Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Martine se teepot"

  • 0

Martine se teepot: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


Baie geluk met hierdie fyn uitgewerkte allegorie wat ’n deurgangsrite in ons samelewing voorstel: die dag as jy leer om te lieg en voor te gee soos almal om jou, en sodoende aanvaar word as deel van die groep. As jy jou verstand en kennis gebruik om te dink en te bevraagteken, weier om te swig voor sosiale druk en mense (ook jou ouers) se aandrang om te konformeer teenstaan, val jy uiteindelik in die “abyss”.

Jy het die regte vertelperspektief vir jou verhaal gekies, naamlik ’n eksterne verteller, en jy handhaaf dit konsekwent. Jou ironiese, lig satiriese aanslag wérk (ek hou baie van die verwysing ingebou in dokter Dedalus se naam). Dit getuig van humor, wat volgens my ’n onontbeerlike element van kuns is. Verder het jy jou begeef op baie moeilike terrein: magiese realisme. Ook dit doen jy reg deur dit van die openingsin af bloot as ’n gegewe aan te bied dat die mense in hierdie verhaal vlerke kry en vlieg.

Vervolgens ’n klompie sake wat aandag verg en waar jy nog kan verfyn – in ’n kortverhaal tel elke woord.

  • Wat bedoel jy met die titel? Dit sluit nêrens by die verhaal aan nie.
  • Kyk na paragrafering. Dis ’n belangrike element om die leesproses te vergemaklik – it’s a courtesy to your reader. Bring dus meer paragrawe aan, volgens die ou beginsel van ’n nuwe paragraaf wanneer jy oorgaan na ’n nuwe gedagte (nie net as jy oorgaan na ’n nuwe onderwerp nie).
  • Outydse, formele, plegstatige Afrikaans het wonderlike satiriese potensiaal, en jy maak goed gebruik daarvan. Maak net seker dat jy dit nie verwar met geykte taal (clichés) nie. Byvoorbeeld: “met elke greintjie energie geskop en gespartel daarteen” is maar bra geyk. “Met oë weemoedig op die grond gerig” is ook geyk, maar hier word dit reg gebruik vir satiriese effek. Hersien die hele verhaal versigtig vir clichés, maar behou die satire en ironie.
  • Waak teen steurende Engelse invloed en direkte vertalings, byvoorbeeld: monoloog geëindig (afgesluit); tensie (spanning); offisieel (amptelik); gholfprospekte (gholfvooruitsigte); konspirerend (sameswerend); die dak geskaal (na die dak opgeklim); tendensie (geneigdheid).

 

Lees die eerste weergawe van Martine se teepot

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top