Menseregtedag en tannie Lee

  • 0

http://www.capetownmagazine.com/human-rights-day-cape-town

As jy – soos ek – in die vroeë jare sewentig in Johannesburg gewoon het, sou jy hulle dikwels op die sypaadjie langs Jan Smutslaan in Braamfontein gesien het: 'n ry stroewe dames, meestal oor hul middeljare, meestal grys, dikwels met swart serpe oor die skouers, maar altyd met plakkate met antiregeringslagspreuke daarop in die hand. Hulle was aan't protesteer; 'n klein groepie blankes wat die “struggle" goedgesind was.

Gewoonlik het dit verband gehou met een of ander onlangse optrede deur die Veiligheidspolisie op die nabygeleë kampus van die Universiteit van die Witwatersrand. Die swart serp het hul lidmaatskap van die Black Sash-beweging te kenne gegee.

En so sou hulle staan – soms dwarsdeur die nag; soms in snerpende koue en reën. Wát ook al jou eie siening van die destydse politiek was, jy móés destyds toegee: hulle het dúrf.

Tannie Lee van Kaapstad was van dieselfde stoffasie. Ek noem haar maar "tannie", want die hofverslag sê nie of sy getroud was nie.1 Die verslag sê wel dat sy al 75 jaar oud was toe sy op 28 Januarie 1972 met die gereg in Kaapstad gebots het.

Tannie Lee is daarvan aangekla dat sy op die betrokke dag 'n munisipale regulasie van 1895 sou oortree het deurdat sy op die hoek van Adderley- en Darlingstraat sou "getalm, gesit of gestaan" het op so 'n wyse dat sy die verkeer sou ontwrig het.

Volgens die getuienis het sy op die betrokke straathoek gestaan met plakkate met politieke slagspreuke daarop wat voor en agter aan haar lyf vasgemaak was. Die Engelse noem dit 'n "sandwich board". Sy het ook 'n derde plakkaat met 'n antiregeringslagspreuk in die hand vasgehou. Dat sy aandag getrek het – en die regering van John Vorster geïrriteer het – is wis en seker, want tussen 150 en 200 mense het gedurende die middaguur om haar saamgedrom. En dís wat die herrie veroorsaak het, want toe kon die verkeer nie meer lekker in die twee strate vloei nie.

Tannie Lee het self haar verdediging in die landdroshof behartig. Sy is egter skuldig bevind en tot 'n boete van R15 of 30 dae gevangenisstraf gevonnis. Daarna het sy haar staal nog verder getoon deur eiehandig teen die beslissing te appelleer.

Regters Theron en Van Winsen van die Kaapse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof het die appèlsaak verhoor en ten gunste van die gryse dame beslis. Die regters het die bewoording van die betrokke regulasie van 1895 fyn ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat dit oortree word slegs as iemand die verkeer persoonlik en direk – dit wil sê deur sélf te talm, sit of staan – ontwrig.

Die landdros het – volgens die regters – fouteer deur te aanvaar dat iemand wat die verkeer op 'n indirekte wyse ontwrig, ook die regulasie oortree. Daar was nie voldoende getuienis oor presies waar tannie Lee gestaan het nie. Die hof het bevind dat die staat dus nie bewys het dat sy persoonlik die verkeer ontwrig het nie. As daar mense in die skare was wat deur húl optrede die verkeer ontwrig het, kon dit nie die protesterende dame ten laste gelê word nie.

O ja, die hofverslag vertel dat tannie Lee ook in 1966 tydens 'n soortgelyke betoging met die gereg gebots het.2 Toe was sy minder gelukkig, en is sy skuldig bevind weens 'n oortreding van dieselfde regulasie. 'n Regte nooi Van Helsdingen!

1 Staat v Lee  1973(1) SA 315 (KPA)

2 Staat v Lee 1966(3) SA 762(KPA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top