Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Die koekie-tannie"

  • 0

Die koekie-tannie: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


’n Intrigerende verhaal oor ’n reeksmoordenaar, met uitstekende gebruik van suggestie. Die karaktertekening is oortuigend en die dialoog oorwegend goed. Die ekonomie van vertelling (net drie karakters kom aan die woord) is prysenswaardig, dit sorg dat die verhaal gefokus is.

Afgesien van die slot is daar nie groot verstellings nodig nie (hoewel heelwat fyner skaafwerk). Ek stel voor dat jy die slot kort en kragtig hou, iets soos: Terwyl hulle stap, trek sy haar swart baadjie bo-oor haar witbruin rok aan. Dit raak skemer en die herfswindjie waai koel. Sy korrel die lug in; die maan lê sekel. Dit gaan ’n koue, donker nag op straat wees.

Met die laaste twee sinne wou ek aansluiting vind by die begin: Iemand is besig met dinge van die nag. Jy hoef dit nie te aanvaar nie, solank jy net iets soortgelyks doen.

Ek sou die res van die slotgedeelte skrap. Die volledige liriek van “Kinders van die wind” moet in elk geval geskrap word (van die enkele reëls in aanhaling kan bly). Weens kopieregbeperkings mag jy net 10% uit ’n oorspronklike teks aanhaal, anders moet jy amptelik toestemming kry daarvoor (en in sommige gevalle ook daarvoor betaal).

Die stem van ’n eksterne verteller wat deurslaan in beskrywings is iets wat pla. Byvoorbeeld: “Renchhhka,” sê die stotterende figuur onverfynd agter haar aan. Die verhaal word uit Koeks se perspektief (oogpunt) vertel, en dié woordkeuse oortuig nie by die soort karakter wat sy is nie. Daar is nog heelwat sulke gevalle waar Koeks te formele of “groot” woorde gebruik, soos: Volg my. Ek dink ek weet waar hulle haar hou.” Eerder: Kom saam. Ek dink ek weet ...” Let ook op hoe Koeks verwys na “dié kinders” – dit impliseer ’n kyk van buite, maak dit eerder net “die straatkinders”.

Vervolgens ’n klompie kleiner sake wat aandag moet kry:

  • Let op clichés: Koeks se hare rys; ’n swanger stilte.
  • Witbruin rok: Wat bedoel jy daarmee, die kleure is tog baie verskillend? As bruin daarvoor staan dat haar rok vuil of al verkleur is, moet dit anders beskryf word.
  • getrekte deuntjie – dit beteken dronk, dit moet wees trekkerige deuntjie.
  • haar begroting – baie deftig vir ’n straatvrou, eerder Allpay of welsynstoelaag?
  • Stompie sê auntie. Maak dit bloot antie, hy praat tog Afrikaans. Ook “die sproetgesig se pet” – dit oortuig nie as Stompie se soort taal nie.
  • Klara se handskoentjie – sal ’n straatvrou op Christiana handskoene dra?
  • Koeks se papierkomberse – eerder koerantpapierkomberse of kartonkomberse?
  • ’n Sagte kant aan ’n harde stuk metaal – die vergelyking werk nie.
  • Gee ’n bietjie meer inligting oor Koeks se kinderjare op Koster – slegte omstandighede in die kinderjare speel altyd ’n rol in die vorming van reeksmoordenaars, meestal seksuele molestering.

Aansluitend by bostaande: wat is die belangrikheid (significance) daarvan dat Koeks haar regte naam vir Ziggie sê? Daar moet ’n verwysing vroeër in die verhaal wees wat hiermee skakel, byvoorbeeld dat sy haar naam haat omdat ... (vul rede in) en dat sy nooit haar naam vir iemand sê nie. ’n Voorstel: jy kan hier werk met dubbele betekenis – die naam Koeks wat verband hou met koekie wat verband hou met seksuele molestering. Dan kry die titel – “Die koekie-tannie” – ook ’n dubbele betekenis en só kry die verhaal nog ’n betekenislaag by.

 

Lees die eerste weergawe van Die koekie-tannie

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top