Noordwes-Universiteit se debatspan kraai koning

  • 0

Die span van die Noordwes-Universiteit is tydens die finaal van die onlangse ATKV-Universiteitsdebat aangewys as landswye wenners. Christo Slabbert, Martin Hattingh, Lizeri Mitchell en Paul Maritz, die NWU se A-span, het Tuks A geklop en met die prysgeld van R8 000 weggeloop. Die onderwerp vir vanjaar se finaal was die wettiging van dagga in Suid-Afrika, en die finaal het op die Kovsie-kampus plaasgevind. 

Altesaam twaalf spanne van ses universiteite het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem, en dit is die agtste keer dat die kompetisie deur die ATKV aangebied is.

Elke deelnemende universiteit word deur twee debatspanne verteenwoordig. Die kampuswenner word aangewys op grond van die groottotaal punte wat die twee spanne tydens die kompetisie verower. 

Volgens Jaco van der Walt, bestuurder van ATKV-Jeugprojekte, help slyp hierdie kompetisie aan broodnodige vaardighede van jong Suid-Afrikaners. “Dit bevorder ook goeie taalgebruik en selfvertroue onder deelnemers. Behalwe dat deelnemers leer om goeie navorsing te doen, leer dit hulle ook dink oor belangrike  kwessies, en moedig die projek hulle aan om deel te neem aan die soeke na oplossings vir hierdie kwessies.” Paul Maritz van Noordwes-Universiteit is aangewys as Beste Taalgebruiker en het ‘n kontantbedrag van R800 ontvang.

Die hoofbeoordelaar, dr Pieter Möller, het tydens sy repliek melding gemaak van die gehalte van die projek, en spesiale melding gemaak van die Universiteit van Wes-Kaapland wat vanjaar ‘n debat tydens die uitdunrondtes gewen het.

Algehele wenners van ATKV-Universiteitsdebatsfinaal: Noordwes-Universiteit
Van links na regs: Martin Hattingh, Gerrie Lemmer (Senior bestuurder: ATVK-projekte), Christo Slabbert, Paul Maritz en Lizeri Mitchell

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top