Onderhoudend: Jean Lombard

  • 0



Helize van Vuuren stel vrae aan Jean Lombard oor haar artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe): Kwessies van mite en moraliteit by G.R. von Wielligh se Boesman-optekeninge 


 

Kan jy die begrip numineuse verhelder soos wat jy dit sien? (Waarom in 2014 net ’n bron uit 1927 gebruik? Is daar nie meer onlangse werk daaroor nie – Charles Malan het tog daaroor ’n doktorsgraad gedoen, en daar moet by meer onlangse studies oor liminaliteit ook noue aansluiting wees?) Dit bly vir my duister waarom en hoe dit presies hier ter sake is. En waarom jy die “mitiese” dan koppel aan die “numineuse”, eerder as aan geloof. En terloops, hoe verskil jou “narratiewe dimensie” enersyds van die “mitiese/numineuse dimensie” andersyds?

Die term/begrip numineuse word dikwels gebruik ten opsigte van die verhouding tussen letterkunde en religie, omdat daar nie ’n spesifieke geloof of godsdienstige oortuiging ter sprake is nie. In hierdie sin is dit ’n sinonieme begrip vir die spirituele of die goddelike. Maar eintlik wil die numineuse verwys na dit wat veel meer misterieus en onpeilbaar is: die begeerte en soeke na die totaal Onbegryplike, die Gans Andere. Die numineuse ingesteldheid is ’n poging tot die begrip en verwoording van bestaansvrae soos lyding en geweld, asook die verklaring van die skepping van die heelal, kwessies waarvoor daar geen finale antwoorde met behulp van die rede en die sintuiglike waarneming is nie. Die soeke na antwoorde op numineuse vraagstellings geskied dikwels deur ’n beroep op buitengewone en goddelike verskynsels soos waterslange, reënbeeste en verwante verskynsels te doen; vandaar die noue verwantskap tussen mite en die numineuse.

As bewys van sowel ’n numineuse ingesteldheid by Von Wielligh as sy duiding daarvan by die Boesmans herhaal ek die volgende insiggewende aanhaling uit my artikel, soos wat dit oorspronklik in Von Wielligh se opstel oor “Godsdienstige Begrippe” (in deel 3 van die Boesman-Stories) verskyn het:

Bepaalde afgode ken die Boesman nie – daarvoor is sy begrip van ’n    godheid te deinsig. Dog hy voel die ingeskape hulpeloosheid van die mens ... Dus, hy soek na bonatuurlike hulp. Die Boesman soek wel, maar stel geen bepaalde godheid in plaas van die gesogte iets nie. Nietemin, hy      gevoel hom afhanklik van iets.

Hierdie soeke na “iets” dui ek dan as ’n soeke na die numineuse.

Ek het Rudolf Otto se Das Heilige uit 1917 as bron oor die numineuse betrek, omdat hy die eerste was wat die term as sodanig gebruik het. (In my oorspronklike voorlegging aan LitNet het ek nie na spesifieke bronne verwys nie; een van die keurders het aanbeveel dat ek Otto betrek, omdat hierdie bron steeds as ’n standaardwerk beskou word.)

Ek het die eerste keer ernstig met hierdie begrip omgegaan ten tye van navorsing vir my doktorale proefskrif, “Waterslangverhale in en rondom Afrikaans: mitisiteit as basis vir vergelykende literatuurstudie”,wat ek in 1999 voltooi het. Ek het destyds kennis geneem van Charles Malan se werk oor die rol van die mite in die moderne Afrikaanse roman, maar omdat die soort mites waarmee hy gewerk het, en dit binne modernistiese konteks, grootliks van myne verskil het, het ek nie verder op sy bevindinge ingegaan nie. Spesifiek wat die numineuse betref, het ook hy dit as die “gans andere” gedui. ’n Ander belangrike bron waarvan ek destyds gebruik gemaak het, is Eric Gould se Mythical Intentions in Modern Literature (1981).

Wat betref die onderskeid tussen narratiewe en numineuse dimensies: in die groot aantal definisies van mite is daar twee aspekte wat deurlopend in samehang met mekaar genoem word, naamlik die verhalende of narratiewe aard van die mite, en die religieuse of numineuse dimensie daarvan. Sonder inagneming van die tweede aspek verval die mite tot “valse waarheid” of “blote storie”.

Jean, soos jy seker weet, is Von Wielligh en Bleek & Lloyd se optekeninge van /Xam-narratiewe met informante uit dieselfde streek noord van Calvinia en suid van die Gariep (indertydse “Boesmanland” in Noordwes-Kaap) en tydens ’n oorvleuelende periode (Von Wielligh 1875 & 1880-1883, Bleek & Lloyd 1860-1880’s). Het jy ’n vergelyking gemaak van parallelle of verwante /Xam-narratiewe in Bleek & Lloyd se databasis (http://www.lloydbleekcollection.uct.ac.za) met dié van Von Wielligh? Indien nie, dink jy nie dit sou baie van jou vrae kon oplos, of ten minste verhelder, nie, eerder as om op Von Wielligh se inleidings (met hul erg verouderde, selfs besonder aanstootgewende, elemente soos raspejoratiewe en histories-bepaalde antropologiese sienings, tipies van die vroeë neëntiende eeu) te fokus? Die inleidings kan slegs met ernstige inagneming van die historiese konteks waaruit hul kom, gelees word. En die belangrikste bydrae van Von Wielligh is tog die ontstaansmites self (hoe gekontamineer ook al deur wat ons vandag slegs as polities aanstootlike benamings kan sien, maar wat wel deeglik uit die laat 19de-eeuse taalgebruik stam)? 

Die sentrale vraag wat ek in my artikel oor Von Wielligh aan die orde stel, is: Hoe kom dit nou dat sy Boesmanoptekeninge die toets van die tyd deurstaan het, terwyl sy roman Jakob Platjie bykans vergete geraak het? Ek beantwoord die vraag aan die hand van Von Wielligh se evaluering van die Boesmans se godsdiensbelewing, soos dit blyk uit die inleidings tot sy agt dele vertellings, vier dele dierestories en vier dele Boesmanstories.

Sekerlik sou ’n mens hierdie vraag ook kon probeer beantwoord vanuit die perspektief van ’n vergelyking tussen Von Wielligh en Bleek en Lloyd se optekeninge.

Die ander moontlikheid wat jy noem, naamlik ’n ontleding van die ontstaansmites, is ewe geldig en sal waarskynlik weer ander resultate lewer. Ek het verkies om die optekeninge met Jakob Platjie te vergelyk, omdat hierdie vergelyking ’n goeie illustrasie bied van uiteenlopende duidings by Von Wielligh aangaande die Boesmans se godsdiensbelewing. Die inleidings tot die optekeninge het aan my die verklaring vir hierdie uiteenlopendheid gebied.

Na my oordeel het ek wel deeglik die historiese konteks van die inleidings in ag geneem. Reeds in die eerste paragrawe van die artikel het ek gewys op Von Wielligh se werk binne die konteks van die Eerste Taalbeweging en die vestiging van Afrikaans as skryftaal. Daar word gewys op Von Wielligh se eerste kennismakings met die folklore van die inheemse storievertellers. Selfs sy bespiegelinge oor die moontlike lesers van die optekeninge – kinders of volwasse lesers – kan as deel van die historiese konteks van die vertellings gedui word.

Jy verwys na die aanstootgewende elemente in die inleidings. Weliswaar is hulle daar, maar juis in die lig van die historiese konteks is dit verstaanbaar dat Von Wielligh hulle in sy tyd so gebruik het. Met die vasstelling van ’n aanvoeling vir numineuse dimensies hoop ek dat huidige lesers by sowel Von Wielligh se motiverings as die optekeninge self aansluiting kan vind. Hiervolgens word die spesifieke historiese konteks enigsins oorskry en plaas dit Von Wielligh in ’n meer positiewe lig.

Daar is ’n besondere dilemma in die studie van inheemse kennis van die /Xam-narratiewe en die siening van die waarde en posisie van Von Wielligh se /Xam-verhale. Dit het (soos jy weet) veral te make daarmee dat Bleek en Lloyd (1911, 1924, 1930’s) besonder wetenskaplik te werk gegaan het met direkte transkripsie van onderhoude in /Xam, terwyl niemand nog Von Wielligh se notaboeke uit 1980-1983 kon opspoor nie. My onlangse navorsing bewys dat hy van jongsaf notaboeke aangehou het waar hy ook al gegaan het, maar dat baie van die notaboeke in die Anglo-Boereoorlog “verniel geraak het”. Sommige van hulle, te make met woord-optekening, het hy aan JJ Smith van die WAT geskenk; ander aan die indertydse Landbouweekblad-redakteur; nog ander aan sy korrespondente van her- en derwaarts in die twintiger- en dertigerjare voor sy dood. Die Smith-versameling is in die Dokumentesentrum by die Universiteit Stellenbosch. Ten spyte van sy filtrerende werksmetode (narratiewe verwerk, hier en daar gesensureer, skunnighede weggelaat, eerder as verbatim opgeskryf) het die internasionaal-gerekende folkloris Sigrid Schmidt 47 van Von Wielligh se narratiewe as voorheen onbekende, oorspronklike Suidelike San-folklore in haar internasionale Khoisan-katalogus opgeneem (Rüdiger Köppe, Frankfurt, 2013 – A Catalogue of Khoisan Folktales of Southern Africa, dele I en II). Die rede hiervoor is dat daardie spesifieke 47 narratiewe, slegs deur Von Wielligh geboekstaaf, San-ontstaansmites is wat nêrens anders opgeteken is nie. Saam met dié van Bleek en Lloyd en andere kry die leser dan ’n veel beter insig in die denke van die vroegste Suider-Afrikaanse voormense. Is ’n studie van Von Wielligh se substansiële bydrae nie nuttiger as die toedigting van ’n gewaande “numineuse” element, wat dan mirakelagtig daarin teruggevind word op enigsins solipsistiese wyse nie?

Hierdie vraag sluit ten nouste aan by jou stelling wat aan die einde van jou vorige vraag voorkom, naamlik: “En die belangrikste bydrae van Von Wielligh is tog die ontstaansmites self ...” Die feit dat Sigrid Schmidt 47 van hierdie narratiewe, wat vroeër nêrens anders opgeneem is nie, in haar internasionale katalogus opneem, dien as bevestiging van die belangrikheid van hierdie opnames.

Dit lei dan tot jou vraag of ’n studie van die mites self nie “nuttiger” sou wees as die nagaan van numineuse elemente in die inleidings tot Von Wielligh se versameling Boesmanvertellings nie.

Ek verstaan jou kriterium vir “nuttiger” as die mate waarin bepaalde inligting “beter insig bied in die denke van die vroegste Suider-Afrikaanse voormense”. Die twee bronne van insig wat hier ter sprake is, naamlik (a) die ontstaansmites en (b) Von Wielligh se duidinge van die Boesmans se godsdiens, staan nie teenoor mekaar nie, maar kan mekaar juis aanvul (soos wat ek in die artikel probeer aantoon het).

Uit jou woordkeuse ten opsigte van die “numineuse element” (aan die einde van jou vraag hier bo), naamlik “toedigting”, “gewaande”, “mirakelagtig” en “op enigsins solipsistiese wyse”, lei ek af dat jy geensins kan saamstem dat numineuse dimensies uit die mites afleibaar is – soos wat ek in my artikel probeer aantoon het Von Wielligh hulle aangevoel het – nie. Volgens jou is “die numineuse” slegs ’n produk van my brein wat ek “solipsisties” op Von Wielligh en die Boesmans probeer afdwing. As antwoord hierop kan ek lesers alleen maar weer terugverwys na my antwoord op die eerste vraag hier bo of – beter nog – na meerdere Von Wielligh-aanhalings in die artikel.

Dink jy nie dat die toedigting van die numineuse en misterieuse aan die /Xam orale tradisie die gevaar loop van romantisering en eksotisering van die eerste mense nie?

Weliswaar sou dit kon gebeur, maar ons weet dat die teenoorgestelde ewe goed moontlik is – veral in die huidige tyd – naamlik dat die Boesmans se mites en spirituele belewing as “naïef” en selfs “primitief” gedui word. Ten opsigte van Von Wielligh was dit vir my juis boeiend dat hy oënskynlik baie negatief is teenoor die Boesmans se religie. Wanneer ’n mens sy standpunte egter fyner lees, dan is daar waardering vir ’n numineuse of spirituele ervaring.

Indertyd in die troebele tagtigerjare was daar ’n struggle-segging in Durban: “Die een se AK47 is die ander se ubuntu.” Op dieselfde manier kan ’n mens vra: “Is die een se mite nie die ander se geloof nie?”, en omgekeerd. Wat is jou perspektief hierop? En indien jou studieterrein eintlik die geloof en aspekte daarvan is, sou daar nie lig op te steek wees in David Lewis-Williams se The mind in the cave (2002, sien spesifiek ble 48–9 oor die “social embeddedness of scientific work”) en in David Pearce en Lewis-Williams se spesifieke studie van die verskynsel in San spirituality (2004) nie? Wat is jou kommentaar op hul stelling in San spirituality oor Westerse houdings teenoor die San se geloof in die volgende passasie?

In a post-Van der Post era, the San are still perceived as immensely, but naively, spiritual, and that spirituality is closely linked to nature. It is very different from the sort of spirituality practiced by the San and their ancestors for millennia. Traditional San spirituality (…) is based on socialized experiences of altered states of consciousness in which religious specialists are believed to travel between levels of the cosmos to perform tasks beneficial to the community. There is nothing exceptional about this. All religions have an ecstatic element (…).
We need to ask if the spirituality of nature that is being heaped on the San and in which some of them see a way out of poverty is not locking them into a primitivist position by implying that they are congenitally out of tune with Western industrialized life? Has spirituality become disempowering?

The Romantic, primitivist position did not (…) originate with the San themselves. It has been imposed on them from outside of their own communities (…) Roger Sandell sums (it up (…): “It is Western sentimentalism fashionable among spoiled, white, discontent urbanites.”

Wat die aanhaling van Pearce en Lewis-Williams betref, wil ek nie graag kommentaar lewer sonder inagneming van die breër konteks nie. Dit wil byvoorbeeld voorkom asof “Western industrialized life” as norm aanvaar word. Hiermee word diskussies opgeroep aangaande die huidige plundering van die aarde en ’n verbruikerspolitiek wat lei tot armoede by groot dele van die wêreldbevolking – nie net by kleiner groepe soos die Boesmans nie.

My artikel het oor ’n afgebakende onderwerp gehandel, naamlik Von Wielligh se duiding van die Boesmans se godsdiensbelewing. Sou ’n mens verdere bronne oor die Boesmans se spiritualiteit al dan nie betrek, vra dit om ’n verdere artikel. ’n Interessante bron, ter aanvulling van die twee wat jy hier bo noem, is JS Krüger se boek Along Edges. Religion in South Africa: Bushman, Christian, Buddhist (1995).

Ek interpreteer jou vraag: “Is die een se mite nie die ander se geloof nie?” as sou jy “geloof” en “mite” teenoor mekaar stel. Dan is dit “mite” in die negatiewe sin van die woord (mite as “valse waarheid”), en só het ek dit nie in die artikel gebruik nie.

Jou vraag kan ook in terme van geloof en bygeloof geformuleer word, naamlik: Die een se geloof is die ander se bygeloof. Wat by ’n bepaalde groep mense eens formele geloof was, sê aan ’n wonderbaarlike Waterslang wat die reën bring, kan weens historiese of ander omstandighede tot op die randgebied van die bygeloof uitgeskuif word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top