Oestyd-skryfuitdaging: Stroop

  • 0

Stroop

Klipwerf. Die “w” het effens verdof en is met rooi oorgeverf. Hy draai skerp af van die hoofpad; sy ou Toyota se bande tjie-tjie-tiee ’n keer of wat skril en dan tref hy die grondpad met ’n dowwe slag. Amper verbygery. Hy kyk op en sien ’n massiewe eenoog-gedrog uit die donker opdoem. Die Toyota se neus druk hy summier tussen die wingerd in en dan dreun die trekker, hooggelaai met druiwe en net een lig flikkerend, verby. Dis oestyd.

Hy stamp die rathefboom in en die karretjie spring agteruit. Die donker landskap trek verby; werkershuise se plat dakkies bokant die stof, kwyn weer weg in die donker ... en in sy hoofligte verskyn iemand en hy trap rem – wil eers swets, maar vra eerder “Is mnr Snyman ... is die voorman se huis hierlangs?”

Die man se bolip krul. Hy wys na die klompie bome waar ’n liggie flikker tussen die takke deur. “Dourr wa’ die La’nies woen, da’s hy nou.” Spuug in die stof. Verdwyn.

Etlike ou eikebome omring ’n statige herehuis. Spoggerige gewel met ’n datum wat hy nie kan uitmaak nie. Hy sit terug en dink: Dít was mos as hy reg onthou, die Duitse wynmaker Karl Trümpelmann, se huis. Die vorige voorman.

Tromp het sy huiswerk gedoen. Die plaas se webwerf besoek. Thomas Barend Snyman het hom opgewerk. Tot voorman van Klipwerf. Rags to riches. Die plaaseienaar, dr Johan Wincklschmidt, is selde in die land – verkies glo Frankryk; die Mediterreense glans van Provence. Sy kinders is in Engeland in die skool. Wincklschmidt laat Snyman hier in beheer. Met die opstand wat die Boland verontrus is Europa immers die veiliger opsie.

Hy kyk in die truspieël, trek sy vingers sommer vinnig deur yl hare - en kyk reg in die swart oë van ’n Rottweiler. Blaf nie, kyk net. Die kar se horlosie wys vyf minute oor agt. Die hond kwyl. Krap met ’n groot bruin voorpoot in die stof. Dan gaan die voordeur oop en die hond tree terug in die skadu’s. ’n Man kom moeisaam aan, op twee kieries sleep-sleep oor die werf. “Naand meneer Tromp! Heel stiptelik, sien ek. Ek hou daarvan. Kom in, kom in!” Die ouerige man wys met een kierie na die voordeur en Tromp rek sy treë.

In die ruim voorportaal steek hy vas. Dis ’n toneel so reg uit The Cosby Show: gesellige vuur in die groot ou vuurherd, donker houtbeelde, skilderye met plaaswerkers in helder klere, kleipotte in bruine en donker grys - en twee vrouens in groot leergemakstoele. Die ouer een lees ’n Eikestadnuus en die jonger vrou het ’n Cape Times op haar skoot half oopgevou. Hy het iets gehoor oor “onluste” en “vergelding”, maar hulle bly stil toe hy inkom.

Die ou vrou trek die gehekelde tjalie stywer om haar skouertjies en verstel haar bril, haar metgesel staar stip na die indringer. Die geknetter van die vuur klink luid in die groot vertrek. Iewers agter slaan ’n staanhorlosie. Laat, maar darem, dink Tromp.

“Kom meneer Tromp, kom deur kombuis toe” sê meneer Snyman. “Elsie!” Roep hy, “Kom die meneer is hier oor die studiekursus!” Hy draai na Tromp. “Hoe lyk dit met ‘n koffietjie? Rosa sal vir ons ... Rosie, kom gou hier!” Hy wys na die plomp dogtertjie wat skaam-skaam inkom: “Elsie is mos in graad sewe. Volgende jaar gaan sy hoërskool toe. Rosa,” hy wys na die voorkamer, “is by UWK. Studéér onnerwýs.” Hy maak keel skoon, trek ’n stoel uit en plaas sy netjiese hoedjie versigtig voor hom op die tafel neer. Daar is ’n klein groen veertjie in die blink bruin band van die hoed. Snyman haal ‘n rooibruin kromsteelpyp uit en begin suig daaraan sonder om dit aan te steek.

Tromp maak sy tassie oop, verduidelik die kursusinhoud aan hulle. Daar is ’n module vir geheue-oefeninge, asook algemene studiewenke. Kursusgangers gaan ook vir klasse by die maatskappy se kantore in Stellenbosch, waar meer spesifiek na elkeen se vakkeuses en veral swakpunte gekyk word.

“O, Elsie doen goed,” sê haar pa vinnig, “dis net die Wiskunde wat bietjie aandag benodig. Nè , Poplap? ”

Elsie knik gedweë, oë op die tafel.

“Natuurlik, natúúrlik,” sê Tromp, “ons fokus dan op Wiskunde. En ná voltooiing van die kursus is daar opvolgafsprake; ons lós nie net die ...”

“Ék kan Elsie sélf help.” Die vyandigheid in Rosa se stem is naak en skerp. Onmiskenbaar, sonder apologie. Só ook haar blik op Tromp vanwaar sy in die kombuisdeur staan. Hy voel hoe sy ore gloei; eers van verontwaardiging, toe van skaamte. Hy wil nie baklei nie. Hy wil besigheid doen, tóg ook help.

“Juffrou, jou vader sê Elsie het hulp nodig met Wiskunde ...” Hy aarsel, sien sy maak reg om iets driftig te sê en spring haar voor: “Vir baie, báie generasies het plaasarbeiders hier geswoeg, en gekrepeer.” Hy kyk na Snyman. “Hoeveel het bereik wat jou pa ... wel, skoolopleiding is nodig; dís wat ons nodig het, nie geweld soos nóú nie.”

Elsie trek haar skraal skouers terug en Tromp sien haar pa se houding daarin. Dieselfde trots. Toe tree sy vinnig nader “Dink jy ek weet dit nie?” Haar stem raak dun en die akademies-aangeleerde Afrikaans word eenkant gegooi, met geweld. “Hé? Dink djý ...”

“Rosa!” Oubaas Snyman staan stadig op van die kombuistafel, sy growwe bruin hand bewe op die kierie. “Geen steen, hoor jy, géén steen sal onaangeroer bly nie.” Toe die jongmeisie driftig uitstorm, vra hy, “Sal jy hierdie kursus vir jou eie kinders aanbeveel, meneer Tromp?”

Uit die voorkamer kom ’n roggelende hoes. En Rosa se stem, nou paaiend: “There you Mommy. Here, take a sip ...”  

Tromp maak die aktetas stadig toe. Hy kyk eers rond in die groot, netjiese kombuis, na die konfytflesse, die rye borde op ’n hoë rak, na klein Elsie met haar oë na die tafel gekeer ... Toe sê hy: “Ja, meneer Koopman. Ek sal ook geen steen onaangeroer laat om mý kinders ’n beter kans te gee nie.”

Snyman staar hom stip aan. Toe knik hy. “Ek sal haar self bring vir die lesse.”

Tromp ry stadig terug. Die Boland, sy Boland, ons álmal se Boland, lê wyd en swaar en soel en swart in die grenslose nag: rustig, op die oog af, maar hy verbeel hom hy hoor ’n miljoen stemme mor, daar tussen die boorde, doer ver in duisend blokkieshuisies – nie rustig nie, net rustend.

Toe hy op die nek kom vanwaar hy Stellenbosch se liggies kan sien, trek hy af. Rosa Snyman se woorde toe hy vinnig in die Toyota klim dawer nog in sy ore: “Djý, wies bly ek sittie die honne op djou nie! Djy kom verkoep net stroop. Sóét en áángedík soes djou sky’heiligheid, djý, met djou witmansoetjie en djou bliek gevrietjie – ek wiet wat djy is!” Die laaste woord is uitgespuug: “SELLOUT!

Sy het hom herken. En hy vir haar – soos klein Elsie het sy ook bokstertjies met pienk strikkies gedra toe sy in sy klas was in die plaasskool op Klipwerf.

Dit was ander tye daai. Politiek in die personeelkamer, politiek in die klaskamer ... politiek, politiek, politiek.

Tóé huil hy eers. En deur die trane en die snot prewel Breyton Tromp, oud-onderwyser-deesdae-kursussmous: “Wát het ek gedoen?”

Kom mens eers oor Helshoogte het jy ’n kans - om ook die wêreld se woelinge te oorkom, sê die mense hier rond. Dié paradysagtige plek, die Boland se Switserland sonder sneeu, het juis min gemeen met die hel: dis eintlik tjoklitboksiemooi. Mooi berge, mooi boorde en wingerde, mooi opstalle; perfekte balans tussen natuur en kultuur. Mooi, mooi, mooi ... op die oog af.

 

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top