Nuwe Stories 3: Onderhoud met Elani Venter

  • 0
Elani Venter

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Kobra by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Elani Venter is as naaswenner aangewys vir haar kortverhaal "Lettie se verlies".

Wat was die inspirasie agter jou verhale wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

Ons land ... My liefde vir mense en my meegevoel vir individue wat hul bes probeer, afgesien van moeilike omstandighede en situasies.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Ek het verbasend baie geleer tydens die werkswinkel. Suzette Kotze-Myburgh het die een  in Kaapstad aangebied. Dit het vir my gevoel of ek kon voel hoe die kreatiwiteit van haar af rol. Die hele ervaring was ook vir my 'n spreekwoordelike venster waardeur ek 'n gedeelte van die literatuur-wêreld kon bekyk. Ek werk tans in die finansiële-veld, dus het ek my vergaap aan konsepte en idees wat vir meeste van die ander skrywers vanselfsprekend was. Ek het daardie dag daar weggeloop met 'n kop vol nuwe lesse en 'n gevoel van amper ondraagbare nostalgie.

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Om na die tyd die verhaal te moet verander volgens die advies van die redakteurs ens. Om te skryf is 'n baie persoonlike proses. Uit die aard van die saak voel mens dan maklik oor-sensitief of selfs oor-beskermend teenoor jou stories. Dit het my laat besef dat ek regtig nog bitter baie het om te leer, en baie plek het vir groei.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

Ek werk elke dag met syfers en rekeninge. Ek het gevind dat wanneer ek op my besigste by die werk is, begin die stories te krap aan die agterkant van my bewussyn. Soos iets wat karring om oopgemaak te word. Ek het al gewonder of dit my kreatiewe-geaardheid se manier is om my te laat vergeld daarvoor dat ek die hele dag in 'n kantoor sit en somme maak vir ander mense se besighede.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

"You attract what you need by putting a lot of thought on it, then all the necessary elements or entities come round where you can use them. A thing will build itself up if you keep your thought on it. Thoughts are materials." – Henry Ford aangehaal in Ralph Waldo Trine se boek The man who knew.

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

Nee wat, so verwaand gaan ek nou nie wees nie.

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Ek lees tans Three Magic Words deur Uell Stanley Andersen. My gunsteling-boek is Kobra deur Deon Meyer.

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Om aan te hou skryf en te glo dat die keerpunt net om die draai is.


Lees die tweede weergawe van "Lettie se verlies"

Lees die tweede weergawe van "Keerom"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top