Biebouw-resensies | Reviews

 
Oktober: Intense romanse wat ook dieper vrae vra?
Titel: Oktober
Skrywer:
Reney Warrington
Uitgewer:
Protea Boekhuis
ISBN:
9781869195472

Klik hier om Oktober te koop by Kalahari.com.

Reney Warrington se prosadebuut Oktober handel oor ’n fotograaf, Jo Bester. Jo is ’n alleenloper wie se lewe in die volgende paar weke amper onomkeerbaar uitmekaar gaan val. Voor die groot intuimeling ontmoet sy die wêreldbekende sangeres Leigh Osbourne per toeval by ’n partytjie. Dit is asof die gode hulle ’n poets bak en dae na die ontmoeting tuimel beide se lewens ineen.

Jo se teëspoed begin toe sy en haar suster Simone twis kry. Jo se seksualiteit is duidelik ’n struikelblok en Simone verbied Jo om haar kinders, Jonathan en Rubie, te sien. Jo is Rubie en Jonathan se gunsteling-tannie en dié twee kinders is Jo se hart se punt. Bowenal is Jo se ouers geskei, en wanneer haar pa ’n beroerte kry, wat hom heeltemal aftakel, verbrokkel alle kanse van vergifnis. Om weg te kom van dié debakels kies sy koers Engeland toe.

Leigh se lewe verander ook drasties. Sy word met borskanker gediagnoseer en haar kolliglewe kom tot stilstand. Die dae van glans en partytjies word herdink terwyl sy in ’n diep depressie verval.

Die twee loop mekaar weer raak in Engeland en ’n romanse begin.

Een van die eerste goed wat mens opmerk as jy vinnig deur Oktober blaai, is Warrington se foto’s wat naby die middel lê. Dit is min dat ’n prosastuk deur foto’s vergesel word, en die betekenis van die foto’s word stuk vir stuk deur die verhaal uitgelê. Warrington is ’n fotograaf van beroep en span haar vernuf in om iets ekstra aan die boek te gee wat ander skrywers dalk nie self kan vermag nie.

Jo is vir ’n goeie deel van die begin ’n enigma. Is Jo ’n man of vrou? Ek ken drie Jo’s, al drie mans, en het heeltyd hieroor gewonder, tot sy eers ná talle bladsye as vrou geïdentifiseer word. Jo is ook lesbies, en mens wonder of dié vraag oor identiteit en geslag wat geskep word deur nie haar geslag te identifiseer nie, opsetlik is, en of Warrington die geslagsrol as nierelevant geag het. Dalk wou sy die leser juis met vrae laat oor wat hierdie rolle vir ons samelewing beteken?

Oktober is bondig geskryf en lees maklik. Die intrige oor die finale uitkoms is ook so dat dit mens noop om tot die einde te lees. Warrington se skryfwerk lees maklik en die boek kan as ’n iets wat jy vinnig lees voor jy gaan slaap, beskou word, of iets wat jy deeglik tyd aan kan bestee. Vir diegene wat in intense romanse belangstel, is dit ’n moet-lees.

Daar is egter ’n paar “maars”. Die kontekstuele bekendstelling van Jo is effe clichéagtig. Sy word as hipercool uitgebeeld. Sy neem partytjies af waar bekende oorsese sangers meng, maar sy is verveeld daarmee. Sy gaan na Johannesburg en Engeland se kosmarkte en koop cabanossi en die beste koffies (hoewel sy op een stadium plat genoeg op die aarde is om koffie te drink wat nie topgehalte is nie). Sy eet net organies en free range-vleis. Sy noem Mata Hari, die Nederlandse eksotiese danseres wat later deur ’n vuurpeleton geskiet is omdat daar vermoed is dat sy ’n spioen was en as een van die eerste femmes fatale gesien kan word. Sy koop kos by Woolies en ry bergfiets deur Johannesburg se veldjies. Sy praat nie net van “rekenaars” nie, maar moet noem dat dit ’n iMac, die rekenaar wat almal deesdae begeer, is. Sy besoek die cool plekke oorsee. Sy noem religie ’n “klug”, en sy is omgewingsvriendelik (hoewel die boek self op hoëglanspapier, wat nie baie omgewingsvriendelik is nie, gedruk is).

Die stereotipe van hiperliberale verveelde kunstenaar hou net aan, en die voorbeelde spring in elke hoofstuk uit na die leser. Selfs Jo se foto’s wat beskryf word as iets wat net oorsese galerye sal “verstaan” is effens van ’n cliché. Die tipe foto’s word met Holga-kameras (’n filmkamera wat bekend is dat dit tegnies foutiewe foto’s, maar tog esteties, neem) geneem en is baie populêr onder die hipster-subkultuur. Daar word daagliks duisende van dié tipe foto’s op Facebook en blogs geplaas.

Jo se gesprekke met ander is emosioneel-intelligent, maar die rou emosie en uitmekaartrek daarvan oorweldig amper.

In teenstelling hiermee word alle interaksies met haar ma, susterkinders en broer Brian met ’n teerheid beskryf wat mens wens die wêreld meer van vol was. Dit voel of die interaksies meer eg is as ander interaksies. Asof die boek in twee gedeel kan word: die teer Jo se interaksies met haar familie en die res van die storie.

Dié familie-interaksies voel meer soos ’n biografie as prosa. Asof Warrington meer van haarself daarin gesit het. Is dié Warrington se egte stem?

Die rol van vrouens in Oktober laat ook vrae. Is vroue die enigste geslag wat kan versorg?

Dit skyn so te wees. As man ervaar ek dat die mans in die verhaal uitgebeeld word as wesens wat net neem en blykbaar nie oor die vermoë beskik om te gee nie.

Jo se pa, selfs na die egskeiding, vat steeds by haar en beïnvloed ook haar suster met die besluit dat sy nie haar susterskinders mag sien nie. Wanneer Jo ná sy beroerte emosioneel reg is om te vergewe, dan kan hy nie kommunikeer nie en neem daai besluit uit haar hande. Broer Brian, wat serebraal gestrem is, kan fisies nie gee nie. Sy versorging alleen is ’n eensydige affêre. Jo is lief vir hom, maar die tema van vrou as versorger is deurlopend. Jo se baas, Jason, in Engeland begin byna dadelik op haar staat te maak. Nie net die galery benodig haar nie, maar sy seun, James, is die slagoffer van ’n egskeiding en emosioneel word beide afhanklik van Jo.
Haar lewe val uitmekaar uit, maar êrens skraap sy die moed bymekaar om soveel te gee as wat gevra word.

Die “neem” wat die mans konstant doen, word wel nie deurgaans as negatief beskryf nie, en daar’s is tog sprake van mans wat gee. Broer Brian en James gee iets aan haar met hul onskuld. Maar haar rol as versorger is primêr in die kollig.

Die versorging van kinders laat ook vrae. Wil sy kinders hê? Sy wil duidelik versorg, en haar spesifieke behoefte om kinders te versorg kom keer op keer na vore. Dit is ’n sterk stelling, maar haar behoefte aan kinders versorg en die vrede wat sy vind wanneer sy by kinders is, lê te oop om dit te ignoreer. Dit is moontlik vir haar om kinders te hê, maar die gesprek word nooit verder gevoer nie.

Kan net ’n vrou ’n goeie minnaar wees? Hieroor wonder mens ook. Die liefdestonele tussen Jo en Leigh is duidelik anders as dergelike tonele tussen vrouens en mans in ander stukke prosa. Die opbou daarna toe is stadiger. Dis nie net hul lywe wat seëvier nie, maar ook hul emosies. En dikwels stop die twee gebrokenes om eers te huil of oor hul hartskwale te praat. Die tonele word net goed genoeg beskryf dat die verbeelding moet oorneem waar die beskrywings eindig. Dis meer emosie as seks. Die voorspel domineer.

Met die lees van Oktober wonder mens of die perfekte verhouding bestaan, en soms wil jy vir Jo stop en haar wakker skud. Sy en Leigh plaas ’n sperdatum op hul verhouding en albei voel dat dit die enigste manier is waarop hulle regtig uit ’n verhouding kan baat. Iets wat permanent is kan mos nie werk nie!

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address