Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Elke hond kry sy dag"

  • 0

Elke hond kry sy dag: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


Hierdie verhaal slaag omdat die ek-verteller, Antie, se stem grootliks oortuig. Ook die uitbeelding van ’n ou armblanke vrou, haar omstandighede en haar sienswyses, oortuig – welgedaan.

Die verhaal het volgens my een swak plek en dis die slot. Ek beveel aan dat al die teks ná die asterisk op bladsy 8 geskrap word. Hierdie is Antie se verhaal, nie die weldoener s’n nie – dié kan ’n storie op sy eie wees, want dit bring heel nuwe en ander kwessies na vore. Deur dit as slot te gebruik (die belangrikste moment van enige verhaal), word die fokus weggeneem van Antie, en dit verswak die verhaal. (As die laaste deel geskrap word soos aanbeveel, moet die verhaal ’n nuwe titel kry.)

Origens skort daar min. Die verhaal kan net behoorlik afgerond word deur dit versigtig te hersien.

Die belangrikste punt van die hersiening is om seker te maak dat Antie se vertelling woord vir woord oortuig as komende uit die mond/gedagtes van die soort karakter wat sy is. Onthou, in ’n kortverhaal tel elke woord.

’n Klompie voorbeelde:

  • Moeks . Is dit regtig die woord wat Antie sou gebruik? Ek het nog nooit in die regte lewe iemand teëgekom wat Moeks sê nie. Ek het dit wel al teëgekom in outydse jeugverhale en swak liefdesverhale.
  • Te deftige/formele woorde in Antie se mond: die eienaar van Liquor City – eerder baas? Geld in die hand gestop – eerder gedruk? So stap ek mos – eerder loop?
  • Die sitplekke is geskeer – dit moet geskeur wees.
  • Descent beteken afdaling, die regte woord hier is decent.
  • Pasop vir clichés soos “trane wat begin rol”; “knik vir my haar oog” – dit moet eintlik “knipoog vir my” wees, maar dis ’n aardige cliché.

· Kyk na baie lang sinne, soos die sin wat volg op “Die lewe het sy harde kant vir my gegooi.” Dit sal makliker lees as die sin in twee gedeel word.

· Versigtig met die rasterme – dis oortuigend in die karakter se stem, maar gebruik dit net waar regtig nodig en skrap/verander die res.

  • “ ’n ou vrou van my ouderdom” is toutologies.

Gee ’n aanduiding van waar Antie grootgeword het. Daar word gepraat van ’n dorpsbiblioteek – het sy in ’n dorp grootgeword of in ’n stad?

 

Lees die eerste weergawe van Elke hond kry sy dag

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top