My boetie Kobus en die volgemaakte vorms

  • 2

Kobus Luiperd* het in 2003 in my lewe ingestap. Ek was besig om eienaarbouer te speel en het pas my tweede bouspan op vensterhoogte weggejaag toe die klein gespierde mannetjie aanmeld en begin bou. Baie versigtig, nogal: hy’t gehoor ek skop summier ’n skewe muur om.

Ek was van die begin af baie tevrede met Kobus se bouwerk. Hy het elke steen met die grootste noukeurigheid, en flink, gelê. Later was ek aangenaam verras toe ek agterkom dat hy ook die dakkappe en die dakteëls kan opsit, vloerteëls kon lê en – sy eintlike nering – al die loodgieterwerk kon doen. Hy kon ook gelamineerde vloere en vloerplanke lê. Kobus was ’n multidissiplinêre boumasjien. Met sy handigheid bespaar hy my tienduisende rande.

Ons kon binne nege maande in die dubbelverdiepinghuis intrek. Hy het daarna met ’n vriendelike wuif uit ons lewens verdwyn.

Toe ons die huis vier jaar later verkoop om in ’n veiligheidskompleks te bou, was daar nie ’n enkele barsie in die huis nie. Maar waar sou ons vir Kobus opspoor? Om sonder hom te bou was ondenkbaar. Ek het die Vrystaat se telefoongids gevat en elke “Luiperd” gebel. Hier by die tiende een het iemand van Kobus geweet en my vertel waar hy werk. Met beloftes van ’n tweedehandse Ford Bantam en ’n groot weeklikse salaris het ek hom skaamteloos en selfsugtig weggelok om die huis vir my te kom bou.

Hy het ’n ekstra bouer en twee handlangers gewerf en ons het aan die werk gespring. Op die erf langsaan was daar ’n hele span bouers aan’t bou wat Kobus en sy manne gereeld gekoggel het: “Julle is só min en klein dat ons lánk voor julle gaan klaarmaak …” Hy het gebelgd voortgebou.

Twee fases van die bouproses staan vir my uit: ons moes deur ’n klipbank gaan om die dreinpype te lê. Ek wou iemand huur om met dinamiet te kom skiet, maar Kobus het gekeer: gaan huur ’n elektriese beitel, dis goedkoper. Hy’t daardie klein gespierde lyfie van hom oor die beitel gevou en vir drie volle dae lank teen die klippe geveg.

Die pype is teen presies die regte helling gelê.

Die tweede merkwaardige fase was toe ons die boonste verdieping se betonvloer moes gooi. Dit was in die hartjie van die winter. ’n Ysige wind het deur murg en been gesny, maar Kobus en sy span het emmer na emmer beton opgehys en gegooi. Sy lippe was naderhand die ene koorsblare, maar opgee was min. Ek moes egter gereeld pakkies Stuyvesants aandra, want daarsonder het sy kop blykbaar gaan stilstaan.

Ons het twee weke voor die mense langsaan ingetrek, en Kobus het sy Ford Bantam gekry.

Ons het mekaar daarna gereeld gebel. Op Kersdae het hy vir my SMS’e gestuur. Hy het by ’n nuwe firma begin werk en goeie geld verdien.

In Julie verlede jaar het hy en sy werkgewer onverwags by my huis opgedaag om te groet. Ek was oorstelp en het hom omhels, vir hom ’n paar vet stukke biltong gegee.

Aan die einde van verlede jaar bel sy nuwe werkgewer my. Kobus is in Pelonomi-hospitaal opgeneem, ernstig siek. Ek koop ’n bak gekookte kos en durf die eindelose gange van die hospitaal aan. Gelukkig het Kobus sy selfoon by hom, en ek spoor hom op waar die klein lyfie verwese en uitgeteer in die hospitaalbed lê. Hy lyk nie eintlik lus vir die kos nie. Ek lees sy mediese verslag: nierversaking. Hy kla van pyn in sy rug.

Ek moedig hom aan om gesond te eet, kry ’n swak belofte uit hom dat ons weer ’n huis gaan bou.

Twee weke later word hy ontslaan, maar ek hoor sommer oor die foon dat dit nie goed gaan met hom nie. Ek gaan kuier by hom in die township. Hy bly in ’n piepklein HOP-huisie wat hy gerieflik ingerig het. Die kombuis het hy effens groter gemaak om plek te maak vir kombuiskaste, en hy het ’n klein sitkamertjie aangebou. Die plafon is van gekwaste denneplankies. Sy vrou en twee klein seuntjies groet my vriendelik. Die oudste enetjie is in graad twee en sy boetie is nog nie in die skool nie. ’n Pragtige gesinnetjie.

Nee, Ntate, ek gaan nie vir jou lieg nie. Die saak staan só. Daardie vrou wat ek gehad het toe ons die eerste huis gebou het – die mense het vir my kom sê sy loop rond as ek werk. Later het sy soos ’n sleg hond weggeloop met ’n ander man. So, Ntate, ek hét nou daardie siekte van ons mense. Hy wys vir my sy mediese verslae, die pille wat hy elke dag moet drink. My hart sak in my skoene. Ek gaan Google “aids” en kom agter dat die antiretrovirale pille by byna 25% van die slagoffers nierversaking veroorsaak.

Kobus moet pille teen Vigs drink, maar hulle verwoes sy niere. Ek voel hoe my keel toetrek.

Ek vlug die veld in met my Bybel en kry ’n opdrag in Psalm 41:1: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke.” Ek bel Kobus se huidige werkgewer en kom agter dat dié wonderlike man vir Kobus ’n polis uitgeneem het wat uitbetaal as hy ongeskik raak vir werk. Hy sê die laaste man wat hy gesien het wat soos Kobus gelyk het, was binne twee maande oorlede. Met Kobus se twee seuntjies in my geestesoog jaag ek heen en weer tussen die man, die versekeringsfirma en die HOP-huisie om die vorms te voltooi. As die vorms betyds ingedien word, sal die polis ook vir die begrafnis betaal.

’n Dokter moet ’n mediese verslag skryf. Ek gaan sit in die townshipdokter se klein wagkamer met verslete plastiekstoele vol mense wat sleg hoes, en wag geduldig. Hy vra R300 daarvoor. Ek betaal dit met vreugde en wag ’n maand daarvoor. Ek bel, vermaan myself om geduldig te wees: sonder sý verslag sal die versekering nie uitbetaal nie. Dan laat weet hy: hy soek Kobus se kliniekkaart. Ek bel hom: Nee, Ntate, ek het net die hospitaal se kaart. Maar die dokter sê jy moet ’n blóú kaart hê wat jy by die kliniek gekry het ... O, dáárdie een. Nee, Ntate, ek het hom, maar ek het nie taxigeld nie.

Ek jaag township toe, kry die kaart, maak fotostate van sy identiteitsdokument, gee vir Kobus se vrou R500 om gesonde kos te koop. Ek vat twee pakkies Astro’s vir die seuntjies saam. ’n Hele paar beland in Kobus se kieste: Nee, Ntate, ek is ook báie lief vir lekkers.

Terwyl ek ’n vorm by die kombuistafel sit en invul, roep Kobus my. Ek kyk op. Sy moeë oë blink. In sy hande hou hy ’n aaklige geraamde troufoto van my en my vrou wat ons wou weggooi toe ons in die nuwe huis intrek. Hy wou dit hê. Ek moet sluk aan die knop in my keel.

’n Week later is al die vorms “volgemaak” (Kobus se woord) en ek voel verlig: sy gesin sal versorg wees as hy nou moet gaan.

Die ontvangsdame by die versekeringsmaatskappy kyk my vraend aan: Hoekom doen ek soveel moeite vir die man?

“Want hy is my boetie.”

Maar sy polis sal skynbaar eers oor ses maande uitbetaal. Waarvan moet Kobus en sy gesin intussen leef? Hy moet tog genoeg gesonde kos inkry? Doen die regering iets vir hierdie mense? Ons tuinwerker verduidelik: die mense wat daardie siekte het, gaan elke maand flats toe, dan kry hulle R1 200. Waar is die flats? Nee, die mense hulle weet almal van die flats.

Ek vra vir Kobus: Weet jy waar is die flats? Nee, Ntate, maar ek sal uitvind.

’n Dag later laat weet hy: hy wéét waar’s die flats: dis net daar waar jy inkom by die township – soos jy daar by Berlesell verbygaan, oor die brug. Hy sal my môremiddag drie-uur daar kry. Ek ry township toe, kom agter dat die flats toe die Departement van Maatskaplike Sake se kantore is. Heel onder in die gebou doen Vigslyers aansoek vir geld. Ek bel vir Kobus. Nee, hy kan nie daar wees nie, hy’s by Pelonomi, dit gaan nie goed nie.

Die vrou agter die toonbank kyk op haar horlosie en frons: “It’s three o’clock – we close at four.” Ek antwoord flink: “In South Africa we can change the world in one hour.” Sy lag en vra vir Kobus se ID. Ek krap biddend in my rugsak rond en prys die Heer toe ek ’n afskrif vind. Ek is al voos gery township toe.

Ek kry ’n vorm vir Kobus – maar die dokter moet ook ’n deel voltooi. Ek jaag na sy dokter toe en hy laat weet (ek het hom nog nooit ontmoet nie) dat ons die vorm eers oor ses maande kan ingee, want as ons hierdie aansoek instuur, sal die Werkloosheidsversekeringsfonds nie uitbetaal nie. Kobus se wonderlike werkgewer het blykbaar die vorms van die Werkloosheidsversekeringsfonds (Ongeskiktheidsfonds?) “volgemaak” en ingedien. Ek bêre die vorm in Kobus se dik lêer en maak ’n nota in my dagboek: onthou om oor ses maande Kobus se vorm by die flats te gaan ingee.

Twee weke later word ’n swak Kobus uit Pelonomi ontslaan, maar hy bel my binne ’n week opgewonde: die mense het geld in sy rekening inbetaal, alles is reg. ’n Dag later laat weet hy beswaard: hy het geld by die bank geskuld en toe sy vrou by die kitsbank gaan om geld te trek, het die bank in die nag alles gevat. Hulle wás toe by die bank, en die mense het gesê hy moet ’n paar vorms volmaak, dan sal hulle nie weer sy geld vat nie.

Ek betaal R500 in Kobus se rekening in.

Hy stuur ’n SMS om dankie te sê en aan die einde van die maand laat weet hy dat hulle weer die geld in sy rekening inbetaal het, maar dat die bank darem hierdie keer nie weer die geld gevat het nie. Toe hoor ek vir ’n volle maand niks van Kobus nie. Ek bel hom.

Hy antwoord met ’n helder, vrolike stem: Nee, Ntate, ek is hier by die huis. Ek het só vet geword dat nie een van my broeke my pas nie. Ek sal vir jou kom kuier.

Ek lees die laaste vers van Psalm 41: “Aan die Here, die God van Israel, kom die lof toe tot in die verste toekoms. Amen, ja, amen.”

Maar ek wonder: Wie maak al die ánder Vigsmensies se vorms vol?

Ntate Piet

* Pseudonieme word gebruik om sy identiteit en privaatheid te beskerm.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Erika Schoonbee

    Sjoe, gryp mens aan die hart ...
    Wens ek kan weet hoe gaan dit nou en wat het intussen met Kobus* gebeur ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top