Nuwe boeke by LAPA Uitgewers: April 2014

  • 0

Bestel hierdie boeke nou by Kalahari.net!


Bloedspoor
Bets Smith
Handelsprys: R214.95
ISBN: 978 0 7993 6512 2

Llyn Morgan is ’n honneursstudent aan die Universiteit van Pretoria. ’n Mooi damestudent word vermoor; toe nog een en nog een en niemand kan twyfel dat dit die werk van ’n reeksmoordenaar is nie. Meteens is geen vrou haar lewe seker nie en is elke man ’n verdagte.

Die moordenaar doen moeite om sy slagoffers mooi ‘uit te lê’ en plaas ’n ruikertjie in die vermoorde meisies se hande. Daar is bykans geen tekens van worsteling op die moordtonele nie. Maar daar word telkens Keltiese items op die misdaadtoneel agtergelaat.

Dit laat die polisie vermoed dat die moordenaar ’n kenner van die Keltiese geskiedenis is en dit verklein die kring van verdagtes uiteindelik na vier dosente wie se vakgebiede hulle kenners op die gebied maak.

Dis misties en onbegryplik – en herinner Llyn aan die rituele van die antieke volke wat sy bestudeer. Dis byna net so fassinerend soos die man wat haar in die biblioteek met ’n onverkrygbare boek help. Soos die moorde, bly hy haar gedagtes vul.

Wie is hy? Buiten sy voornaam, weet sy niks van hom nie. Kan hy die moordenaar wees? Wat is die konneksie tussen die moorde en Stonehenge? En wat lê agter die moordenaar se keuse van datums? Is dit toeval dat hy altyd op of naby openbare vakansiedae moor of het dit iets te doen met die stand van die maan, of dalk die son?

Chanette Paul, LAPA se manuskripontwikkelaar, sê van Bloedspoor: “Dis een van die min stories wat my werklik aangegryp het, wat rillings teen my rug afgestuur het. Dis een van baie min stories wat my laat wens het dat ek dit eerder uitgedink het.”

 


Skrikkelmaan
Bets Smith
Handelsprys: R214.95
ISBN: 978 0 7993 5168 2

Beth Smith vul ’n belangrike gaping in die mark omdat romantiese spanningsromans in Afrikaans baie skaars is. Skrikkelmaan vergelyk baie goed met Sandra Brown se beste werk.

Chanette Paul, LAPA se manuskripontwikkelaar, sê van die teks: “Bets het ? klein kragtoertjie verrig met hierdie manuskrip. Die storie is goed gestruktureerd en dit lees lekker. Die karakterisering is baie goed, die spanningslyn is sterk en die romantiese lyn bly nie agterweë nie.”

Beáte Sonnekus se wêreld spat uitmekaar na haar pa se dood. Sy erf wel die Sonsoeker-miljoene, maar dit vergoed nie vir haar verlies nie. Sy sukkel om haar lewe terug op koers te kry want die skok van die gru-ongeluk veroorsaak fisieke simptome wat met post-traumatiese stres verband hou.

Toe sy agterkom dat sy terminaal siek is, aanvaar sy Gary Ainsly se huweliksaansoek uit desperaatheid en vrees vir wat voorlê, want hy bied aan om haar te versorg wanneer sy swakker gaan word.

Maar sy begin twyfel of sy die regte ding gedoen het en toe sy boonop onverklaarbare dinge begin hoor en sien, vermoed sy die gewas op haar brein is besig om sinsbedrog te veroorsaak.

Sy vlug Heidebaai toe om antwoorde te gaan soek. Daar ontmoet sy Wian Nieuwoudt vir die derde keer, die dokter-ontwerper wat ’n rehabilitasiesentrum vir gestremde kinders bou. Sy ontdek dat emosies soos aangetrokkenheid en passie nie ophou bestaan as mens weet jy gaan binnekort sterf nie.

Hoe meer Beáte soek na antwoorde, hoe meer raaisels en onverklaarbare toevallighede kom sy teë. Was die herontmoeting met Wian werklik toevallig? Wie is haar man, Gary Ainsly, werklik? Wat was die ware rede vir sy huweliksaansoek?

Kan sy Wian Nieuwoudt vertrou? Is hy ooit wie hy sê hy is? Of is hy deel van Gary se ander, verskuilde agenda?

Alles bou op tot sy nie meer seker is oor enigiets nie. Is sy ’n sagte teiken vir ’n bedrewe manipuleerder, of is sy ’n baie siek vrou wat net drie maande oor het om te leef?

Klik hier en koop jou eksemplaar van Skrikkelmaan einde nou van Kalahari.com!

 


Wilhelmina Radebe kom tuis
Marinda van Zyl
Handelprys: R219.95
ISBN: 978-0-7993-6504-7

Hoe is dit om in murg en been Afrikaans te wees, om Christelik groot te word in ’n Afrikaanse huis, maar jou vel is swart?

Wilhelmina Radebe het meer in gemeen met “Die Afrikaner” as baie wit mense, maar sy is swart.

Die vorige boek wat ’n soortgelyke storie vertel het, is Die swerfjare van Poppie Nongena. Wilhelmina Radebe Kom Tuis is egter ’n totaal ander boek met ’n unieke hoofkarakter en verteller.

Wilhelmina, gebore in 1903, oorleef die geweld en ontheemding van Suid-Afrika asook die geweld wat uit haar eie huislike kring kom. Maar “goed en sleg is ’n hartding, nie ’n velding nie”.

Hierdie teks is nou opnuut uitgegee, vars geredigeer deur Dr Jeanette Ferreira. Daar is nuwe kaarte en ander inligting in die teks gevoeg om die leesproses te vergemaklik.

Die skrywer, Marinda van Zyl, het haar PhD gedoen oor swart mense se verstedeling en het só in aanraking gekom met stories soos dié van Wilhelmina.

Marinda as die vierde van agt kinders op die plaas Isabella in die distrik Gobabis in die eertydse Suidwes gebore. Haar ouers het geglo mens koop eers boeke en tydskrifte, daarna die res. Sy’t haar talent as storieverteller ontdek en ontwikkel toe sy in die plaasskool dikwels die jonger leerlinge moes vermaak omdat die onderwysers eenvoudig hulle hande te vol gehad het. Sy onthou sy het haar eerste storie in standerd twee geskryf

Marinda het nagraads verder in biblioteekkunde en geskiedenis gestudeer en gefokus op die belang van historiese vertelling in die leer van geskiedenis. Dit het haar mettertyd oortuig dat “people's history” die enigste vorm van geskiedskrywing is wat werklike begrip van die verlede meebring.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Wilhelmina Radebe kom tuis einde nou van Kalahari.com!

 


Liefde in die ou Kaap
Sarah du Pisanie
Handelprys: R214.95
ISBN: 978 0 7993 6511 5

Sarah du Pisanie het spesiaal twee splinternuwe romanses geskryf wat in een bundel uitgegee word. Dit speel af in die ou Kaap in die sewentien- en agtienhonderds.

Don Poseidon

Dit is die jaar 1790 en die Franse adel moet vlug om die guillotine te ontkom. Vermom as ’n kajuitjonge gaan ’n beeldskone jong edelvrou aan boord van ’n skip wat haar veilig aan die Kaap de Goede Hoop moet besorg. Daar wag die markies Giliomee wat sy nog nooit ontmoet het nie op haar om haar sy vrou te maak; maar op hierdie reis vol gevare groei sy al hoe nader aan die forse skeepskaptein met sy donker hare en helderblou oë, sy liggaam soepel soos dié van ’n tier.

Lilie

In die ou Kaap van die vroeë agtienhonderds veg ’n meisie teen haar liefde vir ’n man wat aanvanklik nie van haar as vrou bewus is nie. Dit word ’n liefde wat haar elke uur van die dag pynig, want sy is daagliks in sy teenwoordigheid terwyl sy hom help om sy huis en tuin reg te kry vir sy bruid. Dan, in die diep stilte van die sneeu wat hulle oorval, weet sy daar sal nooit weer ’n ander man vir haar wees nie

 


Superboetie
Jaco Jacobs
Handelsprys: R79.95
ISBN: 978-0-7993-6302-9

Arme Ryno. Hy is ’n normale seun en nou is daar ’n bababoetie. Almal is mal oor die nuwe dingetjie.

Ryno Rademan se bababoetie is sommer ’n superheld met spesiale kragte. Kyk net hoe almal te kere gaan. Hy red mense uit brandende geboue en roei misdaad uit, maar op ’n dag kom van aangesig tot aangesig met ’n baba-skurk!

As julle vir Jaco Jacobs ken, is daar altyd ’n kinkel in die storiekabel. Kan Ryno sy boetie uit die kloue van die boosaardige baba red?

Klik hier en koop jou eksemplaar van Superboetie einde nou van Kalahari.com!


Professor Fungus en die dino-avontuur
Jaco Jacobs
Handelsprys: R79.95
ISBN: 978-0-7993-6306-7

Dis net ’n kwessie van tyd ... voor iets jou byt! Bennie en Jenny kan hulle oë nie glo nie. Professor Fungus se groot droom het waar geword. Hy het ’n tydmasjien uitgevind! Maar sal dit regtig werk? Daar’s net een manier om uit te vind ...

Klik hier en koop jou eksemplaar van Professor Fungus en die dino-avontuur einde nou van Kalahari.com!


Professor Fungus en die robotkrisis
Jaco Jacobs
Handelsprys: R79.95
ISBN: 978-0-7993-6305-0

Professor Fungus se nuwe robot is briljant. Bennie en Jenny is baie beïndruk met die B-Bot. Daar is byna niks wat dié blikbrein nie kan doen nie. Maar iewers is ’n skroef los. En toe die robot in die verkeerde hande beland, is daar GROOT probleme ...

Klik hier en koop jou eksemplaar van Professor Fungus en die robotkrisis einde nou van Kalahari.com!


Alles oor hekel
Karen Adendorff
Handelsprys: R154.95
ISBN: 978-0-7993-6433-0

Alles oor hekel is ’n gids tot die basiese tegnieke en steke van hekel en bied ook addisionele inligting rondom die versorging van hekelwerk.

Hierdie boek is die ideale wegspringplek vir diegene wat wil leer hekel, maar bied ook interessante steke en kan as ’n nuttige naslaanbron vir die gesoute handwerker dien.

Die boek sluit die volgende in:

  • Hekeldraadsoorte en hekelpenne
  • Die basiese beginsels en basiese steke
  • Spanning en toetslappies
  • Lees van patrone en diagramme
  • Kleurwerk, vermeerder en verminder
  • Verskillende steke: riffel, sjevron, skulp, springmielie, trossies, bobbles, ens.
  • Inleiding tot tunisies, filet, besemstok en haarnaaldwerk
  • Versierings, sirkels, seshoeke, vierkante en randjies
  • Knoopsgate
  • Nate, pars en blok

Klik hier en koop jou eksemplaar van Alles oor hekel einde nou van Kalahari.com!

 


Feestelike koekversiering
Marlene Cloete Marais
Handelsprys: R189.95
ISBN: 978-0-7993-6436-1

Daar is inspirasie vir Valentynsdag, ’n damestee, mannepartytjie, kombuis- en ooievaarstee. Die Paaseierkarakters, Kersvadertoneeltjie en grillerige Halloweengoeters sal beslis as aansporing dien om hierdie feesgeleenthede spesiaal te maak en die prettige planne vir trou-onthale sal sekerlik die skeppingsdrang laat ontwaak.

Marlene gee volledige aanwysings – met foto’s – vir koekstokkies (cake pops), kolwyntjies en ’n koektop wat bo-op die groot koek of iewers op die tafel geplaas kan word. Die resepte, inligting oor die materiale wat gebruik word en wenke sorg dat selfs beginners die projekte kan baasraak.

As jy al ooit lus was om jou hand aan suikerkuns te waag, sal Feestelike koekversiering jou help skep aan dié fantasiewêreld.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Feestelike koekversiering einde nou van Kalahari.com!

 


Partytjiekolwyntjies vir Seuntjies
Marlene Cloete Marais
Handelsprys: R49.95
ISBN: 978-0-7993-6437-8

Dinosaurusse en seerowers en geweldige monster en karre en... Wie moes al vir ’n seuntjie ’n koek bak? Dié boekie bevat ’n volledige lys van die gewildste temas vir seuntjiepartytjies, maar die temas kan maklik vir volwasse partytjies ook gebruik word.

Die projekte is maklik genoeg vir beginners, maar sal ook uitdagings bied aan meer gevorderde bakkers. Só kan elke ma se kreatiewe kant ontgin word, want die boekie wys jou hoe die vaalste kolwyntjies in ’n paar maklike stappe in klein kunswerkies omskep kan word. Voor jy jou oë knip, sal die hele dorp kolwyntjies by jou bestel!

Klik hier en koop jou eksemplaar van Partytjiekolwyntjies vir Seuntjies einde nou van Kalahari.com!


Partytjiekolwyntjies vir dogtertjies
Marlene Cloete Marais
Handelsprys: R49.95
ISBN: 978-0-7993-6438-5

“Mamma, dit moet pienk wees en die moet mooi wees... Prinsesse se koeke is áltyd mooi!”

Wie moes al vir ’n regte-egte prinses ’n koek bak?

Dié boekie bevat ’n volledige lys van die gewildste temas vir dogtertjiepartytjies, maar die temas kan maklik vir volwasse partytjies ook gebruik word.

Die projekte is maklik genoeg vir beginners, maar sal ook uitdagings bied aan meer gevorderde bakkers. Só kan elke ma se kreatiewe kant ontgin word, want die boekie wys jou hoe die vaalste kolwyntjies in ’n paar maklike stappe in klein kunswerkies omskep kan word. Voor jy jou oë knip, sal die hele dorp kolwyntjies by jou bestel!

Klik hier en koop jou eksemplaar van Partytjiekolwyntjies vir dogtertjies einde nou van Kalahari.com!

 


Man met integriteit
Dina Botha
Handelprys: R74.95
ISBN: 978-0-7993-6489-7

Samantha, ’n joernalis, word onder valse voorwendsels die onweerstaanbare modeontwerper Streiger se assistent. Haar redakteur se opdrag was dat sy besonderhede oor hom moet uitvis vir ’n artikel. Maar Samantha verloor haar hart op hom ...

Klik hier en koop jou eksemplaar van Man met integriteit einde nou van Kalahari.com!


Eindelik liefde
Marile Cloete
Handelprys: R74.95
ISBN: 978-0-7993-6490-3

Schalk en Anke is voëls van eenderse vere: albei onafhanklik, albei beroepsgedrewe. En albei het al seergekry. In Leipzig kom allerlei verborge vrese en drome na vore. En in Noorweë moet hulle ’n besluit neem.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Eindelik liefde einde nou van Kalahari.com!


Twee maal so lief
Frenette van Wyk
Handelprys: R74.95
ISBN: 978-0-7993-6491-0

Beaudine keer terug na die wildplaas waar sy die man wat sy liefhet aan ’n ander vrou afgestaan het. Hier kom sy voor hom in ’n rolstoel te staan, die ander vrou steeds aan sy sy.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Twee maal so lief einde nou van Kalahari.com!


Dokter in die Caprivi
Trudy Reinhardt
Handelprys: R74.95
ISBN: 978-0-7993-6492-7

Andrea verstaan nie waarom die nuwe dokter wat by die boshospitaal begin werk het haar so kil behandel nie. Maar eintlik pas dit haar want sy maak nie vir ’n man aan haar sy voorsiening nie.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Dokter in die Caprivi einde nou van Kalahari.com!

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top