Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
My geliefde: Liefste Lodewyk

26 Mei 1916

My Liefste Lodewyk       

Die granate sit nou uitgeswel en volrooi aan die boom. Vanmiddag het ek die eerste knal van die oopbarsgranaat gehoor. Toe wens ek jy was hier. Hier saam my onder die granaatboom om saam met vet rooi sade oor die graspolle te dans. Om saam onder die bloedrooi sproeireën te staan en uitbundig te lag.

Onthou jy hoe ons smiddae langbeen in die gras gesit het? Dan het jy granate oopgebreek en die vet, uitgeswelde pitte in my hand gesit. Wanneer die soet stroop deur my vingers drup, het jy gespot en gesê die miere sal my nog opvreet, voordat jy my hande met jou nekdoek afvee.

My lief, ons baba woel in my skoot. Die tyd is naby. Moeder sê ons kan maar gereed maak vir ’n seun.

Jy sê in jou laaste brief jy is terug by my sodra die eerste perskebome bot. Dit voel soos ’n ewigheid. Genadiglik is ons hier die ongenadigheid van die Suidwes-Afrika-oorlog gespaar. Ek verstaan dat jy nodig is daar op die slagveld. Maar ek het jou hier nodig. Hier by my op Liebendal. Jy wat altyd die seerkrydinge van my weghou. Jy wat vir ewig langs my was. Jy wat my kleintyd laat glo het dat jy armbande van sterre kan maak.

Die nagte word nou al langer en dae korter. Bedags hou ek my besig met die huisdinge. Maar teen skemertyd sit ek op die stoep en in die geritsel van droë herfsblare herleef ek jou in my gedagtes.

Onwillekeurig wil ek nader skuif om jou warmte in te drink. Ek fluister jou naam op die aandwind. En wag. Wag tot jou stem uitblom in die maanlig op my stoep. En in ’n sagte fluistering my naam terug-eggo. Ek hoor hoe jou lag oopbreek en borrelend my siel verkwik.

Dan kan ek met oopgestrekte hande slaap, sodat ons drome hulle kan kom neerlê en opkrul. Om so, stil-stil, te kruip tot in my hart.

My Liefling, wanneer dinge ondraaglik raak daar in die vreemde, onthou my. Onthou my mond se asemwoorde teen jou wang. My môregroet, gefluister in jou oor. Onthou die grepe van wilde samesyn. Die bevryding van eenwees. Onthou my in die kraakvars koepel van dagbreek. Tot die dag, in sy aandvere uitgedos, groet. Onthou ons twee in die lig van ’n leepoog sekelmaan.

Onthou soos ek onthou, tot ons weer by mekaar sal wees.

Mag God altyd met jou wees.

Altyd joune

Susarah




Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address