Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2014: Tweede keurverslag van "Lettie se verlies (Die Siekte)"

  • 0

Lettie se verlies (Die Siekte): Die tweede keurverslag deur Leti Kleyn

 


Lettie se verlies

Na my mening is die grootste uitdaging vir hierdie skrywer om die probleme met wys en vertel op te los. Kyk hoe die skrywer in die eerste drie paragrawe bloot vertel met stellings soos: “Sy drink ...”, “Sy staan ...”, “Sy gaan staan ...” Die gebeure en die karakters moet ontvou, nie bloot aan die leser beskryf word nie.

Stelwyses is vir my steeds ook ’n probleem: “grimering-sakkie” eerder as grimeersakkie; die pille was nie “sterk genoeg nie”, by implikasie is dit dus nie die mediese toestand wat die probleem is nie, maar die behandeling en medikasie wat onvoldoende is; “ma is heeltemal weg” beteken sy het weggeraak ... die skrywer se bedoeling is waarskynliker dat die ma nie weer haar ou self kon wees nie. Sy het kontak met haar ouers verbreek al weet sy sy gaan hulle nooit weer sien nie ...; “papgedrukte plek op jou siel” is ’n geykte beskrywing, so ook kraampyne wat jou “middeldeur wil skeur” en die sentimentele beskrywing van die trane oor haar wange.

Deur die loop van die verhaal verskyn die ma op die toneel. Dié karakter se skielike verskyning word nooit gemotiveer of verder ontgin nie. Ook Lettie se karakter word nie volkome uitgebou nie.

Ek sou graag wou sien dat daar meer spanning deur die verloop van die verhaal opbou tot die ontnugterende slot van die vrou wat (weens ’n familiegeskiedenis van skisofrenie) die dooie kind soos ’n lewende in haar verbeelding versorg.

Die verhaal het baie potensiaal om ontwikkel te word tot ’n literêre teks wat die skokkende en onroerende realiteit van waansin uitbeeld.

 


 

Lees die tweede weergawe: "Lettie se verlies (Die Siekte)"

Lees die eerste weergawe: "Lettie se verlies (Die Siekte)"

Lees die eerste keurverslag oor "Lettie se verlies (Die Siekte)"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top