Mozart se Requiem by die Endlersaal

  • 0

Ek kan nie voorgee ek is ’n kundige op die gebied van klassieke musiek nie. Ek kan nie sê ek verstaan altyd klassieke musiek nie. Ek kan wel sê ek kan klassieke musiek waardeer vir wat dit is.

Daar is net iets daaraan wat ontspanning en rustigheid oor die luisteraar bring; die manier waarop die musiek jou kan beïnvloed – hoe jy dit as’t ware kan vóél en ervaar. Hierdie bravour tussen koor en orkes kry mens nie sommer aldag nie.

Daarom het ek reeds met ’n gevoel van verwondering en afwagting my sitplek in die Endler-saal op Stellenbosch ingeneem. Ek was gereed om meegevoer te raak deur ’n uitvoering van sekerlik die meester van alle klassieke komponiste se laaste werk: Requiem deur Wolfgang Amadeus Mozart.

Mozart se Requiem is ’n klaaglied en sy laaste komposisie wat hy halfklaar gelaat het met sy dood. Die teks is in komplekse Latyn en vergestalt die voorbeeldige hoë en lae note wat ’n persoon van ’n ingewikkelde komposisie verwag.

Die uitvoering deur die altyd fantastiese Canticum Novum-koor van Stellenbosch het beslis reg laat geskied aan hierdie belangrike en moeilike werk. Met knap begeleiding deur ’n skerp Louis van der Watt het die samekoms van musiek en woorde ’n emosionele woordskildery by die gehoor laat resoneer.

Die soliste, onder wie die jong Jodie Khan spesiale vermelding verdien, was deurgaans op hulle stukke en het gemaklik deur al die registers heen die werk op belangrike punte gedra.

Die koor as sodanig was duidelik goed ingeoefen en het die musiek op etlike vlakke geïnterpreteer en veerlig oorgedra aan ’n honger gehoor wat nie kon wag om die volgende klaaglied te hoor nie.

Dit was ’n baie goeie besluit van Van der Watt om vanjaar die orrel by die orkestrasie te betrek. Die orrel vorm tradisioneel nie deel van die ensemble tydens ’n uitvoering van die Requiem nie. Hier het die orrel, met uitstekende spelleiding deur Winand Grundling, egter klinkklaar daarin geslaag om suksesvol by te dra tot die euforiese versmelting tussen koor- en orkesklanke.

Daarby het die simfonieorkes ook knap met die ingewikkelde musiek klaargespeel. Onder sterk leiding van die orkesleidster, Refiloe Olifant, het die spelers, sonder om ’n slag te mis, die tranedal van die Requiem oorgedra.

Vir sommige Canticum Novum-koorlede was dit die vierde keer dat hulle dié werk van Mozart uitvoer. Dit dui net opnuut daarop watter spesiale plek die Requiem steeds in die repertoire van kore wêreldwyd geniet.

Vir ‘n leek soos ek is dit egter nie genoeg om net na Mozart se Requiem te gaan luister nie. Dit is ook nodig om die agtergrond van die werk te verstaan. Dit is juis des te meer interessant dat ek toe vind dat die geskiedenis van die Requiem deurspek is met geheimsinnigheid en komplot – kompleet met vervalste identiteite, sameswering, verraad en selfs ’n moontlike moord.

Mozart (1756–1791) was naby aan die einde van sy lewe ’n sieklike mens in ’n ernstige finansiële verknorsing. Toe daar ’n opdrag kom van ’n geheimsinnige weldoener wat vir Mozart vra om vir hom ’n requiem te komponeer, kon die desperate genie dit nie van die hand wys nie.

’n Requiem, ook genoem ’n dodemis, is ’n tipe begrafnislied of doodslied vir ’n afgestorwe geliefde of familielid. Die lirieke van die lied is gebaseer op tradisionele Latynse gebedstekste. Verskeie komponiste het deur die eeue heen hul eie musikale afdruk daarop geplaas.

Vandag weet ons die geheimsinnige weldoener wat die opdrag aan Mozart gegee het, was graaf Franz von Walsegg. Hy was ’n aristokratiese Oostenryker wat die doodslied aan sy gestorwe jong bruid wou opdra – maar met ’n belangrike kinkel in die kabel.

Volgens die legende het Von Walsegg die komposisie aan Mozart gegee juis oor hy geweet het Mozart is sieklik. Hy het gehoop Mozart sou kort na die voltooiing van die werk sterf en dat hy wat Von Walsegg is, dit dan as sy eie komposisie aan die wêreld sou kon deurgee.

Saam met Von Walsegg verstrengel in hierdie duistere komplot, was die komponis en tydgenoot Antonio Salieri. Soos die storie loop, was Salieri ’n ontsettend jaloerse man. Hy het Mozart beny vir al sy geniale en wonderbaarlike talent. Salieri het gevoel dat dit onregverdig is dat ’n uitspattige man soos Mozart, wat volgens hom ’n te oordrewe lewe gelei het, ook die komponis van sulke goeie werke kan wees.

Dit was glo Salieri wat toe met die voorstel na Von Walsegg gegaan het om die opdrag van ’n dodemis aan Mozart te gee, elk met sy eie verskuilde agenda. Salieri wou van Mozart ontslae raak, en Von Walsegg wou sy komposisie as sy eie eien.

Al het nie een van die twee vir Mozart eiehandig vermoor nie, kon hulle dit maar net sowel gedoen het. Die massiewe opdrag, wat Mozart nie van die hand kon wys as gevolg van sy knypende finansies nie, was soos ’n aanloklike pistool in die siek man se hand.

Nietemin het Mozart aan sy Requiem begin komponeer. Gou het dit hom paranoïes begin maak. Hy het hom telkemale afgevra hoekom hy só ’n opdrag gekry het terwyl hy so siek is. Was dit dalk ’n sadistiese grap hierdie waarin iemand hom probeer vergiftig sodat die requiem wat hy komponeer, eintlik vir homself ’n finale doodslied sou word?

Die paranoia het Mozart opgevreet. Hy het homself heeltemal onttrek en net aan die requiem gewerk. Hy kon dit egter nie gou genoeg klaarkry nie. Sy lewe is te gou kortgeknip en op 5 Desember 1791 sterf hy op die ouderdom van 35 jaar. Sy Requiem was net halfklaar.

Na ’n kortstondige tranedal besef Mozart se vrou Konstanz sy is met ’n ernstige dilemma gelaat. Haar man is dood; sy opdrag is nie klaar nie en die weldoener gaan slegs vir ’n voltooide komposisie betaal.

Sy gee toe skelm die onvoltooide manuskrip aan een van Mozart se studente, Franz Süssmeyer, om dit klaar te maak. Die plan was om dan die volledige komposisie aan Von Walsegg te stuur en te maak asof Mozart dit self voor sy dood voltooi het.

Süssmeyer het toe die projek tot die beste van sy vermoë klaargemaak. Vandag word daar fyn na Süssmeyer se byvoegings tot die werk gekyk. Musiekhistorici bespiegel graag dat Süssmeyer hulp moes ontvang het, óf van ander komponiste óf van gedetailleerde sketse wat Mozart moontlik voor sy dood gemaak het. Hierdie sogenaamde “stukkies papiertjies en notas” het nie behoue gebly nie.

Al hierdie verwondering is omdat daar so ’n duidelike gehalteverskil is tussen die dele wat beslis deur Mozart gekomponeer is en daardie dele wat Süssmeyer voorgee sy komposisies is.

In ieder geval, die volledige Requiem word toe onder groot geheimhouding deur Konstanz aan Von Walsegg gestuur, kompleet met ’n vervalste handtekening van Mozart daarop en ’n datumstempel vir 1792.

Hierna moes Konstanz ’n fyn lyn loop om vir Von Walsegg en die wyer publiek te oortuig dat die werk heeltemal Mozart se eie is. Daarmee is die weldoener se planne darem gefnuik. Tot vandag toe is die weergawe van Requiem wat die meeste gespeel word, die een wat deur Süssmeyer voltooi is. In die jare tussenin het verskeie ander komponiste ook probeer om die laaste werk van Mozart te voltooi, maar nie met dieselfde mate van sukses as Süssmeyer nie.

Selfs al stel mens al hierdie omstrede aspekte van Mozart se laaste belangrike werk ter syde, is dit tog opvallend dat dit vandag, soveel jare later, steeds dieselfde reaksie by gehore ontlok: ’n onverskrokke toejuiging.


Die inligting in hierdie artikel kom onder meer uit The Rough Guide to Classical Music deur Joe Staines ea, met addisionele inligting uit Wikipedia.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2014.    

 

    

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top