, dat mense sulke besluite kan neem, en dit wel doen, en dit gee my hoop.

 

 

Lees ook Roelof van Wyk se blog.

Die uitstalling is tot 26 Julie te sien by Commune1 in Kaapstad.

Naskrif: Die uitstalling skuif sak en pak Amsterdam toe die einde van die week, en Roelof van Wyk laat weet die mense moet "hulle boude skud en kom kyk".

 



Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Lynda Gilfillan
2012-07-28 @19:56
No longer Puritans in Africa, but rather a liberated tribe.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address