Essays | Seminar Room

 
Om die gees te gee

Etienne van Heerden het na aanleiding van sy "Op my duimnael" vir 'n paar skrywers wat hy gemeen het van hom sal verskil, gevra om te reageer. Hier is Jaco Botha se reaksie:
 

The art of losing isn't hard to master;
so many things seem filled with the intent
to be lost that their loss is no disaster.

Lose something every day. Accept the fluster
of lost door keys, the hour badly spent.
The art of losing isn't hard to master.

Then practise losing farther, losing faster:
places, and names, and where it was you meant
to travel. None of these will bring disaster.

I lost my mother's watch. And look! my last, or
next-to-last, of three loved houses went.
The art of losing isn't hard to master.

I lost two cities, lovely ones. And, vaster,
some realms I owned, two rivers, a continent.
I miss them, but it wasn't a disaster.

– Even losing you (the joking voice, a gesture
I love) I shan't have lied. It's evident
the art of losing's not too hard to master
though it may look like (Write it!) like disaster.

"One Art" by Elizabeth Bishop

“… he told me all romantics meet the same fate someday
Cynical and drunk and boring someone in some dark café …”

"The Last Time I Saw Richard" by Joni Mitchell

 

 

Om die gees te gee

 

Ek het lanklaas oor hierdie dinge gedink – dalk met opset – onbewuste opset, dalk? Dalk het dit al gewoonte geword. Ek weet nie – soos ek sê, ek het lanklaas oor hierdie dinge gedink.

Die sosiale betrokkenheid van die skrywer, die kunstenaar? Dit is die vraag, soos ek dit verstaan. Wat is dan nou my ervaring? My perspektief?

Die komponente van hierdie vraagstelling – eerder as die vraag self – is wat begin los torring aan die bol wol wat ek uit die laai uit lig.

Wat beteken die term skrywer/outeur/kunstenaar vandag vir my? Dis ’n konsep wat so uitgewas geraak het oor die afgelope dekade – nie net in my eie gemoed nie, maar ook in die wêreld waarin ons leef.

Bloggers is skrywers; skrywers van sepies is skrywers; Britney Spears en Nadine is kunstenaars. En ek?

Toe ek 23 jaar oud was – voor my eerste bundel kortverhale, In Drie Riviere, verskyn het - was ek waarskynlik veel meer van ’n SKRYWER as wat ek ooit weer in my lewe sal kan wees. Met die "geloof" van ’n kwylende gelowige het ek geglo in die "taal" wat ek aan die "gemeente" moet bring. Ek was vol van die knetterende vuur van my eie (Godgegewe) insigte en talent – vol van die kuns – vol kak en vol van myself. Die gedagte dat JY die gekose boodskapper met die unieke Boodskap is.

Die band tussen kuns en geloof is veel meer as bloot ’n historiese verwantskap.

Deur die jare raak mens egter meer en meer ontgogel – op ’n manier gee jy bietjie vir bietjie die gees (af). Jou Kuns word kuns en later bloot ’n artefak – ’n produk geskep deur ’n vakman – die netjiese lopie van ’n rugbyspeler met ’n bepaalde talent, vaardigheid, reikwydte en rakleeftyd.

En dan, skielik, is jy nie meer uniek nie. Jy is bloot nog ’n "professional" – soos ’n dokter of ’n prokureur of ’n administratiewe klerk – geen afgevaardigde van God nie; geen hond van God nie – bloot iemand met die instink en ervaring om te weet hoe om woorde in ’n ry te sit – op só ’n manier om mee te voer, te ontroer, te ontstook.

Soos die gees van die besielde skrywer en die jong gelowige gemeentelid is aan mekaar, so val die vurige gees van die jong revolusionêr ook binne dieselfde argetipe. Ché Guevara; Breyten Breytenbach en ’n begeesterde jong Ray McCauley spu dieselfde boodskap van vernuwing en verlossing.

Soos die skrywer, die charismaat, die revolusionêr se boodskap gevestig raak en opgeneem word in die kanon van aanvaarde gewoonheid, so migreer (dit wat as) kuns (beskryf kan word) na resep en produk. Dit is ’n natuurwet waarteen min kan rebelleer. Even if you beat them – you still join them.

Hoe ouer ek word, hoe minder raak die verskil vir my tussen ’n rubriek wat ek skryf vir ’n sekere mark, ’n TV-program wat ek ontwikkel vir ’n sekere gehoor, en die skeppende skryf wat ek eens as KUNS beleef het. Ek het waarskynlik al te veel van die gees afgestaan.

So raak bloggers dan tog skrywers; sepies ’n gedistilleerde formule van menslike ervaring; en Britney Spears en Nadine kunstenaars. Of hoe?

Dalk is die suiwerste vorm van kuns bloot ’n dogtertjie wat in die reën dans. Dalk – krap iets steeds in my – is “art for art's sake” tog iets meer as ’n eksperiment, die soeke na ’n nuwe formule, ’n ander hoek op ’n bekende ou toneel.

’n Mooi sin bly darem maar mooi.

Ek sukkel om die volgende in Afrikaans te sê: Creating art for art's sake is a frivolous act – only when we are young we allow ourselves the luxury of this frivolousness. Strangely enough, we see this frivolity as something of great importance – a statement to be made. Very few artists ever admit this to themselves. They choose to remain infantile; they soldier on (trying to perfect the formula that they have stumbled upon years ago); or, as in my case, they give up the ghost and attempt to maintain an uncomplicated and as painless as possible a existence.

In ’n wêreld van verglyding en verval – die onsekerhede van ’n verbrokkelende beskawing - het die klein Afrikaanse letterkunde ’n behoefte aan orde – aan netjiese, verhaalbare simbole – die soet troos van nostalgie – aan verantwoordbare aktualiteite – the flavour of the month. Dit is ’n verleidelike behoefte. Ons almal wil graag gekoester en liefgehê wees.

Soos JM Coetzee homself verwyder het uit die Suid-Afrikaanse landskap vanweë die wanorde en “disgraceful”, onbevredigbare hebsug van ons adolessente demokrasie, so het ek my maar ook losgemaak van die leefwêreld, die dampkring van die letterkunde. Ons het waarskynlik op verskillende maniere afstand gedoen – die weerbarstige gees laat vaar en aanvaar dat Gods water oor Gods akker sal bly sypel, met of sonder ons hand op sluise.

Miskien – eendag as ek kinds raak – sal ek weer kan glo in die KUNS, in die STRUGGLE en in die waarde van ’n dogtertjie wat dans in die siedende reën. En dalk, net dalk, sal ek daaroor kan skrywe.

 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address