Om filosofiese hase uit 'n hoed te trek

  • 1

Daar is baie mense wat meen dat filosofie en kulkuns (ek praat voortaan ook van “magic”) nie veel met mekaar te make het nie. Die een is immers ’n aktiwiteit van suiwer bewussyn en kennis, van logiese argumente en beredeneerde standpunte, van rasionele afleidings en weloorwoë konklusies. Magic, daarenteen, bring ons tereg in die wêreld, nie van syn nie, maar van skyn. In magic gaan dit nie oor logika nie, maar oor bedrog. Die kulkunstenaar ontwikkel nie idees of ontrafel nie probleme nie. Hy draai ons ratte voor die oë en laat ons dinge sien wat ons weet nie waar kan wees nie. Terwyl die filosoof op die oog af soek na meer helderheid en meer insig, is die kulkunstenaar die persoon wat ons wegvoer na die wêreld van Kammaland en die Fontein van Sê-Maar-So. Sy wêreld word nie gevul deur konsepte wat ontleed en idees wat gekritiseer moet word nie, maar deur eindelose serpe wat te voorskyn kom uit sy moue en deur munte wat uit mense se ore val. Sy wêreld ontsnap aan die skynbare houvas wat natuurwette soos swaartekrag normaalweg op ons het. In sy wêreld kan geen toegesluite kis hom hokslaan nie, saag hy mense middeldeur sonder dat ’n druppel bloed spat, en verskyn hy skielik op ’n plek waar ons weet dat hy godsonmoontlik nou kan wees.

En tog, en tog … Is die wêreld van die filosoof werklik so ver verwyderd van dié van die towenaar? Is daar werklik so ’n verskil tussen die lansering en balansering van idees en die vernuf van die jongleur wat goël en wiggel met sy drie of vyf of sewe kegels in die lug? Ek is nie so seker nie. As ’n mens mooi begin nadink oor die karakters met wie ons wat ons lewe uit filosofie maak, ons daagliks besig hou, en wat hulle jou werklik soms van ons verwag om te glo en selfs aan studente te probeer verkoop, sien ’n mens al hoe meer ooreenkomste tussen die soekers na wysheid en die handelaars in sinsbedrog.

Sedert die aanvang van die filosofie as dissipline is filosowe reeds gereeld besig om spreekwoordelike, en soms minder spreekwoordelike, hase uit die hoed van idees te trek.

Waarskynlik is die bekendste twee kulkunstenaars van die denke die twee figure wat onderskeidelik aan die begin van die tradisie self staan, naamlik Plato, en aan die begin van die moderne wêreld, naamlik René Descartes. Wat hulle gemeen het, is nie alleen die gek idee dat elke enkele mens wat ons as enkeling kan erken, eintlik twee dinge is nie, naamlik liggaam en siel. Plato en Descartes is kulkunstenaars par excellence, veral omdat hulle ons wysmaak dat ons ons sintuie nie kan vertrou nie. Descartes herinner ons graag aan die liniaal in die bak water wat gebuig voorkom as ons ons oë moet glo. Tog weet ons: die liniaal, al lyk hy gebuig, is eintlik reguit. Vandaar sy towerslag-gevolgtrekking: as ons sintuie ons soms – soos duidelik in hierdie geval – bedrieg, wie sê hulle bedrieg ons nie altyd nie? Waar wil jy ’n beter argument hê vir die feit dat ons towenaars – diegene wat ’n lewe daarvan maak om ons sintuie te bedrieg – eerder kan glo as filosowe?

Thomas Hobbes, die sogenaamde hoffilosoof van die Huis van Stewart in 17de-eeuse Engeland, is die volgende denker wat ’n bekende haas uit die hoed getrek het. Dis net dat die haas wat hy uittrek, eintlik ’n wolf is. Want in ons oorspronklike toestand (dis nou voor daar enige wette, reëls, moraliteit en veral politici was) was een mens vir ’n ander volgens Hobbes “soos ’n wolf” (homo homini lupus). Al wat ons in daardie toestand wou doen, was om mekaar te vernietig in ’n oorlog van almal teen almal (bellum omnium contra omnes). Dit herinner ook aan Richard Rorty, wat by geleentheid skryf dat die verskille tussen die meeste van ons en iemand soos Adolf Eichmann is soos die verskil “tussen ’n mens en ’n wolf”. Daaruit kan ons een ding leer: filosowe hou meer van wolwe as van hase.

Een van die lagwekkendste hase wat nog ooit deur ’n filosoof uit die pluiskeil van verspotte idees bevry is, was die idee van ’n vroom Ierse 18de-eeuse denker met die naam van George Berkeley, een van die sogenaamde Britse psigologiese empiriste wat beter onthou word as ’n mens Locke voor hom noem en Hume na hom. Berkeley is in Suid-Afrika oa bekend omdat DF Malan, wat die haas van apartheid in 1948 uit sy hoed getrek het, sy proefskrif oor Berkeley geskryf het – so steek die hase mekaar maar aan. Berkeley se haas was egter allesbehalwe die waansin van apartheid. Berkeley weet ons te vertel dat die voorwaarde waaronder enigiets wat is, bestaan, is dat dit waargeneem moet word. Sy beroemde Latynse formule lui: “Esse est percipi” – om te wees, is om waargeneem te word. Dit sou impliseer dat alles wat vanaand in hierdie sigbare ruimte is, hier is omdat ons wat dit sien, hier is. Die vraag is: as ons almal hier verdwyn – so gee Berkeley sy haas vleis (of wortels? Wat eet hase nou weer?) – verdwyn hierdie plek dan sommer ook? Nee, antwoord Berkeley, want dan is daar ander mense wat dit sien/waarneem, en wat daarom bestaan daaraan verleen. Maar biskop Berkeley, sou ons kon vra, sê nou maar net daar is geen ander mense oor nie? Verdwyn iets wat nie deur enige mens waargeneem word nie, dan volledig? En omdat hy ’n biskop van die kerk was, haal Berkeley dan sy lamste haas uit die hoed: as ons nie daar is nie, is God darem nog daar; die wêreld verdwyn nie heeltemal waar mense verdwyn nie, want God neem dit darem nog waar!

Hierdie haas van alle hase is verewig in ’n beroemde limeriek wat reeds in Berkeley se tyd die lig gesien het, en wat handel oor die vraag of ’n boom wat in ’n vierkant (“quad”) groei, sal voortgaan om te bestaan as niemand dit meer waarneem nie. Dit lui:

There was a young man who said "God
Must find it exceedingly odd
To think that the tree
Should continue to be
When there's no one about in the quad."

Reply (’n stem uit die Hoogte):

"Dear Sir: Your astonishment's odd;
I am always about in the quad.
And that's why the tree
Will continue to be
Since observed by, Yours faithfully, God."

Wel, hoe weet ons per slot van rekening dat enigiets werklik is?

Dié vraag was ook die passie van ’n 20ste-eeuse figuur met die naam van Martin Heidegger. Rondom die werklikheidsvraag (of die ontologie, soos filosowe dit noem) het hierdie boerse Duitser, wat sy dae by voorkeur in stille kontemplasie in sy primitiewe berghut in die Duitse Swartwoud deurgebring het, met die volgende konyn van ’n haas vorendag gekom. Die vraag na die werklikheid is immers vir Heidegger die vraag na die sogenaamde “syn van syndes”. En die vraag na die syn van syndes is ’n vraag wat beantwoord kan word slegs deur te vra na die synswyse van die synde wat vra na die syn, dit is die synde vir wie dit in sy syn gaan om sy syn, en wie se synswyse daarom synsinterpretasie is.

So trek filosowe van oudsher hase uit die hoed. Baie ander kan nog vermeld word, van Immanuel Kant, wat ons wysmaak dat tyd en ruimte nie iets is wát ons sien nie, maar iets waarméé ons sien, tot by Friedrich Hegel, wat ons wysmaak dat die natuur eintlik ’n idee is, dat filosofie op gang kom wanneer die uile van Minerva uitvlieg in die aandskemering, en dat die Rede op ’n listige wyse die geskiedenis in die rigting van al groter Vryheid stuur. Die merkwaardige ooreenkoms tussen filosowe en kulkunstenaars is dat die mense wat hulle gadeslaan – soos julle almal vanaand – skynbaar deur hulle vermaak word en steeds wil word. Die wonder is dat as hierdie hase uit die hoed verskyn, ons nie almal die hasepad kies ten aanhoor daarvan nie.

Hoekom sou dit wees? Hier is die antwoord wat ek sou wou waag:

“Magic”, of kulkuns, verwys na dit wat ons skynbaar nie kan doen nie, al kan ons daaroor praat. Die ervaring het ons egter geleer dat dinge wat ons nie kan doen nie, nie noodwendig vir altyd so is nie. Ons kon nie vlieg nie – maar nou kan ons. Ons kon ’n groot klomp siektes nie oorleef nie – maar nou kan ons. Ons kon nie met onmiddellike effek met ander mense op feitlik enige plek ter wêreld kommunikeer nie – maar nou kan ons. As ek ’n boek graag wou hê, kon ek dit by Amazon bestel en ses weke wag dat dit afgelewer word. Nou kan ek dit binne sekondes op my Kindle aflaai. ’n Reis tussen Londen en Kaapstad het vir ons voorvaders ses weke – soms selfs drie maande – per skip geduur. Nou duur dit 11 uur deur die lug.

Ons leef elke dag in ’n wêreld waarin die onmoontlike moontlik word. Om 100 jaar gelede vir iemand te gesê het: “Vlieg maan toe!”, was om hom te koggel om die onmoontlike te probeer. Vandag is dit nie meer onmoontlik nie. Dit is “magic”. En die magic lê nie vir my in fantasieë van gode of engele of feetjies en kabouters of mitologieë en eenhorings nie. Die werklike magic lê in die manier waarop die vroeër onmoontlike aanbreek in die moontlikhede van die hede. Plato was reg toe hy beweer het dat filosofie begin met verwondering. Daardie verwondering kom nie op uit verbeeldingsvlugte wat geen verband hou met die wêreld waarin ons elke dag leef nie. Die verwondering het juis te make met die manier waarop die alledaagse wêreld elke dag verander en vanuit die depot van moontlikhede, waarvan filosofie en magic ons vertel, ons werklikheid daagliks aanvul en verruim.

 

  • 1

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

    Die enorme afstand tussen die kommentator en die studieveld is opvallend, wat my herinner aan die gewilde liedjie wat 'n tyd gelede deur 'n jongerige vrou gesing is: "from a distance there is peace and harmony" op aarde. Van daardie afstand lyk die filosofie miskien na vermaak. Dalk het Heidegger se kop behoorlik gedreun soos hy gedink het, en is "stille kontemplasie" nie die korrekte beskrywing van die omstandighede van sy arbeid nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top