Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Maslow"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Maslow

Vandag is die dag. Vandag kom haal hulle ons. Sestien jaar wag ek al vir hierdie dag, ek en my twee wonderwerkies. Reeds jare terug het ek hierdie koppie as uitsigpunt gekies, die hoogste punt op die eiland, perfek vir die lang dae van wag wat sou voorlê. Onder my strek die baai diepblou en kalm tot waar die oog nie meer kan sien nie, gestreep teen ’n horison dragtig met belofte. Vandag is die dag. Eers sal ek bloot ’n wit flits op die kruin van die horison sien. Die flits sal groei tot ’n wit kolletjie, wat groter en groter sal word soos die seil al nader kom. Dit sal vinnig gaan, op ’n helder dag soos vandag. As die see so kalm bly, behoort die skip teen laatmiddag land te bereik. Dan sal ek afgaan om die span te verwelkom, grasieus en nederig. Dit sal nie deug om selfvoldaan te lyk nie, o nee, ek wil hulle nie ongemaklik maak nie. Net ’n paar van die oorspronklike navorsers sal die reis meemaak, die ouer lede is sekerlik al jare terug oorlede. Hoe hartseer dat hulle nie hier sal wees om die resultate van ons heilige eksperiment te ervaar nie. Nooit sal hulle die antwoord ken op die vraag wat ons ons lewens toegewy het om te antwoord nie. So het ons almal iets opgeoffer. My opoffering was natuurlik die grootste van almal. Ek alleen, uitverkies uit talle om ma, pa, beskermheer en leraar te wees. Leraar nie net vir die twee onskuldiges wat ek moes grootmaak nie, maar ook leraar vir die nasie. Saam sou ek en die tweeling die heilige taal ontdek.

Ek streel die klam hoof op my skoot, waar Eva nou opgekrul lê en dut na haar vroegoggend jagtog. In slaap lyk sy nog so jonk, lang tienerbene oudergewoonte beskermend opgetrek teen haar bors. Onder my aanraking fladder haar ooglede saggies oop. ’n Paar slaperige bruin oë vestig op myne en word skerper soos bewussyn die oorhand kry. Sy gorrel diep agter in haar keel en wys haar tande, liefderyk. Ek glimlag terug. Dan rol sy om en staan met een slinkse beweging orent. Haar hand los ’n bloederige streep op my been. Regop op haar voete lyk sy baie ouer. Styfgesnaarde spiere bult onder haar bruingebrande vel; die skerp erns en ondervinding in haar blik belieg haar jare. Eva strek letargies haar ledemate en stap dan na waar die dooie haas nog louwarm lê en verstyf. Sy gly ’n grofgeslypte mes uit haar belt, hurk neer en begin met geoefende vernuf die dier slag. Die mes gly doelgerig oor die haas se pens en laat ’n rooi-gevulde ‘v’ agter. Bloed meng met stof en kruip soos roes modder op tot net onder haar elmboë. Ek haal diep asem en verlustig my aan die skerp bloedreuk wat ’n afwagtende gerommel in my maag aanwakker. My hart swel trots oor Eva se vangs: vanaand sal ons nie honger kry nie.

As ek nou kyk na die sterk onafhanklike meisie voor my, kry ek skaam om te onthou hoe bang en pateties ek daardie eerste paar maande was op die eiland. Daar was oomblikke wat ek my heilige missie wou laat vaar, wat ek die see wou inloop met ’n kindjie onder elke arm. Die tweeling was net pasgebore bondeltjies pienk kreukels toe die skip ons hier afgelaai het, meer as sestien jaar terug. Die eerste aand op die eiland was gepastelik stormagtig. God het onmiddellik my toewyding begin toets. As ek nie daardie nag skuiling gevind het nie, was ons sekerlik al deur iets verslind nog voordat die eksperiment begin het. Stil-huilend en honger het ek met die twee bondeltjies teen my vasgedruk gekniel in die donker grot, oorweldig deur die onophoudelike geween van die storm en die kinders. Ek het gewens ek kon saggies sing, die liedjies wat my ma as kind gesing het helder in my kop, gewens ek kon paaiende woordjies fluister, enige klank maak om die kleintjies te troos. As ek kon het ek God hardop gesmeek om my tong terug te gee, maar tevergeefs. Tog het ek krag van Hom ontvang om daardie eerste week te oorleef, en elke dag en jaar daarna. Die volgende maande was nie makliker nie, maar ek was op ’n manier sterker. Elke dag was ’n stryd om lewe, en die nag ’n stryd om oorlewing. Net soos die aand se donker kombers snags op ons sou val, het dit gelig op onbekende kreature en gevare. Die droë sanderige klimaat self was ons grootste vyand. Die groot dors. Menigte kieme, bakterieë en virusse het gekom saam met die vreemde vrugte en vet waterige wortels wat ons uit die grond moes delf in die droogste tye vir bietjie lafenis. Maar ek het dit alles oorleef. Die wilde diere, die peste, en my eie demone. Ek het die waansin afgeveg deur aandagtig boek te hou van die tweeling se groeiproses. Elke beweging en geluidjie puntenerig opgeskryf, vergelyk en bestudeer vir vordering. Die navorsingspan wou gehad het dat ek in my notas bloot moes verwys na haar as ‘X’ en na hom as ‘Y’. Ek kon dit nie lank volhou nie. Hulle ware name het na net ’n week in God se stem in my kop weergalm: Adam en Eva. Pioniers van ’n nuwe nasie. Vandag kom hulle uiteindelik terug vir ons, dan sal die wêreld ook stom staan in die gesig van hul heiligheid.

My oë gly weer oor die horison. Sover niks. Maar dis nog baie vroeg, die skaduwees val nog lank en skuins. Eva hou skielik op met sny en tilt haar kop aandagtig luisterend kant toe. Ek spits my ore en verbeel my ek hoor ook ’n ritseling in die bosse oos van ons, net hier onder in die vallei. Maar ek is nie bekommerd nie. Ek ken al elke geluid en beweging op hierdie eiland. Na sestien jaar saam met elke denkbare en ondenkbare gedierte: gogga, slang, bosdier of voël leer mens vinnig die verskil tussen ’n onskuldige ritsel en ’n gevaarlike een ken. Net soos ek gedink het, lui ’n harde roep amper soos die sang van ’n loerie skielik uit die bosse ’n paar honderd meter weg. Eva se hele gedaante ontspan sigbaar en sy sing identies uit in antwoord. Etlike minute later kraak die bosse agter Eva en verskyn Adam uit die ruigtes. Die twee is nie ’n identiese tweeling nie, maar die ooreenkomste is ooglopend, selfs onder die permanente laag stof wat alles en almal op die eiland bedek. Dieselfde roesbruin hare, dieselfde skerp bruin oë en harde kakebeen. Net spier en been, amper ’n man, maar in my oë altyd ’n seuntjie: my heilige hartskind. Hy stap nie na my toe nie, en erken net ons teenwoordigheid met ’n vlugtige handgebaar. Dan gaan sit hy plat op die grond langs Eva en volg die haasvleis in haar hande stip met sy oë. Hy lek sy lippe af. Na ’n rukkie raak hy ongeduldig, en skuifel op sy sitvlak rond. Hy grom en maak teemgeluidjies agter in sy keel. Eva ignoreer hom strak. Die vel en binnegoed lê reeds eenkant, nou begin sy die vleis in repies sny. Adam se geluidjies raak al dringender, en dan verander die atmosfeer opmerkbaar soos hy stiller raak. Eva voel dit aan en leun beskermend vooroor, die snysels op haar skoot waar Adam dit nie maklik kan bykom nie. Sy sis saggies en haar oe flits versoekend na my kant toe. Maar ek wil nie inmeng nie. Ek het lankal geleer om nie betrokke te raak nie. Ek praat nie self die heilige taal nie.

Ek het in die wêreld daar buite grootgeword, besoedel en verwrong deur wêreldse dinge. Die heilige taal is net vir die uitverkorenes beskore. Pasgebore, nog verstoop in bloed, was die twee weggeruk van hulle tienermoeder en in die diepste boog van ’n skip ingebondel. Hulle oë was toegebind, hulle ore gestop. Kontak met enige mense behalwe ek self was streng verbode, en die bemanning aan boord was onder dreigement van die dood belet om ’n enkele woord te praat tydens die reis. So het ons verseker dat die tweeling ongeskonde, skoon verfdoeke vir ons eksperiment sou bly. Onheilspellend soos ’n spookskip het ons in doodse stilte gevaar, weke aaneen, met net die gekraak en gekreun van die skip, en die gehamer en gesuis van die storms as klankbaan. Al menslike geluid op daardie skip was die geskree van die pasgebore babas. Met my hul enigste troos, nie eens in staat om ’n woord te uiter nie. Saam is ons na hierdie verlate eiland gestuur, waar die tweeling in isolasie sou grootword, weg van die geraas en invloede van die wêreld daar buite. Ek was gekies om moeder en leraar te wees omdat ek ook ’n jong moeder was, reg om te borsvoed. Om die eer te verdien moes ek my eie kind agterlaat, en my tong laat uitsny. Om die heilige taal uit te lok, kon geen mensgemaakte klank of woord die tweeling se ore besoedel tydens die grootwordproses nie. Met net die twee skoon siele om met mekaar te kommunikeer, sou die heilige taal, die oorspronklike taal van die paradys in hulle ontwaak het. Hulle sou nie ’n woord spreek wat nie direk van God af kom nie. Weg van die besoedeling en vrot van die mensdom, die vuil woorde van haat en venyn wat saam met die tale van Babilon die wêreld oorstroom het. Omring deur net natuur, die wilde diere, my moederliefde en God, vry van die invloede van die kunsmatige wêreld, sou die kinders tog mettertyd die heilige taal direk van God ontvang. Baie het gemeen dit sou Latyns wees. Ander Hebreeus. Sommige het gereken dit sou ’n baie ouer taal wees wat die geskiedenisboeke vergeet het. En op ’n manier was hulle reg.

Die oorveeg tref Eva hard teen die kop en gooi haar heeltemal van balans af. Sy val hard in die stof, en probeer te laat keer om haarself te beskerm. Vir ’n paar oomblikke lê sy roerloos en hou haar kop vas, bene opgetrek teen haar maag. Vars bloed dam weer tussen haar vingers op, hierdie keer haar eie. Teen die tyd wat sy weer wankelrig regop kom, sit Adam reeds en smul aan die handvol vleis wat hy gegryp het. Eva gil woedend en gooi ’n paar klippe halfhartig na hom toe, maar dit bons oneffektief terug van sy harde bors en hy steur hom nie aan haar nie. Smul net verder. Straaltjies bloed loop by sy gladde ken af en drup drup af tot waar dit in die droë stof neerplonk. Eva grom geïrriteerd en gaan sit plat langs die skrale repies wat oorbly van haar vangs. Skynbaar onbewustelik streel sy beskermend met haar hande sirkelpatrone oor haar maag, waar ’n subtiele kurwe die laaste paar weke begin verskyn het. Sy knibbel versigtig aan die oorblywende vleis, vernederde oë vas op die grond. Sy weet sy staan nie ’n kans teen Adam nie.

So gaan dit nog al die jare. Van kleins af het die tweeling met dierbare babageluidjies, gebare en ’n gestamp en gestoot met mekaar kommunikeer. Ek was seker hulle sou sodra hulle spraakorgane voldoende gegroei het deur God aangeraak word en die heilige taal begin praat. Maar op drie jaar het die tweeling steeds geen tekens getoon van verbale kommunikasie nie. Op vyf, ses en sewe het hulle steeds bloot met onverwante geluide en gebare gekommunikeer. Inteendeel, soos hulle ouer geword het, het dit gelyk of hulle taal – want dit is wat dit was – meer eenvoudig geraak het. Soos hulle geleer het om hul eie kos te vang en voor te berei, hulle eie skuiling te soek, het hulle al hoe minder rede gehad om te kommunikeer. ’n Kombinasie van ’n paar gebare, geluide, en nagebootsde dierklanke was genoeg vir hulle doeleindes. Inisieël was my teleurstelling groot. Ons navorsing het gefaal, dit was alles verniet. Voor my oë was my kinders besig om in diere te verander. In stede van die taal van engele wat ek verwag het, het die twee gegrom en geteem, geskraap en geklap om te kommunikeer. Ek het gesien hoe Adam stelselmatig al hoe meer aggressief geraak het. Al hoe minder gevra, en al hoe meer gevat wat hy wil hê. Ek het gedink aan die lewe wat hulle sou kon leef in die wêreld daar buite, myself amper mal gemaak met die skuld, gewens ek kon praat om hulle te rehabiliteer, te leer voor dit te laat is. Maar dit was voor ek verstaan het. Toe seën God my uiteindelik met die besef dat die heilige taal waarvoor ek so lank gewag het nog altyd daar was. Dit is nie Hebreeus of Latyns of Arabies nie. Dit is die taal van my Adam en Eva wat God vir ons gekies het. Die boom van kennis het al die moeilikheid in ons wêreld veroorsaak. Neem dit uit die vergelyking, en ons is vry. Ons is weer heilig. Hoekom moet Eva die woord ‘donker’ ken? Vir haar is donker gevaar, dis vuurvliegies en sterre, dit maak spore grot toe voor die roofdiere uitkom om te jag. Die woord ‘kos’ maak nie haar maag vol nie, die woord ‘skuiling’ red haar nie as sy vlug nie. En tog jag sy, eet sy, ontsnap sy gevaar as dit aan haar hakke hap, lê sy as haar maag vol is en kyk op na die sterre.

Die son sit nou al laag, en daar is steeds geen beweging op die horison nie. Dit lyk nie of hulle vandag gaan kom nie, dit is al te laat. Maar ek is seker hulle sal môre kom. Vandag kan ons nie nog langer hier sit nie, binnekort gaan die donker val en die nagdiere uit die skaduwees en gate begin kruip. Asof hulle my gedagtes kan lees, staan Eva en Adam op om grotwaarts te keer. Dalk het hulle nie gedagtes nie. Maar gedagte is tog ook net nog ’n woord. Kom gedagtes uit in woorde of gebruik ek woorde om gedagtes op te wek? As ek weghardloop vir die vuur, hardloop ek nie omdat ek die woord ken vir ‘vuur’ of ’brand’ nie, of omdat ek weet wat die kombinasie woorde in sintaks beteken nie. Ek hardloop bloot omdat iets primitiefs diep binne my dryf om te vlug. My uitverkorenes dink woordloos. Dalk sonder woorde, weet hulle wel nie wat hulle dink nie. Ek beny hulle. Adam en Eva sal nooit die woorde ken vir haat, pyn, oorlog, of verraaier nie. Ook nie vir nostalgie, verlore, teleurstelling, of ontnugtering nie. Of melankolie, hopeloos, onvrugbaar.

Net so ken hulle nie die woorde vir ‘moord’ of ‘kannibalisme’ nie. Toe die silwer skip twee jaar terug hier aangeland het, het hulle bloot gedoen wat natuurlik kom. Nog nooit het hulle ’n ander lewende siel behalwe my stomme self gesien nie. Hoe vreesaanjaend moes die enorme masjien vir hulle gewees het, wat soos ’n reuseseemonster blink in die water genader het tot dit uiteindelik al krakend teen die pier gaan leun het. En uit die monster stroom daar onbekende wit lywe, blosend pienk, breed en plomp opgepof waar stof, benerige ribbes en hol oogbanke hoort. Selfvoldaan het die kreature die loopplank afgemars, uitgevat in blink materiale en tierlantyntjies, asof die eiland aan hulle behoort het. En uit hulle monde woorde en klanke soos ek al vergeet het bestaan in die wêreld. Die aakligste gekners en gebabbel, gesis en geblêr wat my ore al lank vergeet het. Is dit enige wonder dat die tweeling so reageer het? Daar was niks wat ek kon doen nie. Die slagting was verby voor ek of enige van die ander kon weet wat gaan aan. Maar dit was twee jaar terug. Volgende keer sal dit anders wees. Ek moet net moed hou en aanhou wag vir die volgende skip. Môre sal hulle kom, ek is seker.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top