Om vir een middag ‘n skrywer te wees

  • 0

Om ‘n skrywer te wees beteken om te skryf. Tog impliseer die woord skrywer nie net die skryfaksie nie. Om te skryf behels ook nie bloot die opteken van verhale of stories nie. Eerder impliseer dit vir my ‘n besondere verhouding tot die buitewêreld. ‘n Wêreld waarteenoor die skrywer staan, wat sy waarneem en waaraan sy deelneem of haarself juis van isoleer. ‘n Wêreld wat sy met taal probeer tem.  

‘n Roman wat die ontoereikenheid, gebrek, verleiding en integriteit van “skryf” en die rol en verhouding van die skrywer ten opsigte van taal op subtiele en verbeeldingryke manier ondersoek, is die Oostenrykse skrywer Peter Handke se The Afternoon of a writer (1989). Dit is ‘n roman van net oor die 80 bladsy oor ‘n naamlose skrywer in ‘n naamlose stad wat skryf – en deur taal die geheim van skryf juis versluier in plaas van ondubbelsinnig openbaar. So word taal as grens en versperring, as iets wat keer dat hy met die buitewêreld interaksie het, beklemtoon.

Die skrywer se isolasie en eensaamheid dryf hom tot sy afgesonderde lessenaar, sy notaboek, sy tikmasjien. Deur te skryf word hy van die buitewêreld afgesonder.

Terselfdertyd is taal die naamlose skrywer se vername manier van kontak met die buitewêreld en soek hy juis woorde om ‘n greep op die werklikheid te kan behou. Hierdie vrees om kontak met taal te verloor, word gedemonstreer in sy wisselwerking met sy omgewing:

          “At the same time he told himself. as he had so often, that he must not lose    himself in his work the next day, but on the contrary use it open up his senses: instead of taking his mind off his work, the shadow of a bird darting across the wall should accompany and clarify his writing, and so should the barking of a dog, the whining of a chain saw, the grinding of trucks shifting gears, the constant hammering, the incessant whistle blowing and shouts of command from the schoolyard and drill grounds down in the plain.” (bladsy 5).

Die skrywer raak bewus van tyd deur die ruimte rondom hom waar te neem. Die lig in sy kamer vertel hom dat dit laatmiddag moet wees. “He took the shimmer of sunlight on the carpet as a sign that his work had measured the right amount of time” (5). Ook probeer hy dat sy skryfwerk op ‘n manier rym met sy omgewing wat hy rondom hom waarneem: “From time to time, he would take his eyes off his paper, look out at the workers, and try to establish a harmony between what he was doing and their unhurried one-thing-after-another” (10).

Die verhaal “Life isn’t a short story”, (wat jy hier kan lees) van Conrad Aiken het iets in gemeen met The Afternoon of a writer.

In “Life isn’t a short story” sit ‘n opgedroogde skrywer wat inspirasie soek, in ‘n restaurant. Hy sit en mymer oor sy karakter Gladys, ‘n vet blonde geskeide vrou wat hy in fiksie wil gebruik. Die mymerings oor Gladys word sodoende die tweede verhaallyn van Aiden se verhaal, wat gekontrasteer word met die werklikheid van die restaurant wat hy rondom hom waarneem, soekend na stimuli vir sy verhaal. Hy gee sy idee van Gladys se verhaal weer en kom ten einde tot die besef dat daar ‘n gaping is tussen die werklikheid soos dit daagliks geleef word en die werklikheid in die gekonstrueerde verhaal:

“Alive. And that was the difference between life, as one conceived it in a story, and life as it was, for example, in the restaurant in which he was sitting, or in the noisy square at which he was looking.”

Die skrywer in Handke se verhaal én die skrywer in Aiden se verhaal ontleed hulle omgewing en besin deurgaans oor die moontlikheid daarvan om hierdie ontleding in woorde om te skakel. Handke se skrywer mymer veral oor eie reaksies teenoor sy waarnemings. Hy is afgesonder van ander, ‘n buitestander, ‘n voyeur wat op ‘n unieke manier kan waarneem, maar wat nie met sy omgewing ‘n konneksie kan hê nie. Hierdie skrywer is op karikatuuragtige manier behep met homself en sy waarnemings. So word die roman vanuit die derde persoon vertel en word die skrywer as “he” benoem in plaas van ‘n meer direkte eerstepersoonsverteller. Tog word sy waarnemings so persoonlik weergegee dat die verteller en die skrywer byna een word. Om die derdepersoonsverteller te gebruik wat die “he” waarneem, word die skrywer wat homself waarneem, op subtiele wyse beklemtoon.

Die skrywer in Aiden se verhaal ontleed ook sy eie waarnemings van sy omgewing en vind dat daar min in is om daarvan ‘n verhaal te maak. Anders as die man wat met sy perd produkte aan die restaurant lewer, wat die skrywer vind werklik déél is van die lewe daar buite – die oorvol strate, die reën, die klipperige pad en die asfalt – is die skrywer afgesonder daarvan. Hy sit bloot met sy eie gevolgtrekking: dat die lewe nie ‘n verhaal is nie en ‘n verhaal nie die lewe nie.

Om vir een middag ‘n skrywer te wees, beteken om vir daardie middag aan die een kant bewus te wees van die gaping tussen taal en die werklikheid, die gaping tussen die skrywer en die buitewêreld, maar om aan die ander kant ‘n weg na daardie werklikheid te probeer vind deur woorde. Om te skryf beteken om jouself vir daardie middag as ‘n buitstander wat van buite waarneem, te gedra. Maar ook om met jou woorde te probeer om ‘n konneksie te maak met dit wat om jou gebeur, en ook met dit wat vir gewone oë verskuil is.

Deur nié te skryf nie sou beide skrywers in hierdie verhale moontlik hulle middae minder eensaam en afgesonderd deurgebring het. Deur wél te skryf kom die paradoks van skryf as inspanning om kontak te maak met die werklikheid en die onvermoë om dit reg te kry, na vore.

Hennie Aucamp, meester van die kortverhaal in Afrikaans, wat hierdie week op die ouderdom van 80 oorlede is, ontleed Aiden se “Life isn’t a short story” in sy boek Die blote storie. Hy meen dat hierdie verhaal voornemende skrywers baie kan leer, omdat al die tegniese aspekte wat by skryf ter sprake kom, in die verhaal aangespreek word. Spandeer jou skrywersmiddag dus goed en lees die verhaal.

Groete

Rentia

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top