Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2014: Tweede keurverslag van "Die koekietannie"

  • 0

Die koekietannie: Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


 

Tweede verslag: Die koekietannie

Die verhaal het gebaat by die veranderings; die liedjie is nou goed geïntegreer, met ’n paar winste omdat die woorde nou as’t ware in isolasie staan en sodoende sterker uitstaan. Met hierdie verslag kyk ons na die fyner afronding van die teks.

Iets wat moet aandag kry, is sinne wat te lank en ingewikkeld raak. Beskrywende frases tussen kommas is ’n tipies Engelse stelwyse. Baie Afrikaanse mense volg dit na, tot nadeel van die teks se verstaanbaarheid. In Afrikaans is die beste voegwoord ’n punt, het ek by ’n wyse taalprofessor geleer. Kyk na die volgende voorbeeld: 

Oor iemand wat nie smeek-smeek agter jou aankom tot by die kar nie en wat jou nie binnensmonds vloek as jy “Gaan terug skool toe!” antwoord nie.

Dis ’n lomp stelwyse, veral met die dubbel-nie wat twee keer voorkom. Dit kan vereenvoudig word na:

Oor iemand wat nie smeek-smeek agter jou aankom tot by die kar nie. En as jy “Gaan terug skool toe!” antwoord, word jy binnensmonds gevloek.

Hersien die teks vir soortgelyke lomphede. Al die sinne en paragrawe moet gemaklik vloei sodat die verhaal vlot en lekker lees.

Die belangrikste deel van ’n verhaal is die slotsin of -paragraaf, die tweede belangrikste is die begin. Hierdie verhaal se begin kan as volg sterker gemaak word, en minder lomp:

DERDE KIND VERMIS. DORP GESKOK. [Dis ’n opskrif, so dit staan alleen.]
Die plakkaat hang boaan háár lamppaal, reg voor Ramos se kafee. Dit maak Koeks onrustig. Iemand is besig met dinge van die nag – dinge waaroor sy nie beheer het nie. Sy sal vanaand hier onder haar lamppaal vir die monster bid, soos een van die goeie dorpsmense. [Skrap eerder die onderstreepte? Hoe weet sy die dorpsmense bid? Dit lyk asof sy nie juis kontak met hulle het nie.]

Nog ’n voorbeeld van hoe die teks duideliker en verstaanbaarder gemaak kan word:

“Swerwers sonder rigting
Soekers wat nooit vind!”

Owe my ’n koekie.” Die hande lyk bekend.

Hier word direk van een persoon se woorde na ’n ander s’n oorgeslaan, en omdat die leser nie voorbereid is op die sprong nie (hulle is nie in gesprek met mekaar nie), moet jy eers stop om uit te maak waar kom hierdie nuwe stem nou vandaan. Laat Koeks (en die leser) Ziggy eers sien, en dan praat hy.

Hersien die verhaal noukeurig vir geykte taal. Hierdie soort clichés (die onderstreepte) is verbode as ’n teks wil saampraat in die geselskap van die letterkunde:

            Af en toe ry daar ’n kar verby, met die laaste sonlig wat skalks teen die ruite dans.
            Sy kop tref die harde sement, terwyl ’n effense glimlag om Koeks se mondhoeke speel.

Pasop vir te kripties of te obskuur skryf: Ramos-kafee se deure staan al ’n halfdag oop ... – ek veronderstel dis ’n tydsaanduiding, naamlik dat dit nou middag is, maar dit word onnodig ingewikkeld gemaak deur dit so indirek te stel.

Hiermee dan die belangrikste punte vir hersiening. As jy agterkom jy weet nie watter kant toe nie, moenie verander nie – dis dan beter dat die redigeerder die laaste skaafwerk doen.

Origens: ’n goeie verhaal, met die dialoog as ’n sterk punt.

 


 

Lees die tweede weergawe: "Die koekietannie"

Lees die eerste weergawe: "Die koekietannie"

Lees die eerste keurverslag oor "Die koekietannie"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top