Ons bewoon 'n verdeelde land

  • 0

Suid-Afrika is ‘n baie ryk land, maar dit is veral moeilik vir arm mense met min of geen opleiding nie om hul hande op dié rykdom te kry.

Die heersende openbare mening is dat daar hoofsaaklik twee maniere is om voordeel uit die ekonomie te trek. Dit is slegs deur formele naskoolse opleiding en/of om konneksies in hoë politieke kringe te hê.

Met die verkiesing om die draai is dit veral laasgenoemde werklikheid wat veral armes rooi laat sien. Gesaghebbende meningspeilings toon dat baie Suid-Afrikaners aangedui het dat hulle as gevolg van dié werklikheid nie gaan stem nie. ‘n Menigte Suid-Afrikaners het eenvoudig moed verloor en glo vas dat net ‘n politieke konneksie hulle tot ekonomiese voordeel sal strek.

Veral werklose gegradueerdes glo dat selfs ‘n goeie naskoolse kwalifikasie min of geen waarborg tot ‘n goeie werk en ekonomiese sukses bied nie. Jongmense glo selfs dat om na matriek te gaan studeer ‘n absolute mors van tyd is.

Dit is egter nie waar nie.

Die onlangse vrystelling van die Stellenbosse ekonoom Sampie Terreblanche se boek Verdeelde Land het ons weer eens pynlik herinner aan die chroniese armoede en die maatskaplik-ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika. Ook hoedat swart en bruin mense armer geword het, veral sedert 1994, en hoedat die meerderheid wit mense se rykdom gedurende dieselfde tydperk amper verdubbel het. Die historiese en tragiese rasgegronde materiële gevolge van apartheid is dus nog met ons.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid is dat ‘n politieke konneksie nie heeltemal daarin slaag om jou ekonomiese sekuriteit te verskaf nie.

Terreblanche se verduideliking maak logies sin dat die bevrydingsbewegings gefouteer het deur die neoliberale kompromis soos voorgehou deur die destydse apartheidsregering, groot kapitaal, internasionale instellings en Westerse regerings, te aanvaar. Die huidige demokratiese regering word dus aan bande gelê met min of geen beweegruimte om dié ongelykheid van die verlede uit te wis nie.

Die werklikheid is dat dit maklik is om ‘n klein minderheid swart elite te skep, maar uiters moeilik is om die meerderheid verarmdes in die land te help. Dus is politieke konneksies met ekonomiese voordele net vir ‘n klein minderheid beskore.

Diegene wat egter dink om te studeer is ‘n mors van tyd, moet hul koppe laat lees. Ja, toegegee, daar is enorme probleme in ons onderwysstelsel, maar daar is hoop ten spyte van baie uitdagings.

Huidige statistieke vertel ? treurige verhaal: meer as 40% van die jeug jonger as 40 is werkloos. Slegs 30% het matriek. Net 5% het ? universiteitskwalifikasie en die meeste jongmense is afhanklik van maatskaplike toelaes en staatsgedrewe dienslewering.

Ten spyte van al dié uitdagings bied onderwys ‘n eerlike manier vir veral armes om uit armoede te ontsnap en hulle met kennis te bemagtig, en ook om deel te wees van die hoofstroom-ekonomie. Hou dus aan om te studeer om jou kennisvlakke te verhoog en gaan stem in die komende verkiesing vir die politieke party van jou keuse. Onderwys en die reg om te stem is magtige wapens in die hande van armes om werklik ‘n verskil te kan maak.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top