Onderhoude | Interviews

 
Nuwe Stories 2013-onderhoud: Nanette van Rooyen

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

Dit klink vreeslik geyk om te sê, maar hoërskoolopstelle was my eerste ervaring van ’n kortverhaal. Ek was begeesterd met ’n kort storie van vroegdag af. Inspirasie is so ver as wat ek kan reik, afluister, afloer en droom. As jong boekredakteur het ek ook met die ghoeroes, soos Abraham de Vries, se geskrifte gewerk en dit was ’n puik leesskool.

My eerste gepubliseerde kortverhaal was “Tollie Hans”, wat ek ingeskryf het vir die destydse De Kat Kort-kortverhaal-kompetisie. Die verhaal is opgeneem in die kortverhaalbundel Vonkfiksie, Human & Rousseau, 1999. Later het die verhaal ook deel gevorm van my kortverhaalbundel Om te vlerk, wat by Human & Rousseau verskyn het.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Die landskap is geil en groen. Ons het wonderlike kortverhaalskrywers in Afrikaans en gereeld ook ’n opwindende nuwe skrywer soos SJ Naude met sy fabelagtige mooi Die Alfabet van voëls. Ek is nie bewus van drastiese veranderinge sedert ek vroeg in die negentigs begin publiseer het nie.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Ag, die romantiek van ’n warm stapel bladproewe wat met ’n rooi pen getakel word, is darem seker nog met ons.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

Die gedrongenheid van die verhaal. Verhaalelemente wat dig verpak is, skep ’n eiesoortige spanning en drama. Dit slaan ook in op die struktuur van sinne en die uiters ekonomiese woordgebruik. ’n Kortverhaal is vir my soos ’n kwikballetjie in die palm van jou hand. Jy moet hom so manipuleer dat hy heel bly. En is hy nie giftig nie!

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

“Sny!” was die beste raad wat ek kon kry. Ook om uit te kyk vir die opeenhoping van te veel teenstrydige beelde. ’n Suiwer beeld in gestroopte taal het trefkrag. En die grootste euwel? Te veel beskrywende woorde en sentimentaliteit.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Vir die skryf van ’n kortverhaal was my mentors tussen die skutblaaie van ons beste kortverhaalskrywers se bundels. ’n Aspirantskrywer moet goed vertroud wees met al daardie skrywers se werk. Chris Barnard, Jan Rabie, Hennie Aucamp, Petra Müller, Riana Scheepers, Abraham de Vries, Helena Gunter, Jan van Tonder – die lys word te lank.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Enige verhaal wat my met die openingsin ademloos laat. Gewoonlik kry Chris Barnard dit reg. Sy “Hoogsomernag” bly my betower. “Pou in die nag” van Hennie Aucamp is ook treffend. Petra Müller se “Dis dag, Hans Klou”. Maar om die beste kortverhaal te kies, onmoontlik.

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Ek is ’n ou bok vir atmosfeer. Dus, ek steek ’n kers op en brand wierook. Ek sit met my rug na die venster gekeer. ’n Muur is onversetlik uitdagend. En altyd luister ek na toepaslike musiek. Wanneer ek klaar geskryf is, lees ek dit hardop om die rukke en stote te hoor. Die volgende dag sny ek.


Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013. 

Klik hier vir die kortlys.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Hannes Steyn
2013-02-06 @10:14

So lekker om al hierdie wyshede so uit die perd se bek (ag jammer Nanette ... lekker om weer met jou te kommunikeer) te kan hoor. 

Kan ongelukkig nie oor een van die aspekte saamstem nie; my Standerd Agt Wetenskap Onnie het skoon die horries gekry as die geluk ons 'n stukkie kwik in die palm plaas.

"Julle sal vrek van die goed' het hy ons dan so skrik gebulder dat dit in duisend stukkies op die vloer spat en onder die vloerlyste verdwyn.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address