Oom Dawid se rooi lorrie

  • 0

 Oom Dawid de Klerk se bekendheid as karweier het wyer as die Karoovlaktes gestrek. Ewe bekend was sy granaatrooi lorrie met die dik wange, lang dek en houtkappie. Wanneer die houtkap afgehaal is, is brandhout, bakstene en bousand vervoer. Word die kantrelings opgeklap is skaap, bees of selfs perde na buurdorpe en stede aangery.

1968. Een van die oom se huurhuisies het beskikbaar geraak. Pa was bly oor die huur van R25 per maand, maar het nie geweet die huis se groot jaarts, lorries, werkers, planke, en implemente was deel van die huurpakket nie.

Die werkers is vandag besig om die houtkap bo-op die dek vas te skroef. Daar’s ‘n trippie op koms en ek gaan saam. Die dorp se rugbyspan, Spartans gaan op Oudtshoorn meeding. Ons moet via Prins Albert ry. Meiringspoort is toe. Dis Juniemaand en murgkoud.

rooi1Die houtkap het twee askiesklein-vensters. Binne-in is twee lang houtbanke. Oom Jannie Barnes is agter die wiel. Hy kon daai lorrie op ‘n sentstuk draai. Dis my eerste trippie oor die Swartbergpas. Mamma het donkermôre reeds hoorbaar die bloed oor die N1 en bergpas gepleit! Wanneer die deurtjie toeklap, omklem ‘n Noag-se-ark-gevoel my. Dis nagswart. Die kappie sluit nie dig nie. Stof, petroldampe en misreuke gedy.

Skaars buite die dorp begin ek vanaf my voete te vries. Ek wens ek ken joga net sodat ek nog ‘n paar posisies gehad het om in te sit. Dalk help ‘n frikkadel teen die ysigheid. Ek’s skaam vir die poepreuk van ma se halfdosyn gekookte eiers wat net-net uit die blik wil ontsnap. Met die eerste slaggat is dit duidelik daar’s fout met die lorrie se vere. Ons ry bonsend voort. Die oom jaag ‘n maanhaar stof op wat lank in die lug hang. Die lekker clutch-geluide en die voetstamp-ritme van die spelers maak op vir die kil koue en my vrese vir voortydig doodgaan.

Van die ouens trom op hul alreeds ingeduikte koekblikke. “Oom Piet gaan saam. Oom Piet se vrou gaan saam. Oom Piet se honne, katte, duiwe, hoeners, ammal gaan saam…!”

Die nag se mantel gly af en die vlaktes van die Klein Karoo skuif in die rooidag verby. Almal is reeds asvaal. Die lorrie is onrooi! Met padkos wat voortydig opgeëet is, kla almal van hongerte. Oom Jannie stop by ‘n kafee, grendel die deurtjie oop en laat sak die leer. Ek het net genoeg geld vir ‘n handvol Wilson-toffies en ‘n lemoen. Dit neem ‘n eeu om almal een vir een deur ‘n klein opening aan die kant van die gebou te bedien.

Uiteindelik begin die lorrievloer onder ons dreun. Ons is op pad. “Gooi hom in overdrive, oom Jaybye!” gilskree die manne. Die oom is nie lui nie en trap in die hoek. Die bergpas is stamperig. Oom Jannie ry die lorrie se een lig uit sy fittings uit. Ek proe stof. ‘n Sleeptong skree: “O’s gat ve’ongeluk!!!” ‘n Koor van gille weergalm deur die lorrie wat swaai-swaai weer haaks met die bergpad kom. ‘n Begraafplaas-stilte daal neer. Ek verlang na die veiligheid van ons jaarts.

Ons is halfpad teen die pas uit. Die lorrie beur voort na waar die mis soos bondels wit rooi2wasgoed bergop hang. Wanneer die lorrie van rat verander en die enjin op ‘n hoër noot begin sing soos hy sukkelend teen die steil, kronkelende pas probeer uitkom, meld daar ‘n naarheid by my kleintongetjie aan. Iemand begin sing: “My mamma told me, to buy a jersey, a rugby jersey, to play for Spartans…” ‘n Kerkkoortjie volg. Nie omdat die passasiers vroom is nie, maar omdat die mans se basstemme die koortjie so lekker dra: “…the devil can do me no harm! No ham…no ham….no ham….”

Oom Jannie skree: “Check vi’ trêffieks, ouens! Die lorrie is overload en die shocks is moer toe!” Die ouens check voor en agter en aan die sykante. Iemand trek sy been en gil: “Bloubaadjie!! Die oom trap briek. My nek ruk amper van sy akses af. Almal skaterlag. Dis nie oor die oom wat sê, “Hei, ek slat djou binne-in djou mornings, nie, maar met die remtrekkery het iemand se sesbottelkan Oom Tas in die proses losgeruk vanuit sy wegsteekplek.

Die volgende oomblik besef almal dat die lorrie se wiele te na aan die afgrond is. Die polsende liedjies verander opslag in eerbiedige gesange. “Hou U my hand. Ek is so swak en hulp’loos….” klink dit temerig en dralend op. My oë is lankal toe. Ek vra om vergifnis vir al my skeeftes.Oudtshoorn word daai oggend die mooiste plek wat ek al ooit gesien het. Ons is deur op Psalm 91, omwalm deur ‘n uitlaatwolk.

Mamma het gesweer dat sy altyd ‘n voorgevoelente had oor wanneer die rooi lorrie met ha’ kjint sil in-clock. Wanneer oom Jannie die lorrie se neus daai dagbreek-Sondagoggend by ons jaarts inswaai, staan sy in die agterdeur – pienk gown en al. Ek’s alleen in die lorrie as dit tot stilstand ruk. Om my lyk dit soos ‘n slagveld: ‘n platgetrapte tjoepie Germolene-salf, lemoenskille en klamvuil-rugbykouse. Ek sien ‘n ingeduikte koekblik onder die houtbank. Daar’s ‘n prentjie van ‘n poedel op die skeefgetrapte deksel wat die dingetjie meer na ‘n Bulldog laat lyk. Die naam van die eienaar is met skelpienk Cutex daarop geverf – die kwaaiste tante in die buurt! Sy sal wél vandag nog haar blik kry. Oor die baie 2 tot 21-woorde wat sal val, sien ek nie kans nie. Een van oom Dawid se werkers sal maar afleweringsdiens moet verrig.

My onthou steek vas by ‘n sleepmis-oggend toe ek vanuit die venstertjie van ‘n rooi lorrie in die Hel by Prins Albert afgekyk het, en soos Salomo oor vier goed nagedink het: Noag se ark, mamma se bloedpleit-gebede, doodgaan en die ware hel, en my ketoolsgeit om saam met uitgegroeide rugbyspelers te reis. In my lewe sou ek wyd en ver reis, maar my reis oor die Swartbergpas sal Jikbestand in my kop bly.

Die rooi lorrie het later plek gemaak vir ‘n geel bus, maar dis ‘n reisstorie van ‘n ander kleur.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top