'n Besoek aan Kimberley onthul juwele

  • 0

Die besoek van 'n ATR-afvaardiging aan Kimberley in die Noord-Kaap (29–30 Mei 2014) is gekenmerk deur vele hoogtepunte. Kimberley is 'n pragtige, rustige en skoon stad. Dit neem ons net tien minute vanaf die lughawe tot by die gastehuis van ons uiters bedagsame gasheer en gasvrou, Pieter en Alta.

Magdie de Kock, Michael le Cordeur, Waldy Kastoor, Ria Olivier en Jacques van der Elst is hier by die kinders van 'n kleuterskool wat die ATR verwelkom.

Ons eerste besoek die volgende oggend is aan die Voorskool Staats Pre-Primêr, waar die ATR, in samewerking met die Vriende van Afrikaans en Biblionef, 'n boektrommel aan die skool oorhandig. 'n Gulle ontvangs het op die ATR-afvaardiging gewag, kompleet met 'n spesiale verwelkomingsbord, 'n koor van kinderstemme en opgewonde gesiggies wat duidelik in afwagting was op die nuwe lekkerleesboeke. Die voorskoolse afdeling is, soos die res van die skool, ten volle geïntegreerd met kinders wat uit die nabygeleë arm en meer vermoënde woonbuurte kom. Tydens die interaktiewe boekvoorlesing deur Duif Brand, personeellid en voorsitter van die plaaslike Dameskring-tak, het dit egter duidelik geblyk dat al die kinders Afrikaans magtig is. Een van ons direksielede, Magdie de Kock (van die Dameskring) toon dat sy nog niks van haar vaardighede as onderwyseres verloor het nie en die kinders eet behoorlik uit haar hand as sy illustreer hoe die Grootboek leerders kan leer lees. Van die kleuters het die ATR-lede spontaan omhels terwyl die ander hulle gehaas het om die boeke te gaan uitpak. 'n Gesellige ontmoeting met die skoolhoof, meneer Van Heerden, en van die personeellede het gevolg.

Hierna is die ATR-afvaardiging na die Hoërskool Diamantveld, waar met prinsipale in die streek vergader is. Op die agenda was die taalproblematiek in skole, meegebring deur die toenemende aandrang van ouers op Engels as onderrigtaal. Daar is onder meer besin oor strategieë om by sprekers van ander Afrikatale 'n bewustheid te skep van die opvoedkundige waarde van moedertaalonderrig. Die ontmoeting is moontlik gemaak deur ATR-direksielid Paul Colditz, ook verbonde aan FedSAS, en die skoolhoof van Diamantveld, Mareth Hugo. Mareth noem dat alhoewel hul skool Afrikaans is, haar leerders nie net die beste in Afrikaans vaar in die Noord-Kaap-matriekeksamen nie, maar dat hulle ook hulle Engelse eweknieë in Engels uitstof. Weer eens bewys dit dat as 'n kind eers goed in sy of haar moedertaal onderlê is, dit die aanleer van 'n tweede taal vergemaklik. Die geleentheid is ook bygewoon deur Erhart Wolf, nasionale voorsitter van FedSAS.

Lede van die Griekwagemeenskap van Campbell

Die gesellige ATR-bekendstellingsgeleentheid by die Hoërskool Noord-Kaap, gereël in samewerking met die Dameskring onder leiding van Duif Brand, is bygewoon deur plaaslike leiersfigure, onder wie skoolhoofde, Afrikaans-kurrikulumadviseurs, bestuurslede van die plaaslike ATKV-tak, DK-lede, asook lede van die Griekwagemeenskap van Campbell.

Skoolhoof Henk Brand van Noord-Kaap Hoërskool saam met lede van die ATR

Na 'n hartlike verwelkoming deur die skoolhoof, Henk Brand, het die ATR-voorsitter die organisasie met behulp van 'n visuele aanbieding bekendgestel. Klem is gelê op wat die ATR oor die afgelope ses jaar in amptelike forums en in gemeenskapsverband vermag het om Afrikaanssprekers te bemagtig en Afrikaans te bevorder en beskerm.

Alana Bailey, die ondervoorsitter, het gepraat oor leesbevordering en die ATR en sy lede-organisasies se inisiatief om boeke aan opvoedkundige instellings, soos Voorskool Staats Pre-Primêr, te skenk.

Ciska Julius staan hier aan Michael le Cordeur se regterkant. Die ander mense op die foto is haar moeder, tante en kringleier.

Op hulle beurt stel Kimberley ons bekend aan twee blink, ongeslypte diamante wat waarskynlik meer waardevol gaan wees as ’n menigte van die diamante wat al uit die Groot Gat gehaal is. Melize van Heerden, ’n graad 2-leerder, het die gehoor verstom met haar knap redenaarstoespraak, "Die lewe bestaan nie sommer net uit vorentoe storm en skop nie"! Cisca Julius, 'n graad 12-leerder en reeds 'n erkende en bekroonde jong skrywer, het op haar beurt 'n gevoelvolle vertolking van die gedig “Garies se gebed” in die Griekwa-variëteit gelewer, en les bes was daar Thys Beukes met sy besonderse vertolking van die lied “Gebed van Koos Kombuis”.

Kimberley bied baie meer as net diamante wat in konings se krone en om filmsterre se nekke pryk. Hou hierdie spasie dop: Suid-Afrika gaan nog baie hoor van die twee ongeslypte diamante van wie ons u hier bo vertel het. Dit, tesame met die sjarme en gasvryheid van die mense van die Noord-Kaap, is genoeg rede om na die Diamantstad terug te keer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top