Onderhoud: Toef Jaeger oor Koning Eenoog

  • 0

Begin hierdie jaar verskyn Koning Eenoog, ’n “migranteverhaal” deur Toef Jaeger, oor die lewe en werk van die skilder en skrywer Henk van Woerden. ’n Opmerklike man wat sy lewe lank op soek is na sy plek in de wêreld, ’n sekerheid wat hy verloor toe hy as ’n negejarige seun met sy ouers vanuit Nederland Suid-Afrika toe emigreer en kort daarna sy ma verloor. In sy romans skryf hy oor sy moeilike verhoudings met die land wat nooit heeltemal sy eie land sal wees nie.

Na sy vroeë dood in 2005 kry joernaliste Toef Jaeger van Podium-uitgewer Joost Nijsen en Michaël Zeeman die taak om van die vele materiaal wat daar agterbly, ’n biografie oor Van Woerden te skryf. Deur ’n meningsverskil verskyn die boek uiteindelik nooit by Podium nie, maar word dit uitgegee by Atlas Contact.

Toef, jy het ’n pragtige biografie oor Henk van Woerden geskryf, maar vóór ons daaroor praat, wil ons eers graag hoor wat jou persoonlike band met Suid-Afrika is.

Die band het ontstaan deur die literatuurfees Winternachten in Den Haag wat nou Writers Unlimited is. In die verlede het hulle standaardliteratuur uit Indonesië, die Nederlandse Antille en Suid-Afrika op die program gehad, en toe het ek vir ’n aantal jare die redaksie van die festival gedoen. Inmiddels bespreek ek klaar omtrent vyftien jaar romans en poësie uit Suid-Afrika vir die NRC Handelsblad.

My eerste keer wat ek Suid-Afrika toe was, was met Winternachten. Daar was toe mense wat ons rondlei sodat ons nie self al die toeristiese attraksies hoef langsdraf nie. Diana Ferrus het ons onder andere op sleeptou geneem, wat baie lekker was. Henk van Woerden was ook in die advieskommissie van Winternachten. My tweede reis na Suid-Afrika was saam met hom en Michaël Zeeman. Dit was toe Henk wat ons rondgelei het. Hy het ons die plekke gewys waar hy vroeër gebly het, maar ook byvoorbeeld ’n hele dag met ons in die Compagnietuine gesit – sommer net gesit terwyl ons eintlik lankal iewers anders heen wou gegaan het …

Is dit dan ook hoe jy vir Henk leer ken het?

Nee, ek het ’n internskap gedoen by Podium en toe het ek Henk leer ken. Hy wou alles nog per faks gekry het in daai tyd. So ek was die een wat al die korreksies vir hom moes deurfaks, haha.

Die band tussen Joost Nijsen en Henk was baie goed. Joost had toe ook die Suid-Afrikaanse klassiekersreeks en Henk was deel van die redaksie, saam met Robert Dorsman. Maar die serie het toe gestop, wat ’n groot jammerte is, want dit was ’n mooi reeks.

Maar ek het Henk eintlik veral via Robert Dorsman leer ken. Daar was op ’n dag ineens ’n snaakse man op die verjaarsdag van Robert Dorsman. Ek was juis besig om skottelgoed te was toe hy vir my sê: “Doen jy dit uit bedagsaamheid of omdat jy iets wil bereik daarmee?” Dit was ’n baie vreemde vraag terwyl ek gedagteloos besig was met skottelgoed, haha.

Toef Jaeger

En wat het jy toe geantwoord?

Vast nie iets oorlams nie. ’n Mens is ook nie op sy skerpste tydens die skottelgoed was nie. Ek ten minste nie … Maar ek het gedink dis ’n geestige man omdat dit nie so ’n deursneevraag was nie.

Jy het nou self klaar begin oor die band tussen Podiumuitgewer Joost Nijsen en Henk van Woerden en miskien is dit goed om nog bietjie verder oor dié onderwerp te gesels. Daar bestaan ’n meningsverskil tussen Joost en jou?

Kort na die oorlyde van Henk het Joost Nijsen en Michaël Zeeman besluit die In Memoriams wat in koerante verskyn het, was verkeerd. Daar is onder andere geskryf dat Henk lid is van die ANC en dié type dinge, wat glad nie die waarheid is nie, en toe besluit hulle daar moet ’n regte biografie kom, en miskien is Toef wel die mens om dit te doen. Ook omdat ek redelik betrokke was by die begrafenis van Henk. Sy derde vrou was nog baie jonk toe sy Henk leer ken het en word toe ook baie jonk weduwee, so ek het toe gehelp met ’n klomp praktiese sake.

En toe? Hoe het die skryf van die biografie verder verloop?

Al drie sy (eks)vrouens het geweldig goed meegewerk. Hulle het my werklik alles gegee. En daar was baie. Henk bewaarde alles. Van sommige manuskripte het meer as agt verskillende versies bewaar gebly. Sy derde vrou het toe vir my gevra of ek dit alles kon organiseer en sorteer sodat dit na die Letterkundig Museum kon gaan. En dan was daar nog die koffer van ouma Scheepstra, wat ook in die boek voorkom. Daar was so ongelooflik baie!

Toe op ’n gegewe oomblik het ek ’n manuskrip by Joost ingehandig. Ek wou nie ’n versie inhandig voordat ek geweet het dit is ongeveer hoe dit moet gaan wees nie. Dit was nog lank nie die uiteindelike versie nie, maar dit was ’n versie wat ek darem durf deel het en waarvan ek gedink het dis reg vir redaksie. En toe op ’n gegewe oomblik het ek ’n briefie van Joost gekry met die berig dat “iemand” van buiten af (ek mog ook nie eers weet wie die iemand was nie) dit gelees het, en dat ek alles moet oorneem anders gaan hy dit nie uitgee nie. Dit was nogal goeie opmerkings so ek wou dit graag doen, maar toe ek hom ’n e-pos terug stuur sê ek vir hom dat hy ook goed moet dink wat hy eintlik wil. Waarop hy antwoord dat hy dit eintlik glad nie wou uitgee nie; dit was nie die beeld van Henk wat hy gehad het.

Hoe kan dit wees dat julle so ’n verskillende beeld van Henk gehad het?

Joost voel dat Henk te negatief uit die boek gekom het. Byvoorbeeld sy gebrek aan politieke betrokkenheid toe hy nog in Suid-Afrika gewoon het en al sy verhoudings met vrouens. Ek voel daar anders oor, omdat ek glo jy verstaan sy romans beter wanneer jy weet wat gebeur het in sy eie lewe. Dis almal baie biografies. Ek wou in die boek aantoon dat hy nêrens houvas kon kry nie en ek dink dat dié beeld op Henk die belangrikste meningsverskil tussen Joost en my is. Ek waardeer hom juis meer na die skryf van die boek. Sy soektog is vir my baie ontroerend.

Die ondertitel van jou boek is “een migrantenverhaal” – het Henk ooit Suid-Afrikaan geword?

Henk soek altyd vir erkenning in Suid-Afrika. Ek bedoel, hy het natuurlik Tsafendas bespreek, en Ingrid Jonker … maar hy word nooit geaksepteer in die Afrikaner-skryfgemeenskap nie, wat vir hom verskriklik is. Die soektog na die plek en die groep waar hy thuis hoort is baie belangrik in sy lewe en dis die gevolg van die trek na Suid-Afrika.

Met die Ingrid Jonker-argief word hy deur die Suid-Afrikaanse pers as ’n Nederlandse koloniaal neergesit, wat natuurlik ook vir hom verskriklik was. Ek dink ook dat hy nooit besef het wat Komrij daar gedoen het nie, maar dat Komrij dit eintlik self ook nooit heeltemal besef het nie. Hy het gedink dit word anders in losse stukke verkoop so ons kan dit maar beter by mekaar hou en dan sal ons later maar weer sien. So dit was vir Henk weer ’n bevestiging dat hy nie deel van die groep is nie. Hy het bietjie gekuier met Brink, Ingrid Jonker en Jan Rabie, maar hy werd telkens daaraan herinner dat hy maar net die Kaaskop was, ook al wou hy dit glad nie.

Hy het ook nooit ’n Suid-Afrikaanse paspoort gehad nie. Hy was nou eenmaal ’n Nederlander – terwyl hy in Nederland juis as ’n Suid-Afrikaan gesien word. Dit maak dat hy altyd buite die boot geval het.

Foto geneem in Nederland voor die vertrek na Kaapstad

 

Iets heeltemal anders: op die allereerste bladsy van die boek, waarin jy beskryf hoe die familie pak vir die trek Suid-Afrika toe, pak hulle ook hemden van “jaegerwol”. Jou naam is Toef Jaeger – het jy dit aspris gedoen?

Haha, ja dit was ’n klein grappie. Toe ek dit in die argief vind, het ek lekker gelag en gedink ek kan dit nie maar net los nie. Die ouma Scheepstra het regtig alles bewaar. Selfs die paklyste van die emigrasie. Jaegerondergoed was in dié tyd baie gebruikelik. Dis ’n type lang ondergoed van wol wat baie warm is.

Behalwe dat jy self die outeur is van ’n biografie en ander nonfiksieboeke, is jy ook ’n resensent van onder andere Suid-Afrikaanse boeke. Wat het jou opgeval in die Afrikaanse literatuur die afgelope jare?

Ek glo die aandag vir Afrikaanse literatuur in die Nederlandse boekwêreld het afgeneem deurdat Meulenhoff dit nie meer doen nie. Daar is nog wel uitgewers wat Afrikaanse literatuur uitgee, maar dit het minder geword. En wat nog opval, is dat dit nog altyd die meeste wit Afrikaners is wat hier in Nederland uitgegee word. Daar is natuurlik goeie wit Afrikaanse skrywers – Antjie Krog en Etienne van Heerden wat by Podium is en Marlene van Niekerk by Querido byvoorbeeld – maar dis vir my altyd ’n jammerte dat daar so min vernuwend gedink word. Dis altyd maar die usual suspects. Tydens die Week voor de Afrikaanse roman het ek byvoorbeeld ’n aand gepresenteer oor die mooiste Afrikaanstalige gedigte. Daar was amper net gedigte van wit skrywers: Eybers, Breytenbach, Krog … behalwe dan Rustum Kozain en Ronelda Kamfer, maar dis heeltemal te min!

Toef Jaeger publiseer eerder:

Jaeger, Toef. Koning eenoog: leven en werk van Henk van Woerden. Amsterdam, Antwerpen: Uitgeverij Atlas Contact, 2015.
—. Uit de hoge hoed: poe?zie voor hoogbegaafde kinderen. Amsterdam: Contact, 2005.
Jaeger, Toef (red). Het verre gedicht: de mooiste reisgedichten uit Nederland en Vlaanderen. Amsterdam: Podium, 2008.
—. Het lichte gedicht: de grappigste en gekste gedichten van Nederland en Vlaanderen. Amsterdam: Muntinga Pockets, 2006.
Jaeger, Toef en Hanneke Chin-A-Fo. Het boekenparadijs. Amsterdam: Ambo|Anthos, 2014.
Jaeger, Toef en Viola Lindner. Groot worden ze toch wel: over opvoeders en opvoeding. Amsterdam: Contact, 2009.

Henk van Woerden publiseer:

Van Woerden, Henk. Ultramarijn. Amsterdam: Podium, 2005.
—. Notities van een luchtfietser. Amsterdam: Podium, 2002.
—. Domein van glas. Uit die Nederlands vert. deur Antjie Krog. Kaapstad: Queillerie, 2000.
—. Een mond vol glas. Amsterdam: Podium, 1998.
—. Tikoes. Amsterdam: Balans, 1996.
—. Moenie kyk nie. Amsterdam: Nijgh & Van Ditmar, 1993.

Foto's voorsien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top