Onderhoud: Chrisna Beuke-Muir oor Liefdesbriewe

  • 0

Wat het jou gedryf om Gurney se (vertaalde) Liefdesbriewe op die planke te bring?

Ek het Jo en Tine Ruysschaert die produksie vir die eerste keer in Namibië (in Nederlands) sien doen, en die uitstekende teks het my onderstebo geslaan! En toe ek wil konsert hou (die eerste Windhoek Woordfees verlede jaar), wou ek dit probeer. En dan is dit natuurlik ’n groot ding dat jy nie bladsye en bladsye woorde uit jou kop uit moet leer nie; jy lees die briewe gewoon van die poskaarte of briewe af. Die maak van die kaartjies het baie voorbereiding geverg, want vir elke stukkie dialoog moet ’n poskaart of brief gemaak word – die gehoor sien wel die agterkant daarvan, en dit moet kan oortuig.

Watter buitengewone of andersoortige uitdagings stel die stuk aan jou as akteur?

Ai, hier halfpad deur die teks moet ek ’n gedeelte van die Jacques Brel-lied “Ne me quitte te pas” sing, en dít was nogal ’n uitdaging, hoewel ek dit eintlik net mymerend moet sing. As ek te hoog of te laag insit, is dit ’n fiasko! En dan ís dit so ’n besonderse lied wat – as jy dit reg doen – ’n atmosfeer tot stand kan bring wat so aanvoelbaar is dat dit ’n mens raak tot in jou onuitsêbaarste einaste.

Die stuk is sonderling in dié sin dat Melissa se dialoog in Afrikaans en Andreas s’n in Vlaams is. Stel dit besondere eise aan die gehoor?

Ja, beslis. As ek in Vlaandere speel, moet Melissa se Afrikaans so ’n bietjie gepaneelklop (“gepênnelbiet”) raak. ’n “Kinderoppasser” word in Vlaandere ’n “kinderjuffrou”, “polio” word “kinderverlamming” en “hyser” word “lift”. En om toe te sien dat die gehoor bybly, en nie eers oor ’n hele boel dinge hoef na te dink voordat hulle verder kan luister nie, het ons ook aanpassings gemaak as dit kom by kultuurverskille. Dus speel Andreas in Vlaandere voetbal, maar in Suid-Afrika rugby. Soms sit ons met die dilemma van sekere woorde wat vir die Vlaminge heel vreemd is, byvoorbeeld die Afrikaanse “koshuis” – iets wat omtrent elke Suid-Afrikaner in ’n meerdere of mindere mate ervaar het. In so ’n geval sou Melissa, as ons in Vlaandere speel, eers die woord “koshuis” gebruik, en dan iets byvoeg soos “of internaat, soos julle op Nederlands sê”.

In Suid-Afrika en Namibië vermy ons die woord “poes” (“kat”) om sekere redes waaraan ek nou glad nie kan dink nie (hie-hie!). En ’n “kater” word in Suid-Afrika ’n “mannetjieskat”. Melissa met haar vurige geaardheid het dikwels woorde nodig wat haar gevoel (gewoonlik haar vinnige humeur) moet kan uitsê. In Vlaandere waarsku sy Andreas dat sy op ’n tafel sal klim en haar “blote kont” aan die hele geselskap sal wys. In Suid-Afrika gaan hierdie k…-bedryf nie lekker af nie en “blote k…” vervang ons dan met “kaalgat”.

Ja, die nuanseverskille tussen Afrikaans en Nederlands maak dinge vir die gehoor ’n bietjie ingewikkelder, maar uit die terugvoer kom ek agter dat die vreemdheid van die ander taal ná die eerste vyf minute van die produksie minder word.

Pete Gurney

Groei Liefdesbriewe tot iets groters as die persoonlike hoop, drome en teleurstellings, welslae en neerlae van die twee karakters Melissa en Andreas? Indien wel, waarin lê die universaliteit van Liefdesbriewe? En waarin lê die universaliteit van die twee hoofkarakters?

 

Wat tussen die twee karakters gebeur, gebeur dikwels in ons samelewing – ek sou eintlik sê, dwarsoor die wêreld. Die vraag of ’n pot net een deksel het, kom ter sprake. In die natuur word daar aanbeweeg: nadat een koedoebul ’n koedoekoei dragtig gemaak het, is dit die volgende seisoen ’n ander koei se beurt (of probleem!). By die mens werk dit anders. So is immers die veronderstelling. Soms ontmoet jy iemand wat vir ’n kort tydjie aan jou lewe ’n besondere betekenis gee, en soms word jy saam met so iemand groot. En jy het nie altyd beheer oor die uitkoms nie.

Maar waarin die essensie van Liefdesbriewe vir my lê, is dat die gehoor ’n blik kry van wat in die twee karakters se gemoedere aangaan. Die gehoor maak die skryf van die briewe mee, en verstaan dat dit terapeuties is (ten minste vir die Andreas-karakter) en van die Melissa-karakter ’n eerlikheid verg. Ek glo die stuk werk begrip in die hand waar iets soos egbreuk-pleeg gewoonlik net veroordeling in die hand werk.

Watter spektrum emosies ontlok die toneelstuk by die toneelganger?

Eintlik word die hele spektrum van menslike emosies ontlok. Wat ek van die verhoog af waarneem, wissel van ’n gegiggel – meestal omdat Melissa nie terughou wat haar uitlatings betref nie – tot oomblikke wanneer die gehoor reageer met ’n doodse stilte – wat ek vir myself uitgemaak het as die reaksie op blote verwondering vir die woord. Andreas is dan die ster en hy verduidelik wat dit vir hom beteken om hierdie briewe aan Melissa te skryf.

Ek self is dikwels huiwerig om vrywillig na ’n produksie of film te kyk wat hartseer is. Liefdesbriewe is nie hartseer nie. Dit is bevrydend eerlik. Mense het by meer as een geleentheid vir my gesê dat hulle iewers in die loop van die stuk ’n traantjie weggepink het, maar dit was dan gewoonlik oor die uiters eerlike reaksie van die twee karakters en die absolute raakvat van die dialoog. Liefdesbriewe is seker die mooiste teks waarmee ek nog op die verhoog omgegaan het.

Wat maak jou in die besonder trots op hierdie produksie?

Ek ervaar ’n oorweldigende dankbaarheid omdat hierdie stuk oor my pad gekom het. Ek dink die Grootman weet wat hierdie stout kind van hom nodig het! Ek wens ek kan die skrywer, Pete Gurney, ontmoet. En om dit saam met Jo Decaluwe te speel, en saam met hom as regisseur te werk, is al ’n belewenis op sigself.

Waarom sou jy mense aanbeveel om hierdie toneelstuk te sien?

Dit is ’n stuk wat jou enersyds nie ontstel nie, en tog ook nie andersyds ’n “goedvoel”-emosie by jou agterlaat nie. As volwassene herken jy situasies in jou eie lewe, en jy kan lag omdat dit net eenvoudig skreeusnaaks is. Maar dan die wóórd: ek moet maar net weer terugkom na die woord. Hierdie stuk het respek vir die woord.

Klik hier vir programbesonderhede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top