"’n Ideale gemenebes in Afrika-omstandighede": Die Vrystaatse Republiek 1854-1900

  • 1

“’n Ideale gemenebes in Afrika-omstandighede”: Die Vrystaatse Republiek 1854-19001

Inleiding

Sedert die begin van die 1990’s word die politieke gesprek in Suid-Afrika selde met verwysing na die verlede gevoer. Dit is asof die uitdaging om sowel swart as wit doeltreffend in ’n funksionerende demokratiese stelsel in te bind soradikaal verskil van wat politici voor 1990 probeer doen het dat die geskiedenis gerieflik geïgnoreer kan word.So ’n siening is kortsigtig. Die republieke wat die Voortrekkers gedurende die 1850’s gestig het, het voor dieselfde probleme as vandag gestaan: ’n gebrek aan inkomstebronne, weiering van burgers om hul verpligtinge na te kom, en die aandrang dat die wil van die meerderheid (of van die “volk”) alle ander aansprake moet kan troef. Die republieke was lank sukkelende state en die Zuid-Afrikaansche Republiek was minstens drie dekades lank op die randjie daarvan om ’n mislukte staat te word.

Dit was veral die geval met die Republiek van die Oranje-Vrystaat, wat in 1897 deur James Bryce, een van die groot grondwetkenners van sy tyd, bestempel is as “’n ideale gemenebes in Afrika-omstandighede”. ’n Honderd jaar voor die grondwetskrywers by Kempton Park die gedagte van ’n soewereine grondwet omhels het, het die Vrystaatse leiers reeds die gevaar van ’n almagtige volksraad besef.

Die grondwette en hul argitekte

Indie vroeë 1850’s het twee republieke in die gebied noord van die Oranjerivier tot stand gekom. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) is in 1852 noord van die Vaalrivier uitgeroep en die Republiek van die Oranje-Vrystaat in 1854 in die gebied tussen die Vaal en die Oranje.

Die skrywers van die grondwette was immigrante. In die ZAR se grondwet was die wetgewende gesag soewerein. Die leer van parlementêre soewereiniteit is tot die uiterste gedryf. In 1859 het die Volksraad besluit dat elke hof “Volksraadbesluiten als Wet” moes eerbiedig. Dit beteken dus dat nie net behoorlik aangenome wette nie, maar selfs ook gewone Volksraadbesluite regskrag gehad heten dat die howe nie hiermee kon inmeng nie. Geen wonder nie dat die Transvaalse Volksraad gedurende die 1890’s so onwillig was om die stemreg tot “vreemdelinge” uit te brei.

In die geval van die Vrystaat was dit JG Groenendaal, ’n Hollander, en JM Orpen, ’n Ier, wat die grondwet opgestel het. Hulle hetruim gebruik gemaak van die Amerikaanse grondwet, waarvan hulle ’n kopie by hulle gehad het. Sekere seksies is woord vir woordoorgeneem.

Volgens die Vrystaatse grondwet was die Volksraadslegs die hoogste wetgewende gesag, nie die hoogste gesag sonder meer nie. Die uitvoerende en regterlike gesag het, net soos die wetgewende gesag, hul bevoegdhede van die grondwet ontvang, wat soewerein was. In 1885 het die hooggeregshof die reg gekry om die geldigheid van die wette aan die grondwet te toets.

Die Vrystaatse grondwet maak voorsieningvir ’n akte van menseregte wat uniek vir sy tyd was. Die reg van vrye vergadering en die rig van ’n petisie aan die Volksraad is gewaarborg. Die wet was vir almal gelyk (sonder verwysing na ras of kleur). Binne perke van die wet was eiendomsreg, persoonlike vryheid en persvryheid gewaarborg.2 Vir die Volksraad is in elke veldkornetskap en elke dorp ’n verteenwoordiger gekies deur die burgers, wat almal blankes was.

Leonard Thompson, een van die voorste liberale historici van die 20ste eeu,oordeel so oor die Vrystaatse Grondwet:

[The] Afrikaners of the Orange Free State Republic developed a sound tradition of respectfor “government according to rule as opposed to arbitrary government and for government limited by the terms of the Constitution, not government limited only by the desires and caprices of those who exercise power, in a word for Constitutionalism”.3

Thompson skryf verder: die grondwet was onbuigsaam, die regterlike gesagonafhanklik en vry en die wetgewende gesag daarop ingestel dat hy nie sy magte oorskry nie. Soos die historikus opmerk: “an admirable tradition in all these respects”.4

Dit was nog nie ’n moderne, liberale grondwetlike bestel nie. Daar was nog nie ’n partystelsel nie en inwoners wat nie wit was nie, het nie stemreg gehad nie. Maar, soos Thompson tereg opmerk, as dit nie was dat die OVS teen die einde van die eeu in die geskil tussen die Transvaal en die Britse Ryk ingesleep is nie, kon die OVS moontlik die rasse-uitsluiting geleidelik opgehef het. CH Wessels, ’n voormalige voorsitter van die Vrystaatse Volksraad, het in sy getuienis voor die SA Native Affairs Commission, wat tussen 1903 en 1905 gesit het, aanbeveel dat intelligente bruin mense die stemreg moet kry, en so ook swart mense as hulle grondbesitters was.5

’n Heeltemal ander grondwetlike tradisie het in die Transvaal ontwikkel. Die konsepgrondwet is opgestel deur ’n Hollander, Jacobus Staurt, wat nie so goed ingelig was soos Groenendaal in die geval van die Vrystaatse grondwet nie. Gevolglik was daar nie in die ZAR die ontwikkeling van konstitusionalisme soos wat die geval in die Vrystaat was nie. Die grondwet is dikwels verontagsaam, die regterlike gesag was ondergeskik aan die uitvoerende gesag en die wetgewende gesag het hulle die mag toegeëien om oor enige saak wette te maak. Veranderinge in die grondwet is met ’n eenvoudige regering aangeneem.6

Die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika, wat in 1910 aangeneem is, was geskoei op die Britse Westminster-stelsel, waarin die parlement soewerein is, met ’n uitgangspunt van“die wenner vat alles” (totdat hy die mag verloor).

Gedurende die 1930’s, 1940’s en 1950’s het Afrikaner-nasionaliste hulle dit ten doel gestel om alle persone wat nie wit was nie, van die kieserslys te verwyder. Op hierdie manier wou hulle verseker dat hulle aan die mag kom en die mag behou. Gedurende die 1950’s, met die Nasionale Party (NP) aan bewind, het hulle, in stryd met die grondwet, met ’n gewone meerderheid hierdie mense van die kieserslys verwyder. In wat een van die mees laakbare stappe van die NP-bewind was, het die regering die Senaat uitgebrei en die regbank gelaai ten einde die maatreëls deur die parlement te voer. Dit alles is gedoen in die naam van die soewereiniteit van die parlement.

Terwyl die Afrikaner-nasionaliste in die middeldekades van die 20ste eeu aan die opkom was, het die Transvaalse grondwetlike tradisie al meer op die voorgrond in Afrikaanse akademiese geskrifte gekom, terwyl dietradisie van die Vrystaat in die vergetelheid geraak het.EFW Gey van Pitius se werk Staatsopvattings van die Voortrekkers en die Boere, wat in die vroeë 1940’s verskyn het, bevat byvoorbeeld feitlik geen melding van die Vrystaat nie.7

Sukkelende nuwe demokrasie

Die republieke se sukkelende ekonomieë kon lank nie die burgers saamweef in ’n hegte gemeenskap of’n grondslag vorm vir ’n doeltreffende staatnie. Die koloniale hawens was ver weg en nie een van die twee republieke het uitvoerprodukte gehad nie.Daarsonder was die harde munt gou uitgeput. Die twee republieke en hul burgers het swaar in die skuld gekom by vreemde handelaars en banke.

Vir die burgers was dit moeilik om, met die markte so ver verwyder, iets anders as ’n bestaansboerdery op die been te bring. As bestaansboere was hulle onwillig om belastings te betaal, omdat die staat so min dienste verskaf het.Baie het geweier om te gaan wanneer hulle vir kommandodiens opgeroep is. Markte, dorpe en ’n gemeenskapsbesefhet bitter stadig ontwikkel.

In 1851 het die Transvaalse Volksraad, wat voor die republiek se stigting bestaan het, dit tot die gelykheid van elke burger verbind: “Elk is vrij, ons wij ontzien ons niet voor elkander rijk of arm, alles is elkander als mensch gelijk.” ’n Soortgelyke politieke uitkyk was ook in die Vrystaat by baie burgers aanwesig. Maar afgesien van hierdie gelykheidstrewe en die gedeelde ervaring van die Groot Trek het die meeste burgers eerder geweet wie hulle nié was nie – hulle was nié Britse onderdane nie – as wat hulle geweet het wie hulle wél was.

Ons tref verskillende identifikasies aan in die voorleggings wat die verskillende wyke in die OVS opgestuur het na die komitee wat in die vroeë 1850’s ’n grondwet aan die opstel was. Afrikaner is slegs een van verskeie terme. Een dokument verklaar: “Ons noem alle mense Afrikaners nie wanneer hulle slegs in hierdie land gebore is nie, maar hulle moet ook ons geloof deel.” In briewe in dieselfde argiefbron verskyn ook ander vorme van identifikasie: Hollandse Afrikaners (een keer), Hollandse Boere (een keer), Emigrante (twee keer), Boere (agt keer) en Boers (drie keer).

In ’n belangrike mate was die verbintenis tot algehele gelykheid onder die burgers ’n struikelblok in die pogings wat na 1854 aangewend isom ’n stabiele republiek op te bou. Albei republieke se enigste belangrike hulpbron, naamlik grond, is verkwis deur dit gratis aan die burgers uit te deel.In die OVS was elke trekker tot 1866 geregtig op twee plase en in die ZAR was ’n soortgelyke beleid in swang.In 1871 het die ZAR-regering tydelik die uitgifte van grond gestaak in ’n poging om tot ’n meer sistematiese vorm van vestiging oor te gaan.

Maar dit was te laat. In albei republieke het spekulasie in grond handuit geruk. Op baie plase het daar heeltemal te veel mense saamgekoek, terwyl groot gebiede onbewoon was. Maatskappye het ongeveer die helfte van die grond in die Transvaal besit, maar op die meeste van die plase het daar geen blankes gewoon nie. Tot die middel van die 1880’s was daar nie meer as een blanke per vierkante myl in die Transvaal nie. Teen die einde van die eeu was die helfte van die burgerbevolking sonder grond.

Die kerk het nie oral mense in die gemeenskap ingebind nie. In die Transvaal het die drie gereformeerde kerke mekaar met agterdog bejeën.Politieke twiste en skeurings het die republiek tot die vroeë jare tagtig amper lamgelê. Ook in die OVS was dit ’n buitengewoon moeilike taak om die staat op te bou. In 1866 het die Bloemfonteinse tydskrif De Tijd vertel hoe swak die jong staat was: “Ons het eenvoudige mense in ’n uitgestrekte, oop land omring van alle oorde deur vyande, sonder regters, sonder soldate, sonder geld, verdeel deur onkunde, uitgesuig deur geldskieters en bespot en geminag deur ’n kolonie langsaan.”

’n Demokrasie en eiesoortige soewereiniteit

In die eerste 12 jaar van die Republiek van die OVS het alle blanke mans bo die ouderdom van 16 jaar burgerskap en kiesreg gehad.In 1866 is die grense nouer getrek. Kiesreg is toegestaan aan alle blanke meerderjarige burgersen aan vreemdelinge wat burgerskap verwerf het en eiendom ter waarde van £150 besit het (of jaarlikse inkomste van minstens £200).Die burgers het ’n president vir vyf jaar gekies wat die uitvoerende gesag behartig het.

Kiesreg in die Transvaal is eers in 1877 in ’n wet omskryf. Alle meerderjarige blanke burgers het volgens die grondwet kiesreg besit en volgens die 1877-wet kon vreemdelinge burgerskap, en saam daarmee kiesreg, verwerf nadat hulle ’n jaar in die republiek woonagtig was en vaste eiendom besit het.In 1882 is die tydperk vir vreemdelinge tot vyf jaar opgeskuif en in 1890 tot 14 jaar.

Die stelsel van plaaslike regering was deels gebaseer op die stelsel wat voor 1828 in die Kaapkolonie gevestig was.In die OVS het die Volksraad ’n landdros en ses heemrade vir elke distrik benoem en hulle is deur die president aangestel. In elke distrikswyk het die burgers ’n veldkornet gekies en in elke distrik het hulle ’n veldkommandant gekies.

Die staat se masjinerie om belastings van sy burgers te in, was heeltemal ontoereikend.Die kommando het die vernaamste instrument gebly waardeur polisie- en militêre funksies uitgeoefen is. In albei republieke was die leër en polisiemag baie klein en ondoeltreffend. Die twee republieke het swartes uitgesluit van die staat en die kerk, maar nie van die kommando nie. Die swartes was egter selde gewapen en het as agterryers opgetree.

Die veldkornette en veldkommandante was die vernaamste bronne van regeringsgesag in die eerste dekades van die republieke se bestaan. Dit is eers in die laaste twee dekades van die eeu dat die landdros, as die verteenwoordiger van die sentrale regering, meer gesag begin uitoefen het. Die veldkornette en veldkommandante is hoofsaaklik uit die geledere van die groot grondbesitters gekies.Sommige landdroste het gefrustreerd uitgeroep dat hulle soos “keisers van die staat” optree.

Gedurende die eerste twee dekades het plaaslike “sterk manne” en veldkornette of kommandante swartes vir arbeid opgekommandeer.Belastings wat van swartes gevorder is, het dikwels in hierdie persone se sakke gebly. Die ryker boere was sterk genoeg om die wette te ignoreer wat die getal swart families op ’n blanke plaas beperk het ten einde ’n beter verspreiding van swart arbeiders te bewerkstellig.

Daar is aanduidings van ’n klassekonflik in die blanke gemeenskap. Baie van die groot boere het hulle bywoners of ander armblankes gestuur om in hul plek in die kommando te dien.’n Korrespondent van ’n Vrystaatse koerant het reguit verklaar dat dit hoofsaaklik die arm burgers en hul kinders was wat tussen 1866 en 1868 vir die Vrystaatse teen die Sotho’s geveg het. Die armer burgers was beter verteenwoordig in die Volksraad as in hul onderskeie distrikte. Indien daar nie ’n konflik met Engeland in 1899 uitgebreek het nie, sou daar veral in die Transvaal moontlik later ’n toenemende klassebotsing tussendie armer en ryker burgers, elkeen met hul eie leiers, gewoed het.

“Swart ivoor” en swart “inboekelinge”

In 1852 het ’n trekker, Coenraad Scheepers, namens ’n groot meerderheid gepraat toe hy gesê het: “[Blankes] en swartes kan nie saamleef nie behalwe waar die swart man in ’n staat van onderwerping teenoor die blanke is.” Swartes het die blankes ver oortref in getalle.’n Faktor wat in die blankes se guns gewerk het, was die feit dat alliansies van swart stamme teen die blankes nie voorgekom het nie.Soos die burgers aan die Kaapse Oosgrens het die Vrystaatse en Transvaalse burgers onder die swart stamme krygsmanne vir die kommando’s gewerf.

In die Soutpansberg-gebied het kommando’s swart kinders en vroue ontvoer en die kinders ingeboek. In sommige gevalle is die kinders aan ander burgers verkoop. Dit was die handel in wat genoem is“swart ivoor”, wat gevolg het nadat die handel in wit ivoor saam met die olifante uitgewis is.

In die vroeë jare van die ZAR het ampsdraers aan hierdie praktyk meegedoen of hul oë daarvoor gesluit. ’n Veldkornet het waarnemende president Marthinus Wessel Pretorius, wat op die punt gestaan het om die noorde te besoek, gevra om te onthou dat hy swart arbeiders nodig het. “As jy ’n klein meisie vir my vrou kan kry sal ek baie dankbaar wees, maar jy moet nie meer as ses of sewe pond betaal nie, want hulle is nie meer werd as ’n hand vol vlieë nie.”

JN Boshoff, wat van 1855 tot 1859 president was, het die OVS-Volksraad meegedeel dat dit goed bekend is dat sekere boere ingeboekte kinders van ZAR-burgers gekoop het.Party burgers het hierdie bedenklike praktyk nie probeer wegsteek nie en dit ook nie as ’n misdaad beskou nie.

Die handel het om verstaanbare redes die betrekkinge tussen wit en swart baie vertroebel.Nadat ’n Vrystaatse kommando in 1858 altesaam 115 swart kinders ontvoer het, het ’n kaptein, Mahura, aan pres Boshoff geskryf dat indien hierdie kinders nie teruggegee word nie, daar geen vooruitsig vir vrede was nie.Hy het bygevoeg dat Boshoff “sekerlik bekend moet wees met die tere gevoelens van ’n ouer teenoor sy kinders”.

Binne die blanke gemeenskap het hierdie praktyke al meer spanning gewek. In 1865 was ds Charles Murray, ’n NGK-amptenaar belas met die toesig oor sendingstasies, woedend toe hy ’n handelaar in kinders langs die pad ontmoet. Hy het aan hom gesê dat hierdie praktyk een van die redes was waarom die Here Sy seën van die land onttrek het. Die handelaar, Gert Duvenhage, het geantwoord dat die praktyk nie met slawerny verwar moes word nie, aangesien “dit deur ’n sertifikaat vir die inboekelinge gesanksioneer is”.

In 1869 het die sinode van NGK in die Transvaal die situasie as so ernstig beskou dat dit besluit het om sensuur toe te pas op alle lidmate wat daaraan skuldig bevind is dat hulle swart kinders gekoop of verkoop of uitgeruil het in stryd met die wette van die staat. Twee jaar later het dit besluit om hierdie resolusie terug te trek op grond daarvan dat die euwel nie langer bestaan nie. Dit is onduidelik hoe die sinode binne die bestek van twee jare sulke botsende besluite kon neem. Baie inboekelinge het weggehardloop, maar genoeg het op die plase aangebly om ’n kenmerkende groep in die Transvaalse arbeidsmag te word.

Die stryd om gesag te vestig

Pres Boshoff kan as die grondlegger van die administratiewe stelsel en van die konsolidasie van die republiek se onafhanklikheid beskou word. Hy was vasbeslote dat die republiek nie deur die Transvaal of die Kaapkolonie ingesluk word nie. Hy kon egter nie die Vrystaat se wil op die Sotho’s onder Mosjwesjwe afdruk nie. In die 1854-presidentsverkiesing in die OVS is daar slegs 1 265 stemme uitgebring, wat ’n aanduiding van die klein getal burgers in die 1850’s is.8

Die Sotho-opperhoof was ’n uitstekende strateeg met ’n mag van ongeveer 10 000 man tot sy beskikking wat hul grond en koninkryk vasberade verdedig het. In die 1860’s het die balans egter verskuif. Mosjwesjwe was nou oud en nie meer in staat om die spanning tussen sy mense en die boere te besweer nie.Daar was ’n sterk toename van blankes in die OVS en pres Brand het daarin begin slaag om hulle as ’n politieke gemeenskap te verenig.

Nadat oorlog in 1865 uitgebreek het, is vrede gesluit waarin ’n groot deel van Sotho- grond in blanke hande geval het. Gevegte het weer uitgebreek, maar net voor die Sotho’s finaal in 1868 oorwin is, het Brittanje ’n protektoraat gevestig in wat toe slegs ’n bergkoninkryk was.Gedurende die 1870’s en 1880’s het die Sotho’s sterk druk ondervind van boere wat grond, vee en arbeiders wou hê.’n Kaptein het later verklaar: “Die boere het ons baie sleg behandel. Hulle het baie van my mense doodgemaak en ander aangerand, insluitende ek self.” Baie Sotho’s het weggetrek van die trekkers; sommige het selfs oor die berge tot in Natal getrek.

In die ZAR het die trekkers gesukkel om die veel talryker swart bevolking te beheer. Hulle het gedurig ammunisie gekort, terwyl baie swartes gewere en ammunisie in die vroeë 1870’s in Kimberley bekom het. Veral in die noordelike deel van die ZAR was blanke beheer oor die swartes uiters wankelrig.

Geskille tussen die verskillende trekkerfaksies het gedreig om die staat lam te lê.In die noorde het die blanke-vestiging gedreig om in duie te stort. In die oostelike deel van die ZAR was die trekkers gewikkel in ’n verbete geveg teen Mabhogo. In hierdie tyd het ’n burger hiervandaan aan die president geskryf dat as gevolg van die mislukking om beheer oor die swartes te vestig, “die naam van die Afrikaner nasie verlore gegaan [het] en saam daarmee die vrees wat dit by die naturelle ingeboesem het”.

Die gewone manier waarop die kommandant-generaal en die plaaslike kommandante mense vir ’n kommando gekry het, was deur die belofte van plase en ’n deel van die vee wat van die swart vyand gebuit was. Maar in die noorde was die toestande so onseker dat mense nie daar plase wou hê nie. Terselfdertyd was van die swart stamme so gedug dat daar nie juis die vooruitsig op veel buit was nie. Op ’n keer toe Kruger ’n kommando uitgeroep het, het net die helfte van die burgers opgedaag, en die kommando wou terugkeer huis toe die oomblik toe dit swart verset teëgekom het.

Die burgers het Kruger en ander gesagdraers geblameer. Moedeloos het Kruger by die staat gepleit om ongehoorsame burgers te straf en die kerk gemaan om hulle onder sensuur te plaas. “Indien die wet nie afgedwing word nie voorsien ek die algemene ondergang van die kerk en staat.”

Die opkoms van ’n “model”-republiek in die OVS

Teen die einde van die 1860’s het Brittanje weer begin inmeng in die Hoëveld.In 1868 het dit op versoek van die Sotho-opperhoof sy land geannekseer net voor die Vrystaat dit kon verower. In 1871 het dit die ryk diamantvelde geannekseer. Nadat diamante ontdek is, het ’n Britse arbiter die aansprake van die Griekwas en die Tlhapings bo dié van die republiek van die OVS en ZAR aanvaar. Die OVS het die manier waarop die Britte die diamantvelde gegryp het, as ’n groot onreg beskou. Die diamantvelde het nietemin ook groot voordele ingehou.In Kimberley net anderkant die grenshet ’n groot mark ontstaan, wat ’n inspuiting vir die ekonomie was.

Jan Brand, die president van 1864 tot 1888, het die kwessie met diplomasie gehanteer. Hy het daarin geslaag om Brittanje te oorreed om £90 000 as vergoeding aan die republiek betaal. Hy het die vergoeding vir die diamantveldegoed bestee deur ’n staatsbank op te rig, wat die republiek se finansiële outonomie versterk het. Hy het klem gelê op ’n sterk regstelsel ten einde handel en beleggings aan te trek. Hy het ook korrupsie uitgewis. Tot die laat jare sewentig was daar nog geen hoofweë of ’n brug oor die Oranjerivier nie. Wol is uitgevoer, maar die omvang daarvan was maar klein. Koring moes in Basotholand aangekoop word.

Brand het aan die republiek groter samehorigheid en selfvertroue gegee. Teen die vroeë jare tagtig was ’n staat gevestig, wat, hoewel nie ryk of ontwikkel nie, tog stewig en vooruitstrewend was. Die regering het gretig immigrante met goeie kwalifikasies in diens geneem. ’n Skot, dr John Brebner, het die onderwysstelsel hervorm, en dr CLF Borckenhagen, ’n Duitser, het in 1877 redakteur van De Express in Bloemfontein geword. As sterk voorstander van republikeinse onafhanklikheid het hygroot invloed aan weerskante van die Vaalrivier uitgeoefen.

Desnieteenstaande het die Britse kulturele invloede sterk gebly. Van die begin tot die laaste jare van die republiek was Bloemfontein hoofsaaklik ’n Engelse stad.Engels was die vernaamste taal in die privaatskole in Bloemfontein en selfs ook in die plaasskole wat welgestelde boere begin het. In 1888 het die Volksraad verklaar dat die voorkeur wat aan Engels in die vernaamste staatskool, Grey Kollege gegee is, die kinders leer “om hul eie taal te verag en te vergeet en hul nasie te minag”.

In die middel van die jare tagtig het twee besoekende NGK-predikante, AA Louw en CFJ Muller, hul verbasing oor die wydverspreide gebruik van Engels uitgespreek. So laat as 1899 het die Bloemfonteinse blad De Express geskryf dat ’n modelrepubliek steeds aan die werk was om dit ’n “aanhangsel van die Ryk” te maak en daarmee “ineengesmelt” was wat taal, beskawing en kultuur” betref.

Nietemin het ’n republikeinse gees onder die burgers sterker ontwikkel, wat in skerp kontras met die “koloniale patriotisme” van die Kaapse Afrikaners gestaan het. Volgens Jan Hofmeyr, die Kaapse leier, was daar in die Vrystaat ’n lewende gevoel dat die regering en die gemeenskap een is, iets wat in die Kaapkolonie heeltemal afwesig of baie onseker was.

Toe Brand in 1888 aftree, was die OVS beskou as die deel van Suid-Afrika wat die beste geadministreer is. Sy landelike aard, betreklik homogene kieserskorps en afwesigheid van groot konsentrasies van rykdom het hom stabiel gemaak.Engelssprekendes en ’n paar Duitsers het die handel en professionele lewe in die dorpe oorheers. Die regering het immigrante verwelkom en het’n inklusiewe, wit, republikeinse nasie begin bou.

In 1895 het James BryceSuid-Afrika besoek. Hy was professor in regte aan Oxford Universiteit en het in 1888 The American Commonwealth gepubliseer. Dit word nog steeds beskou word as ’n klassieke studie van die politieke stelsel van die Verenigde State van Amerika soos dit in die tweede helfte van die 19de eeu gefunksioneer het. Nadat hy met die Republiek van die Oranje-Vrystaat kennis gemaak het, het Bryce verklaar: “In the Orange Free State I discovered, in 1895, the kind of commonwealth which the fond fancy of the philosophers of the last century painted.It is an ideal commonwealth …“ Die grondwet was “the pure and original product of African conditions”. Dit het die naaste gekom aan filosowe se ideaal van“free and independent persons uniting in an absolutely new social compact for mutual help and defense, and thereby creating a government whose authority has had and can have no origin save in the consent of the governed”.

Bron: Wikipedia

Die opkoms van pres Steyn

Marthinus Theunis Steyn, in 1857 gebore, was die eerste Vrystaatse president wat in die republiek gebore is. Sy pa se plaas was net buite Bloemfontein en hy het van vroeg af met sy ouers saam omgegaan met die hoofsaaklik Engelssprekende elite in die hoofstad – die Brands, Fichardts, Fischers en Frasers. Steyn het met sy aanstaande vrou, Tibbie Fraser, in Engels gekorrespondeer. In Nederland, waar hy in die regte gaan studeer het, was sy Nederlands so swak dat hy sy studie in Londen gaan voltooi het. Hy het in 1889 regter in Bloemfontein geword en in 1896 president van die OVS. Hy is nie as intellektueel besonder briljant beskou nie, maar was bekend vir sy moed, groot sjarme, sterk karakter en gesonde oordeel.

Terwyl daar vrede was, het Steyn as republikein noue aansluiting by die ZAR gesoek, maar kultureel het hy hom meer met die tweetalige wit gemeenskap in die Kaapkolonie vereenselwig. Die Kaapse liberale politikus John X Merriman, wat die toenemende jingoïsme onder die Engelssprekendes verfoei het, het in Steyn en sy groepie in Bloemfonteingeesgenote gevind. Abraham Fischer het uit Bloemfontein aan Merriman geskryf dat die Vrystaters koloniale nasionaliste is, maar geen vertroue het in Britse staatslui wat aan hulle ’n vorm van imperialisme probeer opdwing het nie. Die soort politiek wat Steyn en ander Vrystaters voorgestaan het, het hy as volg beskryf: “’n Mens kan ’n goeie Afrikaner en opregte republikein wees ongeag die taal wat jy praat.”

Steyn se kabinet het verskeie Engelssprekendes ingesluit. Selfs in die naweë van die Jameson-inval het hy buitelanders aangemoedig om deel van die republikeinse nasie te word. Hy het Kruger aangeraai om vergewensgesind te wees teenoor die samesweerders. Vir hom het die oplaaiende stryd nie met etnisiteit te make gehad nie, maar met botsende ideologieë: kapitalisme teen individualisme, en imperialisme teen republikanisme en kolonialisme.

Steyn het die republiek as ’n gemeenskap van vryheidliewende boere probeer opbou. Hy het ’n meer regstreekse vorm van demokrasie deur die gebruik van referendums voorgestel en het al hoe meer aandag gegee aan die kwessie van taal en kultuur, wat hy as uitings van die Vrystaatse nasieskap beskou het. As die Hollandse taal kwyn, sou die nasie volg, het hy gesê. Hy het sy amptenary beveel om Hollands te gebruik in die korrespondensie met Vrystaatse burgers en met die Natalse en die Kaapse regering. Mense wat vlot in Hollands was, het voorrang gekry by aanstellings in die staatsdiens. Sy regering het druk uitgeoefen op die skole, wat hoofsaaklik Engels as voertaal gebruik het, om Hollands in te voer.

Steyn het by Kruger daarop aangedring dat die ZAR sy stemreg moet hervorm voordat dit te laat is, maar in die loop van 1898 het hy besluit dat die Britte se eise vir hervorming onredelik is. Hy het Brittanje se set om weer die kwessie van “soesereiniteit” in te sleep, met argwaan beskou. Hy het geskryf dit is ’n vae woord met ’n selfs vaer betekenis, en bloot ’n voorwendsel.

Steyn het geweet wanneer om te veg. Aan Kruger het hy gesê dat hy nie die wapens sou opneem oor die gewraakte diamantkonsessie of oor die ZAR se stemregkwalifikasie van 14 jaar nie, wat hy as strydig met die republikeinse en demokratiese beginsels beskou het. Hy sou wel oorlog verklaar as Brittanje die stemreg gebruik om die ZAR se onafhanklikheid te vernietig, wat noodwendig ook die einde van sy Vrystaatse republiek sou beteken. In 1897 het hy met die ZAR ’n verdrag gesluit waarin die twee republieke onderneem het om mekaar by te staan as een van hulle aangeval word.

Soos Jan Smuts, wat in 1898 staatsprokureur in die Transvaal geword het, het Steyn gedurende sy studie in Engeland bewus geword van die mate waarin die stryd teen ’n vorm vankapitalisme wat min of geen maatskaplike verantwoordelikheid getoon het nie, al feller geword het. Ook in die Transvaal het vreemde kapitaal die ekonomiese bestel grootliks getransformeer.Veral in die Transvaal het ’n aggressiewe kapitalisme die landelike blanke bevolking gemarginaliseer.Tussen ’n derde en die helfte van die landbougrond in die ZAR het in die besit gekom van maatskappye onder die beheer van vreemdelinge. Die middelslag- en kleiner boere isvan die grond af gedruk ek kon aanvanklik geen heenkome elders kry nie.

Smuts het geskryf dat ’n ekonomiese revolusie die ou boeregemeenskap ondermyn op ’n wyse wat selfs gevaarliker is as die Britse politieke aanslag op die republieke. Volgens pres Steyn het die stryd om te oorleef al hoe swaarder geword. “Kapitalisme het sy verskyning in Suid-Afrika gemaak en kapitaal, die vyand van die arbeid, het sy seekatpote om alle vorme van arbeid geslaan.”

Die weg na oorlog

In die laaste jare van die 1890’s het die mynmagnate in die Transvaal hulle geskaar by die Britse politici wat die ZAR se onafhanklikheid wou beëindig. Hulle het hul vertroue verloor in die vermoë van die Kruger-bewind om die nodige hervormings vir doeltreffende goudproduksie in te voer. Saam met Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris, het hulle die Britse regering wysgemaak dat Kruger onder diplomatieke en militêre druk sou swig en aan alle eise vir stemreg sou toegee. Hulle het goed geweet dat die republieke sou veg, maar het die boodskap die wêreld ingestuur: “Kruger will bluff up to the cannon’s mouth.”

Om ’n oorlog te voorkom, het Steyn in Mei 1899 ’n gesprek tussen Kruger en Milner gereël. Steyn en Smuts, wat Kruger na Bloemfontein vergesel het, was oortuig dat Milner geen goeie bedoelings met die onderhandelinge het nie en gevolglik nie sou belangstel in die betekenisvolle toegewings wat Kruger sou voorlê nie. Steyn het die Kaapse premier, WP Scheiner, genooi om die konferensie by te woon, maar na druk deur Milner het hy dit van die hand gewys.

Op Kruger se voorstel dat die stemregkwalifikasie van 14 tot sewe jaar verblyf verlaag word, het Milner aangedring op vyf jaar, met terugwerkende krag. Hy het ook geëis dat die Transvaalse Volksraad sy wetgewende soewereiniteit afstaan, wat Transvaalse wette aan Britse goedkeuring onderworpe sou maak. Nog ’n eis was dat Uitlander-lede van die Volksraad toegelaat word om Engels te gebruik. Met trane oor sy wange het Kruger uitgeroep: “Dis ons land wat u wil hê.” John Buchan, ’n lid van Milner se afvaardiging en later ’n bekende skrywer, het die toneel so beskryf: “There was a gnarled magnificence in the old Transvaal President, but [Milner] saw only a snuffy, mendacious savage.”

In Londen was lord Salisbury se Unionistiese regering verdeeld. Aan die een kant was daar teenstand teen die aangaan van enorme uitgawes om in ’n verafgeleë land te gaan veg. Aan die ander kant was daar onder regeringsondersteuners in Londen en ander groot stede toenemende histerie oor die sogenaamde aanslag op die aansien van Brittantje as die wêreld se enigste supermoondheid. Die skrywer George Bernard Shawhet hom minagtend uitgelaat oor “a small community of frontiersmen totally unfitted to control the mineral assets of South Africa”. Toe die kabinet huiwer om tot voorbereidings vir oorlog oor te gaan, het The Times en ander jingoïstiese koerante met die kabinetdie spot begin dryf omdat dit nie bereid was om die Britse aansien te verdedig nie. Dit was een van die eerste kere dat die openbare mening ’n besluit oor oorlog so sterk beïnvloed het.

Milner het sake so gemanipuleer dat die Natalse regering ’n versoek om 10 000 soldate aan Londen gerig het om die kolonie teen ’n inval deur die republieke te verdedig. Toe oorlog ’n voldonge feit word, het die onwillige Salisbury besef hy is in ’n hoek gedruk: “We have to act on a moral field prepared for us by Milner and his jingo supporters.” Oorlog moes nou gemaak word teen “people whom we despise [die Boere] and for territory that will bring no power or profit to England”.

Maar daar was in Brittanje skrywers wat deur die Britse oorlogspropaganda gesien het. Toe hy hoor Rudyard Kipling verklaar dat Brittanje oorlog gaan verklaar om liberale ideale te bevorder, het Jospeph Conrad gesê: “As ek Kipling moetglo, gaan die oorlog oor demokrasie. Ek wil uitbars van die lag as ek so iets hoor.”

Smuts, en ook JBM Hertzog, ’n jong Vrystaatse regter wat ook oorsee studeer het, was sterk ten gunste van verrassingsaanvalle om vinnige en skouspelagtige oorwinnings te behaal. Hertzog het voorgestel dat die Boeremagte diep in die Kaapkolonie inval en strategiese poste beset. Smuts wou ver in Natal indring en die Durbanse hawe beset sodat Britse troepe nie kon land nie. Hy wou selfs Duitse adviseurs probeer lok en Rusland probeer oorreed om oorlog in Brits-Indië aan te blaas. As Brittanje vasval, sou daar ’n kans wees op ’n “Afrikanerrepubliek” wat van Tafelbaai tot die Zambezi strek. Niks het van die planne gekom nie.

Die Britse kabinet het verseker dat die OVS tot die oorlog toetree deur die republiek in September te waarsku om streng neutraal te bly. Steyn het aan die Vrystaatse Volksraad gesê dat hy verkies om die land se onafhanklikheid met eer te verloor eerder as in oneer en dislojaliteit. Hy wou egter eers alle diplomatieke alternatiewe op die proef stel voordat ’n ultimatum uitgereik word. Dit het ’n maand in beslag geneem. Alhoewel die optrede eerbaar was, was ’n waardevolle geleentheid verlore. Met oorlog reeds ’n voldonge feit het die republieke nog net ’n vae, breë krygsplan gehad.

Die enigste hoop wat die Boeremagte gehad het, was om in die eerste maand of twee dramatiese oorwinnings te behaal en die Kaapse Afrikaners tot opstand te beweeg. Aan die vooraand van die oorlog was die republikeinse magte 54 000 sterk en die Britse troepe, waarvan die meeste in Kaapstad was, slegs 27 000. Gevolglik was dit die republieke wat die ultimatum uitgereik het voordat Britse versterkings sou opdaag.

Die vraag watter party diegroot skuld aan die oorlog gehad het, sou later tot ’n onherroeplike breuk tussen Steyn en sy groot vriend Merriman lei.Dié twee staatsmanne het lank groot agting vir mekaar gehad.Net voor ongeer 10 000 Afrikaners in 1914 tot ’n rebellie teen die staat oorgegaan het, het MerrimanSteyn gevra om sy invloed te gebruik om ’n rebellie te verhoed. In ’n brief het Merriman die vreedsame aard van die Britse diplomatieke en politieke inisiatiewe voor die Wêreldoorlog en vorige internasionale konflikte beklemtoon.Hy het dit goed gedink om by te voeg:“The Boer War would never have taken place but for an ultimatum and … an aggressive movement that dit not come from the side of England.”

Merriman se standpunt bots met die posisie wat hy in 1899 net voor die oorlog ingeneem het.Hy het toe aangevoer dat die republieke ’n fout begaan het deur ’n ultimatum uit te reik, maar het terselfdertyd gesê dat Brittanje se optrede “krimineel” was en dat die Boere se stryd een was vir onafhanklikheid en nie ter wille van verowering of aggressie nie.

Merriman se woorde het groot aanstoot gegee, maar Steyn het waardig geantwoord:“If you and I cannot agree on the cause of the South African War when we know all that had passed before and behind the scenes, how can any of us pretend to be able to decide on the right or the wrong of the Great War which is raging in Europe?”Steyn het die briefwisseling beëindig en al die pogings om die vriendskapsverhouding te herstel, het misluk.

Steyn, die grootste Bittereinder

Britse intelligensiedienste was oortuig dat die Boeremagte ná die eerste nederlae in duie sou stort. Teen die middel van 1900 het dit gelyk of hulle reg was, met die Boeremagte op die punt van disintegrasie. Die oorlog was prakties verby. Milner het op 30 Mei aan ’n vriend geskryf: “I have saved the British position in South Africa and I have knocked the bottom out of ’the great Afrikaander nation’ forever and ever.” As die oorlog toe sou geëindig het, sou sowel politici as historici dit as ’n betreklik onbelangrike gebeurtenis afgeskryf het. Maar die grootste heldemoed, ergste lyding en verskriklikste gruwels sou nog kom.

Net ná die val van Pretoria in Junie 1900 het die Transvaalse militêre leiding onmiddellike oorgawe aanbeveel ten einde ’n ramp te voorkom. Kruger het ’n wanhopige kabeltelegram aan Steyn gestuur. Net daar het Steyn die kragbron van die republikeinse verset geword. In koue woede het hy aan die Transvalers geskryf dat die ZAR die Vrystaatse burgers en Kaapse rebelle in ’n rampspoedige oorlog betrek het. Hy het gevra: Wou die ZAR nou ’n skandelike en selfsugtige vrede sluit die oomblik dat die oorlog sy grense bereik het? Wát die ZAR ook al doen, die Vrystaters sou tot die bitter einde veg.

Smuts het later verklaardat Steyn die Transvalers in soveel woorde van lafhartigheid beskuldig het. Steyn het in hierdie uur die mees heroïese figuur van die oorlog geword. Die Transvaalse leiers het na sy brief besluit om die stryd voort te sit tot die “bitter einde” – totdat die Boeremagte heeltemal verslaan is of tot republikeinse onafhanklikheid herstel is.

In die tweede fase van die oorlog wat nou aangebreek het, was daar nuwe Transvaalse leiers, wat die oorlog heeltemal anders gesien het.In September 1900 het genl P Pienaar geskryf dat almal wat nog steeds veg, progressiewes is, wat voor die oorlog net so sterk teen Kruger se konsertiewe beleid was as teen die Engelse self. Waarom, het hy gevra, veg hulle? Sy antwoord: vir hul onafhanklikheid.

Merriman het ook die verandering in die leierskap raakgesien. Die Bittereinder-leiers, het hy gekryf, was óf progressiewe boere soos Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Louis Botha en Jan Kemp, óf opgevoede stadsmense soos Steyn, Hertzog, Smuts en ander. Hy het bygevoeg dat die siel van die Boeremagte nou bestaan het uit jong manne of progressiewe boere, van wie sommige welaf was en ander selfs ryk.

Brittanje het op een stadium 250 000 man in die veld gehad. Teen die begin van 1902 het die Boeremagte gekrimp tot 10 000 Transvaalse burgers, 6 000 Vrystaatse burgers en 3 000 Kaapse rebelle, dus minder as 20 000. Ongeveer 5 000 Boere – meer as ’n kwart van die republikeinse Boere in die veld – het as joiners aan die kant van die Britte geveg. In die laaste vyf maande van die oorlog het die aantal joiners meer as verdriedubbel.

Steyn, wat steeds saam met ’n Vrystaatse kommando rondbeweeg het, was totaal uitgeput en sy gesondheid was permanent geknak.Hy het sy manne nietemin aangemoedig om aan te hou veg. “Onafhanklikheidstryde duur lank,” het hy dikwels uitgeroep. Dit is waar, het hy gesê, dat die vroue en die kinders ly, maar dit was verkieslik bo ’n lot waar die Boere, hul kinders en kleinkinders slawe van die vyand word.

Toe die Britse militêre opperbevel vroeg in die herfs van 1902 afgevaardigdes van die kommando’s toelaat om die voortsetting van die oorlog te bespreek, het Steyn die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon dat die Boere nie hul selfrespek moet verloor deur om vrede te vra nie. By hierdie geleentheid het Kitchener verklaar: “Hy toring kop en skouers bo die ander uit en het groot invloed.”

’n Einde “bitterder as wat ons ooit gedink het”

In die tweede helfte van Mei 1902 het 60 Boereleiers met Britse verlof by Vereeniging vergader om oor vrede te besluit. Elkeen was ’n gevolmagtigde wat self kon besluit of hy en sy kommando sou aanhou veg of vrede sou maak. Die Vrystaters was nog steeds gekant teen vrede sluit, maar hul saak is baie verswak deurdat Steyn se gesondheid so swak was dat hy hom moes onttrek.

Die taak om die Boere-afgevaardigdes by Vereeniging te oorreed om vrede te maak, het veral op die skouers van Botha, Smuts en De la Rey, al drie van die Transvaal, geval. Dit was De Wet van die Vrystaat wat die sterkstedie saak vir die voortsetting van die stryd gestel het. Hy het gesê dat die republieke die hoeksteen is van die Afrikaners se mag en kulturele krag in die noorde. As hulle verdwyn, sou die Afrikanervolk nie self vernietig word nie?

’n Waarnemer het oor ’n vergadering van die Vrystaatse afvaardiging geskryf: “Op die vergaderings is een stem, soos van donder, vir onafhanklikheid verhef. Die besluit was: ’Hou aan. Ons het alles veil gehad, en het dit nog.’ Geeneen het anders gepraat nie.“

Op die ou end was dit veral Botha en Smuts wie se argumente die oorhand gekry het. Die laaste debat is op die namiddag van 30 Mei gehou. Hier het Smuts ’n toespraak gehou wat waarskynlik baie bygedra het tot die groot mate van eenstemmigheid wat bereik is. Hy het begin deur te sê dat die stryd militêr nog voortgesit kan word en dat die Boere met hul dapper offisiere nog “’n onoorwonne krygsmag” is. Hy het geargumenteer dat die afgevaardigdes nie net hul kommando’s verteenwoordignie, maar die hele Afrikaanse volk,9 “nie alleen daardie deel wat tans in die veld is nie, maar ook daardie deel wat reeds onder die aarde rus en daardie deel wat ná ons sal bestaan. Hulle roep almal om stappe te vermy wat kan lei tot die ondergang en uitroeiing van die volk.”

Die implikasie in Smuts se toespraak was dat onafhanklikheid nie die hoogste waarde in ’n volk se stryd om oorlewing is nie. Hy het gesê: “Ons moenie die Afrikaanse volk vir die onafhanklikheid opoffer nie. Wanneer ons oortuig is dat daar menslikerwyse gesproke geen redelike kans is om ons onafhanklikheid as republieke te behou nie, dan word dit ook ons duidelike plig om die stryd te staak sodat ons nie miskien ons volk, ons toekoms opoffer vir ’n blote idee wat nie meer verwesenlik kan word nie.”

Hy het afgesluit met die roerende pleidooi. “Broers, ons het besluit om tot die bittere einde te staan; laat ons soos manne erken dat daardie einde vir ons gekom het, in bitterder vorm gekom het as wat ons ooit gedink het. Vir ’n ieder van ons sou die dood ’n soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Niemand sal my ooit oortuig dat die ongeëwenaarde opofferinge tevergeefs sal wees nie. Die vryheidsoorlog van Suid-Afrika is gestry, nie alleen vir die Boere nie, maar vir die ganse volk van Suid-Afrika.”

Maar as die onafhanklikheid verlore was, wat het oorgebly as grondslag vir ’n verenigde volk? Hoewel die taalkwessie verskeie kere genoem is, het net een afgevaardigde die behoud van die taal as grondslag voorgestel. Hy was Jozua Francois Naudé, ’n jong Afrikaanse onderwyser in Transvaal en 16 jaar later medestigter van die Afrikaner-Broederbond. Hy het gesê dat die bittereinders in die veld daarop aangedring het dat die onafhanklikheid nie prysgegee word nie. As daar wel oor vrede onderhandel moet word, moet die voorwaarde wees dat “hulle hul wapens kan behou, en dat die regte van die Hollandse taal, wat van soveel betekenis vir die volk is en ’n kanaal waardeur die volk weer volk kan word, gewaarborg sal word”. Hy het nie die vredesverdrag onderteken nie.

Op die kritieke oomblik het Botha en De la Rey privaat vir De Wet, wat in die plek van Steyn as Vrystaatse leier waargeneem het, oorreed om oor te gee. Dit is moontlik dat Botha daarop gesinspeel het dat hulle die militêre stryd sou hervat wanneer Engeland eendag in die moeilikheid is. Steyn het later beweer dat Smuts in ’n brief aan hom so iets gemeld het.

Die vredesvoorwaardes het ingesluit dat die ZAR- en OVS-burgers die Britse monarg as wettige heerser erken. Nederlands sou in die skole van Transvaal en die OVS as vak onderrig word as die ouers dit verlang. Brittanje het onderneem om die militêre regering so gou moontlik deur ’n burgerlike bestuur te vervang, en geen besluit sou oor die stemreg vir swartes geneem word voor die instelling van verteenwoordigende bestuur nie. Brittanje sou ’n rehabilitasiefonds van £3 000 000 beskikbaar stel vir gerepatrieerde en hulpbehoewende burgers.

Op 31 Mei 1902 het die vergadering met 54 teen 6 stemme besluit om hierdie voorwaardes te aanvaar. Die afgevaardigdes het in ’n verklaring volgehou dat hulle “op grond nie alleen van reg maar ook die groot stoflike en persoonlike opoffering” op onafhanklikheid geregtig is. Die Britse “krygspolitiek” het die republieke se grondgebied verwoes, alle bestaansmiddele vernietig, alle hulpbronne uitgeput. Die vegtende burgers is met “totale stoflike ondergang” bedreig. Die afsterwe van meer as 20 000 dierbares in die kampe het die “afgryslike vooruitsig” laat ontstaan dat “’n ganse geslag” kan uitsterf.

Nadat die besluit geneem is, was daar volgens die amptelike notule “nie baie droë oë in die tent nie”. Waarnemende ZAR-president Schalk Burger het die laaste woord gespreek: “Ons moet geneë wees om te vergewe en te vergeet wanneer ons ons broer ontmoet. Die deel van die volk wat ontrou was, mag ons nie verstoot nie.” Almal het besef dat eenheid noodsaaklik is vir die stryd se voortsetting.

Op die aand van 31 Mei het die afgevaardigdes van die strydende partye die vredesverdrag in Pretoria onderteken. Kitchener het al die Boere-afgevaardigdes handgegee en gesê: “We are good friends now.”

Op sy siekbed het Steyn van die voorwaardes en die rehabilitasie- of kompensasiefonds van £3 000 000gehoor. Toe Jack Brebner, een van sy troue ondersteuners, hom van die fonds sê, was sy reaksie: “Julle vrotterds, Jack! Magtig, Jack! Julle het die volk vir drie miljoen pond verkoop.” Hy het ook gesê: “My hand op papier sit waarop ek die onafhanklikheid van my volk prysgee – dit doen ek nooit.”

Maar die bittereinde-fase van die oorlog het wel die gang van die geskiedenis verander. In 1899 was die Boere se reputasie op die spel: Hoe sterk is hul republikeinse verbintenis en hoe duur die prys wat hulle vir onafhanklikheid sou betaal? Milner het vas geglo dat die Boere se eiendom vir hulle belangriker is as hul liefde vir die republieke. En as die Boere die stryd in Junie 1900 laat vaar het, sou hierdie oordeel korrek gewees het. Dit was die moed en deursettingsvermoë van die Bittereinders watdie verskil gemaak het. Smuts het in sy Memoirs of the South African War geskryf dat “every child to be born in South Africa was to have a proud self-respect and a more erect carriage before the nations of the world”.

Die Boere het ’n verpletterende nederlaag gely. Ongeveer 5 000 het gesneuwel en meer as 26 000 vroue en kinders het in die kampe gesterf. (’n Tiende van die republieke se burgerlike bevolking het gesterf.) Die verwoesting van die plase en die verlies van vee het baie boere geknak. Henry Campbell-Bannerman, wat later Britse eerste minister geword het, het na die toneel buite die dorpe en stede verwys as ’n “howling wilderness”, en Milner het dit beskryf as “virtually a desert, almost the whole population living in refugee camps along the railway line”.

’n Taalstrydheld

In Mei 1908 het Smuts by ’n konferensie van die vier kolonies voorgestel dat al die kolonies se parlemente afgevaardigdes na ’n nasionale konvensie stuur om ’n grondwet vir ’n verenigde Suid-Afrika op te stel. Dit is eenparig aanvaar. Die Britse hoë kommissaris is uitgesluit uit ’n proses wat deur die Suid-Afrikaanse politici begin en bestuur is. Die hoofregter van die Kaap, sir Henry de Villiers, en nie ’n verteenwoordiger van die imperiale regering nie, was die voorsitter van al die vergaderings van die nasionale konvensie, wat tussen Oktober 1908 en Mei 1909 gehou is. Slegs wit afgevaardigdes was teenwoordig. Dit het die uitsluiting van swartes en kleurlinge onderstreep.

Daar was verskeie belangrikste sake: of stemreg aan swartes en alle bruin mense toegestaan moes word; of daar nog ’n amptelike taal naas Engels sou wees; of daar’n unitêre of ’n federale stelsel moes wees; en of die grondwet buigsaam of onbuigsaam moes wees.

Hertzog het hom op die taalkwessie toegespits. Hy het op gelyke vryhede, regte en voorregte vir Engels en Hollands aangedring. Elke aanstelling in die nuwe regering kon volgens hom alleen geskied met inagneming van die gelykheid van die twee tale en die reg van elke burger van die Unie om enige van die tale te mag gebruik teenoor enige amptenaar of werker van die Unie-regering. Volgens ’n verslag oor die debatte by die konvensie was die Engelssprekendes so onthuts dat die debat verdaag moes word.

Die mees dramatiese oomblik by die konvensie was toe Steyn toetree. Hy het, soos die gewoonte was, na die Boere en Britte as verskillende rasse verwys en die afgevaardigdes gevra om “die duiwel van rassehaat” wat die land reeds so lank teister, uit te wis. Die manier om dit te doen, is om die twee tale op ’n volkome gelyke voet te plaas – in die parlement, die howe, die skole, die staatsdiens, oral. Smuts en Merriman het stilgebly. In sy dagboek meld FS Malan, wat tot op daardie tydstip nie ten gunste van volledige tweetaligheid was nie, dat hy tot trane beweeg is.

Steyn en Hertzog het hul sin gekry. Artikel 137 van die grondwet het bepaal dat Hollands en Engels as amptelike tale op gelyke voet geplaas word en gelyke regte, voorregte en vryhede geniet. Vir al die dokumente, publikasies en verslae van die verrigtinge van die parlement sal albei tale gebruik word en alle wetsontwerpe, wette en kennisgewings van openbare belang sal deur die regering in albei tale uitgereik word. Gustav Preller het in The Star geskryf dat die konkrete belofte om die twee tale op ’n voetstuk van “the most perfect equality” te plaas, deurslaggewend is vir die Afrikaners se steun vir die grondwet.

Die konvensie het ’n langdurige invloed op die wit politiek gehad. Dieafgevaardigdes het op ’n unitêre, meestal buigsame konstitusie volgens die Britse Westminster-model besluit sonder inagneming van die feit dat ’n diverse en kleurbewuste samelewing soos Suid-Afrika ’n ander stelsel vereis. Verkiesings sou volgens die Britse kiesafdelingstelsel gehou word. Daar is geen beloning ingebou vir koalisievorming of konsensus soek nie. Die wenparty sou alles vat, tot tyd en wyl dit ’n verkiesing verloor.

In diep verdeelde samelewings soos Suid-Afrika beteken dit dat verkiesings meestal deur die grootste etniese of rassegroep in die kierserskorps gewen word. Feitlik sonder uitsondering word hulle op grondslag van hul sosiale identiteit gemobiliseer. In Suid-Afrika het die Afrikaner-nasionaliste die die taalkwessie aangegryp om die Afrikanerste mobiliseer.

Drie leiers

In die eerste helfte van die 20ste eeu het drie leiers Afrikaner-nasionalisme oorheers: Steyn, Hertzog en DF Malan. Dat twee van die drie van die Vrystaat gekom het, is by die eerste oogopslag verrassend, gegee die betreklik klein getal kiesers in die Vrystaat. Die belangrikste faktor is die aard van die ideologie wat in die Vrystaat wortel geskiet het. Die Transvaal van Paul Kruger het by ’n premoderne ideologie, met ’n sterk klem op patriagale leiersfigure, vasgehaak.In die Kaapkolonie het die Afrikaners geleef onder ’n staatkundige stelsel wat nie hul eie skepping was nie en waarop hulle geen eie stempel kon afdruk nie.10 Hulle het hulle min oor staatkundigek kwessies uitgelaat. Dit is in die Vrystaat onder Steyn, wat tereg die eerste moderne Afrikaner genoem is, dat ’n volwaardige republikanisme na vore gekom het. ’n Sleutelelement was die klem op die soewereiniteit van die grondwet en die reg van die kiesers om direk by wyse van volkstemmings inspraak te hê. In ’n uitspraak wat Hertzog as regter in 1898 gegee het, het hy onomwonde die volk as grondwetgewende gesag bo die wetgewende gesag gestel.(Dit was ’n saak waar ’n persoon aangekla is omdat hy hom minagtend oor die Volksraad uitgelaat het.) Twee jaar tevore het pres Steyn ’n wetsontwerp by die Volksraad ingedien om die soewereiniteit van die volk meer praktiese inslag te gee deur referendums by grondwetwysigings en die oorweging van sekere wette verpligtend te maak.11

Dat die republikeine die mees toegewyde Bittereinders was, en dat twee van hulle, Steyn en Hertzog, die groot oorwinning vir Afrikaans in 1909 behaal het, is nie toevallig nie. Daar is ’n goeie saak daarvoor uit te maak dat die Afrikaners in die 20ste eeu beter gedien sou gewees het deur die republikanisme wat Steyn en Hertzog tot die eerste dekades van die 20ste eeu aangehang het as die etniese nasionalisme van DF Malan, wat die grondslag van die apartheidbeleid gelê het.

Gedurende die 1950’shet die Nasionale Party-regering eers onder DF Malan en later onder JG Strijdom verskeie kere met die regterlike gesag gebots oor die wetgewende gesag se skending van die grondwet in ’n poging om bruin kiersers op ’n aparte lys te plaas. In hierdie dekade was daar ’n neiging by Afrikaanse akademici om entoesiasties oor die ZAR te skryf en die Vrystaat te verontagsaam. Hulle het baie min aandag geskenk aan die noodsaak vir grondwetlike regering of konstitusionalisme.

Afrikaanse akademici het eers in die 1990’s erns hiermee begin maak nadat dit duidelik geword het dat die African National Congress nie van sy eis vir ’n gewone meerderheidsregering” wou afwyk nie. En toe was die uur baie laat. Konstitusionalisme het skielik ’n panasee, ’n wondermiddel geword wat die groot politieke probleme moes oplos. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat beheer oordie Regterlike Dienskommissie, wat regters aanstel, op die regering se agenda gekom het.


1 Groot dele van hierdie stuk word met verlof oorgeneem uit my boek Die Afrikaners: ’n Biografie (Tafelberg, 2004). Sien The Afrikaners: Biography of a People (Tafelberg, Tweede uitgawe, 2009) vir verwysings na bronne en vir ’n volledige bibliografie.

2 Hierdie en die vorige twee paragrawe is gebaseer op Leopold en Ingrid Scholtz, “Die Afrikaner en die demokrasie: die negentiende eeu”, Historia, 47(1), 2002, ble 299–311 en Leonard Thompson, “Constitutionalism in the South African Republics”, Butterworths South African Law Review, vol 1, 1954, ble 50–71. ’n Omvattende werk oor die onderwerp is SF Malan, Politieke Strominge onder die Afrikaners van die Vrystaatse Republiek (Durban, Butterworths, 1982).

3 Thompson, “Constitutionalism”, bl 57.

4 Thompson, “Constitutionalism”, bl 72.

5 Thompson, “Constitutionalism”, bl 57.

6 Thompson, “Constitutionalism”, bl 72.

7 Thompson, “Constitutionalism”, bl 72.

8 SF Malan, Politieke strominge onder die Afrikaners van die Vrystaatse Republiek (Butterworths, Durban, 1982), bl 18.

9 In die oorspronklike Hollandse weergawe gebruik Smuts die term “Afrikaansche volk” en op een plek “het gansch volk van Zuid-Afrika”.

10 Scholtz en Scholtz, Die Afrikaners en demokrasie, bl 313.

11 Scholtz en Scholtz, Die Afrikaners en demokrasie, bl 311.

Kommentaar

  • So 'n interessante artikel. Volgens Johannes Meintjies se boek, President Steyn, het Steyn in Mei 1900 self Pretoria toe gegaan om met Kruger oor dié se vredesversugtinge te praat. Meintjes skryf soos volg: (p121)

    "The subject of peace was again broached after the fall of Kroonstad. Steyn visited the main commando on the Rhenoster River from his base at Heilbron. There he was handed a telegram from FW Reitz in which he was asked to come to Pretoria at once. Steyn set off for Kopjes where Generals Philip Botha and De Wet had their headquarters, discussed the situation with them, and then proceeded by train to Pretoria, accompanied by JG Luyt, a member of the Volksraad. On arrival, Steyn was informed that Paul Kruger had been advised by Sammy Marks, the Jewish millionaire and a great personal friend, and others that arms be laid down under protest. Accompanied by Reitz and Luyt, Steyn set off for Kruger's residence. ''The old man raised the matter at once: "What do you think of the plan to lay down arms under protest? To my mind it isn't a bad idea, as it will put an end to further destruction and loss of life..."" Expectantly Kruger peered at Steyn.

    "I don't think it's a good idea at all," said the Free State Presdient. "If we are to lay down arms in order to prevent further destruction and loss of life, then we should have done so before all the destruction took place and thousands of lives were lost, and before the Colonial rebels joined our cause. Then it would have been better not to defend our independence..."

    "Ag ja, those rebels..." Not for the first time Kruger was prepared to forget all about them and their fate. Not so Steyn. Reitz and Luyt agreed with him. After some some discussion Paul Kruger also came round to Steyn's point of view."

    Dié is alles vir my baie interessant omdat JG Luyt my oupagrootjie was. Hy was vanaf 1885 tot anneksasie die LV vir Heilbron. Sy huis in Heilbron, vandag bekend as Die Kleuterkasteel, was ná die val van Bloemfontein 'n week lank die setel van die Vrystaatste regering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top