‘n Regter wat ons gerus kan onthou

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

Somerset East Gill College Boarding House (bron: Bid or buy)

Reinhold Gregorowski is op 11 April 1856 te Somerset-Oos as die oudste seun van 'n Berlynse sendeling gebore.1 Die jong Gregorowski het aan die bekende Gill College in Somerset-Oos gematrikuleer, waarna hy in die regte gaan studeer het – eers in Kaapstad en daarna in Engeland.

Hy het as advokaat in Kaapstad begin praktiseer en in 1881 het hy op 24-jarige leeftyd – kan jy dit glo? – regter in die Oranje-Vrystaat geword. Hy verhuis later na Transvaal, waar hy in 1896 as spesiale (40-jarige) strafregter die opsienbarende verhoor behartig van Lionel Phillips en 63 ander: almal lede van die sogenaamde Reform Committee van Johannesburg wat ná die mislukking van die Jameson-inval in hegtenis geneem is. Phillips en drie van sy makkers is deur regter Gregorowski aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die ander beskuldigdes het almal met boetes daarvan afgekom. Die ter dood veroordeeldes is 'n paar dae later deur president Kruger begenadig.

Dié verhoor het regter Gregorowski se loopbaan ongetwyfeld geknou. Hy is daarvan beskuldig dat hy reeds voor sy aanstelling as spesiale strafregter sy tande vir die beskuldigdes geslyp het en die voorneme uitgespreek het om hulle die doodstraf op te lê. Een van die voorste kritici was sir Percy Fitzpatrick, die bekende skrywer van Jock of the Bushveld. Regter Gregorowski het sy kant in 'n uitvoerige artikel in die Cape Law Journal gestel en tot die ongewone stap oorgegaan om te onthul dat hy die saak meermale met die hoofregter van die ZAR, regter JG Kotzé, bespreek het en dat hý met die uitspraak saamgestem het. Met regter Kotzé se uittrede ná die regterlike krisis van 1898 het Gregorowski hom as hoofregter van die ZAR opgevolg.

Ná Uniewording het regter Gregorowski diens gedoen as regter van die destydse Transvaalse provinsiale afdeling van die hooggeregshof. In dié hoedanigheid is hy aangestel as voorsitter van 'n kommissie wat ondersoek moes instel na die oorsaak van die dood van generaal Koos de la Rey op 15 September 1914 in Johannesburg. Jy sal onthou dat die polisie op soek was na die berugte Foster-bende. Onbewus dáárvan het generaals De la Rey en Beyers by 'n padblokkade in Langlaagte verbygery sonder om stil te hou. Skote is gevuur en generaal De la Rey is noodlottig in die rug getref. (Terloops, ek lees nou die dag in Fred Schnetler se wonderlike boek A century of cars2 dat genl De la Rey in ‘n Daimler-motor gery het toe hy geskiet is. Dié voorval het aan Daimler nogal ‘n slegte naam in Suid-Afrika gegee. Vreemd hoe mense se koppe werk.)

Maar terug na regter Gregorowski. Hy was 'n juris met besonderse gawes en sy uitsprake spreek van selfstandigheid en 'n diepe insig. Hy het 'n belangrike bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaanse regsbank se tradisie van onafhanklikheid en onkreukbaarheid. Vreemd genoeg het hy baie konserwatiewe idees gehad oor die regte en posisie van die vrou in die samelewing. Hy was veral daarteen gekant dat 'n vrou op enige wyse in die boedel van haar man moes deel.

Die bronne sê nie of hy en sy Skotse vroutjie, Mary Brown, gelukkig getroud was nie, maar feit is dat sy vir hom vyf kinders in die lewe gebring het. Een van sy seuns het in die Johannesburgse onluste van 1922 die lewe gelaat. Later dieselfde jaar – op 19 November 1922 – het die regter self in die tuig gesterf na 'n beroerte-aanval op die Pretoriase stasie toe hy onderweg was van sy plaas Skurweberg na Johannesburg.

1 Lees meer oor sy lewe in DW Krüger (red): Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (Deel 2), RGN, Pretoria (1986), bl 280.

2 Tafelberg Uitgewers, Kaapstad (1997).

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top