Nuwe boeke by LAPA: Julie 2014

  • 0

Donker spoor

Martin Steyn
Kategorie: Misdaad
Prys: R214,95
ISBN: 978-0-7993-6965-6

’n Hoërskoolmeisie se liggaam word ’n ent buite Durbanville ontdek. Wanneer die patoloog sien dat die meisie gehang is, onthou sy ’n soortgelyke geval.

Die laaste ding waarvoor die middeljarige inspekteur Jan Magson lus is, is ’n reeksmoorddossier, maar saam met inspekteur Colin Menck volg hy die spoor:
Hulle ondersoek die onderwyser met ’n verlede; hulle kaap “liefdesbriewe” wat klaarblyklik deur die moordenaar na die meisie se ouerhuis gepos word; hulle
betrap ’n swembadskoonmaker wat hoërskoolmeisies afneem... Wie is verantwoordelik?

Die heeltyd is daar ook die donker spoor wat die kankerdood van Magson se vrou in hom agtergelaat het, sy stukkende verhouding met sy seun in Engeland en
alleenaande saam met sy dienspistool.

Nog ’n meisie word in ’n veld gekry. ’n Sekuriteitskamera het haar die dag van haar dood afgeneem en dit lei tot ’n paar moontlike verdagtes. Magson, wat
nou in terapie is en probeer om iewers weer ’n lewe te vind, sak hard op hulle toe.

Dan verdwyn nog twee meisies binne twee dae. Magson en Menck jaag teen tyd – ’n naweek, volgens die patroon – om hulle te probeer opspoor. Maandag is daar
nog geen teken van die meisies, of hul lyke nie, maar Magson ontdek ’n leidraad wat uiteindelik die moordenaar se spoor ontbloot.

Chanette Paul, LAPA se manuskripontwikkelaar sê: “Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ? manuskrip soos met hierdie een. Dis ? grusame verhaal waarin
afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid. Die verhaalgegewe is plek-plek gewis nie vir sensitiewe lesers nie,
maar die goeie en die bose word op skitterende wyse teenoor mekaar gestel. In sy geheel is die manuskrip van internasionale gehalte.

“Ek kan nie aan een speurkarakter dink wat my al ooit so ontroer het soos Mags nie en aangesien misdaadfiksie my voorkeur leesstof is, ken ek heelwat
speurkarakters. Ek hou veral daarvan dat Mags nie die suiplap en rokjagter is wat al cliché geword het nie. Die persoonlike demone wat hy beveg, is eg
menslik en oorspronklik aangebied.”

Jeanette Ferreira, die teksredakteur, sê van Donker spoor: “Briljant. Afskuwelik. Gebalanseerd. Dis nie elke debuut wat só daar uitsien nie.
Hierdie skrywer verstaan boosheid én broosheid. Ek is werklik beïndruk.”

Iets oor die skrywer: Op universiteit was Martin se hoofvakke sielkunde en kriminologie. Ná sy honneurs in sielkunde het hy Suid-Afrikaanse
reeksmoordenaars en geweldsmisdade bestudeer en sewe ware-misdaadverhale aan die
Crime Library
, ’n CourtTV-webwerf (tans onder truTV), verkoop. Dit het onder meer gehandel oor Moses Sithole, die wrede verkragting en poging tot moord op Alison, en
die Sizzlers-moorde in Seepunt.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Donker spoor nou van Kalahari.com!

 


Waar die son omdraai
Vita du Preez
Kategorie: Liefdesroman
Prys: R214,95
ISBN: 978-0-7993-6966-3

Thea Jonker, gewilde TV-aktrise, se loopbaan word eensklaps kortgeknip wanneer sy in ’n motorongeluk betrokke is waarin haar voorkop geskend word. Sy
besluit om vrywillige opheffingswerk in Mosambiek te gaan doen, waar haar pad met dokter Matt Barnard s’n kruis.

Matt Barnard, ’n plastiese chirurg, het egter sy eie duiwels om te besweer. Hy is ontnugter na ’n bitter egskeiding en hy twyfel aan sy geloof, wat altyd
’n integrale deel van sy menswees was, wanneer een van sy pasiënte sterf. Matt besluit om by ’n Benediktynse klooster naby Vilanculos te gaan besin en
hopelik helderheid oor sy pad vorentoe te kry.

Thea en Matt weet dus uit die staanspoor dat daar nooit meer as ’n vriendskapsverhouding tussen hulle kan wees nie. Wat ’n mens weet en wat jy voel is
egter nie altyd dieselfde nie en hulle raak vlugtig in ’n liefdesverhouding betrokke.

Matt is reeds in die klooster wanneer Thea uitvind sy verwag. Thea besef dat ma-wees die belangrikste rol is wat sy ooit sal vertolk. Om die beste ma te
wees wat sy kan, sal sy egter moet terugloop op die pynlike paaie van haar eie kinderjare.

Wanneer Matt en Thea se paaie uiteindelik weer kruis, is albei gelouterde mense wat gereed is vir ’n nuwe begin saam met die tweeling wat hulle verwek het.

Iets oor die skrywer: Vita du Preez se eerste romanse, As Sterre Blom, het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR
gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen verskyn.

Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op
haar eie skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n volwaardige liefdesroman aan te pak. Waar die son omdraai is
die resultaat.


Pleisters vir die dooies

Fanie Viljoen
Kategorie: Geweld
Prys: R119,95
ISBN: 978-0-7993-6251-0

Môreoggend gaan hy een vir een ’n groot klomp kinders by die skool skiet; een ná die ander. Dwa! Dwa! Dwa!

Hierdie is ’n aand vir laastes. ’n Aand om jou kopie van The Catcher in the Rye in jou rugsak te druk en afskeid te neem van die huis waar jou pa
elke aand te diep in sy whiskeyglas kyk. ’n Aand om die lysie uit te haal met die name van almal by die skool wat dink jy’s ’n freak. ’n Aand om die donker
ding binne-in jou beter te leer ken.

Môre. Môre sterf hulle. “Ek verwag iets ongeloofliks wanneer ek die sneller trek. Dit sal wees soos ’n moerse vuurwerkvertoning waar die vonke oopspat oor
die donker.”

Dwa! Dwa! Dwa!

“Ek verwag afgryse in die kinders se oë. Ek gaan kyk hoe hulle siele uit daardie selfde oë sypel. Dit sal asemrowend wees. Ek weet dit net. Asemrowend.”

Maar dit is môreoggend, eers as die skool begin. Vannag is sý nag. Hy wil eers ’n nag vol avontuur hê, want môre sal sy laaste wees.

Die ek-verteller sien homself as die verlosser. Hierdie wêreld het te veel seer. Hy gaan sekermaak dat hy ’n aantal mense uit hulle miserabele bestaan
help.

Die novelle se motto kom uit Chuck Palahniuk se Fight Club: “This was freedom. Losing all hope was freedom.”

Palahniuk, en ander wat soortgelyk skryf, noem die soort werk transgressiewe fiksie, dit beteken dat hulle karakters skep wat die taboes in ons samelewing
uitleef: “Transgressive fiction authors write stories some are afraid to tell. Stories with taboo subjects, unique voices, shocking images – nothing safe
or dry.”

Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies bied ook nou aan die Afrikaanse leser ’n transgressiewe teks. Die verteller in Viljoen se roman aanvaar
die volle verantwoordelikheid vir sy dade. Hy maak selfs ’n video om te sorg dat almal, die ouers, die polisie en ook sy pa, later sal verstaan waarom hy
bereid was om ’n massamoordenaar te wees.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Pleisters vir die dooies nou van Kalahari.com!

 


Soene, sonroom en seestrome
Nerine Ahlers en Alet Steenkamp
Kategorie: Jeugroman
Prys: R119,95
ISBN: 978-0-7993-6699-0

Lindie en haar vriendinne, beleef oudergewoonte hope opwinding in die Bergrif Meisieskool se koshuis. Maar toe Mia per ongeluk met ’n geheimsinnige pakkie opgeskeep sit, begin die moeilikheid hulle agtervolg. Soene, sonroom en seestrome is die sewende titel in Nerine Ahlers en Alet Steenkamp se gewilde SSS-reeks.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Soene, sonroom en seestrome nou van Kalahari.com!


Mooiloop: Mooiste reisstories
Samesteller: Gerrit Rautenbach
Kategorie: Reisverhale
Prys: R224,95
ISBN: 978-0-7993-6820-8

Die name in hierdie bundel laat jou reeds lippe aflek: Abraham H. de Vries, Andre P. Brink, Carié Maas, Chris Barnard, Dawid de Wet, Dolf van Niekerk, Eben
Venter, Elias P. Nel, Gerrit Rautenbach, Hennie Aucamp, Johan Bakkes, Johan Myburgh, Koos Kombuis, Mariëtte Crafford, Minette Brink, Nanette van Rooyen,
Naomi Bruwer, Riana Scheepers en Ronel Nel.

Van ons land se grootste skrywers en kenners van kortkuns is in hierdie teks opgeneem. Dít alleen maak hiervan ’n versamelstuk, maar wag tot jy die foto’s
sien, dan besef jy, hier is ’n kleinood gebore.

Lesers van Mooiloop, die Afrikaanse weergawe van die tydskrif Getaway, het geweet die redakteur, Gerrit Rautenbach, se skeppendheid en
passie vir die Afrikaanse verhaal het van sy tydskrif veel méér gemaak as ’n vertaling van ’n Engelse maandblad.

Reeds toe die laaste weergawe van Mooiloop in 2008 verskyn het, wou Gerrit ten alle koste die reisverhale van ons land se beste in een bundel
bewaar. Dit het ses jaar geneem om hierdie droom waar te maak, en hier is dit nou: Mooiloop, mooiste reisstories is ’n versigtige keur uit die
mooiste en die beste van dít wat in die tydskrif verskyn het. Ook Gerrit se visuele insig gaan nie verlore nie. Hierdie pragboek, in volkleur, bied beide
leesgenot én uitsonderlike foto’s. ’n Mens sou hieraan kon dink as kortverhale geklee in aandpakke en stapstewels.

Ja, stapstewels was nodig vir die maak van hierdie verhale.

M.C.A. Seyffert sê in T.T. Cloete se Literêre Terme & Teorieë: “Reisverhale is so oud soos die mens self. Verhale oor reise was onder die
eerste stories wat deur die primitiewe mens oorvertel is…” Seyffert noem ook dat Homeros se Odusseia ’n reisverhaal bevat. Daardie gedeelte ná die
Trojaanse Oorlog, toe almal weer op pad was huis toe, word ’n epiese tog van menslikheid, natuur en drama.

Die leser kan nou moderne reise ervaar deur die oë van joernaliste soos Johan Myburg en Naomi Bruwer, of skrywers soos Eben Venter, Chris Barnard, Hennie
Aucamp en Riana Scheepers wat jou meevoer na hulle hartland. Die drama is steeds daar: Hulle laat jou die opwinding smaak van daardie eerste duin wat in ’n
viertrek baasgeraak word, jou tone krul soos die spoke van die verlede riel trap op ’n vergete dansvloer in die Karoo, of hulle neem jou voetjie vir
voetjie saam op die bakleistryd om Kilimanjaro te klop. As jy ooit gewonder het waar die hart van die Kgalagadi nou eintlik lê, sal hierdie bundel die
antwoord verskaf, of nog beter, dit sal jou uitdaag om sélf die wandelstaf op te neem om reis lyflik te ervaar.

Soos wat Mooiloop se leuse “reis sonder einde” destyds te kenne gegee het, is hierdie reis nog lank nie verby nie.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Mooiloop: Mooiste reisstories nou van Kalahari.com!

 


Meer as ’n speletjie
Dina Botha
Prys: R74,95
ISBN 978-0-7993-6845-1

Zialee bevind haar as ’t ware onder een dak met die man uit haar verlede en die een wat sy nou liefkry. Sy moet teen wil en dank meedoen aan die speletjie. En dit maak seer.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Meer as ’n speletjie nou van Kalahari.com!


Hoera, Beertjie
Julia Hubery & Caroline Pedler
Prys: R99,95
ISBN: 978-0-7993-6710-2

Beertjie is baie dapper! Geen bessiebos het te veel dorings en geen boom is te hoog nie – hy help altyd sy maats. ’n Pragtige, snaakse, vertroostende storie oor vriendskap vir alle dapper klein helde!

 

 

 


Kougom in my hare
Skrywer: Jaco Jacobs
Prys: R79,95
ISBN: 978-0-7993-6667-9

Jaco Jacobs se splinternuwe bundel met meer as 40 lawwe, lawaaierige lekkerlagverse is tonne pret! Hierdie kostelike rympieboek beloof om net so gewild te wees soos sy voorgangers, Wurms met tamatiesous (Alba Bouwerprys, C.P. Hoogenhoutmedalje), ’n Brulpadda in my tas en My boetie dink hy’s Batman.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Kougom in my hare nou van Kalahari.com!

 


Diere onder die son 1
Vian Oelofsen
Prys: R34,95
ISBN: 978-0-7993-6839-0

Diere onder die son is ’n heerlike kinderaktiwiteitsboekie, saamgestel uit Vrouekeur se weeklikse kinderbladsy. Vian Oelofsen is die skepper van hierdie vindingryke aktiwiteite wat hy kombineer met prettige dierekarakters.


Sprokies vir Woelwaters
Wendy Maartens
Prys: R29,95
ISBN: 978-0-7993-7047-8

In hierdie kleurvolle sprokiesboek word ses van die bekendste en mees geliefde sprokies deur Wendy Maartens oorvertel. Die Gemmerbroodman, Die rottevanger van Hameln, Gouelokkies en die drie bere, Die paddaprins, en Hansie en Grietjie steel al vir eeue lank kinders se harte en is perfek vir slaaptyd!

Klik hier en koop jou eksemplaar van Sprokies vir Woelwaters nou van Kalahari.com!

 


Healthy & Tasty: Good Fat
Hilda Lategan
Price: R49,95
ISBN: 978-0-7993-6834-5

Healthy eating and lifestyle habits are important for a healthy body. Easy and simple preparation methods are used. Here are some of the benefits to eating this way: The sensation of hunger is delayed and weight loss is promoted; concentration and mood are improved in children as well as adults; and it supplies sustainable energy for the activities of the day.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Healthy & Tasty: Good Fat nou van Kalahari.com!

 

 


Lekker & Gesond: Goeie Vet
Hilda Lategan
Prys: R49,95
ISBN: 978-0-7993-6831-4

Gesonde eet- en lewensgewoontes is belangrik vir ’n gesonde liggaam. Maklike en eenvoudige voorbereidingsmetodes word gebruik. Elke resep het ’n insiggewende voedingstofanalise. Hier is van die voordele aan die regte dieet: Die hongersensasie word vertraag en gewigsbeheer word bevorder; kinders en volwassenes se konsentrasie en gemoedstoestand verbeter; en dit voorsien volhoubare energie vir die dag se aktiwiteite.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Lekker & Gesond: Goeie Vet nou van Kalahari.com!

 


Lekker en vinnig 3: Smaaklike ontbyt
Samesteller: Hendri Warricker
Prys: R49,95
ISBN: 978-0-7993-6825-3

Dieetkundiges sal vir jou sê ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag, maar hulle weet skynbaar nie hoe moeilik dit is om jou gade en jou kroos betyds uit die huis te kry nie – laat staan dan nog sélf by die werk kom! Met hierdie boek in jou kombuis mag jy dalk net ’n pare

Klik hier en koop jou eksemplaar van Lekker en vinnig 3: Smaaklike ontbyt nou van Kalahari.com!

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top