Onderhoudend: Dawid de Villiers

  • 2


LitNet Akademies stel vrae aan Dawid de Villiers oor sy artikel in LitNet Akademies (Regte): Arbitrêre gronde vir onbillike diskriminasie en die bewyslas in arbeidsgeskille.


 

Wat word bedoel met “onbillike” diskriminasie? Is daar dan so iets soos billike diskriminasie?

In ’n werkplek word daar onderskeidings gemaak tussen personeellede. Daar is seniors en juniors, tegniese en administratiewe personeel, opgeleide en lekearbeid. In die Wet op Gelyke Indiensneming word dit differensiasie genoem. As die verskil in hantering egter op sekere gronde geskied, neig dit na diskriminasie. Voorbeelde van sodanige gronde word in artikel 6(1) van bg Wet gelys: ras, geslag, etniese oorsprong, kleur, ouderdom, gestremdheid, ouderdom, politieke oortuiging, ens. As ’n werknemer aanvoer dat sodanige verskil in hantering op die basis van een of meer van hierdie gronde plaasgevind het, kan dit as onbillike diskriminasie beskou word. Daar kan egter selfs op hierdie gronde onderskeid gemaak word in twee situasies: wanneer die noodsaaklike of inherente vereistes van die pos dit vereis of as daar regstellende aksie plaasvind. Dan is dit billike of geoorloofde diskriminasie.

Jy praat van arbitrêre en gelyste gronde vir diskriminasie. Waarom die onderskeid en waaroor gaan die verskil van mening?

Die sogenaamde gelyste gronde vir diskriminasie is alombekend en geyk. Sommige kenners is van oordeel dat die lys in artikel 6(1) geslote is en niks meer kan bykom nie. Dit is egter nie waar nie – daar kom steeds meer en meer arbitrêre gronde by. Voorbeelde hiervan is seksuele oriëntasie en geestesiektes, wat reeds deur die howe aanvaar is. In ’n sekere sin is alle gronde vir diskriminasie arbitrêr in die betekenis van niefunksioneel, want dit is gegrond op persoonlike voorkeure of afkeuring en dit hou gewoonlik nie met werk verband nie. Daar is ’n oordrewe klem op die gronde vir diskriminasie, terwyl daar eerder gekyk moet word na die effek of gevolge van diskriminasie, bv die benadeling van gelyke geleenthede, die aantasting van ’n persoon se waardigheid en die invloed op die gehalte van werklewe.

Val die magsbalans deesdae in die guns van werkgewers of werknemers uit?

Ek sou sê oor die algemeen in die guns van die werknemers. Dit is veral so in die KVBA en die bedingingsrade, minder die geval in die arbeidshowe. Daar moet onthou word dat die arbeidswette gebaseer is op die standpunt dat die werkgewer ’n onbillike magsvoordeel bo die werknemer het. Geskille oor onbillike diskriminasie kom egter al meer by regstellende aksie voor. Dit is veral waar die werkgewer lukraak persone van ’n sekere groepering uitsluit vir aanstelling of bevordering. Dikwels is dit in stryd met die werkgewer se eie gelykheidsplan, of doeltreffendheid in die organisasie word opgeoffer deur nie ’n geskikte persoon aan te stel nie. Politieke oorwegings en nepotisme word egter al meer aan die kaak gestel.

Hoe verskil die nuwe gewysigde wet (2013) van die oue op hierdie gebied?

Die onderskeid tussen gelyste en arbitrêre gronde word duideliker in artikel 6, maar ten minste is laasgenoemde weer terug op die wetboek. Daar word ook ’n verskil in bewyslas gemaak in artikel 11, in so ’n mate dat dit moeiliker is vir ’n werknemer is om onbillike diskriminasie op arbitrere gronde te bewys.

Wat hou die toekoms in?

Ek oordeel dat die onderskeid tussen die twee tipes gronde al minder gaan word. Verder hoop ek dat daar wyer gekyk sal word na ander aspekte, soos die werklike oorsake en opsigtelike gevolge van onbillike diskriminasie. Diskriminasie kom gewoonlik voort uit diepgewortelde vooroordele en emosionele vooropstelling wat tot vyandigheid en partydigheid lei. Dit het dikwels nie veel met die werk of produktiwiteit as sodanig te make nie. Hoe dit ook al sy, interessante tye wag op ons.

  • 2

Kommentaar

  • Christa Johnson

    Ek werk vir my pa, my broer is ook hier werksaam. Ek ervaar openlike diskriminasie en nepotisme, daar is 'n paar keer kamma grappensgewys na my werk verwys, dat as hulle my afdank, dan het hulle my salaris vir ander goed. Ek mag niks sê nie, want dan word ek soos 'n idioot behandel. Ek weet hulle is besig om agter my rug te konkel. Wat is my regte hier?

  • My organisasie word ondersteun deur duisende lede en ons handhaaf sterk geestelike en etiese riglyne. Ons respekteer en is onderhewig aan al die landswette maar wil graag weet wanneer mag ek wettig diskrimineer teen iemand (lid, werknemer of kliënt) wat nie ons waardestelling wil ondersteun nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top