’n Mens onthou maar ... By die heengaan van Hennie Aucamp

  • 0

“Ons woorde skiet maar ammelee te kort.” (Boerneef)

Dis die jaar 1967. Hennie Aucamp se bundel kortverhale Spitsuur verskyn by John Malherbe. Ek is ’n eerstejaar op Stellenbosch. Die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens in Kaapstad sal jaarliks studieverlof toestaan, en dan werk ek gedurende die universiteitsvakansies weer in hulle Afrikaanse Boekekeuring-afdeling. Dit is waar ek dié bundel gelees het.

Die volgende jaar neem ek en so twee mede-BA’s deel aan die “verwelkoming” van 1968 se eerstejaars in Helderberg-koshuis – op ’n intellektuele vlak. ’n Regstudent word op ’n Saterdagoggend te woord gestaan by ’n restauranttafel. Die sjibbolet tot ons “kring” is: “Ja, ek het Hennie Aucamp se Spitsuur gelees. ’n Goeie storie daai van ‘Tennis om drie’.”

Daarmee sein hy oor hy hou van gewaagde letterkunde. Dat hy ook op hoërskool belewenisse in ’n buitekleinhuisie had, dat hy ook weet van ’n Nonnie se sinnelikheid, “want sy het net sulke tolle, en sy wys hulle, hoor!”. Meer nog: Was hy nie dalk ook ontvanklik vir die “sensibiliteite” van gay wees nie? Dit het tog vir mý deurgeskemer. (Vir “sensibiliteit”: sien Aucamp se inleiding tot sy bloemlesing van “homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns”, Wisselstroom, 1990.) Kosie en Anries, wat ongelukkig nie genoeg eroties bevredig is deur net vir die tennisspelende Nonnie dop te hou nie, gaan rook en swem saam kaal. Hulle is bang vir die oomblik wanneer die water aan hulle “mikke gaan raak”. Hulle voel hoe “wellustig die water oor (hul) skuif”. Die water is “bruin en lieflik om (Kosie se) dye”. Die seuns se ervarings saam was iets begeerliks vir my.

Hennie sou heel dikwels stem gee aan gays, maar het nooit ’n bundel met net gayverhale gepubliseer nie. In sy Wisselstroom-inleiding bespreek hy dié etikettering, wat sekere skrywers, en dan ook hy, nie goed gevind het nie.

Ek word redakteur: fiksie by Tafelberg-uitgewers in Julie 1972. Hennie se redakteur is mede-Sestigerskrywer Berta Smit. Hoofbestuurder JD Pretorius was trots op hierdie jong skrywer wat hy gewerf gekry het. Ek beleef Hennie skrams, want ons juniors is nié na alle uitgewersfunksies genooi nie.

In 1973 gee ons sy Wolwedans: ’n soort revue uit. Vooraf is daar vrese dat die Sensuurraad dit kan verbied. Juffrou Berta beïndruk my: daar hoog bo in Kloofstraat in haar woonstel in die Van Riebeeck-blok waar Hennie ook effens later sou woon, staan sy die oggend halfvyf op en skryf ’n verdediging van die boek sodat oom JD dit kan gebruik. Gelukkig was daar nie ’n hofsaak nie.

Daar’s die kere dat Hennie Aucamp haar gas was by die Pickwick Tavern. Berta gesels en gesels en eet byna nie. Hennie eet vreeslik vinnig. Sy bord is weldra leeg. Dan val hy Berta in die rede. “Berta, gaan jy nog eet?”

“Uh ... nee ...”

Dan wys Hennie vir die kelner om die borde om te ruil. Dit het ’n instelling geword. Die kelner hou hulle dop en doen die nodige diskreet.

Hennie se volgende redakteur was Charles Fryer. Charles stel ook ’n suksesvolle bloemlesing uit sy werk saam: Brandglas (1987).

In 1975 is ek medestigter van die Akademiespelers, ’n toneelgroep vir die destydse huidige en oudstudente van die Akademie vir Dramakuns in Kaapstad. In hierdie jare lê Hennie hom baie toe op teaterwerk. Daar is die stimulasie van die ATKV se toneelfeeste vir volwasse amateurs en ook tieners. Nog later volg hulle Kampustoneel. Hennie noem dit in Oor en weer (2010) – “’n goue era in die Afrikaanse toneelwêreld”. Die Drama-departement van die Universiteit Stellenbosch met Herman Pretorius as hoof toets die werke uit, veral ook sy kabarette. Nog vroeër het Rina Botha ook baie bygedra om sy werk verhoog toe te bring. Onder haar leiding lewer Annelize van der Ryst (vandag 7de Laan se Matrone) ’n onvergeetlike vertolking as student van sy Die Hartseerwals. Sy sit daar so ingedoke op die voorportaaltrappe van die HB Thom-teater en ráák jou emosies.

Ons Akademiespelers pak onder regie van Pieter Grobbelaar Hennie se Papawerwyn: ’n Maaltyd in drie tonele aan in 1980 met Tilla Diedericks in die hoofrol. Die geselskap verower ’n eerste prys in die landswye ATKV-toneelwedstryd in Bloemfontein. Van 14 September tot 13 Oktober 1984 word Liefde onder lede uitgetoets in die Kamer-teater. Die spelers: Maggi Atkinson, Annamaria Blanckenberg, Johann Crous, Marie de Kock, John Kiley, Niel le Roux (van latere Suidoosterfees-faam) en Laureen Rossouw. Toonsettings en sang deur Lieze Stassen (tans Koen). Regie: Elza Esterhuizen.

Dit was in die tyd toe Charles nog sy redakteur was dat ek op ’n laatmiddag droef te moede afstap na die Kunstekaap, toe nog die Nico Malan. Seker meer as ’n uur te vroeg vir ’n vertoning. Die suidoostewind tier om my in oerewoede. Ek steier die buitetrap op. Terselfdertyd is Hennie op die boonste vlak op pad na ’n restaurant. Hy herken my sowaar en nooi my saam. Daardie middag begin die spreekwoordelike gesprek wat oor jare sou voortduur. Natuurlik nie altyd so vriendelik nie; kyk maar in my dagboeke en in korrespondensie- en knipselleggers vir ons botsings. Maar altyd was ons vredemakers.

Ek was bevoorreg om eers ’n tyd lank vir hom waar te neem as paneellid vir die Fleur du Cap-toneelpryse en hom later op te volg. Wonderlike jare van gereelde teaterbesoek en dan die kreatiwiteit van die beoordelings saam met geesgenote.

Daar was ook ons telefoongesprekke wat begin met sy dankbaarheid om ’n geliefde stem te hoor. Ek toon soms ’n sindroom wat kom uit die openingsverhaal “Die 1948-Buick-convertible” in Wat bly oor van soene? van 1986. (As boekesteet was hy tog oneindig gegrief oor die pienk plastiekhartjie op dié boek se omslag. Die uitgewersmagte wou nie sy voorgestelde “hoer op ’n paal” gebruik nie.) Daar was ’n “heftige, melodramatiese afsluiting van ’n derderangse strookprent” rondom tant Daisy en ’n veelwywer met sy liedespeletjie op ’n balkon en vir die seun-verteller “baie, baie opwindend”. Hy hardloop oor na mense om nuus te versprei. “Die gedagte aan die sensasie” wat hy gaan veroorsaak, “skraag hom op die smal paadjie deur die rogland.” Soms móés ek net vir Hennie bel!

Hy het my gehelp met die uitspraak van woorde in radio-onderhoude. Ek het talle boeke en die video’s geërf. Die poskaarte word bewaar. Ry ons saam teater toe, kom die opvoedkundige aan die gang, vertel hy jou so veel oor die stuk wat vir ons voorlê.

Sy belangstelling in my gesondheid was nooit so duidelik as toe ek in die winter van 2011 hartomleidings in die Christiaan Barnard ontvang en hy my besoek toe ek darem weer “die son aanskou” het soos Audrey Blignault nie. ’n Verpleegster het daarna gevra wie die “outjie met die oulike petjie” op is. Sy raak toe skoon opgewonde, want sy’t sy stories gelees! Twee dae later laat weet die outjie hy’t griep en kan nie weer afkom nie. Jammer, want intussen het ek uitgevind die hoogsbejaarde dowe Joodse dokter wat intussen opgeneem is, en sy wakende eggenoot, is volgens haar karakters in ’n vroeë kortverhaal van Hennie. Hulle was ook saam op reis deur China en hy vertél van hulle in In lande ver vandaan (2001).

Toe ek Gay@LitNet behartig het, het hy talle hoogstaande artikels gelewer en dadelik standaarde verhoog. Ek was bevoorreg om as vryskut Protea Boekhuis te help met die uitgee van Lendetaal,waarin heelwat van die tekste opgeneem is.

Terug by die jare tagtig. Dit is in hierdie tye dat ek gaandeweg Hennie se redakteur word. Ek bloemlees van sy dramatiese werk in Hoorspelkeur (1983) en Rostrum (1984); redigeer Papawerwyn en ander verbeeldings vir die verhoog (1980). Nog later sy manjifieke prosabloemlesings, soos Wys my waar is Timboektoe: ’n Persoonlike reis deur Afrika (1997) en Borde borde boordevol (1998). Maar ook kon ek werk met kortkunsbundels soos Dalk gaan niks verlore nie (1992 – die eerste keer dat ek ’n klapteks mag onderteken – ’n eer in die uitgewersbedryf), Gewis is alles net ’n grap (1994), twee dagboeke, Gekaapte tyd (1996) en Allersiele (1997), Ook skaduwees laat spore (2000) en twee herinneringsbundels, Bly te kenne (2001) en In die vroegte (2003).

In Januarie, met Hennie se tagtigste verjaardag, kon ons hom loof vir sy uitgebreide, geskakeerde en voortreflike oeuvre, getuig hoe hy ons geïnspireer het, mentor was op verskeie lewensterreine.

Het dit nou aan ’n einde gekom?

In ander vorme sal dit voortbestaan. Vir my in sy boeke, in my argief en dan veral in my geheue.

Dit blyk nou dat hy hom “liewer klaar(ge)maak (het) vir sterwe” (NP Van Wyk Louw). Hy was haastig dat sy brieweboek, Mits dese wil ek vir jou sê, verlede jaar al verskyn by Hemel en See. Toe reeds het twee ander groot erudiete boeke by Protea Boekhuis verskyn: Lendetaal: homoërotiek in die kunste en letterkunde (2011) en Koffer in Berlyn (kabaret) (2013), asook ander publikasies. Seker so drie weke gelede was hy in groot afwagting om sy bundel kwatryne, Skulp, van sy redakteur by Protea, Martjie Bosman, te ontvang. Ek vertel hom dat ek “met boek” is, dat dit moontlik in Augustus sal verskyn. Toe sê hy iets wat helaas waar geword het: “Ek sal dan nie meer hier wees nie.”

Ek het tot 2006 nie te ver van Hennie gewoon nie. Ek was verruk om Hennie se gedig oor ons omgewing te lees: “Winterdag” in Vlamsalmander (2008):

Die witgoud van ’n winterdag
– uiteindelik is daar son –
word voor jou oë omgesmee
tot iets van ongemene prag.

’n Kaapse stuk, bokaal of kom,
met eie binnegloed –
maar nee, laat ons regverdig wees,
tóg deur die son gevoed.

Teen vieruur word getjaila,
’n gilde het sy eise
en in die stadskom vul die skadu’s
die strate gragsgewyse.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top