'n Destydse uitspraak oor die "rooi gevaar"

  • 1

Bron: en.wikipedia.org

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op ’n aand in 1965 was daar ’n partytjie by ’n woonhuis in Henrystraat, Grahamstad. Dit was die woonhuis van ene prof Oosthuizen wat op daardie stadium verbonde was aan die Departement Filosofie aan Rhodes-universiteit. Nou mag jy vra wat op aarde so belangrik is aan ’n partytjie by ’n professor se huis in die gryse verlede?

Dié partytjie is gehou om afskeid te neem van ene mnr en mev Ewan, wat op die punt gestaan het om Grahamstad te verlaat. Een van die gaste wat die partytjie bygewoon het, was ’n mnr Beard, wat ook ’n dosent in die Departement Filosofie aan die universiteit was. Mnr Beard was ’n sogenaamde gelyste kommunis: die destydse minister van justisie, John Vorster, het ’n maand of wat vantevore ’n kennisgewing vir mnr Beard gestuur waarin hy ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme verbied was om tot 31 Desember 1969 enige byeenkomste – insluitend sosiale byeenkomste – by te woon. (Ouer LitNetters sal onthou dat in daardie dae daar baie streng wetgewing in Suid-Afrika was om die kommunisme met wortel en tak te probeer uitroei.)

Ewenwel, mnr Beard het, in weerwil van die inperkingsbevel, die partytjie by prof Oosthuizen se huis bygewoon. Hy was trouens een van die eerste mense wat die aand by die woonhuis van die Oosthuizens opgedaag het. Tussen 25 en 30 ander gaste sou later die aand hul opwagting maak. Toe mnr Beard daar aankom, het hy en prof Oosthuizen ’n rukkie in die woonkamer gesels, en toe ander gaste hulle opwagting begin maak, het prof Oosthuizen mnr Beard na die kombuis geneem, waar hy vir hom ’n bordjie eetgoed en ’n kannetjie bier gegee het. Beard het daarna in die loop van die aand van die ander gaste een-een in die kombuis ontvang. Ek lei af dat die destydse beperking wat op hom geplaas is, hom wel toegelaat het om op ’n een-tot-een-basis met ander lede van die menslike ras kontak te hê. Hy is egter beslis nie toegelaat om gelyktydig met meerdere mense kontak te hê of om vergaderings en ander sosiale byeenkomste by te woon nie. Volgens latere getuienis was prof Oosthuizen se gaste baie versigtig om nie die wet te oortree nie en het hulle spesiaal moeite gedoen om seker te maak dat nie meer as een van hulle gelyktydig saam met mnr Beard in die kombuis sou wees nie.

Mnr Beard is daarna in die landdroshof van Grahamstad aangekla van ’n oortreding van die bevel van die Minister van Justisie1 en hy is skuldig gevind. Die landdros se straf was swaar: 12 maande gevangenisstraf in geheel opgeskort vir die periode van drie jaar, op voorwaarde dat hy hom nie gedurende die opskortingstydperk daaraan sou skuldig maak dat hy die Minister van Justisie se inperkingsbevel oortree nie.

Mnr Beard het teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer. Die vraag wat die hof moes beantwoord, was of mnr Beard die sosiale byeenkoms by prof Oosthuizen se woonhuis “bygewoon het” soos in die beperkingsbevel bedoel is. Regter O’Hagan het die woord “bywoon” (“attend”) ontleed en bevind dat daar twee elemente in die begrip “bywoon” is: ’n fisiese teenwoordigheid van die individu op ’n bepaalde plek, asook ’n geestelike element – met ander woorde die bedoeling om aan die bedrywighede by daardie plek deel te neem. Mnr Beard se advokaat het geargumenteer dat sy kliënt hoogstens “in die nabye omgewing” van die partytjie was en nie daaraan “deelgeneem” het nie.

Die regter het egter bevind dat mnr Beard – hoewel hy deurgaans in die kombuis van die Oosthuizens se huis was – vrye toegang tot die ander gaste gehad het, al het hulle net een-een met hom gaan gesels. Die regter sê in sy uitspraak dit sou anders gewees het as mnr Beard byvoorbeeld ’n elektrisiën was en deur prof Oosthuizen uitgeroep was om ’n elektriese fout by die huis te kom herstel terwyl die partytjie aan die gang was. Klaarblyklik sou die elektrisiën die partytjie bywoon met die doel om die fout te herstel en daarna weer huis toe te gaan. Dit sou, volgens regter O’Hagan, nie gekwalifiseer het as “bywoning” van die sosiale geleentheid nie.

Regter O’Hagan was tevrede met mnr Beard se skuldigbevinding van ’n oortreding van sy inperkingsbevel, maar het gevoel dat hy gans te swaar deur die landdros gestraf is. Hy het die straf verminder na ’n maand gevangenisstraf wat opgeskort is vir twaalf maande op voorwaarde dat mnr Beard nie in daardie opskortingstydperk sy inperkingsbevel sou oortree nie.

’n Mens kan nie as anders as om jou hande saam te slaan oor die absurditeit hiervan nie. Ja, dit lyk vandag ’n bietjie waansinnig, nie waar nie? Maar vir mense wat in daardie tyd geleef het, was die “rooi gevaar”, die kommunisme, ’n werklike en wesenlike bedreiging en kan ’n mens seker verstaan waarom die regering destyds opgetree het soos wat hy opgetree het. Ons kan maar net bly wees dat ons nie meer dáárdie dae beleef nie en dat die kommunisme in 1989 op so ’n skouspelagtige wyse ineengestort het, saam met die Berlynse muur.

1 Staat v Beard, 1965 (4) 543 ECD

 

  • 1

Kommentaar

  • Hallo Gustaf, na 50 jaar kruip die skaamte in 'n mens op dat ons so gelate met die dinge saamgeleef het. Baie waardering vir jou opgrawings.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top