Onderhoude | Interviews

 
Nêrens tuis nie, sê sy? Maar daar's báie plek vir haar op my boekrak

Naomi Meyer gesels met Deborah Steinmair oor al haar babas: die tamagotchi wat SêNet vir haar was, haar vlees-en-bloed-kinders, Maud en die poppe van die poppekas.

Ek het pas dae aaneen saam met jou deurgebring. Of het ek? Is Marike se laaste dans ’n gefikseerde outobiografie?

Jy het, dit is. My Kaapse vriendinne noem my al jare lank Maud. Dit was my ouma se naam. Iemand het gesê alles wat nie outobiografie is nie, is leuens en verdigsel. TT Cloete (ek het gisternag van hom gedroom) het gesê skrywers lieg die waarheid. Alles wat ’n mens skryf, is seker ten minste ’n emosionele outobiografie. Veral ’n belydende eerste boek soos hierdie een. Dit was pynlik om soveel van myself tussen die blaaie te pers, soos ’n shrinking violet. Maar ek moes dit uit my sisteem kry, sodat ek kon begin om stories uit my duim te suig. Ek dink ’n mens wil jouself in ’n mate aan die wêreld verduidelik, of jy nou jou oor afsny, gedigte skryf, rekenaarprogramme skep of saam met die ontslape eksvrou van ’n ekspresident oor Adderleystraat vlieg.

Eintlik het ek reeds die antwoord op hierdie vraag geken. Ek het reeds jou onderhoud op YouTube gesien.

Ek het gehoor van jou dogters se voorskrif ten opsigte van jou antwoord op hierdie vraag. Wat my dan eerder op ander syspore plaas: a) Hoe kry jy tyd om ma te wees en te skryf?

Ek het net kort grepies, soos artikels, resensies en rubrieke, geskryf toe ek nog voltyds ma was en voltyds gewerk het. Ek voel ek het ’n blok tyd nodig om iets langer aan te pak, veral baie tyd om ongestoord te dink. My dogters is nou min of meer groot en woon in die Kaap. Die oudste het klaar geswot en werk al, die jongste is in graad 11 en in ’n woonstel naby haar skool, terwyl ek tussen die Vrystaat, Gauteng en die Kaap rondflans. Ek vryskut nou en het baie meer tyd om te skryf. Ek slaap ook slegter hoe ouer ek word, en die nag is ’n wonderlike ruimte om in te skep. Tyd is elasties.

b) Hoe kry jy dit reg om getrou aan jouself te skryf en nog steeds ma te wees?

Ek dink die antwoord is dat ek, soos die vriendin se ma wat aan depressie ly in Marike, nog nooit soos iemand se dogter, iemand se vrou, iemand se ma gevoel het nie. Ek het maar nog net altyd soos myself gevoel. Rolle rol van my rug af. Ek vermoed dis ’n persoonlikheidsafwyking. My arme kinders moes maar “deal”. Ek het van kleins af vir hulle gesê hulle het self, op een of ander kosmiese vlak, gekies om uit so ’n ongemaklike ma gebore te word. Gerieflik, nè? Hulle het dit redelik mooi aanvaar, maar ek dink hulle is verlig dat ek nou suiwer fiksie skryf. En hulle is goed aangepas vir die aanslae van die lewe.

c) Was mense krities oor jou karakter se eerlikheid ten opsigte van moederskap?

Nie regtig teenoor my nie; ek dink die soort mense wat beskaamd en geskok was oor my karakter se eerlikheid oor moederskap, was eenvoudig te dronkgeslaan en te ordentlik om my aan te vat daaroor, en diegene wat self reguit en vreesloos is, was minder geskok daaroor. Ek kan maar net hoop my verwonderde liefde vir my kinders, vir wie hulle is eerder as as ’n verlenging van myself, skemer deur en bedek ’n menigte sondes. Ek het my dogters voor in die boek bedank, maar ek moes dalk maar om verskoning gevra het ook. Dis ’n sware straf om die kind van ’n skrywer te wees.

d) As Marike se laaste dans dan nie as gefikseerde outobiografie verpak kan word nie, praat jy wel in jou YouTube-onderhoud van ’n emosionele ooreenstemming tussen die skrywer en sy karakters (eie parafrase). Hier spoel die vraag oor in ’n volgende een: Hoe dan gemaak met ’n boek wat kognitief uitgedink en beplan moet word, soos ’n spanningsroman – Poppekas?

O, die skryfproses was veel makliker. Ek het probeer om min van myself in Wiesa Rabie te giet – ek wou oor ’n ander soort vrou skryf, dapper, no-nonsense, minder verstrooid en ongeorganiseerd. Mense sien wel ooreenkomste tussen ons (I wish), so dis seker nie moontlik om jouself uit die proses te hou nie. Dit was baie makliker om kognitief, koelbloedig ’n storielyn en karakters uit te dink en rond te skuif. Dis minder pynlik en wroegend as gefikseerde outobiografie. ’n Mens is vry om onbeperk te versin, dis pret, soos speel of droom. Enigiets kan gebeur.

Wat aansluit by die emosionele plek waarvandaan ’n skrywer ’n karakter skep wat outentiek op die oor val – die enigste keer toe jy die woord "fratsgolf" in Marike se laaste dans gebruik, het dit my wind uitgeslaan. Dis of alles op daardie plek bymekaarkom, ’n Catcher in the Rye-oomblik, mag ek dit sê? Was dit beplan? Daardie plek, die boek, enigiets hiervan? Of het dit net gebeur, geskryf binne twee maande, gebore uit ’n plek waarvandaan dit nie anders kon as om net daarvandaan te ontspring nie?

Jou laaste sin slaan die spyker op die kop. Min was beplan aan daardie boek, ten minste bewustelik. Ek was nog nooit ’n dagboekhouer nie en die feit dat ek vir ’n hele paar jaar die Fratsgolf-rubriek op LitNet geskryf het, het baie gehelp – daar was ’n groot rekord van pynlike en insigvolle oomblikke, in real time geskryf, waarna ek kon terugverwys.

Poppekas. ’n Wonderlike naam vir ’n boek – spanningsroman of te nie. Wat was jou reaksie toe Rapport dit aanvanklik as ’n jeugspanningsroman resenseer het?

Ek was verbaas oor die klassifisering, maar die resensie was lekker geskryf en heel positief. Ek het my nog nooit veel aan pigeon-holes gesteur nie. Laat ander ’n mens maar etiketteer en in rakkies orden – ek laat my nie beperk nie, want ek weet nie hoe nie. Die tienermark is natuurlik vrugbare grond, as tieners ooit nog lees. Maar ek is huiwerig om my hand daaraan te waag; ek was nog nooit cool en with-it nie, en ek dink dis nou te laat om te probeer. Ek dink die jargon verander so gedurig, ek het ’n glossarium nodig om my eie tiener te verstaan. As die resensie of sy opskrif ’n paar jong lesers gewerf het, is ek bly. Ek glo nie dit sal volwasse lesers afskrik nie. Het alle ouderdomme nie ewe flink saamgelees aan Harry Potter nie? Ek glo ook nie skrywers mag reageer op resensies nie (synde self ’n soort van resensent) – dis iemand anders se mening, jou werk is gedoen, nou is dit ander mense se werk om dit op te weeg en te bespreek, hopelik. As hulle daaroor sou swyg, sou dit veel erger wees.

Ander mense stem nie saam met hierdie etiket van jeugroman nie, ek ingesluit. En Thys Human. Tog beskou ek dit nie as ’n belediging om jeugboeke te skryf nie – ek dink net nie Poppekas is ’n boek vir tieners nie. Wat van ’n spanningsroman deur enige van hierdie skrywers – Patricia Cornwell, Val McDermitt, Margie Orford, Deon Meyer? Sou jy tuis voel om saam met hulle gegroepeer te word?

Weer eens, ek is tuis in enige groep, omdat ek nêrens tuis is nie. Ek sou geëerd wees om saam met die bogenoemdes geklassifiseer te word. En dan sal ek voortgaan om my eie ding te doen, want ek het nie ’n kop vir resepte nie. Soos wat elkeen van hulle ook maar hul eie ding doen. Lesers en boekwinkels hou van groeperings, handvatsels, en dan is dit reg so. Hulle moet weet op watter rak om jou boek te pak. Ek dink Marike het ’n bietjie tussen die vloerplanke ingeval.

Wat my ook in Human se resensie-essay opgeval het, was onder andere Ronald Knox se speurverhaal-skryfwenke. Hoewel jy sterk hiervan afwyk, hou jy jou ook hierby. Of nie? Hoe het jy hierdie boek beplan, hoeveel hiervan het net gebeur?

Ek het die storielyn en intriges fyn probeer beplan, maar dit ruk mos maar vroeg handuit. Ek dink daar is ’n subversiewe geen wat my noop om teen die prikkels te skop, nie altyd bewustelik nie. As iemand ’n stel reëls neerlê vir ’n genre, hoef ek nie eens te beplan aan my verset nie, dit gaan vanself gebeur. Reëls is gemaak om gebuig te word. Bo alles wil ek lesers vermaak en boei; ek wil nie eksperimente pleeg of punte bewys nie, maar êrens gaan daar ’n moedswilligheid kop uitsteek, want die wêreld werk nie vir ons almal uit soos die voorskrifte beloof nie.

Hoe op aarde het jy jou afstand van die briefskrywers op SêNet gehou? Nee, dis nie wat ek bedoel het om te vra nie. Ek wou vra: Het jy betrokke geraak by die briefskrywers, was dit vir jou lekker om SêNet-webmeester te wees, besef jy hoeveel die briefskrywers jou nog steeds mis? Ook nie wat ek wou vra nie. Jy het dit al vir Melt vertel, ek weet. Maar daar het tyd verloop. Wat het dit aan jou psige gedoen, die tyd tussen jou en LitNet? Watter gedagteflitse het oorgebly?

Dit was ’n wonderlike tyd, vir iemand wat redelik geïsoleerd gewoon het en baie in haar eie kop leef, om skielik toegang te hê tot soveel mense se gedagtes en drome, daagliks. Dit was ’n mal virtuele speelplek. Ek het dit met groot respek benader; SêNet het vir my gevoel soos ’n baba of tamagotchi wat ’n paar maal per dag versorg moes word. Ek het self min kreatief gepleeg in daardie tyd, maar dit was vir my fassinerend om te sien wat mense se koppe besig hou en hoe hulle hul uitdruk. Ek was ’n streng webmeester, want ek het die brieweforum as ’n tuin gesien waarvan ek die opsigter was – jy kan nie die natuur sy gang laat gaan nie, jy moet orde skep, mooi paadjies en bankies in die koelte skep, onkruid uittrek, beddings kleiner maak. Ek wou ’n sekere ambience skep, ek wou my soort atmosfeer kweek, lug wat ek gemaklik kan inasem. Daarom het ek alle briewe wat kreatief, dromerig, verbeeldingryk, laf en inspirerend was, boaan geplaas met my eie (hopelik aansporende) insette daarby. Die kwerulante, onverdraagsame redekawelaars oor geykte onderwerpe het ek verkort en laaste geplaas. Ek het vir ’n ruk geweier om briewe van ’n sekere praatsieke, veroordelende dweper te plaas, tot ek aangespreek is. Miskien is dit net my persoonlike smaak, maar ek glo die toonaard was gelig in my tyd, daar was lieflike briewe wat my baie gelukkig gemaak het. Ek was lanklaas daar, ek sal tog gaan kyk hoe dit nou gaan, maar vir lank was dit vir my asof die oerwoud oorgeneem het, die likkewaanbreine, die laer drifte, en SêNet vol giftige dorings en slange was, oorgroei en modderig. Ek het daar baie geleer oor skryf; hoe om jouself duidelik en ekonomies uit te druk, hoedat “mooiskryf” heeltemal terloops op die oor moet val, of gesny moet word. Dit was ’n wonderlike uitdaging en leerskool – en net so lekker om op te hou. Dit neem ’n mens se lewe oor.

Sterkte, dankie vir die interessante vrae.

Hier is Deborah se heel eerste Fratsgolf, hier is die hele tutti Fratsgolwe in die LitNet-argief en hier is nog gedagtes oor ’n fratsgolf of wat.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address