Nuwe Stories 3: Onderhoud met Ilisna Nel

  • 0
Ilisna Nel

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Kamphoer by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

Ek was self as kind seksueel misbruik en dit is vir my belangrik om mense bewus te maak van die gevolge wat dit vir kinders het. Ook hoe dit kan vertak en ander kinders beïnvloed en verdere misbruik veroorsaak. Dis waarom ek die verhaal geskryf het. 

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Ek hou voltyds skool vir graad 10- tot 12-leerlinge en kon dus ongelukkig nie die werkswinkel bywoon nie. Die keurverslae was baie leersaam en die persone wat met ons gekommunikeer het, was deurgaans vriendelik en behulpsaam. 

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

"Show and tell." Dit bly steeds vir my 'n uitdaging.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

Ek woon en werk in Bain’s Vlei net buite Bloemfontein. Hier is slegs rooi sand en vlaktes. Dit is nie baie ideaal vir inspirasie nie. Ek put my inspirasie uit eie ervarings en alledaagse gebeure.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

Dit is nie 'n aanhaling nie, maar Annelie Botes het die volgende vir my in 2010 by 'n skryfskool gesê: "Ilisna, daar is nie 'n ding soos ‘opgee’ nie. Nou is dit net kop omlaag en vorentoe ... Vorentoe ... Onthou: met die een hand moet jy aanhou, met die ander een moet jy leer.”

Dit bly steeds vir my daagliks 'n inspirasie.

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

Beslis Thula-Thula deur Annelie Botes.

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Ek lees tans Vermis op Allesverloren deur Anchien Troskie.

Beste boek? Jy bedoel nou buiten Nuwe Stories 3? Dis moeilik. Kamphoer deur Francois Smith het my nogal beïndruk. 

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Ek is besig om aan 'n roman te werk. Ek het reeds drie hoofstukke klaar. Verder kan ek nie veel meer daaroor sê nie. Dis kop omlaag en skryf ... skryf ...

 

Lees die tweede weergawe van "Een, twee, drie, blok myself"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top